Die sommense ken hulle EN ander mense se identiteitsnommers, weet wat die datum voorverlede Dinsdag was, onthou die kodes van alarms, selfone en hekke. Hulle weet wanneer hulle waar begin werk het, wie wanneer gebore of oorlede is en huiwer nie oor die presiese datum van die eerste rugbywêreldbeker nie (daai keer toe ons gewen het en Mandela Francois se trui oor sy kop getrek het).
Spellers gaan koop, sonder om eers te meet, yskaste wat nêrens inpas nie. Tellers wat nie kan spel nie, wen met Scrabble, want hulle werk vooraf uit hoe hulle met die minste letters die meeste punte kan verdien. Spellers proeflees spontaan alles. Hulle mis drieë/doele en sesse omdat hulle besig was om spelfoute op die program reg te maak.
Spellers vul blokkiesraaisels in en tellers speel suduko. Tellers weet hoe lyk twee derdes van ’n pizza en wonder nie of twee derdes vas of los geskryf moet word nie (los). Tellers het geen begrip vir die trauma wat spellers ervaar as iemand nog steeds vas skryf nie. Spellers kokhals by die aanskoue van *punteneurig in plaas van puntenerig, *geweldadig met een d in plaas van twee, passasier met 4 s’e of onmiddellik met te min d’s of l’e. En nou praat ons nie eers van die abberasie van *waardeur wanneer waardering bedoel word nie.
Tellers mag dit dalk nie weet nie, maar spellers ontvriend hulle op Facebook omdat hulle frek met 'n ’n kierie-f in plaas van ’n vissie-v spel. Spellers diskrimineer onbeskaamd op internetafspraakblaaie teen kandidate wie se stokperdjies *tenis is of wat van voorneme is om *golf te leer speel. Hulle val egter vir ooglopende rampe wat weet hoe om boudoir te spel (met apologie aan Koos Kombuis).
Spellers maak staat op tellers se vermoë om te kan uitwerk hoeveel geld ’n mens moet spaar om eendag gemaklik af te tree. Hulle het hoë agting vir kennis van die ekonomie, wisselkoerse, statistiek, rentekoerse en die impak van belasting op gits, wat ook al. Dis alles in orde, maar moet groot asseblief nie vir hulle bemarkingsmateriaal stuur waarin ’n “*interesante wending” aan hulle voorgehou word nie.
Dít gaan hulle interesseer en hulle gáán reageer, maar dalk nie op die manier wat die teller in gedagte gehad het nie.
’n Verkorte weergawe van hierdie blog verskyn op 26 Julie 2019 in die rubriek “Woordwisseling” in.
Prof. Pienaar is hoof van die Departement Tale, Kultuurstudie en Toegepaste Linguistiek aan die Universiteit van Johannesburg.