Ek kry gister ʼn navraag van ʼn gereelde VivA-gebruiker met jare se ervaring in die onderwys en ʼn paar generasies se toppresteerders in Afrikaans op haar merietelys. Leerders is in ʼn toets gevra om ʼn homofoon vir die woord lei te gee, sê sy, en heelwat het lui as antwoord geskryf. Die memorandum dui slegs ly as die antwoord aan, maar die leerders sê volgens die definisie vir homofone in die handboek, is hulle reg – as hulle lui en lei sê, klink dit dieselfde. Hoe nou gemaak?
Dit klink na ʼn voor die hand liggende antwoord (nee wat, kinders, julle ontrond), maar soos met die meeste goed in die taalkunde, is die antwoord nie so eenvoudig nie. Die leerders is reg of verkeerd, afhangend van ʼn mens se benadering.
Ek het self onlangs in hierdie slaggat getrap toe ek ʼn lys homofone probeer opstel het. Ek het volgens die bekende definisie gewerk wat ons almal op skool geleer het, en soos wat dit in hierdie Wikipedia-artikel gestel word: Homofone is woorde wat presies eenders klink, maar waarvan die betekenis en spelling verskil. Die voorbeelde wat in die artikel aangehaal word, is onder andere:
- brei (doen dit met velle of ’n sportspan), bry (die klank “r” met die kleintongetjie uitspreek)
- dokter (geneesheer, meervoud dokters), doktor (iemand wat die hoogste akademiese graad verwerf het, meervoud doktore)
- eet(eet kos), eed (lê 'n eed af)
- faal (misluk), vaal (vervelend, vuilwit, bleekgeel, gryserig of bleekbruin)
Toe ek my lys vergelyk met die lys wat deur die Sentrum vir Tekstegnologie (CTexT®) vir taalkundige navorsing opgestel is, kry ek in hulle lys ook voorbeelde soos huis x hys en lui x lei x ly. Ek is dadelik op my perdjie – watse geknoei is dit hierdie? Almal weet mos hier is ontronding aan die gang, en hoe kan sulke gevalle as homofone beskou word?
Die antwoord (en ek parafraseer hier) is dat daar in fonologiese navorsing, met baie duur toerusting en ure se opnames, bevind is dat die oorwig taalgebruikers die woorde huis en hys presies dieselfde uitspreek. (Jy mag dink jy is anders, maar dis omdat jy nou op die uitspraak bedag is. Luister maar eerlik na wat jy doen as jy nie konsentreer op jou uitspraak nie.) Net so met lui en lei – die uitspraak van die twee woorde is identies. Dit is met ander woorde nie net slordige taalgebruikers wat ontrond nie, almal ontrond. Wat beteken dat die leerders wat lui en lei as homofone geïdentifiseer het, presies in die kol was.
Maar wat nou van die memorandum?
Daar is in die beskrywing van ʼn taal se grammatika meestal twee benaderings: een wat wil beskryf (ʼn deskriptiewe benadering) en een wat wil voorskryf (ʼn preskriptiewe benadering). Navorsers dring aan op die eerste, want hulle werk is om te ondersoek wat in werklike taalgebruik aangaan, nie om taalgebruikers soos ʼn trop skape op pad kraal toe op koers te hou nie. Onderwysers en taalpraktisyns volg gewoonlik die tweede benadering, want in hulle werk is dit nodig om ʼn oordeel te maak oor ʼn “regte” of “verkeerde” keuse. Veral onderwysers, wat jong taalgebruikers moet oplei om ʼn bestaande stel konvensies te bemeester, moet darem iewers voor in die wapad ʼn lig hê om die skapies huis toe te lei (ly/lui).
My aanbeveling vir mense (onderwysers, ouers, tutors) wat kinders deur die skoolstelsel moet ondersteun, is om bewus te wees van die preskriptiewe aard van grammatikabeskrywing wat in ʼn skoolomgewing geld. Ja, dit is meer konvensioneel. Ja, dit is enger. Maar dis nou ook nie heeltemal verkeerd om jong skapies op die smaller paadjie te hou eerder as om hulle op die grootpad te laat dwaal nie.
Daarom sê ek vir die navraer: Help die kinders deur die definisie vir homofonie om te swaai. Ek weet homofonie gaan vir die meeste mense oor hoe ʼn woord klink, maar maak dit dalk eerder oor spelling as oor klank. Verduidelik vir kinders dat dit gaan oor twee (of meer) woorde wat verskillend gespel word en verskillende betekenisse het, maar dat die verskillende spelwyses eintlik dieselfde klank voorstel. En wys hulle daarop dat die spellingverskille te make het met vier kwessies (kyk gerus weer na die Wikipedia-lys se voorbeelde):
- Die f en die v wat in verskillende woorde dieselfde klank voorstel (ʼn spellingnagmerrie wat ons so uit Nederlands gekry het), bv. faal x vaal
- Die ei en die y in verskillende woorde dieselfde klank voorstel (ditto), bv. lei x ly
- Die d en die t wat albei aan die einde van woorde as [t] uitgespreek word, bv. boud x bout
- Enkele gevalle van vokaalreduksie (die verskynsel dat ʼn vokaal as ʼn schwa uitgespreek word), bv. doktor x dokter
As ʼn mens so om werk, word dit duidelik dat die ui-spelling nooit bedoel was as ʼn ander manier om ʼn [ǝi]-klank voor te stel nie. Ja, ons spreek dit in die werklikheid dieselfde uit en ja, die deskriptiwiste onder ons gaan so ʼn identifikasie van homofone ondersteun. Ja, as die kinders navorsers was, was hulle reg. Maar nou is hulle nie navorsers nie, nou is hulle nog lammers en nou loop hulle nog op die smalle weg. En dis goed so.
VivA-groete
Sophia