Is 'n skip dan nou 'n vroumens? Verkeerde voornaamwoorde vir regte dinge

Geplaas deur Sophia Kapp Woensdag 16 Oktober 2019
Gepubliseer in Nuus;

Voornaamwoorde moet ons baie selde vir kinders wat moedertaalsprekers van ʼn taal is, aanleer. Dis asof hulle dit saam met moedersmelk en maselkieme inkry en dit sommer net vanself reg rangskik in hulle taal. Afrikaanssprekers is boonop buitengewoon geseënd, want ons hoef nie by ongemerkte selfstandige naamwoorde met geslag te spook soos die Duitsers en die Franse nie, en ons hoef ook nie naamvalle ook nog te verreken nie.

Dit is dus vir ons heel gemaklik om te weet ʼn manlike mens/dier/ding is ʼn hy en iets wat syne is, behoort aan hom. Ons weet ʼn vroulike mens/dier/ding is ʼn sy en iets wat hare is, behoort aan haar.

Daar is egter ook in ons taal ʼn paar kwelkwessies met voornaamwoorde wat nou en dan kop uitsteek. Die een handel oor vaartuie, voertuie en wapentuig waarna daar in Engels met vroulike voornaamwoorde verwys word. (Volgens oorlewering is skepe vroulike name gegee omdat die vaartuie vir die matrose ʼn inkomste en ʼn heenkome was, en dus die ding was waarmee hulle die nouste verbintenis gehad het. Ek skat dieselfde argument het dan gegeld vir hulle voertuie en hulle wapentuig.) Dit lyk asof hierdie Engelse aanwending van die vroulike voornaamwoord in hierdie kontekste ook na Afrikaans begin oorwaai, maar taalnormeringsbronne is dit eens dat dit ʼn anglisisme is:

  • In Skryf Afrikaans van A tot Z sê reël 21.7 (p. 670) dat hy vir skepe gebruik word al het die skip ʼn vrouenaam.
  • Die HAT se Taal- en Feitegids sê dat "voer-, vaar- en vliegtuie, treine en dies meer" in Afrikaans manlik is, ongeag die naam, en noem die vroulike voornaamwoord by hierdie goed pertinent 'n anglisisme.
  • Norme vir Afrikaans (2018:78) sê uitdruklik dit is ʼn fout om hierdie dinge as vroulik te merk, en sê dit is iets wat onder invloed van Engels gebeur.

Die ander kwessie ontstaan by onsydige dinge (goed wat nie ʼn geslag het nie) waarna ons met voornaamwoorde wil verwys. Is dit byvoorbeeld korrek om te skryf Hy trek sy jas uit en gooi hom [die jas] op die bank of moet ʼn mens skryf Hy trek sy jas uit en gooi dit op die bank?

Norme vir Afrikaans dui op dieselfde bladsy 78 aan dat ʼn mens hy vir onsydige goed mag gebruik en selfs soms moet gebruik. Albei die voorbeeldsinne hier bo is dus korrek. En as jy konstruksies het waarin so ʼn onsydige ding gepersonifieer is, is dit baie meer natuurlik om hy/sy as dit te gebruik, bv.: Afrikaans staan sy man in Nederland. Hierdie nuwe Ford is oulik, maar hy moet nog sy spore in die motorwêreld verdien.

Ek weet ʼn paar stryers/stryders gaan wil kapsie maak, veral oor die vroulike skepe. Dis hulle taal, hulle praat hom soos hulle wil, dans teen hierdie tyd al op hulle lippe. Natuurlik is die taal almal sʼn en natuurlik mag jy hom praat net soos jy wil. Maar skryftaal is ʼn perd van ʼn ander kleur – dit behoort nie net aan die skrywer nie, dit behoort ook aan die mense wat dit lees. En daar is genoeg lesers in Afrikaans wat weet dat ʼn vroulike skip ʼn Engelse ding is en dit nie so wil aanvaar nie, daarom dui normeringsbronne dit so aan.

Hoe lief jy dus nou ook al vir jou skip, jou kanon, jou kruisboog of jou karretjie is, die ding is in Afrikaans manlik. Al is hy klein, rooi en al is sy naam (met my eie oë gesien) Cheriki.

VivA-groete

Sophia

Lees 1458 tye Laaste modifikasie op Woensdag 16 Oktober 2019 08:51

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK