Laat hy val waar hy wil

Geplaas deur VivA-redaksie Vrydag 20 Desember 2019
Gepubliseer in VivA;

heildronk Deur Jana Luther   

Die jaar loop uit. Ons berei voor vir Kersfees. Oor ’n bietjie meer as ’n week wag ons in die holste van Oujaarsnag op Nuwejaar, en dan dans of strompel of slaap ons die ou jaar uit, die nuwe in.

“Nuwejaar”. Een woord, vas, ja, met ’n hoofletter en meestal sonder ’n lidwoord, as die skrywer Nuwejaarsdag, 1 Januarie, bedoel. Twee woorde, los van mekaar, met kleinletters, “die nuwe jaar”, verwys na die volgende 365 dae, of, as dit ’n skrikkeljaar is, 366.

As ’n angsgevoel ’n mens skielik oorval en jou lyf onwillekeurig ruk, skrik jy. Dit is dalk die gevoel wat dié nuwe jaar by baie van ons wek. Duisend jaar gelede in Middelnederlands, het “skrik” beteken “om aan te stryk, om met lang treë te stap”. Nog vroeër was “skrik” “spring”.

 

’n Prima voorbeeld van hoe die betekenis van ’n woord oor eeue verander.

Uit Middelnederlands se “scrikken” het die herhalingswerkwoord (iteratief) “skrikkel” ontstaan. ’n Iteratief dui aan dat ’n handeling keer op keer herhaal word. Iteratiewe word aan die ou uitgange “-el” of “-er” herken. In hedendaagse Afrikaans is dié uitgange nie meer produktief nie, maar ons sien hulle nog in ou werkwoorde soos “giggel”, hakkel”, “klapper”, “pruttel”, “stotter”. “Druppel” het oorspronklik beteken “om in druppels te val”. “Huppel” “om weer en weer te hop”, “krabbel” “om te krap”, “skrikkel” “om te spring”. Aan 29 Februarie, skrikkeldag, kan ’n mens dus dink as ’n dag wat in die kalender spring om die tydrekening in orde te bring. 2020 is ’n skrikkeljaar.

Dit is ook die begin van ’n nuwe dekade. Of is dit?

Elke Op de Beeck, van die horlosiemuseum in Mechelen, België, verduidelik dit so: Die wisseling van 19 na 20, met die nul agter die jaartal, laat dit voel asof een hoofstuk afgesluit is en ’n nuwe begin. Maar dit klop nie. In ons Gregoriaanse kalender begin die jaartelling by 1. ’n Nuwe eeu, sê maar die 19de, begin dus in 1801 en loop in 1900 ten einde. As ons dié logika volg, moet ons op 2021 wag voor ons ’n nuwe dekade kan vier. Maar, sê Elke, hoe raar dit ook mag klink, waar jy begin tel, hang eintlik maar van jou af. ’n Nul in ’n jaartal is ’n sielkundige drumpel. Baie mense wil dan ’n nuwe blaadjie omslaan. En in ons rekenaartyd word die jaar 0 bygetel. Die nuwe dekade kan dus ewe goed op 1 Januarie 2020 begin.

In Nederlands word daar na ’n tydperk van 10 jaar as ’n “decennium” verwys. “Desennium”, uit Latyn, staan ook in die WAT en die HAT, maar dié woord beskou ons in Afrikaans vandag as deftig of verouderd; ’n mens hoor dit nie eintlik meer nie. In Afrikaans gebruik ons “dekade” – met die betekenis “tiental” – soos in Engels, uit Grieks.

In Nederlands verwys “decade” na ’n periode van 10 dae, meer bepaald enigeen van die drie tydvakke van 10 dae elk waarin die maand in die ou Griekse kalender en later ook tydens die Franse Revolusie verdeel was. Pasop dus maar vir misverstand.

Soos in die geval van onnadenkende napraters van Engels, wat na “the turn of the decade”, “the turn of the century” verwys. Hulle het die betekenis aan die stert beet, wanneer hulle praat van “die eeuwending”, of “die draai van die dekade”. Hulle snap nie dat “turn” naas “draai” in Engels ook “verander” beteken, en dat dit hier om laasgenoemde betekenis gaan nie.

In Afrikaans hou ek maar by “eeuwisseling” en “dekadewisseling”.

“Wissel” beteken om iets vir iets anders te ruil: briewe, gedagtes, ratte, tande, woorde. Die een gaan oor in die ander. Ons ruil die oue vir die nuwe.

Laat ons op dié tydvak ’n glasie klink.

Deur die glase of kelkies drank wat ons vashou, liggies teen mekaar te laat klink, drink ons op iets of op iemand ’n heildronk.

Wanneer iets klink, maak dit ’n kort, skerp, helder geluid. “Klink” kan ook beteken om met behulp van klinknaels, spykeragtige pennetjies, iets aan iets anders vas te sit. Van daar die dubbele betekenis van die werkwoord “beklink”.

“Beklink” kan beteken “om iets vas te klink, dit met klinknaels vas te sit”, maar ook “om iets af te spreek”. Sake word met ’n heildronk beklink. As die saak beslis is, is dit beklonke.

’n Heildronk word ingestel deur goeie wense uit te spreek. Iemand word gesondheid of voorspoed toegewens. Soms word ’n heildronkstoespraak gehou. ’n Feesdronk, gesondheidsdronk, welkomsdronk, of afskeidsdronk. Ná die lof- of huldigingswoorde word die teenwoordiges gevra om hulle glase te lig en op die voorspoed van ’n geëerde gas, of bruidspaar, of op die nagedagtenis van ’n oorledene te drink.

Dié “toos”, soos die WAT ook opgeteken het – “toos”, skertsend, verouderd, na die Engelse “toast” – gaan dikwels met ’n drinkspreuk gepaard. Voordat ons ’n slukkie vat, werp ons iets tussenin. Dalk “Gesondheid!”, wat in die verlede met allerlei rympies uitgebrei is: “Gesondheid in die rondheid!” “Gesondheid in die rondheid – en al die mooi meisies in die blomtyd!”

Die “dronk” in “heildronk” is nie die byvoeglike naamwoord “dronk”, of die bywoord “dronk”, wat duiseligheid of lighoofdigheid aandui, dikwels as gevolg van die gebruik van sterk drank nie. “Heildronk” se “dronk” is ’n selfstandige naamwoord wat direk met die werkwoord “drink” verband hou. “Dronk”, of “dronkie”, wat ons nie meer as ’n alleenstaande woord ken nie, net nog in enkele samestellings, beteken “soveel as wat ’n mens op een slag kan drink”. Met ander woorde ’n teug, ’n sluk, ’n dop of drankie. By medisyne, dalk, ’n dosis. Uit die WAT: “Gee my asseblief ’n dronkie lekker koffie.” “Sy het ’n dronkie vlugsout geneem.” Van Riebeeck skryf in sy Daghregister van “een dronck wyn”.

Die “heil” van “heildronk” hou verband met die woord “heel”, wat kom van doer ver, uit Proto-Germaans, die oermoedertaal van ons Indo-Europese taalfamilie. As iets heel is, is dit ongeskonde. “Heel” beteken ook “om gesond te word”. As selfstandige naamwoord dui “heil” dus heelheid, of gesondheid, ongeskondenheid aan. Asook dinge wat daarmee verband hou: voorspoed, welsyn, welvaart, redding ...

As ’n mens ’n heildronk op ’n saak instel, wens jy vir ’n gelukkige uitkoms. As jy ’n heildronk op iemand instel, wens jy die persoon gesondheid toe.

Hieraan is nog ’n ander storie verbonde.

Lank gelede, word daar vertel, was dit so te sê onmoontlik om vas te stel of ’n drankie dalk gif bevat het. As ’n gasheer in dié vroeë eeue wou bewys het daar het in die glas drank wat hy ’n gas aanbied, nie dalk per ongeluk ’n spatseltjie gif beland nie – dat die wyn heilsaam, gesond was – het hy self eers, uit die vol glas van sy gas, ’n dronkie, ’n slukkie – ’n heildronk – gedrink. As die gas op sy beurt die gasheer vertrou, met sy lewe vertrou het; as hy gemeen het so ’n toetsslukkie vir gif is onnodig: dan het hy eenvoudig sy glas teen dié van sy gasheer gestamp, en dan het die gasheer gesê: “(Op jou) gesondheid!”

Dalk met ’n knipoog.

In Afrikaans, napraters wat ons is, gebruik ons ook drinkspreuke uit ander tale. Afhangende van mense se verwysingsraamwerk en voorkeure, hoe deftig of vernaam hulle graag klink, hoor ons, waar glase gelig word, ook ander tussenwerpsels. Soos: “Proost!” Of: “Prosit!” “Prosit! Dit gaan julle goed.” Uit Latyn, oorspronklik “prodesse”, wat letterlik beteken: “Mag dit tot voordeel wees.” Minder algemeen: “Salut!” of “Sulute!” (uit Italiaans); “Santé!” (uit Frans); “Sláinte!” (uitspraak: “slôn-cha”, uit Iers-Gaelies); “Skol!” (uit van die Skandinawiese tale; uit Ou Noors, “skál”, wat “bakkie” of “kommetjie” beteken); “Na zdrowie!” (uit Pools, Russies); “Lagaim!” of “Legaim!” (uit Hebreeus).

Die WAT het laasgenoemde ook as selfstandige naamwoord opgeteken: “legaim”, met die betekenis van ’n drankie, ’n sopie of ’n dop: “Hulle het gou ’n lagaimpie in die kroeg gaan maak.” “Gooi vir ons twee lagaimpies, asseblief!”

Langs die swembad, om die braaivleisvuur, op die agterstoep sê ons sommer: “Cheers!” En: “Tjorts!”

Laat hy val waar hy wil.

’n Gedeelte uit hierdie blog verskyn op 20 Desember 2019 in die rubriek “Woordwisseling” in Beeld logo

Lees 2134 tye Laaste modifikasie op Vrydag 20 Desember 2019 09:32
Meer in hierdie kategorie: « So skep ons in ons taal

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK