VIVA SE BLOGS

Konsonantkoors

Geplaas deur Rone Wierenga Donderdag, 24 Junie 2021
Gepubliseer in Nuus;

Trefwoorde: konsonante; medeklinkers

Afrikaans beskik oor ʼn groot verskeidenheid konsonante. Anders as wat ons op skool geleer het, is die konsonantsisteem van Afrikaans nie beperk tot die 21 alfabetletters wat oorbly nadat ons die vyf vokale (a, e, i, o, u) uitgeskakel het nie.

Wat is die verskil tussen konsonante en medeklinkers?

Dit is belangrik om in ag te neem dat fonetiek en fonologie, dit wil sê die klankvormingsproses en uitspraakvariasies in Afrikaans, nie noodwendig ooreenstem met die spelwyse of geskrewe vorm van ʼn woord nie. Fonetiek en fonologie fokus uitsluitlik op die klanke waaruit ʼn taal bestaan, met ander woorde op konsonante. As ons na die manier verwys waarop woorde gespel word (met ander woorde die letters), verwys ons na medeklinkers.

Hoe definieer ons konsonante?

Oorsigtelik kan konsonante beskryf word as die klanke wat vorm wanneer die lugstroom wat deur die spraakkanaal vloei, gedeeltelik of volledig versper word. Die tipe versperring bepaal in die meeste gevalle die konsonant wat gevorm word. Soos vokale, kan konsonante aan die hand van ʼn verskeidenheid eienskappe geklassifiseer word. Die algemeenste klassifikasie vir konsonante is op grond van die wyse waarop die konsonant gevorm word.

Watter rol speel die artikulators by die vorming van konsonante?

Die wyse waarop konsonante gevorm word, word grotendeels bepaal deur die artikulators (die dele van die spaakkanaal wat by die vorming van die spraakklanke betrokke is). Die artikulators wat betrokke is by die vorming van konsonante is die volgende:

  • lippe (Latyn: labia)
  • tande (Latyn: dentes)
  • tong
  • alveolus (die harde rif agter die tande)
  • harde verhemelte (Latyn: palatum)
  • sagte verhemelte (Latyn: velum)
  • kleintongetjie (Latyn: uvula)
  • farinks (die deel van die keel tussen die kleintongetjie en die glottis)
  • stembande

Sien die skematiese voorstelling wat hierby aangeheg is, waarin die ligging van die spraakklanke aangedui word.

Twee soorte artikulators word onderskei: aktiewe en passiewe artikulators. Die aktiewe artikulators beweeg wanneer die konsonant gevorm word, terwyl die passiewe artikulators nie aktief beweeg word nie. Die meeste konsonante word gevorm deur beide die aktiewe en passiewe artikulators te gebruik.

Watter soorte konsonante onderskei ons?

Ons onderskei die volgende soorte konsonante op grond van die manier waarop die artikulators die lugstroom afkeer of versper:

  • eksplosiewe
  • frikatiewe
  • affrikate
  • laterale
  • trillers
  • nasale
  • oorgangsklanke

Konsonanttipe

Konsonantklank (fonetiese transkripsie)

Voorbeeld

Eksplosiewe

[b]

[d]

[p]

[g]

[k]

[t]

beer, broer

dier, dood

pap, pa

gholf, ghitaar

kas, kol

tafel, tand

Frikatiewe

[f]

[s]

[v]

[z]

[x]

[c]

[ç]

[∫]

[w]

[ʒ]

fiets, brief

seer, soek

vêr, fees

zulu, zet

gou, chaos

keel, koud

geel, gees

sjinees, nasionaal

wat, word

genre, genie

Affrikate

[ts]

[t∫]

[ʤ]

tsaar, aitsa

tjek, tjello

jelly

Laterale

[l]

loop, lig

Triller

[r]

roos, rot

Nasale

[m]

[n]

[ŋ]

[ɲ]

meer, melk

nies, nog

sing, bring

plantjie, links

Oorgangsklanke

[ʋ]

[j]

[ɦ]

twee, kwaad

bai[j]e, jaar

help, haar

Eksplosiewe en frikatiewe

Daar word dikwels na die eksplosiewe en frikatiewe konsonante gesamentlik verwys as plosiewe konsonante. Plosiewe vorm wanneer die spraakkanaal vir ʼn oomblik volledig afgeblok of versper word. Dikwels word hierdie opgeboude lug dan skielik vrygelaat om plofklanke te vorm. Die algemeenste voorbeeld hiervan is [k] > kat.

Affrikate

Affrikate vorm soortgelyk aan plosiewe, maar behels dat twee konsonante verbind om ʼn nuwe konsonantklank te vorm. Affrikate bestaan gewoonlik uit ʼn plosief en ʼn homorgane (vryklank). In Afrikaans kom veral drie affrikate algemeen voor. Hierdie konsonante word veral gebruik om leenwoorde soos tjek, tsaar en gel uit te spreek. Alhoewel [ʒ] nie ‘n affrikaat is nie, word dit steeds as ‘n leenfoneem in Afrikaans beskou, omdat dit hoofsaaklik gebruik word in leenwoorde soos genre.

Oorgangsklanke

Oorgangsklanke (halfvokale) word ook soos plosiewe gevorm, maar behels ʼn kleiner en minder opvallende versperring in die spraakkanaal. Daarom word hierdie klanke ook as konsonante beskou, alhoewel dit dikwels tussen vokale gebruik word. In sommige gevalle kan die oorgangsklanke ook verwar word met gediftongeerde vokale, omdat dié twee klanke soms eenders op die oor val. Byvoorbeeld, die ee in tree kan maklik gediftongeer word om te klink soos treë. Terwyl treë op sy beurt as [trije] uitgespreek word en dus die oorgangskonsonant [j] bevat. Die onderskeid word in hierdie geval deur die teenwoordigheid van die deelteken in treë bevestig, maar dit is nie in alle voorbeelde só maklik onderskeidbaar nie. Daarom beskik Afrikaans oor ʼn aantal vasgestelde komplekse fonetiese reëls en beginsels om hierdie grys areas uiteen te kan sit.

Laterale, trillers en nasale

Die laterale, triller en nasale vorm gewoonlik deur die lug vryliker in die spraakkanaal te laat vloei, en behels nie oor die algemeen ʼn opbou van lug in die spraakkanaal nie. Dit is waarom hierdie klanke dikwels heelwat langer uitgerek kan word in uitings soos Mmmmmmmm en Die motor woerrrrrrrrr verby. Hierdie klanke word eerder gevorm deur gebruik te maak van die lippe en tong terwyl die lug stadig deur die spraakkaneel beweeg en geleidelik vrygestel word.

Die triller [r] vorm deur die punt van die tong vinnig teen die verhemelte te laat vibreer. In die proses word die lugstroom deur die tong versper en dan weer vinnig deurgelaat.

Die lateraal [l] vorm weer wanneer die tong in dieselfde posisie waarin [r] gevorm word rus, effens afgeplat word en nie vibreer nie.

Die uitspraak van die nasale is egter heelwat meer kompleks. Wanneer nasale gevorm word, word die lippe [m] of tong [n, ŋ, ɲ] gebruik om die lugstroom te versper, sodat die lug eerder deur die neusholte kan vloei. Die onderskei tussen [n], [ŋ] en [ɲ] lê in die posisionering van die tong hetsy meer na voor, middel of agter in die mond. So ook word verskillende dele van die tong teen die verhemelte gedruk om hierdie drie nasale te vorm.

Die eienskappe van hierdie klanke kan verder onderskei word deur te verwys na ʼn aantal fonetiese en fonologiese reëls en beginsels. ʼn Meer volledige uiteensetting van die Afrikaanse konsonante en die verskeie klassifikasiemoontlikhede wat voorkom, word in die fonetiekafdeling van die Algemene Afrikaanse Grammatika in VivA se Taalonderrigportaal op ons webwerf aangebied.

VivA-groete

Roné

Lees 1933 tye

Opmerking(s)

  • Kommentaarskakel
    G Olwagen
    G Olwagen
    Saterdag, 10 Julie 2021 23:20

    Inderdaad, prof Hermie. Die skematiese voorstelling is steeds nie daar nie, ook nie op my groot rekenaarskerm nie. Sou darem graag ook daardie prentjie wil sien.
    VivA, ons verwys na die lusmakertjie in die artikel wat só lui: "Sien die skematiese voorstelling wat hierby aangeheg is, waarin die ligging van die spraakklanke aangedui word."
    Baie dankie, ook vir alles, VivA.

  • Kommentaarskakel
    Prof Hermie van Zyl
    Prof Hermie van Zyl
    Vrydag, 25 Junie 2021 10:13

    Baie interessant en leersaam. Dit roep weer klasse in Afrikaans van die middel 1960's by Tukkies in herinnering. Net een ding: dit lyk my die skematiese voorstelling het in die slag gebly, tensy my "Appletjie" dit nie kan hanteer nie. Nogmaals dankie. Doe zo voort.

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.


NUUSARGIEF

FACEBOOK