VIVA SE BLOGS

En die groen gras groei daar om

Geplaas deur VivA-redaksie Saterdag, 09 November 2019
Gepubliseer in VivA;

Deur Jana Luther

grasIn reaksie op ’n Beeldrubriek oor insekname uit die WAT laat Jeanette Ferreira-Van Jaarsveld van haar hoor. Ons moet ’n slag kyk, sê sy, “hoeke mooie name die veldgrasse van Suid-Afrika het”.

Ek doen dit graag. Maar, sjoe, waar begin ’n mens? Van al die plantfamilies is die grasfamilie een van die grootstes, en vir die mens die nuttigste. In die wêreld is daar meer as 10 000 spesies; in Suid-Afrika ongeveer 1 000 soorte, wat ook al die grane insluit. Baie het meer as een naam. Lande en lande, vlaktes en vlaktes gras.

 

Uit die WAT pluk ek ’n gerf. Flarde van ou gedigte, verhale kom by my op. Die singende gras. Waaigras, huppelend soos kuddes. Winkende grassaadhande. Pluime, lank en wit, sag soos pluis, soos vere. Groen, groenwit, rooierig, pers. In oop grasvlaktes lê Jorik op sy rug; bo in die lug ’n werweling valkies, soos stippels in rooi kringe, óm en óm. Die dowwe snarespel teen jou voete as jy deur droë gras stap. Die vroue, in rye deur die stekerige gras ...

Ruigtegras. Beddinggras. Borselgras. Donsgras. Besembiesies. Bewertjies. Bromgras.

Hoë gras langs spruite. Brakkweek langs die kus. Dryfgras in water.

Agdaevetmakergras slaan op ná die reën, maak die vee vet.

Jongostou is sterk met stewige wortels.

Van akkerwanie, uit Indië, word hoede, mandjies en waaiers gevleg; sy geurige olie word parfuum, ook teen insekte.

Bamboes – sowat 50 soorte, uit tropiese Asië; hoog, boomagtig, in bosse bymekaar – se knopperige litte en hol, harde, houterige stingels en stamme word vir allerlei doeleindes gebruik, as boumateriaal, vir meubels, kieries, fluite ...

Bekertjiesgras se blommetjies is gladde, blink klokkies. Klokkiesgras. Blinkgras, ook fluweelgras, se blaartjies is syerig, glansend. In Namakwaland kam die wind sag deur blinkhaargras.

Bloudak, of bloudakgras, kry 'n blouerige kleur wanneer dit oud en droog word; ná reën word dit sag; dan vreet diere dit graag. Bokbaard groei in polle, met lang halms wat ondertoe hang; skape hou daarvan.

Jobskraaltjies, ook Jobstrane genoem, behoort tot die mieliefamilie. Hul “krale” word as versiering, as tandekrykrale vir kinders gebruik.

Broosgras. Eendjiesgras. Hartjiesgras.

Klossiegras is ook dronkgras – diere wat daarvan eet waggel en steier, asof hulle dronk is.

Van jaagbesemruigte maak die Koue Bokkevelders jaagbesems, of waaibesems; waaiervormige besems vir die skoongooi, uitkaf of uitwan van graan.

Fyntwa, ’n kleinerige polgrassie van die Kalahari, sê die WAT, is saam met die tsamma die vernaamste voer vir wild.

Klosgras. Krulgras. Knoppiesgras. Knietjiesgras.

Vir sy mooi, breë, witgestreepte blare word lintgras as siergras in tuine geplant. Sekelgras word in handbesems saamgebind. Matjiesgras se growwe, stywe stingels is, veral voorheen, tot matjies gevleg.

In die volksmond word die skerp of saagtandagtige blare van vlei- en watergrasse kokkewietgras genoem – na die waterkokkewiet, ’n geheimsinnige diertjie wat met ’n halmpie hiervan, as messie, glo, die tone sou sny van kinders wat kaalvoet deur die water plas.

’n Gomagtige afskeiding, hakies en stekels laat kleefgras en klitsgras aan wol, hare, klere, kouse, enigiets waarmee dit in aanraking kom, vassit. Vandaar die gesegde “soos klitsgras klou”. Van ’n ding of mens wat hom so aan jou heg, raak jy moeilik ontslae.

Gras skiet op in baie uitdrukkings: Die verste gras is gewoonlik die groenste; hoe verder iets is, hoe aanlokliker lyk dit. Moenie gras onder jou voete laat groei nie; moenie uitstel nie; doen dadelik.

As ’n mens in die gras is, is jy in die moeilikheid. Wie die onderspit delf, byt in die gras. Vyande word eufemisties van die gras af gemaak.

Af en toe steek iemand die gras aan die brand. Soms om vooruit te kom; soms om kwaad te doen. Hoe hanteer ’n mens dit dan? As dit ongelukkigheid is wat brand. Praat jy? Of laat jy gras daaroor groei? Om nié gras te laat groei nie, sou ’n mens dink, is beter. Maar “daar sal nie weer gras oor groei nie” kan ook as waarskuwing dien; dat ’n slegte indruk, herinnering blywend is, soos ’n heksekring.

Volgens ’n volksgeloof was ’n graslose kol in ’n bos die werk van hekse wat snags daar kom dans het. Vandag wyt ons sulke verskynsels aan swamme. Maar die gras sterf steeds. Nes ons.

Want wat is die mens?

Soos Opperman se kwartels, laat onmin ons dae in stiltes wegraak.

’n Verkorte weergawe van hierdie blog verskyn op 8 November 2019 in die rubriek Woordwisseling in Beeld logo.

Lees 2915 tye Laaste modifikasie op Saterdag, 09 November 2019 07:02

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.


NUUSARGIEF

FACEBOOK