Is daar ʼn vertakking van taal wat nie bestudering regverdig nie? Indrukke na aanleiding van VivA se "Vloek met flair (en voorbehoud)"-simposium oor vloek in Afrikaans

Geplaas deur Sophia Kapp Dinsdag 26 November 2019
Gepubliseer in Nuus;

Blogger: Benito Trollip

Die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) het op Vrydag 15 November 2019 ʼn openbare simposium met die titel “Vloek met flair (en voorbehoud)” in Pretoria aangebied. Die simposium se oogmerk was om ʼn gesprek te begin oor die gebruik en akademiese bestudering van vloekwoorde Afrikaans. Die geleentheid was ook deel van die bekendstelling van ʼn navorsingsprojek oor vloek in Afrikaans, waarvan al die inligting op die projekwebwerf beskikbaar is.

Dit is moontlik om ʼn samevatting te gee van menings wat by die simposium uitgespreek is, maar dit is nie die bedoeling van hierdie blog nie. ʼn Blog deur Sophia Kapp bevat meer detail oor die verloop van die dag se verrigtinge, paneellede se individuele bydraes, asook die trant van vrae wat na die tyd gevra is. Gespreksonderwerpe het gewissel van die hantering van vloekwoorde op kommentaarstringe aanlyn, vloekwoorde in Afrikaanse tonele, televisieprogramme en romans, asook vloekwoorde, taboes en die moontlike sensurering daarvan op radio. Uiteindelik het die dag heelwat stof tot nadenke gebied met betrekking tot taaltaboes. Een van die interessantste gebruike waarop daar ʼn bietjie uitgebrei is, is die persoonlike vloekwoordskaal van Johan Jack Smith, redakteur van Taalgenoot asook opdraggewende redakteur by Wenkbrou. So ʼn lys sou uiteindelik insig gee in wat elke individu as vloek beskou en watter vloekwoorde vir elke persoon inderdaad vloekeriger as ander is.

My kombinasie van vrae en/of stellings na aanleiding van die paneelbespreking is legio, die sinvolste manier waarin ek dit kan saamvat, is deur ʼn beroep te doen dat verwante konsepte apart én saam beskou word. My indrukke van die dag kan saamgevat word in die frase “die waarde van vloekwoorde”. Daar is gereeld na die waarde van vloekwoorde deur die meeste paneellede verwys. Wat word bedoel met vloekwoorde moet waarde hê? Beteken waarde slegs een vloekwoord vir elke vyfhonderd ander woorde sodat waarde gelyk is aan ʼn laer frekwensie? Of het ʼn vloekwoord net waarde as die persoon of karakter wat dit gebruik daarby “pas”? Moet vloekwoorde uitsluitlik skokwaarde hê en geen kreatiewe, sosiaal gemotiveerde waarde nie? Is die waarde van vloekwoorde, soos sommige persone se vooroordele dikteer, om op ʼn lae opvoedingspeil te dui? Daar is waarskynlik nie een antwoord op hierdie vrae wat vir almal ewe aanneemlik sal wees nie. My gevoel is dat hierdie vrae oor vloekwoorde se waarde afhanklik is van die wyse waarop ander verwante begrippe soos inhoud, betekenis en funksie verstaan word. Die integrasie van waarde, inhoud, betekenis en funksie is nie een wat in ʼn blog volledig aan bod kan kom nie, maar ek sou graag ʼn vereenvoudigde blik daarop wil gee.

Betekenis en inhoud is twee abstrakte begrippe wat deur omstandighede binne, buite en rondom enige taalsituasie bepaal word. Die tema van die gesprek, die sprekers en die medium wat gebruik word, is alles van die faktore wat ʼn rol speel in die bepaling van betekenis en inhoud. Selfs die emosionele inhoud van enige taalsituasie word bepaal deur die konteks. Daar is ʼn verskil tussen ʼn uiting waarmee jy vir die eerste keer vir ʼn glas water vra en die een waarmee jy vir die vyfde keer daarvoor moet vra. Vloekwoorde se emosionele impak verander namate die konteks verander. Vergelyk byvoorbeeld wanneer jy die p-woord saggies fluister vir ʼn spesifieke klasmaat wat meer as jy gekry het vir ʼn chemievraestel, en wanneer jy die p-woord in ʼn hof vol mense skree vir die persoon wat jou Chinesedraakborsspeld vernietig het toe hy jou huis afgebrand het. Eersgenoemde sal tipies nie kwalifiseer vir ʼn naamskendingsaak nie, laasgenoemde waarskynlik wel. Daarteenoor is die funksie van sekere woorde meer bepaald in soverre werkwoorde byvoorbeeld aksies en naamwoorde selfstandige entiteite aandui. ʼn Vloekwoord se funksie is moeilik om te bepaal, myns insiens omdat konteks gaan bepaal watter gebruik die spreker en hoorder relevant ag vir hul situasie. Die wyse waarop betekenis, inhoud, funksie en waarde by mekaar uitkom en mekaar beïnvloed, is kompleks en daar is nie ʼn eenvoudige antwoord nie. Om die wisselwerking tussen hierdie begrippe in die werking van vloekwoorde in Afrikaans te bestudeer, is ʼn groot navorsingsprojek waarby ek graag by betrokke sal raak. Die kompleksiteit daarvan bied moontlikhede vir enige persoon wat die geleentheid wil aangryp.

Ek glo dit is belangrik om nie die veelsydige aard van vloekwoorde uit die oog te verloor nie. Intensiteit, positiewe of negatiewe emosie, humor en sosiale samehorigheid kan terselfdertyd deur die gebruik van ʼn enkele vloekwoord gekommunikeer word. Vloekwoordgebruik herinner aan Napoli en Hoeksema1 se stelling oor algemene taboewoorde se veelsydigheid, naamlik dat dit funksioneer as “syntactic silly putty”. Vloekwoorde is tot ʼn sekere mate die duxleerlinge van enige taal en hulle plekkie in die navorsingson is nie heeltemal ongemotiveerd nie. Navorsing oor vloekwoordgebruik in al sy vorme, om die verskynsel uiteindelik beter te verstaan, kom op die uitbouing van die algemene wetenskaplike kennismassa neer. ʼn Inventaris, kategorisering en intensiteitskaal (soortgelyk aan die skaal van Johan Jack Smith) van Afrikaanse vloekwoorde sal ook ʼn lonende onderneming wees vir enige iemand. Wanopvattings dat navorsing oor vloekwoorde die taal en sy sprekers op ʼn manier ondermyn, is myns insiens nie geldig nie.

My blywende indruk van die simposium is oorwegend positief vanuit ʼn flair- en voorbehoudperspektief. As ʼn spreker en navorser wat ʼn groot aanhanger van sy taal is, sien ek uit na die entoesiastiese en oordeelkundige bestudering van hierdie veelsydige taalverskynsel – sonder enige vooroordele.

#vivafrikaans #vloekmetflair #sadilar

Vrywaring: Die uitsprake gemaak in hierdie blog is dié van die skrywer en die insigte of wanopvattings voortspruitend, is sy eie.

Notas
1 Die publikasie waarna verwys word, is Napoli en Hoeksema (2008).

Bibliografie

Napoli, D.J. & Hoeksema, J. 2008. Just for the hell of it: A comparison of two taboo-term constructions. Journal of Linguistics, 44(2):347-378.

Skakels

ʼn Engelse weergawe van hierdie blog verskyn op SADiLaR se webtuiste.

Lees 978 tye Laaste modifikasie op Dinsdag 26 November 2019 13:25

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK