Items per datum gefilter: Januarie 2018

Dra daai louere – moenie op hulle rus nie

Dinsdag 30 Januarie 2018 12:12

As ’n mens iets of iemand loof, dan prys en bewonder jy die ding of persoon. Dan keur jy hom of haar goed. As ’n paartjie aan mekaar verloof raak, keur hulle mekaar goed. As twee mense hulle aan mekaar verloof, gee hulle mekaar verlof, goedkeuring, toestemming, verskaf die een die ander plesier.

 

In Middelnederlands, waaruit Afrikaans ontwikkel het, was beloven en verloven afleidings van loven, wat ‘aanneem’ en ‘goedkeur’ beteken het, en ook ‘om te prys’. Uit die werkwoord beloven is die naamwoord belofte gevorm, ook na die model van gelofte.

 

Afrikaans kry sy werkwoord loof dus van Middelnederlands. In die Ou(er) Nederlands van omstreeks die jaar 900 was loof lovon, in Oudhoogduits loben, in Oudengels lofian en in Oudnoors lofa. Hierdie woorde is almal van die naamwoord lof afgelei, wat verwant is aan lief en wat en op sy beurt kom van die Oergermaanse luba- of lubō, waarin ook die oorsprong lê van die Engelse love 

Kaplaks! loop sy in die ruit vas

Sondag 28 Januarie 2018 18:03

In my vorige blog het ek oor klankekspressie begin skryf. Dié soort waar mense klanke wat hulle hoor, met hulle stemme probeer naboots: die geluide van diere, voëls, insekte, selfs plante. Dié soort klankuitdrukking, die eerste van drie tipes waarby ek stilstaan, word klanknabootsing, of onomatopee, genoem. Daaroor nou ’n entjie verder, want dis nie net lewende wesens en plante wat mense met hulle stemme namaak nie.

Laas het ek na die onomatopee in die naam van die Pondolandse dorpie Lusikisiki verwys, die geluid van die wind wat waai deur gras en riet. Hier is nog een: Ixopo. Die naam van die dorpie wat geleë is aan ’n sytak van die Mkhomazirivier in die middelland van KwaZulu-Natal. Ixopo, wat met die laterale suig-klap-klank van die tong wat teen die verhemelte vassuig en laat los, die plas-plof-geluid laat hoor van ’n bees wat sy poot uit modder lig. 

Neem knypie sout maar met 'n knippie sout

Saterdag 27 Januarie 2018 07:43

Sommige “nuusfeite” moet ʼn mens maar met ʼn knippie sout neem …

Maar wag! Is dit nie “met ʼn knypie sout” nie? Of ʼn “korreltjie sout”? Dalk ʼn “greintjie sout”? Watter een is korrek? En waar kom die uitdrukking vandaan? Daar is soveel fassinerende wetenswaardighede hieroor, ek is sommer lus en registreer vir ʼn doktorsgraad.

Die meeste Afrikaanse woordeboeke en bronne dui sonder enige twyfel aan dat dit “met ʼn korreltjie sout” is, waarvan DF Malherbe se Afrikaanse spreekwoorde en verwante vorme (1925) die oudste is wat ek kon opspoor. Ander resente bronne, waaronder die Kollokasiewoordeboek en Tweetalige voorsetselwoordeboek, stem volmondig saam dat slegs “korreltjie” korrek is.

Anton Prinsloo (in Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom) sê dit kan ʼn “knippie/korreltjie/greintjie sout” wees, maar Johanna de Wet (in Wat praat jy!) wil van “greintjie” niks weet nie: Sy erken slegs “knippie/korreltjie/knypie sout”. HAT sluit indirek by haar aan: Hoewel slegs “knippie/korreltjie sout” onder die lemma sout verskyn, staan daar elders in die HAT dat “knippie” en “knypie” sinonieme is.

Daar is kwalik beter klikaas op ʼn taalforum as die woord "anglisisme". ʼn Mens begin nog net met die gesprek, dan is iemand al kwaad. Tien kommentare later, en die baklei is volstoom aan die gang. In die een hoek van die kryt is die behoudendes wat vaandels swaai en jaloers waak oor erfgoed, en in die ander hoek is die libtaliges wat glo die mag lê by die mense, ongeag dié mense se bevoegdheid. Hulle het natuurlik albei ʼn punt beet, dié twee groepe, en ʼn rol in die gesprek te speel. In die taalsuiwerheidsdebat is niemand se stem onbelangrik nie, en niemand se mening die begin en die einde van die gesprek nie. Dis belangrik dat ons met mekaar praat, maar dis net so belangrik dat ons na mekaar moet luister en mekaar moet verstaan.

Vir VivA se Afrikaans-joernaal het prof. Gerhard van Huyssteen onlangs in Potchefstroom met die pas afgetrede prof. Wannie Carstens gesels.

Wannie Carstens, wat in die media en in taalkringe bekend is as een van dié mense wat oor baie jare, terwyl hy werksaam was by die Noordwes-Universiteit, tot die beeld en voortbestaan, die oopmaak en demokratisering van Afrikaans bygedra het. Hy is onder meer bekend vir die prominente rol wat hy gespeel het in die Afrikaanse Taalraad, by die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, die Afrikaanse Taalmuseum, en veral ook as bekende skrywer van boeke. Hiervan is die bekendste sekerlik Norme vir Afrikaans, waarvan die sesde uitgawe vanjaar, in Januarie 2018 verskyn. In hierdie onderhoud word egter oor ’n ander boek gepraat.

 

  WCER  

 Die storie van Afrikaans. Proff. Wannie Carstens en Edith Raidt.

Waarom so ʼn haas?

Saterdag 20 Januarie 2018 07:54

Voltooi die idioom: Hoe meer haas, hoe … ?

Ek giggel steeds elke keer sesjarig as iemand “hoe meer haas, hoe groter pastei” antwoord. Oud en flou, maar klassiek. En natuurlik werk “hoe meer haas, hoe minder jakkals” ook, maar die pasteigrappie is vir my snaakser.

Waarom is dit snaaks? As gevolg van die meerduidigheid (ambiguity) van die woord “haas”: Dit verwys óf na spoed (die oorspronklike bedoeling van die idioom “hoe meer haas, hoe minder spoed”), of na ʼn knaagdier wat bekend is vir sy spoed, lang ore en groot voortande.

Kry vanoggend ʼn navraag van ʼn (gereelde en baie taalvaardige) VivA-gebruiker: Hoe op aarde het dit gebeur dat die Taalkommissie "franchise" opgeneem het? Die vertaling vir "franchise" is nog al die jare "konsessie". Die Taalkommissie het mos nou ʼn gruwelike anglisisme in die woordelys opgeneem. A nee a!

Ek was dankbaar vir die vraag (regtig, dit was ʼn lekker aanknopingspunt by verlede week se bespreking) en ek gee die antwoord hier wat ek aan die gebruiker gegee het.

Nie alle woorde dra gewoon betekenis oor nie. Van sommige woorde word hulle betekenis ook weerspieël deur hoe hulle klink. In die poësie, waar klankelemente die basis van rym en ritme is, ja, maar nie net in gedigte nie. Ook in die gewone, alledaagse spreektaal is daar tussen klank en betekenis dikwels ’n duidelike verwantskap te bespeur; soms kan ’n mens jou dit maklik verbeel. In die prosodie, stilistiek, literêre kritiek, ook in die taalkunde, word ooreenkomste tussen die betekenis van woorde en uitdrukkings aan die een kant en klankaspekte aan die ander kant, klankuitdrukking genoem, of meer spesifiek: klankekspressie.

Hiervan word veral drie tipes onderskei.

Hoe kan 'n voël janfiskaal én laksman heet?

Saterdag 13 Januarie 2018 08:35

Vra voëlghoeroe-koekoekeloerder Sam de Beer via e-pos: “Ek is op soek na die herkoms van ʼn klompie Afrikaanse voëlname, spesifiek kemphaan, laksman, katakoeroe, nuwejaarsvoël en nimmersat. Party name lyk logies, maar is nie: Die nuwejaarsvoël is hier lank voor Nuwejaarsdag en broei ook nie oor dié tydperk nie. Ander name lyk maklik, maar ek is nie seker oor die Hollandse herkoms nie.”

Soos Afrikaanse plek-, berg- en riviername, is Afrikaanse plant- en diername getuienis van ons ryke hutspotwortels. Ons algemene woordeskat mag dalk oorwegend Diets wees, maar dis juis in die name van inheemse geplantes en gediertes wat ons duidelik sien hoe maklik Afrikaans by Khoi, Maleis, Portugees, Engels, Frans, Zoeloe, Xhosa, en so meer gaan leen.

Dit is my werk (onder andere) om daagliks plasings op VivA se Facebookblad te maak. Sommer oor ditjies en datjies, maar darem so dat gebruikers daaruit iets leer en wys word, en dat VivA bietjie blootstelling daaruit kry. Ek kry heelwat positiewe terugvoer – onderwysers kyk na die plasings, druk dit uit en sit dit teen hulle klaskamermure op, mense stuur dit aan, gebruikers laat weet in kommentaar "Ek het nie geweet nie!"

Dis moeilik om te raai wat mense se verbeelding gaan aangryp en ek moet dikwels nogal spook om ʼn plasing te maak wat sal aftrek kry. Hoewel ons almal daagliks in taal werk en lekker vir taalflaters lag, is taal-as-onderwerp nie altyd die interessantste van onderwerpe nie. Hoe informatief is dit vir jou om oor die eerste koppie koffie van die dag te lees wat ʼn skakelwerkwoord of ʼn alveolêre frikatief is? Die meeste "gewone" gebruikers van Afrikaans wil daardie inligting so gou moontlik vergeet nadat hulle die stof van hulle skoolskoene afgeskud het; dis allermins wat hulle op sosiale media wil raaklees.

Die een ding wat ek weet dadelik werk, is die hele kwessie oor anglisismes. Dis soos om in ʼn vergadering te sê "daar is koek by die tee" of by ʼn familiesaamtrek saggies "testament" in jou ouma se suster se oor te fluister. Dis so goed jy gooi ʼn handgranaat in die gesprek in.

Bladsy 1 van 2

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK