VIVA SE BLOGS

Wetenswaardighede oor die werkwoord III: Niehoofwerkwoorde

Geplaas deur Sophia Kapp Donderdag, 04 Maart 2021
Gepubliseer in Nuus;

Trefwoorde: woordsoorte; werkwoorde; niehoofwerkwoorde; skakelwerkwoorde; indirekte skakelwerkwoord; direkte skakelwerkwoord; hulpwerkwoorde; hulpwerkwoord van tyd; hulpwerkwoord van modaliteit; omskrywingshulpwerkwoord

Hierdie blog handel oor die niehoofwerkwoorde (ook: medewerkwoorde) wat ons in Afrikaans onderskei. Dit is die derde blog in die reeks oor werkwoorde, daar is reeds een oor werkwoorde as ʼn woordsoort en een oor die soorte hoofwerkwoorde gepubliseer. Hierdie besprekings bied slegs ʼn oorsig; ʼn volledige bespreking van die soorte werkwoorde lê in die Afrikaanse skoolgrammatika (ASG), gratis toeganklik via ons webblad.

Wat is niehoofwerkwoorde?

Niehoofwerkwoorde is werkwoorde wat altyd saam met ʼn ander werkwoord in ʼn sin optree. Hoofwerkwoorde is werkwoorde wat alleen in sinne kan optree, en niehoofwerkwoorde is al die werkwoorde wat saam met hierdie hoofwerkwoorde in sinne gebruik kan word. Byvoorbeeld:

  • Die kinders slaap vroeg. [hoofwerkwoord; enigste werkwoord in die sin]
  • Die kinders gaan slaap vroeg. [niehoofwerkwoord; tree saam met ʼn hoofwerkwoord (slaap) op, kan nie alleen optree (met dieselfde betekenis) nie: ?Die kinders gaan vroeg.]
  • Die kinders het vroeg gaan slaap. [niehoofwerkwoord; tree saam met ʼn hoofwerkwoord op, kan nie alleen optree nie: *Die kinders het vroeg.]

Watter soorte niehoofwerkwoorde kry ons?

Niehoofwerkwoorde val in twee groepe uiteen: skakelwerkwoorde en hulpwerkwoorde.

Skakelwerkwoorde is werkwoorde wat soos hoofwerkwoorde lyk, maar eintlik niehoofwerkwoorde is omdat dit saam met hoofwerkwoorde optree. Die skakeling met die hoofwerkwoord kan direk wees (sonder en) of dit kan indirek wees (met en):

  • Die kinders gaan slaap vroeg.
  • Die leerders probeer luister.
  • Johann sit die hele dag en droom.
  • Sy het my loop en beskinder by al wat leef en beef.

Die gereeldste vraag oor skakelwerkwoorde is of ʼn mens die ge- saam met hulle kan/mag/moet gebruik. Baie skoolhandboeke stel trouens voor dat ʼn mens ʼn skakelwerkwoord herken op grond van die feit dat ʼn mens daardie prefiks by die skakelwerkwoord gebruik en nie by die hoofwerkwoord nie, byvoorbeeld:

  • Die leerders het opgehou luister.
  • Johann het die hele dag gesit en droom.
  • Sy het my by al wat leef en beef geloop en beskinder.

Dit is waar, en dit is ʼn manier om te bepaal of ʼn woord werklik ʼn skakelwerkwoord is en of dit ʼn addisionele hoofwerkwoord is:

  • Die leerders het gesit en praat. [skakelwerkwoordkonstruksie; slegs die skakelwerkwoord kry ge-]
  • Die leerders het gelag en gepraat. [twee hoofwerkwoorde; albei die werkwoorde kry ge-]

Maar dit beteken nie dat die skakelwerkwoorde ge- móét kry nie. AWS 19.8 bepaal uitdruklik dat skakelwerkwoorde met of sonder ge- geskryf kan word, en dit staan die gebruiker vry om die vorm te gebruik wat vir hom/haar die natuurlikste op die oor val.

Daar word verder drie soorte hulpwerkwoorde onderskei: die hulpwerkwoord van tyd, hulpwerkwoord van modaliteit en die omskrywingshulpwerkwoord.

Daar is in Afrikaans slegs een hulpwerkwoord van tyd, naamlik het, byvoorbeeld:

  • Hy het geslaap.
  • Die leerders het probeer werk.
  • Die gehoor het gesit en lag.

Hulpwerkwoorde van modaliteit druk moontlikheid, waarskynlikheid, verpligting, wense, versugtinge, ens. uit:

  • Hy wil graag slaap.
  • Hy sal later slaap.
  • Hy sou graag wou geslaap het.

Dit is gewoonlik vir gebruikers ʼn skok om uit te vind dat hulpwerkwoorde waarmee die toekomende tyd aangedui word nie hulpwerkwoorde van tyd is nie, maar van modaliteit. Dit word so geklassifiseer omdat enige uitspraak oor die toekoms eintlik ʼn vooruitsig/versugting is. Die hulpwerkwoorde gaan en sal kan ook baie maklik in dreigemente aangewend word:

  • Jy sal môre hierdie huiswerk doen, of jy is vir die naweek gehok.
  • Jy gaan môre hierdie huiswerk doen, of jy is vir die naweek gehok.

(Oor die uitruilbaarheid van sal en gaan in hierdie kontekste het ek ook al ʼn blog geskryf.)

Omskrywingshulpwerkwoorde is hulpwerkwoorde wat in passiefkonstruksies optree. In skoolhandboeke word dit “hulpwerkwoorde van vorm” genoem, maar dit is nie ʼn akkurate benaming nie. Alle hulpwerkwoorde is noodsaaklik om die sin vormlik korrek te maak. Die “omskrywing” in die naam van hierdie soort hulpwerkwoorde verwys na die feit dat die onderwerp en voorwerp in die passief omruil en dat dit ʼn omskrywing van die situasie behels. Die term is baie lank al in die taalkunde gevestig, dit is net skoolhandboeke wat met die ou term voortgestoom het:

  • Hy doen die huiswerk. [hoofwerkwoord]
  • Die huiswerk word gedoen. [omskrywingshulpwerkwoord]
  • Die huiswerk is gedoen. [omskrywingshulpwerkwoord]
  • Die huiswerk sal gedoen word. [omskrywingshulpwerkwoord; die sal is ʼn hulpwerkwoord van modaliteit]

Let wel: Hierdie blog is ʼn oorsig oor die niehoofwerkwoorde. Raadpleeg die Afrikaanse skoolgrammatika in Taalonderrigportaal vir ʼn volledige bespreking, meer voorbeelde, en die fyn onderskeide wat ʼn mens op grond van hulle gebruik in spesifieke kontekste tussen die werkwoorde maak.

VivA-groete

Sophia

Lees 560 tye Laaste modifikasie op Vrydag, 05 Maart 2021 08:07

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.


NUUSARGIEF

FACEBOOK