VIVA SE BLOGS
profile pic

VivA klets met ... Fanie Viljoen

Maandag, 17 Julie 2017 Geplaas deur Sophia Kapp

Fanie Viljoen het ons Varsgebek-prys vir Junie opgeraap met sy inskrywing “kopwurms” vir “emosionele bagasie”. Die beoordelaars het besluit dié nuttige nuutskepping is beskrywend, oorspronklik en bruikbaar, en Fanie het daarmee ‘n Samsung-tablet ter waarde van R5000 losgeslaan. Dié prys is met trots geborg deur die Atterbury Trust.

VivA het Fanie voorgekeer en hom so ‘n paar vrae gevra oor sy woord en sy werk.

  1. Jy is pas aangewys as Varsgebek se Junie-wenner met “kopwurms” vir “emosionele bagasie”. Waar kom jy aan dié woord?

Skrywers hou hulle ore oop vir idees en sêgoed. Ek het die uitdrukking iewers gehoor, maar ek kan nie meer onthou waar nie. Daar is ook ’n ander tipe "kopwurm" – 'n ruspe wat mieliekoppe verwoes. Ek is 'n Vrystater en ek weet hoe lyk 'n land wat onder sulke wurms deurgeloop het, daarom was die uitdrukking vir my besonder suksesvol.

profile pic

Die peetkind wat in die wyk lê

Donderdag, 29 Junie 2017 Geplaas deur Sophia Kapp

Ek kry gister ʼn navraag van ʼn VivA-gebruiker: Wat wil die mense op dié vorm hê? Aangeheg by die navraag is ʼn foto van ʼn vrywaringsvorm wat haar dogter van die skool af gebring het, wat die ma moet invul en teken. (Die vorm is deur die skool versprei, maar deur die Wes-Kaapse Provinsiale Regering uitgereik.) Daarop moet sy die naam invul van haar “seun/dogter/wyk”. Die ma is verstom. Watse wyk wil hulle hê? Haar kiesafdeling of die gemeente se wyk? En wat wil die Provinsiale Regering daarmee doen?

Ná ʼn paar sekondes se kopkrap (dit was laatmiddag en ek was moeg) besef ek die “wyk” is ʼn verkeerde vertaling van “ward” (wat in Engels ʼn pleegkind of ʼn wyk kan wees). Ek verduidelik die saak, die ma is gerus dat daar nie ʼn gowwermintsbeampte agter haar vullisblikke skuil om aan te teken hoeveel tamaties sy in ʼn week weggooi nie, en die Kaap is Hollands.

Of nie Hollands nie.

profile pic

Fopnuus

Donderdag, 15 Junie 2017 Geplaas deur Sophia Kapp

fopnuus, s.nw., 1. nuus wat versprei word met die doel om lesers te mislei; 2. nuus wat die spot dryf met werklike nuusgebeure; nuussatire

Die afgelope week of wat het hard aan die land kom vat. PG is weg – die enigste skrywer in die land wat, volgens sy uitgewer, vir haar persklaar manuskripte ingestuur het – en Johan Botha is uit ons midde gepluk. Die Kaap het uiteindelik water gekry, maar met ʼn paar lewens en baie dakke daarvoor betaal. En Knysna het gebrand. En Buffelsbaai en Sedgefield en Plett en Karatara en Diepwalle en Elandskraal en die ander dorpies waarvan my oupa my vertel het voor Dalene Matthee nog haar boeke geskryf het. Huise is platgevee. Herinneringe. Toekomsdrome. Planne. Hoop. Lewens.

Ek het hier in Pretoria in ʼn vergadering gesit wat my gedwing het om op ʼn ander plek te konsentreer, wat so ʼn bietjie gehelp het om die seer en die swaarkry uit te stel. Ek kon my in ʼn borrel terugtrek en afstand behou, maar ek het geweet dis afgryslik, al kon ek nie sien hoe dit gebeur nie.

Toe ek uiteindelik klaar vergader het, is daar ʼn foto op Facebook van ʼn afgebrande huis tussen skelette van stamme, en ʼn verskrikte bosbokkie in die voorgrond wat kom soek na kos en water. Die afstand het nie gehelp nie, my hart het in elk geval gebreek.

Nee, ek het niks verloor nie, maar dit was nie vir my moontlik om in my borrel te bly nie. Want dis my mense wat so seerkry. My land se mense. My land se bosbokkies en my land se bos. En of die slagoffers nou ʼn paleis of ʼn pondok gebly het voor die vuur toegeslaan het, hulle het nou almal ewe veel – niks. Hulle is almal ewe uitgelewer aan ander mense se goedheid.

profile pic

36 taalbronne vir jou skool

Vrydag, 12 Mei 2017 Geplaas deur Jana Luther

By skole wat op VivA se skoolpakket inteken, het elke onderwyser en elke leerder nou onbeperkte toegang tot die nuutste uitgawe van die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (die HAT), die groot, omvattende Woordeboek van die Afrikaanse Taal (die WAT), plus nog 34 ander bronne.

profile pic

Woorde wek, maar voorbeelde trek

Maandag, 06 Maart 2017 Geplaas deur Sophia Kapp

Ken jy dié uitdrukking? Dis in die HAT opgeneem en dit beteken presies wat jy dink dit beteken: Dit wat jy doen, praat harder as dit wat jy sê.

Hierdie beginsel geld veral vir die kinders in ons sorg. Dis ʼn duur les wat ouers en opvoeders moet leer: Dit help nie ons verwag van ons kinders optrede, gedrag, gewoontes, lewenswyses, opvattings, uitkyke, insigte, beginsels en etiese kodes wat ons nie vir onsself aangekweek het nie. Om dit in ʼn moderne idioom te stel: ʼn Kind doen wat jy doen, nie wat jy sê nie.

Ek het onlangs met ʼn groepie skoolkinders te doen gehad wat aan ʼn redenaarskompetisie gaan deelneem. (Julle weet waarvan ek praat, dis elke jaar elke ouer en elke taalonderwyser se terugkerende nagmerrie.) Die kinders was gefokus, toegewyd, bitter intelligent en dwalend. Nie een het ʼn idee gehad waar om te begin navorsing doen nie en het by my opgedaag met blanko eksamenblokke, aan die hand van ʼn juffrou wat hulle in ʼn skoolkombi gelaai het en “kundige” hulp gaan soek het. Toe ek begin praat, het hulle almal verwoed begin notas afneem, toe ek vra watter bronne hulle al geraadpleeg het, het hulle my aangekyk asof ek van hulle verwag het om die wiel te herontwerp. Een het darem op ʼn kol vir my so effe verontwaardig gesê “Ons het gegoogle, tannie!”, maar daar was klaarblyklik ook nie genoeg onderskeidingsvermoë om die koring van die kaf op die wêreld se grootste rommelhoop (ja die internet) te skei nie. Ek het hulle so gekyk en gewonder of hulle dan nie verdien om aan een van die immer groeiende bende tollenaars uitgelewer te word wat skooltoesprake teen betaling skryf nie.

Ek lees William Faulkner het reeds in 1958 gesê dat Amerikaanse skole gedaal het tot die vlak van kinderoppassers. Gelukkig is die man dood, want ek kan my net indink wat hy van dié groepie te sê sou gehad het.

Hoor vir my, ek weet daar is onderwysers wat hulle werk doen. Ek weet daar is ouers en opvoeders wat opvoed en nie net afrig nie. Maar hulle is in die minderheid. Ons sit met ʼn geslag babavoëltjies wat net weet hoe om hulle bekke te rek en te wag vir klaar verteerde kossies om in hulle keelgatte af te gly. Hulle weet nie meer hoe om hulle weg na ʼn biblioteek te vind nie, en as hulle daar kom, weet hulle nie meer hoe om kennis daarin te ontgin nie. Erger nog, as dié inligting nie ʼn uitkoms vir ʼn leereenheid is nie (netjies saamgevat in ʼn kolpuntlys met oulike ikoontjies langsaan), stel hulle nie daarin belang om dit te ontgin nie. Kort voor lank sit ons met ʼn generasie wat dink die wêreld bestaan uit dit wat hulle deur oorlewering, fopnuus op Facebook en ʼn geskinder op Snapchat geleer het. En vir so ʼn generasie is dit moontlik, en selfs vermaaklik, om die korpus kennis, die magdom insigte en navorsing en die kosbare intellektuele erfenis wat oor baie eeue deur kundiges versamel is, te minag.

My vraag is: Waar staan jy in hierdie proses? Teken jy die ikoontjies? Verteer jy die kossies namens die jong denkers in jou sorg? Lei jy nog ʼn generasie grondsluipers op wat in hulle eie nes sit en mekaar warm dinges? Of maak jy soos die ma-arend, wat op die lip van die krans nesmaak sodat sy haar kroos kan grootmaak na die beste van haar vermoë, maar hulle dan uitskop sodat hulle kan vlieg?

Hou op om kinders se toesprake te skryf. Hou op om vir hulle toesprake te koop. Leer hulle dink, sodat hulle self kan toesprake skryf. En as hulle dan steeds nie kan toesprake maak nie, leer hulle om stil te bly. Nie almal hoef openbare sprekers te wees nie. Maar almal moet hulle vlerke kan sprei en met hulle eie kragte kan vlieg.

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.


NUUSARGIEF

FACEBOOK