Nuut in AWEA: Junie tot Augustus

Geplaas deur Jana Luther Vrydag 30 Augustus 2019
Gepubliseer in VivA;

NuutAug2019Ons lewe in ’n wêreld wat deurentyd verander. Met woorde probeer ons van dié wêreld sin maak. Elke dag is daar nuwe dinge wat benoem moet word, nuwe gebruike van bestaande woorde wat verduidelik moet word. Woordeboeke van lewende tale moet daarom deurentyd hersien word. Wanneer leksikograwe hiervan vertel, doen hulle nie net van hulle eie werk verslag nie, maar ook van hoe die taal verander: Kyk. Hiermee is ons besig. Dit is van die woorde wat ons op een plek bymekaarbring – nuwes; oues met nuwe betekenisse; nuwe samestellings; woorde wat tevore misgekyk is. Formeel, informeel; woorde uit verskillende variëteite; eiegoed, leengoed ...

In die AWEA, VivA se nuwe Woordeboek van Eietydse Afrikaans, is daar by die skryf hiervan reeds 1 126 artikels. Van aaire (“eerder”), uit Kaaps, tot by Zumaïet.

Hier is ’n paar van Junie tot Augustus se nuwe inskrywings.

abbagemeenskap, ’n gemeenskap van mense wat mekaar “dra” en ondersteun.

bullebakkie, ’n bielie van ’n bakkie (raakgesien in Weg!).

cisgender, met ’n genderidentiteit wat pas by die geslag wat by sy/haar geboorte geïdentifiseer is.

damprook, die dampe van ’n damptoestel of e-sigaret inasem en uitblaas.

ekobaksteen, ’n plastiekbottel gevul met niebioafbreekbare rommel, as boumateriaal gebruik.

fleksitariër, iemand wat net af en toe vleis en/of ander produkte van diere eet, maar (anders as vegetariërs en veganiste) diereprodukte nie heeltemal vermy nie.

gedragsbank, ’n bank wat vir goeie finansiële gedrag sy kliënte met finansiële voordele beloon.

handblitser, ’n elektriese handtoestel vir die meng, kap en fynmaak van kos.

internet van dinge, ’n netwerk toestelle wat met mikroskyfies toegerus en aan die internet gekoppel is sodat hulle van ’n afstand beheer kan word en ook selfstandig kan kommunikeer en werk.

je ne sais quoi, (uit Frans) vir ’n moeilik beskryfbare kwaliteit.

kweekvleis, vleis wat kunsmatig in ’n laboratorium of fabriek uit stamselle van diere gekweek word.

malediktologie, die studie van vloektaal, vloekwoorde en vloekgedrag.

noenoes, mooi; oulik; fraai.

omgewingsangs, angs oor die onomkeerbare skade wat ons die aarde berokken.

plastieksop, groot hoeveelhede plastiekafval wat deur seestrome byeengespoel word.

raka’at, buigingsritueel tydens ’n Moslemgebed.

skopskeloelie, speletjie waarby die deelnemers ’n bal na gapings tussen hulle skop.

twansie, meegee; omval; in duie stort.

umngqusho, (uit Xhosa) stampmielies en bone.

voufoon, selfoon met ’n skerm wat soos ’n boek in die helfte kan vou.

woongaping, verskil in woongeleenthede vir ryk en arm mense.

yuppifikasie, stelselmatige verandering (gentrifisering) van ’n arm woonbuurt deur mense met meer geld wat daar kom woon en/of sake doen.


Jy kan dié groeiende lys hier dophou.

’n Verkorte weergawe van hierdie blog verskyn op 30 Augustus 2019 in die rubriek "Woordwisseling" in Beeld logo

Lees 614 tye

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK