VIVA SE BLOGS

Woordsoorte: Wetenswaardighede oor die werkwoord II – soorte hoofwerkwoorde

Geplaas deur Sophia Kapp Vrydag, 04 Desember 2020
Gepubliseer in Nuus;

In die eerste blog wat ek oor werkwoorde geskryf het, het ek verduidelik hoe ons in die Afrikaanse skoolgrammatika (ASG) (gratis toeganklik via ons webblad) tussen hoofwerkwoorde en niehoofwerkwoorde onderskei. In ʼn neutedop: Hoofwerkwoorde kan alleen in ʼn sin optree, niehoofwerkwoorde moet altyd saam met ʼn hoofwerkwoord in ʼn sin optree.

Die beginsel wat 'n mens by die indeling van hoofwerkwoorde moet onthou, is dat werkwoorde geklassifiseer word op grond van hulle verhouding met die res van die gesegde. (Ons het ʼn blog oor die gesegde gepubliseer, maak seker jy neem kennis van wat daarin staan sodat jy weet wat ons onder die term verstaan.) Waarop dit neerkom, is dat die sinsdele wat op hoofwerkwoorde volg, op ʼn bepaalde manier met die hoofwerkwoord verband hou, en dit is die geaardheid van hierdie verbinding op grond waarvan ons ʼn hoofwerkwoord klassifiseer.

Die soorte hoofwerkwoorde wat ons in Afrikaans onderskei, val uit in twee oorhoofse groepe: koppelwerkwoorde en leksikale hoofwerkwoorde. Indien jy ʼn VOO-onderwyser of -leerder (of ʼn hulpvaardige ouer) is, gaan lees ook die afdeling in ASG oor die werkwoord vir ʼn volledige uiteensetting. Hier gee ons net ʼn bondige oorsig.

Wat koppel koppelwerkwoorde?

Kom ons begin met die koppelwerkwoorde, want as ʼn mens hulle uit die weg het, kan ʼn mens die ander hoofwerkwoorde makliker klassifiseer. Koppelwerkwoorde word so genoem, want hulle koppel ʼn eienskap van die subjek (onderwerp) aan die subjek.

Die bekendste koppelwerkwoorde is is, was, word, heet en die werkwoorde waarmee ons sintuiglike waarneming uitdruk: smaak, klink, voel, lyk, ruik:

  • Die kinders is pligsgetrou.
  • Die konsert was ʼn belewenis.
  • Die oumense word moeg.
  • Sy oudste seun heet Johan.
  • Die sop smaak sleg.
  • Jou voorstel klink goed.
  • Hy voel terneergedruk.
  • Die bruid lyk pragtig.
  • Haar parfuum ruik heerlik.

Ter wille van die illustrasie van die beginsel, het ek die sinne eenvoudig gehou, en in elke sin hier bo staan die subjek aan die begin van die sin. Gaan toets maar: In elke sin koppel die hoofwerkwoord daardie subjek aan ʼn eienskap van die subjek. Die konsert = ʼn belewenis; die bruid = pragtig.

Wat is leksikale hoofwerkwoorde?

Onder leksikale hoofwerkwoorde onderskei ons onoorganklike hoofwerkwoorde, oorganklike hoofwerkwoorde, dubbeloorganklike hoofwerkwoorde en onpersoonlike hoofwerkwoorde.

Wat behels oorganklikheid?

Hoofwerkwoorde se werk is grootliks om handeling in ʼn sin uit te druk. Die subjek is die ding wat die handeling uitvoer. Maar die handeling gaan nie net oor wie dit uitvoer nie, dit gaan ook oor wie of wat dit ondergaan. In die taalkunde sê ons die handeling "gaan oor op" iets of iemand.

Daardie handeling kan op een van drie maniere plaasvind:

  1. Dit kan net gebeur en niemand of niks word verder daardeur geraak nie (dit gaan nie oor op iemand of iets nie).
  2. Iemand of iets kan die handeling ondergaan of ontvang (die handeling kan direk op iemand of iets oorgaan).
  3. Iemand of iets kan direk die handeling ondergaan of ontvang, maar iemand of iets anders ondergaan of ontvang die handeling indirek (die handeling kan direk op iemand of iets oorgaan en indirek op iemand of iets oorgaan).

So werk dit:

  • Hy gee.
  • Hy gee geld.
  • Hy gee geld vir die skool.

In die eerste sin is daar ʼn handeling (gee), maar daar word nie gesê wat dit is wat gegee word, of wie dit is wat die gegee ondervind nie. Daar is gee dus ʼn onoorganklike hoofwerkwoord. In die tweede sin is daar ʼn ding wat gegee word, met ander woorde daar is ʼn referent waarop die handeling oorgaan (die geld is die ding wat gegee word). Daar is gee ʼn oorganklike hoofwerkwoord. In die derde sin is die direkte ontvanger van die handeling (die geld) steeds daar, maar die gegee gaan nie oor die geld nie, dit gaan oor die eintlike (indirekte) ontvanger van die gegee, en dis die skool. So ʼn hoofwerkwoord met ʼn direkte en indirekte ontvanger van die handeling, is ʼn dubbeloorganklike hoofwerkwoord.

Waaroor gaan die onpersoonlikheid by die werkwoord?

Onpersoonlike hoofwerkwoorde tree saam met die persoonlike voornaamwoord (let mooi op: nie meer onpersoonlike voornaamwoord nie) dit op waar dit ʼn plekhouer vir ʼn leë subjek is:

  • Dit reën.
  • Dit spook in daardie huis.

Waar pas wederkerende en wederkerige werkwoorde dan in?

Wederkerende en wederkerige werkwoorde is in der waarheid oorganklike hoofwerkwoorde, die referent van die subjek en die ding/persoon waarop die handeling oorgaan, is net een en dieselfde:

  • Hy vervies hom. (wederkerende oorganklike hoofwerkwoord)
  • Hulle groet mekaar. (wederkerige oorganklike hoofwerkwoord)

 

Die slaggate

Die "probleem" met ʼn blog soos hierdie, is dat die voorbeelde so eenvoudig is dat ʼn mens baie maklik die beginsel snap, maar dan kom ʼn mens in die "werklike lewe" of, erger nog, in ʼn eksamensituasie, waar ʼn mens met ʼn komplekse sin sit, waarin dinge nie so klinkklaar is nie.

Onthou maar net: Die beginsel bly dieselfde. Gaan bepaal die verhouding of verbinding tussen die werkwoord en die res van die gesegde, en dit sal wel duidelik word watter soort hoofwerkwoord in die sin optree:

  • Ek is nou al so moeg vir jou gekerm! (koppelwerkwoord; ek = moeg)
  • Die skoolhoof het hom bloedig vererg vir die rugbyafrigter se eiegeregtige optrede. (wederkerende oorganklike hoofwerkwoord; die skoolhoof en hom het dieselfde referent)
  • Die miljoenêr gee graag en met ʼn baie mooi gesindheid. (onoorganklike hoofwerkwoord; geen ontvanger van die gee-handeling nie)

In ons volgende blog oor werkwoorde, bespreek ek die soorte niehoofwerkwoorde.

VivA-groete

Sophia

Lees 1119 tye Laaste modifikasie op Vrydag, 04 Desember 2020 10:22
Meer in hierdie kategorie: « Die gesegde: 'n kattekoor

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.


NUUSARGIEF

FACEBOOK