VIVA SE BLOGS
Soekresultate vir: November 2017

Wys my hoe jy spel, dan sê ek vir jou wie jy is


Donderdag, 30 November 2017 16:20

ʼn Kollega plaas ʼn rukkie gelede ʼn aanhaling van Bill Bryson op ʼn taalforum. Dit lui:

Two days before I left on the trip, I Googled 'Favo'loso Cafe' ... I was appalled to discover that most people didn't view it very favourably at all. One recent visitor pronounced himself "Dissapointted" with the experience. Well, here is a new rule: if you are too stupid to spell "disappointed" even approximately correctly, you are not allowed to take part in public discourse at any level.

We live in a world that has practically no appreciation for quality, tradition or classiness, and in which people who can't spell even common words get to decide what survives. That can't be right, surely. I was, as a TripAdvisor correspondent might put it, deply trubbled.

 

Ek hoef seker nie hier te sê wat die reaksie op die plasing was nie. Die kollega en Bill Bryson is oor die kole gehaal oor hulle spellingsnobisme, en iemand was namens almal met disleksie geaffronteer oor onverdraagsaamheid en Mense se Totale Gebrek aan Deernis. Ek ken nie vir Bill Bryson persoonlik nie en gaan hom nie verdedig nie, maar ek ken my kollega en weet darem hy is nie aan een van die aantygings skuldig nie.  

Die opstootjie het my egter aan die dink gesit: Dit is nie die eerste keer dat kritiek oor spelling mense kwaad maak nie, en die geskil draai elke keer hier kort duskant bloedvergieting. Dit het my laat wonder wat die geskikte reaksie op Bill B se uitlatings behoort te wees. Wat is die plek en rol van spelling, en hoe moet ons dink oor mense wat nie dié vaardigheid (kan) bemeester nie?

Kyk, ek is #mos van donkiejare se tyd af 'n reuse-Afrikaansepopmusiekaanhanger. Dit kom uit my standerd 5-dae toe my suster en haar vriendin Cielie my al om die pilare, al om die pilare op ons stoep leer dans het. Ons het geoefendans op alles van Min Shaw tot Anneli van Rooyen, van Gé Korsten tot Leon Schuster. Dit was die 1980’s …

Vandag is dit Juanita du Plessis, Andriëtte, Corlea, MoniQue en ander enkelnamige skattebolle wat my laat verlang na langarm- en op-die-tafels-dans-aande. Ek koop my musiek aanlyn en stroom dit op my selfoon via my kar se Bluetoothverbinding. Dis immers 2017 …

Op slegs een persoon na in my vriende- en verwysingskring is ek die enigste ene wat ongegeneerd en trots luister na Afrikaanse popmusiek. My snobvriende is te grênd en slim om daarna te luister. (Ek vermoed wel hulle is almal in-die-kas-Kurt Darren- en -Bobby van Jaarsveld-akoliete. So stiekem in die oggendverkeer – as niemand kyk nie – stroom hulle ook maar ʼn popmusiekie of drie, maar wis dan hulle webblaaiergeheue uit as hulle by die werk stop.) Ek gun hulle die intelligente en volwasse musiek van Coenie de Villiers, Anna Davel en Die Heuwels Fantasties. Dié kan ek óók baie geniet, maar my opsies is net soveel meer.

Publikasieaankondiging


Vrydag, 24 November 2017 00:34

 Verklarende Politieke Woordeboek: Tweetalige Kernterme en -definisies in Politieke Wetenskap

 Explanatory Dictionary of Politics: Bilingual Core Terms and Definitions in Political Science  

In Januarie 1990 het die destydse Komitee vir Staatkundige en Verwante Terminologie van die ou Departement van Nasionale Opvoeding se Nasionale Vakterminologiediens ’n lys staatkundige en verwante terminologie gepubliseer. In die daaropvolgende dekades het die vinnige toename in nuwe staatkundige en politieke terme en gebruike gou die bywerking van dié lys genoodsaak. Die hersieningstaak is onderneem deur die Sentrum vir Politieke en Verwante Terminologie in Suider-Afrikaanse Tale, wat in 1997 gestig is nadat staatsteun aan die vakterminologiediens gestaak is. Onder leiding van brig.genl. Pierre le Clus, sameroeper van die werkkomitee, het die eerste uitgawe van die Nuwerwetse Politieke Woordeboek (NPW) in 2003 die lig gesien.

Die NPW het heelwat meer terme as sy voorganger bevat. Nuutskeppings en probleemterme is ingesluit. Ook verskeie bylae. Spelling- en transliterasieprobleme wat by die verafrikaansing van ontleende terme ontstaan het, is opgelos, en winste uit Suid-Afrika se ander amptelike tale sowel as uit vreemde tale is opgeneem. In 'n artikel in Lexikos 13 van 2003 gee dr. Mariëtta Alberts, wat destyds by die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad vir leksikografie- en terminologieontwikkeling verantwoordelik was, van die verskillende stadiums van dié projek ’n interessante oorsig.

In 2011 is die redaksie vir hulle werk aan die tweede uitgawe van die NPW deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns met die Stalsprys vir Politieke Wetenskap beloon. En nou, in 2017, het daar van dié bekroonde woordeboek, so pas, ’n nuwe uitgawe onder ’n nuwe titel by Juta verskyn – die inisiatief van die samestellers van die 2011-uitgawe nadat CEPTSA (die Centre for Political and Related Terminology in Southern Africa), die voormalige sentrum by die Universiteit van Johannesburg, ophou bestaan het.

Onafwendbare verandering


Dinsdag, 21 November 2017 20:09

Fred Pheiffer, voormalige redakteur van die HAT en woordeboekmaker by OUP, skryf vir VivA oor taalverandering en die invloed van Engels op Afrikaans. 

In ’n taal buiten Engels word ’n anglisisme beskou as ’n woord of uitdrukking wat deur Engels geaffekteer is. Dit is dus ’n taalverskynsel wat die invloed – vir sommige per definisie slegte invloed – toon wat Engels op ’n taal het. In ons konteks behels dit in die besonder die invloed wat Engels op Afrikaans het. Die beïnvloeding van een taal deur ’n ander taal is egter ’n natuurlike taalproses, en is een van die algemeenste maniere waarop taalverandering plaasvind. Taalverandering kom in enige lewende, aktiewe taalgemeenskap voor, en is as sodanig onkeerbaar. Wanneer ’n taalgemeenskap onaktief raak, soos in die geval van Latyn wat geen moedertaalsprekers meer het nie, gaan die taal “dood”. Op eie bodem het die meeste van ons Khoisantale uitgesterf omdat niemand hulle meer praat nie. Party van hierdie Khoisantale is betyds getranskribeer of op band vasgelê. Soos in die geval van Latyn bestaan daar dus ’n rekord van hulle. Nietemin het dié tale nie meer aktiewe taalgemeenskappe nie, en daarom het sulke tale staties geraak. Hulle het stil gaan staan in die tyd en verander nie meer nie. 

Nuwe woord vir 'selfmoord' dalk die oplossing?


Saterdag, 18 November 2017 05:17

Vra ʼn (baie slim) kollega deser week: “Hoe vertaal ʼn mens suicidal testator in ʼn akademiese regskonteks?” Die student se miniskripsie handel oor die vraag of die testament van iemand wat ten tyde van ondertekening selfdoodneigings had, regsgeldig is.

Ons takel die probleem in sy twee afsonderlike dele. Eers die maklike ene: testator, met sy guitige vroulike vorm testatrix (wat klink soos ʼn vriendin van Asterix en Obelix).

My uit-die-vuis-uit-aanname is dat “erflater” in meer populêre tekste gebruik word en “testateur” in tegniese of akademiese kontekste. Watwo!

Afrikaans oor die nuwe eter


Vrydag, 17 November 2017 09:03

VivA het op 14 November 2017 ʼn simposium aangebied oor Afrikaans oor die nuwe eter waarin daar besin is oor die posisie, rol en moontlikhede van en vir Afrikaans in die uitsaaiwêreld.

Interessant is dat "eter" heelwat navrae van gebruikers en voornemende simposiumgangers ontlok het. Die woord het natuurlik meer as een betekenis (dit kan ook verwys na iemand wat eet of na die chemiese stof waarmee kroeks in ou films hulle slagoffers tydelik buite aksie gestel het), maar ons het hier te make met die betekenis wat soos volg in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal opgeneem is: hipotetiese, onwaarneembare medium wat orals teenwoordig is, selfs in absolute vakuum, en alles deurdring, oorspronklik in die fisika ingevoer om kragte soos dié tussen ladings op 'n afstand van mekaar te verklaar en om as draer te dien van die elektromagnetiese golwe, net soos lug die draer is van geluidgolwe en dan ook (in die besonder) dié medium, beskou as die draer van radiogolwe. Dit is, volgens einste woordeboek, ook [i]n die antieke kosmologie, vermeende vyfde element wat die lugruim bo die maan sou gevul het; 'n hoër vorm van vuur waaruit die son en die sterre saamgestel was, of van lug wat deur die gode ingeasem is.

Ons bevind ons dus so ʼn bietjie tussen die sterre, in ʼn magiese, mitiese goderyk waar enigiets moontlik is.

Net toe ek dog ek ontsnap uit my seisoenale depressie, toe beland daar op my rekenaarskerm ʼn uitnodiging na ʼn akademiese byeenkoms. Die organiseerders kondig aan:

“The aim is to facilitate the establishment of a telescoping perspective on the sensitive and controversial subject of languages from government legislation, policy, education, business and narrows down to the question of how modern electronic technology can be used to mediate between the ever growing and conflicting objectives of heritage preservation, decolonization, inclusive growth and social justice, globalization and the inevitable merging of once-segregated cultures that results in code-switched hybrid human languages.” [sic!]

Ek lees weer. En weer. Loop ʼn keertjie om my lowergroen swembad. (Akademici soos ek het nie regtig tyd en geld om ons swembaddens kraakblou te kry nie. Dis eksamentyd.) Ek gaan sit en lees weer. My twee poedelkinders, Hoekom en Sommer, voel hondsintuïtief aan hoe daar ʼn melankolie oor ons huis skuif. Hoekom sit sy kop op my skoot; Sommer maak klein kreungeluidjies.

Die bulle se boeke


Donderdag, 09 November 2017 12:48

Ek is al vir baie goed in my lewe uitgeskel, maar die een wat my die vieste in gehad het (en my die viesste gemaak het), was die etiket van "taalbul" wat op 'n kol om my nek gehang is. Kyk, ek is bereid om oor baie beledigings my oë te rol en stil te bly, want nie alles is 'n oorlog werd nie, maar 'n taalbul was ek wragtig nog nooit. Taalkoei, dalk, en hoewel ek my daaroor ook dalk sal wip, is dit ten minste biologies korrek. Ek het vroulik in hierdie lewe aangekom en so sal ek hier weg.

Maar goed, die bakleiery was eintlik oor mense (mense, want vroue mag deesdae saampraat) wat taal maak en dit dan gebruik/misbruik om die res van die arme taalgemeenskap te verwar. En dan het hulle nie eers die ordentlikheid om hulle eie verwarring op te los voor hulle ander verwar nie, want kyk net wat gaan in woordeboeke aan: Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) en die Etimologiewoordeboek van Afrikaans (EWA) sê "altwee" is korrek. Die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) en die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS) sê slegs "al twee" is korrek. Oor die woord "raar" sê HAT dit beteken "eienaardig", die HAT se Taal- en Feitegids sê as jy "raar" gebruik om "seldsaam" aan te dui, is dit 'n anglisisme, en die WAT gee albei gebruiksmoontlikhede ("seldsaam" en "eienaardig") by "raar". Die Taalkommissie sit al weer op die draad oor "raar", want dit is opgeneem, maar die AWS sê niks oor die betekenis nie.

Sulke wisseling is vir gebruikers frustrerend, dit gee ek geredelik toe. Maar dit is ook onvermydelik dat dit sal gebeur, en wel oor 'n paar redes:

Kom ons praat maar weer oor “aanspreek”


Sondag, 05 November 2017 22:23

Onder invloed van Engels wat moeilikhede “address” word vraagstukke in Afrikaans al dekades lank “aangespreek”, ten spyte van deurlopende pogings oor net soveel dekades heen om dié gewraakte woord uit die taal te weer.

So skryf wyle J.J.J (“Tripel-J”) Scholtz, in lewe taalindoena van Die Burger, op 30 September 1991 (ek sou dié rubriek graag weer wou gaan opdiep het, maar die historiese bewussyn van ons taal en identiteit het Media24 in die doofpot gestop – wat ’n enorme verlies vir Afrikaans is dit nie):

Wat is dit nou weer met RSG se 'huidiglik'?


Saterdag, 04 November 2017 05:53

So ʼn paar maande gelede, tydens ʼn Skypegesprek met ʼn geëmigreerde veeartsvriend van my, vra hy: “Is ‘huidiglik’ nou al ʼn Afrikaanse woord? Ek hoor deesdae op RSG dat al wat ʼn omroeper, gas en inbeller ‘huidiglik’ gebruik. Toe dog ek maar die Taalkommissie het die groen lig gegee om dit te gebruik?”

Ek sug diep en verduidelik weer: “Die Taalkommissie het niks oor taalgebruik oor die eter te sê nie: Ons hou ons slegs besig met geskrewe Standaardafrikaans. Boonop het ons geen beheer oor mense se taalgebruik nie: Ons beskryf maar eintlik net wat – huidiglik! – in die standaardvariëteit gebeur.”

Maar sy opmerking sit my aan die dink …

Bladsy 1 van 2