profile pic

Woorde wek, maar voorbeelde trek

Maandag 06 Maart 2017 Geplaas deur Sophia Kapp

Ken jy dié uitdrukking? Dis in die HAT opgeneem en dit beteken presies wat jy dink dit beteken: Dit wat jy doen, praat harder as dit wat jy sê.

Hierdie beginsel geld veral vir die kinders in ons sorg. Dis ʼn duur les wat ouers en opvoeders moet leer: Dit help nie ons verwag van ons kinders optrede, gedrag, gewoontes, lewenswyses, opvattings, uitkyke, insigte, beginsels en etiese kodes wat ons nie vir onsself aangekweek het nie. Om dit in ʼn moderne idioom te stel: ʼn Kind doen wat jy doen, nie wat jy sê nie.

Ek het onlangs met ʼn groepie skoolkinders te doen gehad wat aan ʼn redenaarskompetisie gaan deelneem. (Julle weet waarvan ek praat, dis elke jaar elke ouer en elke taalonderwyser se terugkerende nagmerrie.) Die kinders was gefokus, toegewyd, bitter intelligent en dwalend. Nie een het ʼn idee gehad waar om te begin navorsing doen nie en het by my opgedaag met blanko eksamenblokke, aan die hand van ʼn juffrou wat hulle in ʼn skoolkombi gelaai het en “kundige” hulp gaan soek het. Toe ek begin praat, het hulle almal verwoed begin notas afneem, toe ek vra watter bronne hulle al geraadpleeg het, het hulle my aangekyk asof ek van hulle verwag het om die wiel te herontwerp. Een het darem op ʼn kol vir my so effe verontwaardig gesê “Ons het gegoogle, tannie!”, maar daar was klaarblyklik ook nie genoeg onderskeidingsvermoë om die koring van die kaf op die wêreld se grootste rommelhoop (ja die internet) te skei nie. Ek het hulle so gekyk en gewonder of hulle dan nie verdien om aan een van die immer groeiende bende tollenaars uitgelewer te word wat skooltoesprake teen betaling skryf nie.

Ek lees William Faulkner het reeds in 1958 gesê dat Amerikaanse skole gedaal het tot die vlak van kinderoppassers. Gelukkig is die man dood, want ek kan my net indink wat hy van dié groepie te sê sou gehad het.

Hoor vir my, ek weet daar is onderwysers wat hulle werk doen. Ek weet daar is ouers en opvoeders wat opvoed en nie net afrig nie. Maar hulle is in die minderheid. Ons sit met ʼn geslag babavoëltjies wat net weet hoe om hulle bekke te rek en te wag vir klaar verteerde kossies om in hulle keelgatte af te gly. Hulle weet nie meer hoe om hulle weg na ʼn biblioteek te vind nie, en as hulle daar kom, weet hulle nie meer hoe om kennis daarin te ontgin nie. Erger nog, as dié inligting nie ʼn uitkoms vir ʼn leereenheid is nie (netjies saamgevat in ʼn kolpuntlys met oulike ikoontjies langsaan), stel hulle nie daarin belang om dit te ontgin nie. Kort voor lank sit ons met ʼn generasie wat dink die wêreld bestaan uit dit wat hulle deur oorlewering, fopnuus op Facebook en ʼn geskinder op Snapchat geleer het. En vir so ʼn generasie is dit moontlik, en selfs vermaaklik, om die korpus kennis, die magdom insigte en navorsing en die kosbare intellektuele erfenis wat oor baie eeue deur kundiges versamel is, te minag.

My vraag is: Waar staan jy in hierdie proses? Teken jy die ikoontjies? Verteer jy die kossies namens die jong denkers in jou sorg? Lei jy nog ʼn generasie grondsluipers op wat in hulle eie nes sit en mekaar warm dinges? Of maak jy soos die ma-arend, wat op die lip van die krans nesmaak sodat sy haar kroos kan grootmaak na die beste van haar vermoë, maar hulle dan uitskop sodat hulle kan vlieg?

Hou op om kinders se toesprake te skryf. Hou op om vir hulle toesprake te koop. Leer hulle dink, sodat hulle self kan toesprake skryf. En as hulle dan steeds nie kan toesprake maak nie, leer hulle om stil te bly. Nie almal hoef openbare sprekers te wees nie. Maar almal moet hulle vlerke kan sprei en met hulle eie kragte kan vlieg.

LEES VERDER
profile pic

Hier is ons Varsgebek 2016-finaliste!

Donderdag 08 Desember 2016 Geplaas deur Gerhard van Huyssteen

Voorbeelde mag dalk trek, maar, ai, woorde wek darem al te lekker. En as sulke woorde kreatief en nuut en onopgetekend is, des te meer. Toonomkrulplesier.

Al gehoor van Varsgebek? Dit is die inisiatief waar die HAT, Taalkommissie, VivA en WAT (met die ondersteuning van Afrikaans.com, ATKV, Atterbury Trust, CTexT, kykNET, Netwerk24 en RSG) woorde idiome en ander sêgoed wat nog nie in woordeboeke opgeteken is nie, insamel.

Sedert Junie het ons byna 1 300 inskrywings van oor die hele land ontvang; dit is ongeveer sewe nuwe Afrikaanse woorde en uitdrukkings per dag! ʼn Paneel van kundiges het die herkuliese taak gehad om uit al dié inskrywings slegs 25 finaliste vir ons jaareindkompetisie te kies. En jy kan nou stem vir jou gunsteling-Varsgebek 2016-inskrywings.

Pryse ter waarde van meer as R20 000 is op die spel – ook vir jou as stemgeregtigde.

Algemene woorde:

  • windbrood s.nw. [windbrode] goedkoop brood met min voedingswaarde: Daardie windbrood het niks beteken nie, ek is al weer honger.
  • kermkoop ww. [gekermkoop] aan iemand (veral 'n kind) se geneul toegee en (teësinnig) iets koop: Al wat jy met jou kroos in gelid in die winkel kan doen, is kermkoop.
  • iemand se loopwêreld die omgewing waar iemand grootgeword het: Graaff-Reinet is my loopwêreld.
  • kortsokkie s.nw. [kortsokkies] ook bywoord. 'n groentjie; onervare persoon: Sy is nog maar 'n kortsokkie in die kantoor. | Jy kan nie nou al wil baasspeel nie, jy is nog te kortsokkie hier.
  • inpraat [praat in, het ingepraat] iemand in die rede val: Ek was nog my storie aan 't vertelle, toe praat sy sommer hier van die kant af in!
  • kriekspring ww. [het gekriekspring] (kort-kort) jou storie verander; kort-kort 'n ander deuntjie sing: Hy't nou al soveel keer gekriekspring; jy weet nie meer of hy vir of teen die voorstel is nie.
  • beeskomhaler s.nw. [beeskomhalers] (Barkly-Oos) ysreën wat beeste laat verkluim: Laasnag se beeskomhaler het weer deur merg en been gesny.

Tegniese woorde/vakterme:

  • ontwenteling s.nw. [ontwentelinge of ontwentelings] [Engels: de-orbiting] prosedure om 'n satelliet in 'n ander wentelbaan te plaas, of uit sy wentelbaan te haal sodat dit na die aarde kan terugkeer
  • fopnuus s.nw. [geen mv.] [Engels: fake news]
    1. vals nuus, dikwels versprei vir propagandadoeleindes: Ontleders beweer fopnuus het 'n beduidende rol in die presidentskandidaat se oorwinning gespeel.
    2. versinde nuus wat die werklikheid parodieer; nuussatire
  • botnet s.nw. [botnette] 'n netwerk rekenaars wat aan die internet gekoppel is en soortgelyke rekenaars beheer: Botnette versprei dikwels gemorspos of plapos, of word gebruik om kuberaanvalle te loods. [Versmelting van robot en netwerk]
  • volgerfiksie s.nw. [geen mv.] [Engels: fan fiction] fiksie oor 'n karakter of milieu in 'n populêre roman/TV-reeks/ens. geskryf deur aanhangers van die oorspronklike werk.

Spreuke/spreekwoorde/gesegdes:

  • jy kan jou nie ryk koop nie [Engels: keeping up with the Joneses] 'n mens kan geld uitgee, maar dit beteken nie jy is ryk nie; jy kom nie in tel deur geld te verkwis nie
  • elke moer wil 'n ertappel wees almal wil die beste, mooiste, slimste of rykste wees
  • te klein vir 'n tafeldoek en te groot vir 'n servet ('n jong seun of meisie) te oud om met die kleintjies maats te wees en te jonk vir die grootmense se geselskap
  • afval wat vleis word en dink dis die rugstring gesê van 'n arm persoon wat ryk trou en hom/haar dan belangrik voordoen
  • elke donkiemerrie dink haar vul is 'n resiesperd elke ma dink haar kind is die mooiste/slimste/beste

Idiome:

  • nie ligte musiek wees nie nie maklik om uit te voer of af te handel nie: Hierdie som is nie ligte musiek nie, hoor!
  • nie sag kook nie (Namakwaland) moeilik of ongenaakbaar wees; nie maklik verander nie: Die dominee het ook al met oom Jan gaan praat, maar hy's mos nou nie iemand wat sag kook nie.
  • net van voormiddag tot namiddag hou (artikel, verhouding) net 'n kort rukkie/tydjie hou: Die stofsuier het ook net van voormiddag tot namiddag gehou, toe breek die pyp af!
  • jou kuite styf trek jou (opsigtelik) vererg: Moenie jou kuite vir my kom styf trek nie, mannetjie!
  • 'n satelliet sonder sein wees hoor, maar nie luister nie: Die mannetjie by ontvangs het ons aangekyk soos 'n satelliet sonder sein.
  • hoog neergesit wees (Bo-Kaap) ver in die lewe gekom het; geleerd wees of 'n hoë pos beklee: Die kind het hier langs ons grootgeword, en vandag is hy hoog neergesit.
  • 'n kooltjie vuur kom haal 'n blitsbesoek aflê: Ek wou hê hulle moes langer kuier, maar hulle het nou regtig net 'n kooltjie vuur kom haal.
  • klein klippies rondskop jou met onbenullighede ophou: Julle moet belangrike besluite neem oor wat julle ná skool wil doen, en hier sit julle en skop klein klippies rond.

Om jou stem uit te bring en die kans te maak om groot pryse los te slaan, gaan na http://varsgebek.org en stem voor die stembus op 13 Desember om 17:00 sluit.

Hierdie rubriek het in gewysigde vorm in Beeld van 10 Desember 2016 verskyn.

Beeld logo

LEES VERDER
profile pic

Taalkundebeurs

Vrydag 04 November 2016 Geplaas deur Gerhard van Huyssteen

Is jy 'n student wat geïnteresseerd is in Afrikaanse taalkunde?

Goeie nuus: VivA maak vir die 2017-studiejaar 'n aantal beurse vir finalejaar- en honneursstudente wat in Afrikaanse taalkunde wil spesialiseer, beskikbaar. 

Die doel van die beurs is om studente aan te moedig om te spesialiseer in teoretiese, historiese, beskrywende en/of toegepaste Afrikaanse taalkunde. Ons hoop om hiermee 'n jong generasie taalkundiges aan te moedig om verder in Afrikaanse taalkunde te studeer.

Daar is heelwat beurse beskikbaar vir meesters- en doktorsgraadstudente, maar vir finalejaar- en honneursstudente is daar minder geleenthede. VivA hoop om hierdie hiatus te vul.

Vir meer inligting oor die beurse en om aansoek te doen, doen die volgende:

  • Registreer as VivA-gebruiker.
  • Gaan na [Portale > Inligtingsportaal > Taalkundebeurs], of klik hier.
  • Meer inligting oor die waarde van die beurs, kriteria, bepalings en voorwaardes, en die aanlyn aansoekvorm is op daardie bladsy beskikbaar.
LEES VERDER
profile pic

RSG is VivA se mediavennoot

Maandag 20 Julie 2015 Geplaas deur Gerhard van Huyssteen

Die splinternuwe Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) is op 17 Julie amptelik tydens Tjailatyd op RSG bekend gestel. Tydens die onderhoud wat Amore Bekker met Gerhard van Huyssteen (uitvoerende direkteur van VivA) gevoer het, is die webblad geaktiveer en die mobiele toepassing bekend gestel. Amore het ook VivA se klingel vir die eerste keer op die lug gespeel; die musiek en liriek is deur Bittereinder geskryf, terwyl Fopspeen Moving Pictures (Diek Grobler en Kie.) ʼn animasievideo daarvan gemaak het.GerhardEnAmore

Op Vrydag, 24 Julie 2015, kuier VivA weer op Tjailatyd. Die eerste pryswenner in die skolekompetisie sal aangekondig word, en die gediggie wat prof Joan Hambidge vir VivA geskryf het, sal ook vir die eerste keer voorgedra word.

Joshua na die Reën, Jenna-Leigh February, Nathan Trantraal en Piet Matipa het ook vir VivA gedigte geskryf en dié sal algaande op Vrydagmiddae tydens Tjailatyd bekendgestel word. Die wenner van die skolekompetisie se groot prys (ʼn beurs van R150 000, geborg deur Atterbury Trust) sal op Vrydagmiddag, 4 September 2015 op Tjailatyd aangekondig word.

Die vennootskap tussen RSG en VivA is egter nie beperk tot mediablootstelling nie. RSG se uitspraaklys word tans grondig deur VivA hersien en sal binnekort maklik deursoekbaar op hulle webwerf beskikbaar gestel word. Dit sal ook hopelik later in hulle mobiele toepassing beskikbaar wees.

Ingevolge die ooreenkoms tussen RSG en VivA word die RSG Nuuskorpus ook binnekort op VivA se webwerf beskikbaar gestel. Dié korpus is ʼn groot versameling van RSG-nuusbulletins; navorsers kan deur die tekste soek om taalpatrone te identifiseer, eiename te soek, ensovoorts. RSG dra hiermee dus ook by tot die uitbouing van Afrikaans se hoë funksies.

LEES VERDER
profile pic

Waar kom VivA vandaan?

Vrydag 17 Julie 2015 Geplaas deur Gerhard van Huyssteen

Die idee vir die oprigting van die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) is in vier gelyklopende toevallighede gewortel:

  • Ná die publikasie van die tiende uitgawe van die Afrikaanse Woordelys en SpelreëlsAfrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) in 2009, het die Taalkommissie (TK) van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK), toe onder voorsitterskap van prof Ernst Kotzé, besin oor wat die toekoms vir die TK inhou. Een van die idees was om ʼn omvattende grammatika van Afrikaans te skryf.
  • In 2010 het prof Rufus Gouws (Universiteit van Stellenbosch) toevallig ook die TK genader en voorgestel dat die TK dit moet oorweeg om aan ʼn Afrikaanse grammatika te werk.
  • In dieselfde tyd het ons van die Nederlandse en Friese Taalportaal-projek te wete gekom: ʼn ambisieuse projek om ʼn omvattende, vergelykende, aanlyn grammatika van Nederlands en Fries te skep.
  • Ook in 2010 het dr Theuns Eloff en prof Marlene Verhoef (Noordwes-Universiteit) die Sentrum vir Tekstegnologie (CTexT) genader en gevra vir idees om iets vir Afrikaans en Setswana te doen. Die gedagte was dat ʼn mens ʼn konsep vir Afrikaans ontwikkel en dit dan later uitbrei na Setswana.

Op 3 Junie 2011 het ʼn tiental kenners en belanghebbendes die kantoor van die SAAWK in Pretoria vergader om oor so ʼn e-grammatika vir Afrikaans te besin. Tydens dié geleentheid is my die taak opgelê om ʼn konsepsakeplan te ontwikkel, in oorleg met proff Kotzé en Gouws. En dit was dus eintlik die begin van VivA.

Vir Nederlands is daar onder andere twee belangrike instellings:

  • Die Meertens Instituut (Amsterdam) hou hom besig met navorsing oor en die beskrywing van die Nederlandse taal en kultuur, met spesifieke aandag aan die dialekte van Nederlands. Die Meertens Instituut is ook bestuursmatig verantwoordelik vir Taalportaal; en
  • Die Instituut voor Nederlandse Lexicologie (INL) is vernaamlik besig met die bestudering van die Nederlandse woordeskat en die maak van Nederlandse woordeboeke.

Vir Afrikaans word daar al sedert 1926 aan die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) gewerk; die Buro van die WAT kan dus op ʼn manier beskou word as die ekwivalent van die INL. Maar daar is geen Meertens Instituut vir Afrikaans nie, en VivA moet dus op ʼn eiesoortige manier dié hiatus vul. As dié model vir Nederlands kon werk, hoekom nie ook vir Afrikaans nie, en hoekom nie ook vir die ander Suid-Afrikaanse tale nie?

Sedert 2011 word daar uitvoerig gewerk aan ʼn omvattende sakeplan om VivA op die been te bring. Die Groot Plan se begroting vir vyf jaar is net so ʼn raps oor R30 miljoen. Die groot soektog vir geld begin...

Byna vier jaar later, in Februarie 2015, word VivA as ʼn maatskappy sonder winsmotief geregistreer, met die SAAWK, NWU, ATKV en Dagbreek Trust as stigterslede. Mnr Japie Gouws (ATKV) word verkies as die eerste voorsitter van VivA se direksie.

VivA se hoofdoelstellings is om die gebruik en gehalte van Afrikaans plaasik en internasionaal uit te bou deur:

  1. die beskrywing en bestudering van Afrikaans in sy volle omvang;
  2. die ontwikkeling van omvattende digitale en ander hulpbronne, hulpmiddele en platforms vir gesproke en geskrewe Afrikaans; en
  3. die lewering van 'n praktiese Afrikaanse taaldiens deur middel van tegnologie.

Lees hier meer oor VivA se ander doelstellings en waardes, soos vervat in die akte van oprigting.

Op 17 Julie 2015 word die VivA-skip te water gelaat met die bekendstelling van sy Woordeboekportaal – toeganklik via ʼn gratis, vanlyn app (moontlik gemaak deur die Atterbury Trust), asook via hierdie webwerf. Dit is dus die eerste konkrete en openbare bewys van VivA se bestaan.

Maar dit is net die begin. Later in 2015 word VivA se Adviesportaal (d.i. ʼn taaladviesdiens) bekendgestel, die eerste Afrikaanse artikels word op Taalportaal gepubliseer, en die volle Korpusportaal word van stapel gestuur, om maar enkele inisiatiewe te noem.

17 Julie 2015 is ʼn blye dag vir baie mense wat hard gewerk het om VivA aan die gang te kry. Ons hoop dat dit inspirerend en bemagtigend sal wees. VivA Afrikaans!

LEES VERDER

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK