VIVA SE BLOGS

Akademiese skryfvaardighede II: Bronverwysings en die bronnelys

Geplaas deur Stefan van Zyl Woensdag, 02 Junie 2021
Gepubliseer in Nuus;

Trefwoorde: akademiese bronne; akademiese skryfvaardighede; bronnelys; bronverwysings; teksverwysings; verwysingstyle

In my vorige blog in aanloop tot die bekendstelling van VivA se nuwe werkwinkel oor akademiese skryfvaardighede, het ek geskryf oor die wat, waarom en waar van akademiese bronne. In hierdie blog sê ek meer oor die manier waarop akademiese bronne in ʼn akademiese teks geïntegreer word. Hierdie integrasie bestaan hoofsaaklik uit twee onlosmaaklike dele, naamlik bronverwysings in die teks en die bronnelys aan die einde van die teks.

Verwysingstyle

Alvorens ek wegval met ʼn verduideliking van die manier waarop bronverwysings in ʼn akademiese teks hanteer word, is dit belangrik om in ag te neem dat daar verskeie verwysingstyle bestaan. Die Harvard-verwysingstyl word verreweg die meeste in Suid-Afrika as riglyn vir akademiese bronverwysings gebruik. Verskillende tersiêre instansies en akademiese tydskrifte pas egter dikwels hierdie styl aan na gelang van hul behoeftes of voorkeure. Myns insiens sou die ideaal egter wees dat ʼn verwysingstandaard vasgestel word ten einde konsekwentheid te bewerkstellig wat akademici die moeite te spaar om verskillende style vir verskillende doeleindes aan te wend aangesien dit tydrowend en frustrerend kan wees indien jy nie met ʼn sekere verwysingstyl vertroud is nie. Ander bekende verwysingstyle sluit in dié van die Modern Language Association (MLA), die American Psychological Association (APA) en die Chicago Manual of Style.

Vir die doel van hierdie blog gaan ek die Harvard-styl in die 2020-uitgawe van die Noordwes-Universiteit se Verwysingsgids deur Anneke Coetzee gebruik om die onderskeie verwysingsbeginsels te illustreer. Dit is belangrik om te onthou dat elke universiteit (van tegnologie), fakulteit, departement, skool en navorsingseenheid sig eie stel voorskrifte en riglyne het wat verwysingstyle betref. Dit in ag genome, is daar wel sekere verwysingskonvensies wat oorvleuel. Ek help gereeld nagraadse studente wat steeds nie weet hoe om na akademiese bronne in ʼn teks te verwys of hoe om ʼn bronnelys saam te stel nie. Om te leer hoe om ʼn verwysingstyl toe te pas, is soos om ʼn nuwe taal aan te leer en hoe gouer ʼn student die voorgeskrewe verwysingstyl van die betrokke tersiêre instansie baasraak, hoe beter. Die doel van hierdie blog is weereens nie om voorskriftelik te wees nie, maar eerder om algemene riglyne te bied wat die hantering van bronverwysings in ʼn akademiese teks en die saamstel van ʼn bronnelys betref.

Bronverwysings

Bronverwysings (ook bekend as teksverwysings) kan op hoofsaaklik twee maniere in ʼn akademiese teks geïntegreer word, naamlik deur middel van ʼn verwysing tussen hakies óf met behulp van voetnote (let wel: nie voetnotas nie). Ek fokus meestal op eersgenoemde metode aangesien dit in die Harvard-verwysingstyl gebruik word.

Bronverwysings moet altyd so volledig moontlik wees ten einde die leser nie aan die akademiese integriteit van die teks te laat twyfel nie. Verwysings in die akademiese teks bestaan meestal uit die naam van die outeur, gevolg deur die jaartal van die publikasie waarin die inligting wat jy gebruik het verskyn en ʼn bladsynommer indien dit beskikbaar óf ʼn vereiste is.

Vervolgens gee ek ʼn kort oorsig van bronverwysings tussen hakies as deel van ʼn sin of aan die einde van ʼn sin.

As deel van ʼn sin:

Van der Elst (1997:33) stel dat daar by digters/kunstenaars wat hulle met ouderdomskwessies bemoei, sekere universele temas voorkom.

Aan die einde van ʼn sin:

Dit is duidelik dat daar by digters/kunstenaars wat hulle met ouderdomskwessies bemoei, sekere universele temas voorkom (Van der Elst, 1997:33).

Die ander metode is om van voetnote gebruik te maak. In stede van ʼn volledige verwysing as deel van ʼn sin of aan die einde van ʼn sin, word die verwysing tussen hakies vervang met ʼn nommer.

As deel van ʼn sin:

Van der Elst1 stel dat daar by digters/kunstenaars wat hulle met ouderdomskwessies bemoei, sekere universele temas voorkom.

Aan die einde van ʼn sin:

Dit is duidelik dat daar by digters/kunstenaars wat hulle met ouderdomskwessies bemoei, sekere universele temas voorkom.1

Die nommer word in die meeste gevalle ná die leesteken geplaas en daar is ook nie ʼn spasie tussen die leesteken en nommer nie.

ʼn Verkorte, óf volgens sommige verwysingstyle die volledige, verwysing verskyn onder aan die bladsy:

_____________________________

1 Van der Elst, 1997:33.

Dit is altyd goeie praktyk om, wanneer ʼn bron vir die eerste keer in langer akademiese tekste gebruik word, die outeur te kwalifiseer, byvoorbeeld:

Die literator prof. Jacques van der Elst (1997:33) skryf in sy artikel “Elisabeth Eybers en die gerontologiese tematiek” dat daar by digters/kunstenaars wat hulle met ouderdomskwessies bemoei, sekere universele temas voorkom.

Daarna hoef jy net die van te gebruik. Dit is egter hoegenaamd nie verpligtend nie, maar help wel om meer gewig aan die meriete van die verwysing te verleen en meer konteks vir die leser te skep.

Daar is voorts ʼn hele rits maniere waarop na verskillende soorte bronne verwys kan word, byvoorbeeld veelvuldige outeurs (waar die afkorting et al. gewoonlik ná die eerste volledige verwysing gebruik word), instansies/organisasies as outeurs, ensovoorts. ʼn Volledige lys en bespreking hiervan val buite die bestek van die blog, maar behoort in die verwysingsgids van jou tersiêre instansie te wees.

Hoe hanteer ʼn mens direkte aanhalings?

Skrywers van akademiese tekste moet in die reël spaarsamig te werk gaan met direkte aanhalings omdat dit van die skrywer verwag word om alle inligting sover moontlik in sig eie woorde weer te gee. Dit getuig van die skrywer se vermoë om krities met die inligting in die bronne om te gaan, dit te verwerk en in ʼn nuwe argument te integreer. Indien direkte aanhalings wel gebruik word, moet die algemene reëls ten opsigte van aanhalingstekens en punktuasie gevolg word, byvoorbeeld:

Oorspronklike sin uit Van der Elst (1997:33): Hipoteties is dit duidelik dat die ouderdom/bejaardheid by geselekteerde digters/ kunstenaars sekere tematiese konstantes vertoon:

Direkte aanhaling as deel van ʼn nuwe sin:

Volgens Van der Elst (1997:33) “is dit duidelik dat die ouderdom/bejaardheid by geselekteerde digters/kunstenaars sekere tematiese konstantes vertoon”.

ʼn Praktiese reël is om direkte aanhalings wat langer as 50 woorde is in te keep, te blok, enkelspasiëring te gebruik, nie aanhalingstekens te gebruik nie en ʼn effens kleiner lettergrootte, byvoorbeeld:

Van der Elst (1997:34) skryf die volgende oor gerontologiese poësie: 

In die sogenaamde gerontologiese poësie is daar by uitstek aandag vir die verbygaan van die tyd met besondere konstante metaforiek om die verbygaan van die tyd voor te stel. Dit word byvoorbeeld gekoppel aan die verloop van die seisoene waar herfs, en veral winter, figureer. Die herlewing uit die winter (as dood) is die lente wat weer nuwe lewe moet verbeeld.

Indien daar enige tik- of spelfoute in die oorspronklike aanhaling voorkom, word dit aangedui deur die woord sic tussen blokhakies te plaas:

Le Cordeur (2016:1269) skryf die volgende oor Slaafs (2016) deur Bettina Wyngaard: 

Maar Wyngaardt [sic] betree nog ʼn nuwe terrein waar sy baanbrekerswerk doen: die heldin in hierdie spanningsvolle verhaal, is betrokke in ʼn gayverhouding met ʼn ewe beginselvaste en indrukwekkende priestervriendin: Sally.

Blokhakies kan ook in die volgende gevalle gebruik word:

  • Dui ontbrekende woorde of sinsdele aan wat deel was van die oorspronklike aanhaling, maar nie relevant is nie:

Grobbelaar (2008:37) verduidelik die ontwikkeling van intergenerasionele teorie soos volg:

Sosiaal-wetenskaplikes het […] tot die gevolgtrekking gekom dat ter wille van goeie psigososiale ontwikkeling verhoudinge en dus verbondenheid tussen jonger en ouer geslagte, soortgelyk aan die in multi-generasie families [sic], bevorder moet word sodat hulle mekaar kan koester en ondersteun. 

  • Om ekstra inligting ter wille van kontekstualisering weer te gee:

Die bewustheid van ouderdom en veroudering is duidelik in die teks teenwoordig:

TaMiem [verwysend na die skrywer M.E.R.] is reg: ouderdom is basies die probleem van die jonges.

  • Om verandering van hoofletters na kleinletters ter wille van die leesbare integrering van die akademiese bron met die akademiese teks aan te dui:

Die Markies noem die seuns in "Die Erica­-versameling" sy Donatello's:

[H]y verwys na Donatello 4, Donatello 11 en so meer, ʼn diskresie wat haar ouwêrelds kan heet, in die openlike tye waarin ons leef.

  • Om die outeur se eie vertalings of beklemtonings aan te dui:

Van Vuuren (2014:693) skryf die volgende oor Szondi en Celan se postuum-gepubliseerde briefwisselings:

Das bedeutete auch eine psychische Traumatisierung, wiederkehrende schwere Depressionen, was beide Briefpartner monatelang arbeitsunfähig machte und schließlich den Freitod suchen ließ […] [Dit beteken ook psigiese traumatisering, herhalende swaar depressies, wat albei korrespondente maandelang ongeskik vir werk maak, en uiteindelik die vrydood laat kies […] (my vertaling)

Hoe hanteer ʼn mens indirekte aanhalings/parafrases?

Jy moet altyd so na as moontlik aan die werklike weergawe van die oorspronklike outeurs se idees bly en dit nie verander om jou eie idees te ondersteun nie. Dit is altyd wenslik om verskillende maniere van indirekte aanhalings te gebruik en nie in ʼn patroon te verval wat vervelend en/of steurend vir die leser sal wees nie. Benewens die gebruik van konjunksiemerkers, is ʼn tesourus enige ernstige akademiese skrywer se beste vriend. VivA bied as deel van ons gratis pakket toegang tot CTexT® se Afrikaanse SkryfGoed 6: Tesourus wat deur middel van die Woordeboekportaal bereik kan word.

Vervolgens ʼn voorbeeld van indirekte aanhaling of parafrasering:

Oorspronklike sin: Hipoteties is dit duidelik dat die ouderdom/bejaardheid by geselekteerde digters/ kunstenaars sekere tematiese konstantes vertoon:

My parafrasering:

Van der Elst (1997:33) stel dat daar by digters/kunstenaars wat hulle met ouderdomskwessies bemoei, sekere universele temas voorkom.

Hoe hanteer ʼn mens sekondêre aanhalings?

Wanneer ʼn student byvoorbeeld oor die psigoanalitiese benadering van Carl Jung wil skryf en eerder ander outeurs se skrywes oor sy beskouings in stede van sy oorspronklike werke raadpleeg, word sekondêre bronne gebruik. Soms het studente nie toegang tot ʼn primêre bron nie óf is die primêre bron in ʼn vreemde taal wat hulle dan noop om van sekondêre bronne gebruik te maak. Meer dikwels is dit egter die geval dat studente bloot nie die tyd aan die lees van ʼn uitgebreide akademiese teks wil afstaan nie en dan sommer gerieflikheidshalwe na sekondêre bronne verwys. Ek probeer altyd om sekondêre verwysings te vermy, want die sekondêre bron kon maklik die primêre bron verkeerd verstaan of geïnterpreteer het wat beteken dat die gebruik daarvan onwetenskaplik/oneties is. As akademikus is jy veronderstel om die primêre (oorspronklike) werke te lees en jou eie interpretasies daarvan te maak.

ʼn Voorbeeld van ʼn sekondêre bronverwysing:

Eakin (soos aangehaal deur Snyman, 2015:2) verwys in hierdie verband ook na die rol wat taal in egodokumente speel.

Hoe hanteer ʼn mens veelvoudige bronverwysings?

Wanneer daar van meer as een bron gebruik gemaak word om ʼn stelling te ondersteun, word die bronne alfabeties volgens die rangskikking in die bronnelys gelys. Elke teksverwysing word deur ʼn kommapunt geskei:

Koherensiesin ("sense of coherence"), die gewaarwording dat die lewe(nsverhaal) verstaanbaar, hanteerbaar en betekenisvol is, is onontbeerlik vir die psigologiese en sosiologiese welstand van die individu (Antonovsky, 1987; Randall, 1996).

Die bronnelys

ʼn Bronnelys moet altyd so volledig moontlik wees omdat lesers van die akademiese teks dit moet kan verifieer. Dit dien ook as leeslys vir ander navorsers wat meer oor die onderwerp wil weet. Dit is belangrik om te weet dat daar ʼn verskil tussen ʼn bronnelys en ʼn bibliografie is. In ʼn bronnelys word elke bron waarna in die teks verwys is gelys, terwyl ʼn bibliografie ʼn meer omvattende lys is waarin ekstra bronne wat geraadpleeg, maar nie noodwendig in die teks na verwys word nie, gelys is. Vir die doeleindes van die meeste akademiese skryfwerk op voorgraadse en nagraadse vlak word die term bronnelys dus gebruik.

Die inskrywings in die bronnelys word altyd alfabeties volgens die (eerste) outeur se van gerangskik. Onthou die beginsel “niks kom voor iets”: Du Plessis sal dus voor Duper gelys word. Die taal van die bron word in die bronnelys gebruik en nie die taal van die akademiese teks nie. Inskrywings word nie met kolpunte aangedui of genommer nie. Bronnelyste moet verkieslik links belyn en nie geblok word nie omdat dit onooglike spasies kan skep wat lees bemoeilik.

Inskrywings in die bronnelys bestaan gewoonlik uit vier elemente, naamlik die outeur, datum van publikasie, titel en uitgawe, en bron waar inligting gevind word (byvoorbeeld uitgewer, akademiese tydskrif of webadres).

Die formaat van ʼn tipiese inskrywing lyk dus soos volg:

Van, Voorletter. Jaar. Titel van publikasie. Plek waar uitgewer gebaseer is: Uitgewer.

Wat maak ʼn mens as inligting ontbreek?

Soms het ʼn bron nie ʼn publikasiedatum of selfs ʼn outeur nie. Wanneer dit die geval is, begin ek dadelik na ʼn ander bron soek omdat enige ontbrekende inligting in die bronverwysing nie baie wetenskaplik is nie en moontlik ʼn wenkbrou oor die integriteit van die inhoud kan laat lig. Hoewel daar in heelwat verwysingsgidse wel voorsiening vir sodanige gevalle gemaak word, sou ek dit sover moontlik probeer vermy.

Kan ʼn mens verwysings digitaal skep?

Danksy hedendaagse tegnologie kan heelwat verwysingskopsere met behulp van rekenaarsagteware uitgeskakel word. Die bekendste sagteware is Endnote wat spesifiek ontwikkel is om met die bestuur van bronverwysings te help deur navorsers in staat te stel om verwysings te versamel, te onderhou, te deel en te publiseer. Die formateringsfunksie kan veral handig te pas omdat dit met woordverwerkingsprogrammatuur integreer en namens jou die teksverwysing volgens die verwysingstyl van jou keuse formateer. Dit skakel ook die verwysing met ʼn inskrywing in die bronnelys en kan die bronnelys outomaties saamstel, bywerk en formateer. Helaas is die ruimte vir ʼn uitgebreide bespreking van die programmatuur hier te min, maar ek stel voor dat navorsers by hul instansies se inligtingsdienste aanklop ten einde opleiding in die gebruik van sodanige programme te ontvang. Hoewel hierdie tegnologiese hulpmiddels navorsers se lewens kan vergemaklik, kan die verkeerde gebruik daarvan katastrofiese gevolge hê wat maande kan neem om op te los – wees dus seker van jou saak wanneer jy wel daarvan gebruik maak. Ander soortgelyke sagteware sluit in Mendeley, Zotero en Papers.

Die sleutelwoord om in gedagte te hou wanneer jy met akademiese bronne in akademiese tekste werk, is kruisverwysing. Hierdie woord beteken bloot dat daar vir elke bron waarna jy in die teks verwys ʼn inskrywing in die bronnelys moet wees, en net so moet elke inskrywing in die bronnelys na ʼn bron in die teks verwys. Hierdie skakel tussen die bronverwysing en die inskrywing in die bronnelys is van kardinale belang om die akademiese integriteit van jou teks te verseker en ook om plagiaat te vermy.

VivA-groete

Stefan

Lees 1799 tye Laaste modifikasie op Woensdag, 02 Junie 2021 13:24

kommentaar

  • Kommentaarskakel
    Tania Goosen
    Tania Goosen
    Dinsdag, 29 Junie 2021 22:01

    Baie dankie Stefan vir hierdie insiggewende blog. Hoe sou 'n mens verwysings in byvoorbeeld' n dagstukkieboek of roman hanteer?
    Dankie
    Tania Goosen

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.


NUUSARGIEF

FACEBOOK