VIVA SE BLOGS

Sintaksis: Die indirekte objek

Geplaas deur Cecilia Erasmus Donderdag, 25 Februarie 2021
Gepubliseer in VivA;

Trefwoorde: indirekte objek; indirekte voorwerp; sinsfunksies; sintaksis; sinsontleding

Dit is 6 dae voor Kersfees en Kersvader sit in die middel van ʼn bedompige winkelsentrum. Elke kort-kort vee hy sy voorkop af met ʼn sakdoek. Sy boepens peul oor die swart gordel wat verlede jaar nog gemaklik om sy middel gepas het. Hy blaas die wit donse van die plastiekbaard weg, en asem die warm lug in. Hy wens hy kon nou langs die swembad sit met ʼn koue bier in die hand. Kersfees in Afrika is nie vir sissies nie. Rondom hom staan die geskenke toegedraai in Kersfeeskleure. Jingle Bells, Jingle Bells, Jingle all the way… Hy kyk op sy horlosie. Hy sit nou al vier uur hier en steeds geen besoekers nie. Sedert daardie kwak met sy pseudopsigologiese twak vorendag gekom het, glo ouers kinders mag geen geskenke kry nie, want dit kweek net bedorwe brokkies. Fabrieke maak steeds geskenke. Die winkelsentrums draai dit steeds toe in helder kleure. Kinders kyk steeds met verlangende oë, maar helaas… Kersfees en kindervreugde gaan lankal nie meer hand aan hand nie. Vir wie gee mens nou Kersgeskenke?

In my vorige blog het ek verwys na die direkte objek wat volg op die oorganklike werkwoord. Die direkte objek word afgedwing (genoodsaak) deur die oorganklike werkwoord. Die handeling wat deur die oorganklike werkwoord beskryf word, gaan as’t ware “oor” op ʼn direkte objek, byvoorbeeld:

  • Kersvader gee op 25 Desember Kersgeskenke.
  • Kersvader deel op 25 Desember Kersgeskenke uit.

In die goeie ou dae het Kersvader geskenke vir kinders gegee, hy het geskenke aan kinders uitgedeel.

  • Kersvader gee op 25 Desember Kersgeskenke vir kinders.
    Kersvader deel op 25 Desember Kersgeskenke uit aan kinders.

In die goeie ou dae is geskenke (die direkte objek) gegee vir kinders (die indirekte objek).

Met die Kersindustrie wat tot ʼn val gekom het en geen kinders wat geskenke ontvang nie, staan my arme Kersvader met uitgestrekte arms maar niemand ontvang die geskenke nie.

Wat is ʼn indirekte objek?

Van Schoor (1983) verwys na die indirekte objek as die “belanghebbende objek” aangesien die indirekte objek as derde party ʼn belang het by die objek.

Een van twee dinge kan gebeur met ʼn indirekte objek:

1.  Die indirekte objek is die ontvanger van ʼn direkte objek. Die subjek gee as’t ware iets (die direkte objek) vir die ontvanger (die indirekte objek).

  • Die man bied haar ʼn werk aan.
  • Die weldoener bewys ʼn groot guns aan die publiek.

2.  Die indirekte subjek kan egter ook iets verloor of prysgee en dan is die prefiks ont- dikwels teenwoordig, byvoorbeeld:

  • Hulle ontneem hom sy voorregte.

Die indirekte objek vertoon ʼn paar kenmerke:

Slegs werkwoorde met die grondbetekenis ‘gee’ en ‘ontneem’ het beide ʼn direkte en ʼn indirekte (belanghebbende) objek as komplemente nodig. Daar is dus slegs ʼn beperkte aantal werkwoorde wat die indirekte objek se gebruik afdwing of impliseer.

ʼn Paar werkwoorde wat indirekte objekte afdwing of impliseer is:

  • aanbied [Hy bied haar ʼn glas wyn aan.]
  • bewys [Sy bewys hom ʼn guns.]
  • bied [Die film bied regisseurs ʼn groot geleentheid.]
  • gee [Kersvader gee die kind ʼn geskenk.]
  • gun [Ek gun Venter sy kans.]
  • meedeel [Die joernalis deel ons die nuus mee.]
  • toedien [Die verpleegster dien hulle ʼn inspuiting toe.]
  • skuld [Die skarminkel skuld jou baie geld.]
  • vergeef [Die meisie vergeef hom sy ontrouheid.]
  • wys [Die petroljoggie wys my die pad.]

Let daarop dat die direkte objek nooit saam met ʼn voorsetsel optree nie, terwyl die indirekte objek dikwels saam met die voorsetsel vir of aan gebruik word.

Die indirekte objek in Afrikaans gaan dikwels gepaard met die voorsetsel vir of aan. Dit is egter moontlik om die voorsetsel weg te laat, en dan steeds ʼn grammatikale sin te hê. Selfs sonder die voorsetsel is daardie sinstuk se funksie steeds dié van indirekte objek:

  • Hy gee vir haar ʼn roos.
  • Hy gee haar ʼn roos.

Nog ʼn kenmerk van die indirekte objek is dat dit nie soos die direkte objek in die passief in die sinsaanvang kan staan nie. Die volgende sin is ongrammatikaal:

  • *Vir haar word deur hom ʼn toekenning gegee.

Dit is wel moontlik om te skryf:

  • ʼn Toekenning word deur hom vir haar gegee.
  • ʼn Toekenning word vir haar gegee.

Daar word dikwels na die indirekte objek as die “persoonsobjek” verwys omdat dit feitlik altyd ʼn persoon (mens) as referent het. Hierdie gebruik word egter nie aanbeveel nie, want direkte objekte kan ook na iets anders as ʼn mens verwys, wat dus verwarring kan veroorsaak:

  • Hulle gee die plante water.

Hoe herken ʼn mens ʼn indirekte objek in ʼn sin?

Om die indirekte objek van die sin te identifiseer, vra ʼn mens Vir/aan wie [werkwoord] die [subjek] die [objek]? In die voorbeeldsin Ouma bak beskuit vir die koshuiskinders identifiseer ons die sinsfunksies soos volg:

Werkwoord = bak
Wie/wat bak? = Ouma = subjek
Wie/wat bak Ouma? = beskuit = direkte objek
Vir wie/aan wie bak Ouma beskuit? = die koshuiskinders = indirekte objek

Gelukkig is Kersfees darem nie gekanselleer nie, en kan kinders nog geskenke van Kersvader ontvang. Kersvader het darem nog objekte wat hy aan indirekte objekte kan uitdeel!

Tot volgende keer!

Cecilia

 

Lees 2166 tye Laaste modifikasie op Donderdag, 25 Februarie 2021 13:15

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.


NUUSARGIEF

FACEBOOK