VIVA SE BLOGS

ADJUNKKONSTABEL ABEL (die adjunk) ʼn Moordverhaal in drie bedrywe

Geplaas deur Cecilia Erasmus Donderdag, 25 Maart 2021
Gepubliseer in Nuus;

Trefwoorde: sintaksis, sinsontleding, sinsfunksies, adjunk, bywoordelike bepaling, randadjunk, gesegde, subjek

BEDRYF 1

Toe adjunkkonstabel Abel by die moordtoneel opdaag, lê die slagoffer steeds kop onderstebo, uitgestrek in ʼn plas bloed. Hy hurk en druk sy voorvinger in die rooi wat deur sy Nikes sypel. Dit is klewerig en warm ... Forensies sal moet gou maak – die hittegolf bespoedig die ontbindingsproses. Hy vra rond en skryf opsommend in sy notaboek:

Tyd: Die slagoffer is omstreeks half twee vanoggend oorval en in die bors gesteek. Sy het twaalf minute later beswyk.

Plek: Die slagoffer lê in ʼn toilet in die Ghandi Square, Marshalltown, Johannesburg.

Wyse: Die slagoffer is herhaaldelik en brutaal met ʼn mes gesteek.

Adjunkkonstabel Abel vryf oor sy dag oue stoppelbaard en stap na die verdagte wat eenkant geboei staan en wag op die polisiewa om hom op te laai. Passiemoorde is altyd so voorspelbaar.

BEDRYF 2

Wat is ʼn adjunk?

Adjunkte is nieverpligte sinsdele in die gesegde van die sin. Dit beteken dat hierdie sinsdele nie nodig is om die sin grammatikaal te maak nie.  ʼn Sin moet ʼn subjek hê, en ʼn sin moet ʼn gesegde hê. Die subjek moet ten minste uit ʼn naamwoord of voornaamwoord bestaan, en die gesegde moet ten minste ʼn hoofwerkwoord bevat:

  • Carina leer.
  • Die aanvaller moor.

Adjunkte dra egter by tot die rykheid van die betekenis wat deur die sin gekommunikeer word (Van Rooy 2017:286) en in die konteks van my storietjie hier bo, benodig adjunkkonstabel Abel juis die ryk en waardevolle inligting wat deur die inhoud van die adjunk verskaf word.

  • Carina leer baie hard vir die Wiskundetoets.
  • Die aanvaller moor brutaal.

Watter soorte adjunkte kry ʼn mens?

Ons onderskei twee soorte adjunkte: randadjunkte en bywoordelike bepalings

Wat is ʼn randadjunk?

Randadjunkte is gewoonlik nie moeilik om te herken nie, want hulle word met kommas van die res van die sin geskei. Randadjunkte kan aan die begin of einde van die sin voorkom, en dit kan vormlik bestaan uit woorde, frases of sinne. Die vetgedrukte dele in die volgende voorbeeldsinne is alles randadjunkte:

  • Greta, het jy die tafel gedek?
  • Goeiemôre meneer Dippenaar, hoe gaan dit vandag?
  • Verdomp, kyk waar jy loop!
  • Kyk jy, Sarie, waar jy loop?
  • Kyk waar jy loop, verdomp!
  • Dit is mos jy wat vanaand sing, nie waar nie?
  • Wat is jou naam, ?

Wat is ʼn bywoordelike bepaling?

ʼn Bywoordelike bepaling is ʼn weglaatbare sinsdeel wat in die gesegde voorkom. Dit is een van die begrippe wat oneindige verwarring veroorsaak, daarom bespreek ek dit hier breedvoerig.

Wanneer praat ons van ʼn “bywoordelike bepaling” en wanneer praat ons van ʼn “bywoord”?

Een van die grootste kopsere vir onderwysers en leerders, is om te onderskei tussen die benaming bywoordelike bepaling en die term bywoord.

Onthou dat bywoord verwys na ʼn woordsoort. Woordsoorte is volledig in die Afrikaanse Skoolgrammatika bespreek (gratis toeganklik in ons Taalonderrigportaal), en die bywoord is breedvoerig bespreek en toegelig in die hoofstuk oor bywoorde.

ʼn Bywoordelike bepaling is ʼn sinsfunksie. Dit beteken dit is ʼn sinsdeel wat ʼn bepaalde funksie in die sin verrig.

Dit is baie belangrik om hierdie beginsel onder die knie te kry: ʼn Woord het ʼn woordsoort, en ʼn sinsdeel het ʼn funksie. Wanneer ons van woordsoorte praat, praat ons oor die woord se verhouding met ander woorde. Wanneer ons van sinsfunksie praat, verwys ons na die werk wat ʼn bepaalde sinsdeel ten opsigte van die werkwoord in die sin verrig.

Dit klink dalk vreeslik verwarrend, maar kom ek verduidelik die verskil aan die hand van hierdie voorbeeldsin:

  • Carina leer hard.

As ons hierdie sin se woordsoorte bepaal, sien ons daar is ʼn naamwoord (Carina, ʼn eienaamwoord), ʼn hoofwerkwoord (leer, in hierdie geval onoorganklik) en ʼn bywoord (hard, in hierdie geval ʼn adjektiwiese bywoord, want dit is gradeerbaar).

As ons die sin se sinsfunksies bepaal, sien ons daar is ʼn subjek (Carina), ʼn gesegde (leer hard), wat bestaan uit ʼn predikator (leer) en ʼn adjunk wat binne die gesegde voorkom en dus ʼn bywoordelike bepaling is (hard).

Soos wat Carina in die voorbeeldsin woordsoortlik ʼn naamwoord is en in die sinsfunksie van subjek optree, so is hard woordsoortlik ʼn bywoord wat in die sinsfunksie van bywoordelike bepaling optree. Dit is waar dat hard ʼn bywoord is, maar ons praat oor bywoorde as ons van woordsoorte praat. Dit is ook waar dat hard in hierdie sin ʼn bywoordelike bepaling is, maar ons praat oor bywoordelike bepalings as ons van sinsfunksies praat.

Dit gaan dus gewoon oor met watter deel van die grammatikabeskrywing ons besig is. Die term bywoord hoort by woordsoorte. Die term bywoordelike bepaling hoort in die sintaksis.

Moet daar ʼn bywoord in die bywoordelike bepaling wees?

Die kort antwoord is: nee. Die langer antwoord is: Die bywoordelike bepaling doen ʼn werk in die sin. Hierdie werk kan vormlik deur ʼn woord, ʼn frase of ʼn sin verrig word. As die bywoordelike bepaling ʼn frase of ʼn sin is, is daar heel moontlik nie ʼn bywoord in die bywoordelike bepaling nie:

  • Carina leer saans.
  • Carina leer in die aande.
  • Carina leer wanneer haar huismense al slaap.

In hierdie voorbeeldsinne is die vetgedrukte dele telkens die bywoordelike bepaling. Die werk wat hierdie sinsdele vir die sin doen, is dieselfde, al verskil hierdie sinsdele totaal wat hulle vorm betref: Die eerste is ʼn woord (in hierdie geval ʼn bywoord), die tweede is ʼn frase (in hierdie geval n voorsetselstuk) en die derde is ʼn sin (in hierdie geval ʼn bywoordelike bysin). As jy die blog misgeloop het oor die onderskeid wat in die sintaksis tussen vorm en funksie getref word, lees dit hier.

Waar word die bywoordelike bepaling in die sin geplaas?

Bywoordelike bepalings kan aan die begin van die sin, naby die werkwoord in die middelveld, of aan die einde van die sin gebruik word:

  • Soggens is die verkeer erg.
  • Die verkeer is soggens erg.
  • Die verkeer is erg soggens.

Wanneer meer as een bywoordelike bepaling in die sin gebruik word, is sprekers geneig om hulle te plaas in die volgorde: tyd, wyse, plek:

  • Ek ry [soggens] [met my kar] [werk toe].

Dit is egter nie ʼn voorskrif nie. Dis net so korrek om te skryf:

  • Ek ry [soggens] [werk toe] [met my kar].
  • [Soggens] ry ek [werk toe] [met my kar].

Watter soorte bywoordelike bepalings word in die sintaksis onderskei?

Sintakties onderskei ons tussen die volgende:

  • Bywoordelike bepalings van omstandigheid
  • Bywoordelike bepalings van houding
  • Bywoordelike bepalings van skakeling

Die bywoordelike bepaling waarmee ons as onderwysers hoofsaaklik gemoeid is, is die bywoordelike bepaling van omstandigheid en dit verdeel tradisioneel onder die drie hoofkategorieë tyd, wyse en plek. Ponelis (1979: 351; 325) onderskei egter ook graad en rigting as onderafdelings van bywoordelike bepalings van omstandigheid. So lyk sulke bywoordelike bepalings in ʼn sin:

  • Saans is dit koel.
  • Eet jou kos met ʼn mes en vurk.
  • Hy het die boek in sy tas gesit.
  • Hy praat wanneer hy veronderstel is om stil te bly.
  • Die meisies skree kliphard.

Bywoordelike bepalings van houding druk die gesindheid van die spreker teenoor die situasie uit, en lyk so:

  • Ek het jou mos gesê.
  • Dit is darem die moeite werd.
  • Gaan jy nou regtig met haar trou?

Bywoordelike bepalings van skakeling tree gewoonlik tussen sinne (hoofsinne of bysinne) op, en lyk so:

  • Hy is moeg, nietemin slaap hy nie.
  • Ons is nou klaar met sessie 1. Vervolgens doen ons praktiese werk.

Waarmee kan die bywoordelike bepaling moontlik verwar word?

Bywoorde kan voor adjektiewe voorkom wat byvoorbeeld in die subjek van ʼn sin staan. In so ʼn geval is daardie bywoord nie ʼn bywoordelike bepaling nie, dis gewoon ʼn deel van die subjek.

  • ʼn Paar baie dapper mense durf sintaksis aan.
  • Erg gestremde leerders kan ook hierdie aktiwiteit bemeester.

BEDRYF 3

Danksy die inligting wat adjunkkonstabel Abel uit die tyd, wyse en plek van my moordverhaal kon vind, was dit maklik om die slagoffer en verdagte op te spoor. Die bywoordelike bepaling is soos ‘n polisieverslag wat meer inligting oor aangerand, die werkwoord, gee:

  • Die verdagte het omstreeks halftwee vanoggend die slagoffer herhaaldelik en brutaal aangerand in ‘n toilet op die Ghandi square, Marshalltown, Johannesburg.

Tot volgende keer! 

Cecilia

Lees 493 tye Laaste modifikasie op Donderdag, 25 Maart 2021 15:42

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.


NUUSARGIEF

FACEBOOK