Hierdie handelinge van gee en ontvang kan maklik gebruik word om die verband tussen die subjek (onderwerp) en die gesegde en sy verpligte sinsdele te verstaan. In my vorige blog het ek aangedui dat die gesegde alles in die sin is wat nie die subjek is nie. Die werkwoord (in die taalkunde die predikator) en die verpligte komplemente (die sinsdele wat noodsaaklik is om die sin grammatikaal te hou, onder andere die objek of voorwerp) is deel van die gesegde. As ons hierdie gee-en-ontvanghandelinge gebruik, kan ons onderskei dat daar iemand is (die subjek) wat iets gee (die werkwoord), daar is iets wat gegee word (die direkte objek) en daar is iemand wat iets ontvang (die indirekte objek).
Die direkte en indirekte objek van die sin het ʼn spesifieke verhouding met die subjek en die werkwoord van die sin.
- Die subjek is die entiteit is wat die handeling uitvoer of laat gebeur. (Lees hierdie blog oor die subjek.)
- Die werkwoord is die handeling wat plaasvind. (Lees hierdie blog oor die soorte hoofwerkwoorde in Afrikaans.)
- Die direkte objek is die sinsdeel wat die handeling ondergaan of ervaar maar dit is ook die sinsdeel waarop die handeling gerig is.
- Die indirekte objek het ʼn belang by die handeling as ʼn derde party en is dikwels die ontvanger van die direkte objek.
Die direkte objek word afgedwing (genoodsaak) deur die oorganklike werkwoord. Die oorganklike werkwoord gaan as’t ware “oor” op ʼn direkte objek, byvoorbeeld:
- My pa gee op 25 Desember Kersgeskenke.
- My pa deel op 25 Desember Kersgeskenke uit.
Die oorganklike werkwoorde gee en uitdeel hou in dat daar ʼn direkte objek moet volg om die sin grammatikaal te maak. Om net te sê
- *My pa gee op 25 Desember
- *My pa deel op 25 Desember uit
laat mens wonder wat nou met die res van die sin gebeur het. Bly Pa se uitgestrekte arms net in die lug hang?
Hoe herken ons die direkte objek van die sin?
In die blogs oor die subjek het ek aangedui hoe ʼn mens die subjek en werkwoord in ʼn sin identifiseer deur ʼn proses van eliminasie en deur sekere vrae te vra. Die vraag wie/wat [werkwoord]? is ʼn eenvoudige toets waarmee ʼn mens die subjek van ʼn sin kan bepaal. In die sin Die seuns oefen elke middag rugby, is oefen die werkwoord. Wie of wat oefen? Antwoord = die seuns = subjek.
Om die direkte objek van die sin te identifiseer, kan ʼn mens vra wie/wat [werkwoord] + [subjek]? In die voorbeeldsin Ouma bak beskuit identifiseer ons die sinsfunksies soos volg:
Werkwoord = bak
Wie/wat bak? = Ouma = subjek
Wie/wat bak Ouma? = beskuit = direkte objek
Nog ʼn maklike toets om seker te maak ʼn mens het die regte sinsdeel as direkte objek geïdentifiseer, is om die sin in die passief (lydende vorm) om te skakel. In passiefsinne staan die direkte objek meestal in die sinaanvang:
- Kersgeskenke word deur my pa uitgedeel.
- Beskuit word deur Ouma gebak.
Hoe verpligtend is die direkte objek?
In die blog oor werkwoorde het ons daarop gewys dat die direkte objek saam met ʼn oorganklike hoofwerkwoord optree. Die direkte objek is verplig as die oorganklike hoofwerkwoord altyd oorganklik is, bv.:
- Die skool beloon die uitblinkers.
- Die regering verwerp die begroting.
Dit is nie moontlik om hierdie werkwoorde in sinne te gebruik sonder direkte objekte nie:
- *Die skool beloon
- ?Die skool beloon gereeld.
- *Die regering verwerp.
- *Die regering verwerp gereeld.
Daarteenoor is daar hoofwerkwoorde wat nie ʼn direkte objek vereis nie, maar wel in ʼn bepaalde konteks een het, bv.:
- Hy praat twak. (Wat praat hy? = twak)
- Hy praat aanhoudend. (Wat praat hy?)
- Hy praat. (Wat praat hy?)
Die laaste twee sinne lewer nie ʼn antwoord op die vraag nie, daarom het dié twee sinne nie direkte objekte nie. Die eerste sin het egter wel een.
Watter soort bousels tree op as die objek van die sin?
Die direkte objek is, net soos die subjek, vormlik altyd ʼn naamwoordstuk. Dit beteken hierdie sinsfunksie gaan altyd ten minste ʼn naamwoord of persoonlike voornaamwoord bevat, en daardie naamwoord of persoonlike voornaamwoord gaan die kern van daardie sinstuk wees. (Lees weer hierdie blog oor die verskil tussen vorm en funksie in die sintaksis om kop te hou. Onthou dat vorm gaan oor hoe die sinsdeel lyk en dat funksie gaan oor wat die sinsdeel doen. As ons praat oor direkte objek, praat ons oor sinsfunksie. As ons praat oor naamwoordstuk, praat ons oor sinsvorm.)
Die heel belangrikste ding om hier in gedagte te hou, is dat die direkte objek nie met ʼn voorsetsel begin nie. Die oomblik as ʼn sinsdeel met ʼn voorsetsel begin, verrig dit ʼn ander sinsfunksie, moontlik dié van indirekte voorwerp. Maar daaroor skryf ek meer in die volgende blog.
Tot volgende keer!
Cecilia