VIVA SE BLOGS

Akademiese skryfvaardighede I: Akademiese bronne

Geplaas deur Stefan van Zyl Dinsdag, 11 Mei 2021
Gepubliseer in Nuus;

Trefwoorde: akademiese bronne; akademiese skryfvaardighede

In my nuwe blogreeks fokus ek op enkele aspekte van akademiese skryfwerk met die oog op VivA se werkwinkel oor akademiese skryfvaardighede wat eersdaags bekendgestel word. Hoewel die meeste tersiêre onderriginstansies modules in akademiese geletterheid aanbied, ontvang VivA dikwels navrae van studente en dosente wat met akademiese skryfvaardighede verband hou. Een van die grootste knelpunte blyk die hantering van akademiese bronne te wees, en daarom spring ek met hierdie onderwerp weg.

Dit is belangrik om te onthou dat elke universiteit (van tegnologie), fakulteit, departement, skool en navorsingseenheid sig eie stel voorskrifte en riglyne het wat akademiese skryfwerk betref. Dit in ag genome, is daar wel sekere akademiese konvensies wat oorvleuel en waarvan enigeen wat akademiese aspirasies het, bewus behoort te wees. Die doel van hierdie blogreeks is dus nie om voorskriftelik te wees nie, maar eerder om algemene riglyne te bied wat die skryf van akademiese tekste betref.

Ons leef tans in ʼn wêreld waarin feit en fiksie toenemend vervleg word. Derhalwe word dit al moeiliker om tussen die twee te onderskei, en juis daarom is die vermoë om krities met inligting om te gaan, ʼn onontbeerlike vaardigheid. Die ideaal is natuurlik dat leerders op skool reeds leer hoe om na akademiese bronne te verwys en om bronnelyste volgens spesifieke verwysingmetodes saam te stel sodat hulle reeds die basiese vaardighede onder die knie het wanneer hulle tersiêre onderriginstansies betree. Helaas word die gaping tussen basiese en tersiêre onderrig ook in hierdie verband al wyer. Ek kry dikwels met nagraadse studente te doen wat steeds nie behoorlik met akademiese bronne kan omgaan nie, en om daardie vaardighede dan aan te leer, kan heelwat kosbare tyd en energie in beslag neem wat beter aan die verhandeling of proefskrif gewy kon word.

In die eerste aflewering van hierdie reeks skryf ek in breë trekke oor die wat, waarom en waar van akademiese bronne.

Wat is ʼn akademiese bron?

ʼn Akademiese bron is ʼn vakinhoudelike teks wat deur ʼn kundige op sy/haar/sig vakgebied geskryf en gewoonlik deur akademiese eweknieë ten opsigte van kwaliteit en akkuraatheid beoordeel en goedgekeur is. Die sleutelwoord wanneer dit kom by die identifisering van akademiese bronne is gesaghebbendheid. Die gesaghebbendheid van ʼn akademiese bron verwys na die betroubaarheid van die inligting wat in die bron vervat is, sowel as die bevoegdheid van die persoon/persone wat die bron geskryf het.

Die volgende kriteria kan gebruik word om gesaghebbende akademiese bronne te identifiseer:

  • Wat is die kwalifikasies van die outeur?
  • Waar is die outeur geaffilieer?
  • Wie het die bron gepubliseer?
  • Het die bron ʼn bronnelys/bibliografie?
  • Het die bron eweknie-evaluering ondergaan?
  • Is die bron in formele en objektiewe akademiese taal geskryf?
  • Wie is die teikengehoor van die bron?

Die vernaamste akademiese bronne wat gewoonlik aan hierdie kriteria voldoen, sluit in:

  • Boeke (papierformaat of elektronies)
  • Versamelwerke
  • Ensiklopedieë
  • Woordeboeke (meer spesifiek vakwoordeboeke)
  • Proefskrifte en verhandelings
  • Artikels in akademiese tydskrifte
  • Konferensiebydraes

Benewens hierdie vernaamste akademiese bronne, kan die volgende ook as bronne in akademiese tekste gebruik word, mits die navorser seker maak dat die bron gesaghebbend en toepaslik is:

  • Internetartikels
  • Webjoernale (blogs)
  • Sosiale media (moet met heelwat diskresie hanteer word)
  • Oudiovisuele media (foto’s, video’s, musiek, klankgrepe, radio, televisie)
  • Lesingnotas (verkieslik deur ʼn dosent opgestel)
  • Elektroniese nuusbriewe
  • Studiegidse
  • Wette
  • Hofsake
  • Staatspublikasies
  • Standaarde, beleide, regulasies
  • Religieuse tekste (moet met diskresie hanteer word)
  • Klassieke werke
  • Persoonlike onderhoude
  • Datastelle

Internetbronne soos Wikipedia en die Afrikaanse webwerf Mieliestronk word nie as betroubare akademiese bronne erken nie. Die probleem is nie soseer die gehalte van die werk nie, maar op Mieliestronk is daar byvoorbeeld geen bronverwysings of bronnelyste nie, wat beteken dat ʼn mens nie die oorsprong van die inligting kan naspoor nie. Omdat Wikipedia ʼn skareprojek is, is die artikels daarop oop vir redigering deur enigiemand, en derhalwe staan die geldigheid van die inhoud onder verdenking. Desnieteenstaande dien Wikipedia wel as ʼn goeie wegspringplek wanneer jy vinnig ʼn oorsig oor ʼn bepaalde onderwerp wil kry, en dit is soms nuttig om die bronnelyste onder aan inskrywings te raadpleeg ten einde die oorspronklike bronne op te spoor.

Waarom moet ek akademiese bronne gebruik?

Benewens die feit dat geldige akademiese bronne wat oordeelkundig gekies is die onderbou van enige akademiese argument vorm, is dit ook uiters belangrik om te weet hoe om sodanige bronne te gebruik, aangesien dit die enigste manier is om plagiaat te vermy.

In die derde uitgawe van die Noordwes-Universiteit se amptelike Verwysingsgids (2020) deur Anneke Coetzee, word plagiaat soos volg omskryf:

Plagiaat is die weergee van iemand anders se werk of idees sonder om aan daardie persoon erkenning te gee, en dit dan as jou eie voor te stel. Dit kom neer op akademiese of intellektuele diefstal.

Daar is verskeie maniere waarop plagiaat geïdentifiseer kan word. Benewens ʼn hulpmiddel soos Turnitin, wat ʼn reusagtige databasis van akademiese tekste (ook in Afrikaans) huisves en waarteen tekste vir ooreenkomste gekontroleer word, kan plagiaat ook, volgens dr. Henk Louw van die Noordwes-Universiteit se Sentrum vir Akademiese en Professionele Taalpraktyk, op die volgende maniere geïdentifiseer word:

  • Swak (masjien)vertalings
  • Onvolledige bronnelyste
  • Verkeerde bronverwysings
  • Grafika sonder verwysings
  • Formatering wat ooglopend verskil
  • Wisselende kwaliteit van taalgebruik
  • Verkeerde sinskonstruksies
  • Irrelevante inligting

Dit is bloot nie die moeite werd om plagiaat te pleeg nie, aangesien die gevolge verreikend kan wees. Jy kan deur ʼn tersiêre onderriginstansie geskors en selfs strafregtelik aangekla word. Die maklikste manier om plagiaat te vermy, is om bronverwysings in jou akademiese teks te hê wat verwys na bronne in ʼn bronnelys. Studente dink dikwels dat hulle slegs hier en daar of slegs een maal aan die einde van ʼn paragraaf na ʼn akademiese bron wat hulle geraadpleeg het, hoef te verwys, maar in werklikheid is dit goeie praktyk om ʼn verwysing te gee vir elke sin wat nie jou eie is of jou eie oorspronklike idees bevat nie. Enigiets wat nie ʼn verwysing het nie, word dus as jou eie oorspronklike idee beskou.

Waar vind ek akademiese bronne?

Betroubare akademiese bronne kan in biblioteke by tersiêre onderriginstansies of aanlyn opgespoor word. Alvorens jy koorsagtig begin google, is dit raadsaam om eers die webtuiste van jou tersiêre onderriginstansie se biblioteek te besoek omdat sodanige webtuistes dikwels ʼn hele afdeling oor akademiese navorsing het. In hierdie afdeling kan jy soektogte deur akademiese databasisse loods of deur sogenaamde vakgidse (‘libguides’) blaai waar fakulteite bronne volgens die onderskeie vakgebiede in daardie fakulteit organiseer. Ander webtuistes waar jy met jou navorsing kan wegspring, is Google Scholar, Academia en ResearchGate.

Die aantal bronne wat jy moet gebruik, sal afhang van die aard van die akademiese teks wat jy skryf. Jy gaan hoogs waarskynlik veel meer bronne lees as wat jy in der waarheid in die finale weergawe van jou akademiese teks gaan gebruik. Dit is onvermydelik, maar ook opwindend omdat die inligting in een bron jou op vele ander (en dikwels interessanter) paaie kan lei. Dit is ook altyd goed om resente bronne te gebruik, maar soms vereis die aard van jou navorsing dat jy ook ouer tekste moet raadpleeg. Weereens sal dit afhang van die aard van jou studie. Verder is dit wenslik dat ʼn mens self die primêre bronne in ʼn vakgebied lees eerder as om tweedehandse opsommings daarvan in sekondêre bronne te gebruik. Doen ook deeglik navorsing oor die verskillende vertalings van bronne uit die oorspronklike tale waarin dit geskryf is ten einde seker te maak dat jy so na as moontlik aan die oorspronklike teks bly.

Onthou ook dat Afrikaanssprekendes met relatief min inspanning toegang het tot die inhoud van akademiese bronne in Nederlands en, met heelwat meer inspanning, Duits. Dit is die moeite werd om te probeer om veral Nederlands te leer lees, ten einde die aanbod van akademiese bronne tot jou beskikking uit te brei.

Ek hoop dat hierdie bondige oorsig oor akademiese bronne sal help om die kwaliteit van studente (én leerders) se akademiese tekste te verhoog. In die volgende aflewering gaan ek kyk na die verskillende maniere waarop akademiese bronne in akademiese tekste hanteer kan word.

VivA-groete

Stefan

Lees 1183 tye Laaste modifikasie op Dinsdag, 11 Mei 2021 15:54

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.


NUUSARGIEF

FACEBOOK