Jantjie wat skaam maak

Geplaas deur Jana Luther Vrydag 02 Augustus 2019
Gepubliseer in VivA;

mieliebrak“Die jantjies laat my gril. Oulike, betekenislose woordjies wat my skaam maak vir Afrikaans.”

Komende van iemand, nou die anderdag, toe kollega Sophia in VivA se Taalwerkersforum vra: “Kosmense, Pharos se Engels-Afrikaanse woordeboek gee ‘jantjie’ vir ‘corn dog’. Sê asseblief vir my ons het intussen iets anders daarvoor uitgedink.”

“Mieliebrak”, “worsie-op-’n-stokkie”, “mielieworsie” ...

“Hulle noem dit ‘yankees’ hier rond. Dalk waar die ‘jantjies’ (gril) vandaan kom,” sê nog iemand.

’n Ander: “Niemand gaan weet wat hulle eet as hulle kleinletter-‘jantjies’ eet nie, behalwe die mense wat woordeboeke vir voorgereg verorber.”

Ja. “Jantjie” maak ons skaam. Maar die skoen pas en ek gaan wei in die WAT ...

In Vroeë Afrikaans het die Hollanders se “hop, Marjannetjie”, wanneer iemand ’n baba op en af op die skoot of knie wip, “hopmajannetjie” geword. “Hopmajantjie maak”, “hopmajantjie spring”, ’n speletjie of dans waarby ’n mens op en af op jou hurke spring.

“Die weerkaatsing van die spieëllig speel hopmajantjie op die vloer,” dig C. Louis Leipoldt.

Naas fieterjasies kan iemand fitterjantjies, nukke, grille hê. (Ook die vorme faddejasies, fatterjasies, fidderjasies, fidriasies, fiesterjasies, fieterjaanse, fieterjanies, fieterjankels, fieterjassies, fieterjenkels, fillejasies, fitterjaanse, fitterjantjies, fitterjasies, fitterjatse, fitterjelletjies, foeterjasies, vedrijasies, verjaarsies en vieterkaters kom voor.)

Kaf, bog is pure gamajantjies. ’n Skynheilige skelmstreek, ’n judasstreek, word by Wellington ’n hakkerejantjiestreek.

’n Jantjie-van-alles se hande staan vir alles reg. Is die raakvatter ’n vrou is sy ’n jansie- of ’n antjie-van-alles. In die ou dae kon mense mekaar jantjie maak, jaloers. ’n Jantjie Kontant was voorbarig; Jantjie Kontrarie ’n dwarskop; Jantjie Rooibeen verlief; Jantjie Sekuur presies. Die Kaapse Suidoos was Jantjie Skuinsdwars; Jantjie-sonder-erg was min gespin; Jantjie Volstruis was oral tuis.

Toe op SA munte nog Jan van Riebeeck se kop was en agterop ’n ossewa is met die vraag “Jantjie of waentjie?” by die opskiet van ’n geldstuk “Kop of stert?”, “Kruis of munt?” bedoel.

By (by)naamgewing was “jantjie” as verkleinwoord van “Jan” ’n gewilde keuse. Baie diere, voëls, plante dra vandag nog dié woord in hulle volksname:

In die Noordweste is jantjiesoetjiestrap(per) verkleurmannetjie se kind; skurwejantjie ’n klipsalmander, ook “ouvolk” genoem. Tinktinkie se ander naam is kleinjantjie. ’n Inseketende sangvoël heet jantjieskaapwagter; die mooinooientjie-vis ook jantjietoontjies. ’n Maljantjie is ’n maltrap, maar daarby ’n haarskeerderspinnekop. Die skimmeljantjie is ’n kewer wat lyk asof daar wit stukkies skimmel aan sy dop kleef; vandaar ook sy ander naam: vermuftejantjie. Een van die ander name van die plant beter bekend as eendjies, gansies of kankerbos, is jantjiebarend of -bêrend. ’n Kakkerjantjie is ’n kakejaan, ’n klein soort karkoer, ’n wilde Hoëveldse komkommertjie. ’n Majantjie is ’n kleinerige boom ...

So duik “jantjie” al skertsende ook by kos en drank op (al wil ons dit nie meer hardop hoor of sê nie): Jantjiebier is gemmerbier; skurwejantjies nie net ouvolk nie, maar ook lekker hawermoutkoekies; gladdejantjies, nou ja, smoothies. Vandag maak dié gejantjie, al dié jantjies en jantjiery, ons verleë. By laasgenoemde was die grilfaktor al hemelhoog.

Net prof. Gerhard van Huyssteen merk ter syde op: “Ek hou van die volksetimologiese ‘jantjie’. As mense nie weet wat dit is nie, moet hulle dit maar opkyk, nie waar nie? Lekker dat ons skurwejantjies en gladdejantjies het.”

Deesdae nog een. “Jislaaik, Jantjies!” skryf Netwerk24. Op Twitter stuur iemand “ ’n nuwe woord vir die HAT: ‘Briljantjies’. Jy gebruik dit as Herschel vir die Bokke gaan druk.”

Ek skaar my by Gerhard. Lekker dat ons Jantjies het. Dié een verdien ’n mieliebrakborg.

’n Verkorte weergawe van hierdie blog verskyn op Vrydag 2 Augustus 2019 in die rubriek “Woordwisseling” in Beeld logo 

Lees 902 tye Laaste modifikasie op Vrydag 02 Augustus 2019 09:19

1 kommentaar

  • Kommentaarskakel Elmari Potgieter Saterdag 03 Augustus 2019 09:58 geplaas deur Elmari Potgieter

    Ek wil net sê, "Jislaaik, Jantjies" was in Vrye Weekblad, nie Netwerk24 nie ...

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK