Kaatjie en klaar

Geplaas deur Jana Luther Saterdag 17 Augustus 2019
Gepubliseer in VivA;

AnnaIn ’n vorige blog (op 19 Oktober 2018) skryf ek oor Gawies, Japies, Janne en Hendrikke: Afrikaanse mansname wat in ou uitdrukkings mense in die algemeen, en ook diere en gepersonifieerde dinge aandui. Op Vrouedag kom iemand daarop af en vra: Waar is die vroue dan?

Hulle is minder, maar ek kry vir Antjie, Bella, Bertha en Margriet, Martha, Saartjie, Sannie en nog ander.

Luister hier na die podsending.

Van Anna kom die verkleiningsvorme Annatjie en Antjie: Antjie Taterat, wat skinder. En Antjie Somers, die “skaduwee van kinderbangmaak” in sy/haar “breedgestreepte sisrok” en “rooibont ou bestroentjie” (loshangjurk of -baadjie), soos D.F. Malherbe dié man vermom as vrou beskryf.

Op Kanoneiland en in die Noordweste teken die WAT antjiesoetjiestrap as bynaam vir ’n verkleurmannetjie, ’n trapsoetjies, op.

“Tant Bellie (of tant Bella) staan op die stoep” word gesê aan iemand, gewoonlik ’n kind, met ’n druppel aan die neus.

Na Bertha Krupp van die Duitse Krupp-dinastie, eens die grootste staal- en wapenbedryf in Europa, het soldate tydens die Eerste Wêreldoorlog hulle nuwe houwitser genoem: Dik Bertha, ’n affuitwapen tussen ’n lang kanon en ’n mortier. Op haar affuit (die vaste of verplaasbare onderstel waarop so ’n swaarkaliberwapen rus) het dit meer as een man gekos om haar te bedien. Dié Duitse meisie het ons Voortrekkers nie geken nie. Hulle het as ligte kanon vir ou Grietjie gehad, en as pangeweer die blitsende Sanna met haar kruitpan waarin daar eers kruit gegiet moes word.

Van Margaret(h)a kom ma(r)griet(jie), die naam van verskillende soorte blommetjiestruike: bergmargriet, bloumargriet, geelmargriet, witmargriet. Ook Griet.

Om verbasing, verwondering, skrik uit te druk, is korter beter:

O (my) Griet!

Grote/Goeie Griet(jie)!

By Humansdorp is Grietjie een van vele name vir die mierleeu. Met sy knyper-monddele maak dié vlerkinsek in los sand ’n holte soos ’n tregter waar hy op sy prooi, miere en ander klein insekte, wag. “Grietjie, Grietjie, gee my bietjie koffie,” het kinders in die ou dae glo gesê wanneer hulle mierleeu met ’n grasspriet uit sy gaatjie probeer lok. Sou hulle dit vandag nog doen?

Grietjie en Plietjie. Hulle is ek en jy, ons. Niggies van Jan Rap en sy maat, ’n ieder en ’n elk.

Wie swart Griet(jie) soen – of haar suster, Langnekkaatjie, Kaatjie Langnek – suip.

Van Dolly Varden, ’n modieuse jong meisie in Charles Dickens se Barnaby Rudge, kom Oumagrootjie se dolliwarie, ’n hoed met ’n breë rand wat smaller loop na agter, kwistig met blomme versier, soms ook onder die rand. Nie die soort hoed wat ’n mens in ’n Dorkas se boks sal kry nie. Dié is, soos haar Bybelse suster, eerder om haar goeie werke bekend. (“Dorkashuis” bied die WAT ook as benaming vir ’n tehuis vir bejaarde vroue.)

Martha se Martjie is met die agternaam Louw volksetimologie vir “martial law”: “Kakies op kommando (het) hier ons dorp beset en Martjie Louw geproklameer,” vertel Leipoldt se Oom Gert.

’n Sannie (van die plaas), word kwetsend gesê, is ongesofistikeerd, naïef. Maar trap lig: Sannie van die Plaas is nie altyd ’n totale koek, soos jy dalk dink nie.

In die Overberg heet die son Mart(h)a: Waar bly Marta vanmôre? Marta sit nog hoog. Marta sit al op die berg. Marta trek water. Marta trek haar kop weg.

Saartjie ... Saartjie se saak het niks met jou te doen nie: “Man, dis Saartjie se saak. Skoert hier. Gaan weg.”

Catharina se Kaatjie is ’n kekkelbek.

Kaatjie van die baan is ’n bok(kie) vir sports. “Vanaand kaatjie van die baan, môre dooi bobbejaan,” het die oumense gesê van ’n kind of jong mens wat tot laat wakker bly, die volgende oggend vaak-vaak opstaan: Saans gousblom, smôrens molshoop.

Koes, Kaatjie! Pasop! Maak jou klaar vir gevaar.

As alles (weer) reg is, is die kind se naam Kaatjie.

Is als gedoen? Dan’s ons Kaatjie en klaar.

’n Verkorte weergawe van hierdie blog verskyn op 16 Augustus 2019 in die rubriek Woordwisseling in Beeld logo.

Lees 335 tye

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK