Items per datum gefilter: November 2018

Druk in die drukte - hulp met homonieme

Donderdag 29 November 2018 12:54

Ek werk aan ʼn lys homonieme. Dit moet as voorbeeldmateriaal dien vir die stukkie in Taalonderrigportaal (hou VivA se webblad dop, die eerste aflewering land in Januarie 2019) oor homonieme. Maar ek gaan mos nou nie die wiel van voor af uitdink nie, ander (baie meer ervare en geleerde) skrywers voor my het al sulke lyste gemaak. Ek begin sommer daar en pas net voorbeeldmateriaal aan.

 

Ek soek en raap en skraap, raadpleeg ou handboeke (ek het nog my ma se skooluitgawe van Barnes!), die Groen Bybel (Afrikaans, my taal, waarmee almal in die ou bedeling grootgeword het), en elke digitale lys wat Google vir my kan uitspoeg. Sit naderhand met ʼn stewige lysie. Begin voorbeeldsinne uitdink om die betekenisverskille te illustreer. En net daar val ek vas. Want sommige van dié betekenisverskille lyk vir my homonimies ver, maar sommige lyk vir my polisemies naby. Ek kan sweer dié voorbeelde is nie homonieme nie, maar dis dan as homonieme in gestandaardiseerde lyste opgeneem, nou wat nou?

 

Steek kers op by my kollega, prof Gerhard van Huyssteen. Sommer gou doen hy klinkklare antwoorde aan die hand. Ek probeer hier so bondig moontlik opsom wat hy gesê het.

 

Kom ons begin net eers by die definisies. Ek dink ons het almal lank genoeg onder Afrikaansonderwysers deurgeloop dat ons dit onthou:

 

Homonieme is verskillende woorde wat etimologies verskillende oorspronge het en (toevallig) in Afrikaans dieselfde klink en dieselfde gespel word. As jy ooit twyfel oor die term, onthou dat ons die woord uit Grieks kry waar homo 'dieselfde' en onoma 'naam' beteken het. Homonieme is dus letterlik dieselfde naam wat vir verskillende dinge gebruik word.

 

Daarteenoor is ʼn poliseem een woord wat verwante betekenisse het. So ʼn woord het ʼn bepaalde oorsprong, maar het met verloop van tyd betekenisuitbreiding ondergaan sodat dit in verskillende kontekste verskillend aangewend word. Die term kom ook uit Grieks, waar poli- 'baie' of 'veel' beteken het en sem verwys het na 'teken'. Baie betekenisse, sien.

 

Let mooi op die onderskeid:

 

homonieme = verskillende woorde, verskillende oorspronge, lyk en klink dieselfde, verskillende betekenisse

polisemiese woord = dieselfde woord, dieselfde oorsprong, lyk en klink dieselfde, verwante betekenisse

 

Nou goed, in my lys homonieme teken ek onder andere die volgende op:

as dit wat oorbly as iets verbrand het, bv. As is verbrande hout. van ’n motor, bv. Ná hy oor die klip gery het, is die motor se voorste as gebuig. indien, bv. Jy gaan harder moet leer as jy wil slaag.
by insek wat heuning maak, bv. Daar is ʼn by wat die hele tyd teen die venster zoem. in die nabyheid, bv. Ek hou meer daarvan om by die huis te bly as om uit te gaan.
dig toe, bv. Maak seker al die deure en vensters is dig sodat die reën nie inkom nie. poësie maak, bv. Die digter dig met woorde.
eg nie vals nie, bv. Hierdie skildery is nie ʼn namaaksel nie, dit is eg. plaaswerktuig, bv. ʼn Eg word gebruik om vore in ʼn land te maak. huwelik, bv. By ʼn troue word twee mense in die eg verbind.
graaf instrument waarmee ’n mens spit, bv. Spit die bedding met ʼn graaf om. titel van ʼn edelman, bv. Die graaf en gravin het die bal bygewoon.
ken onderste deel van die gesig, bv. Die bokser het sy opponent op die ken geslaan, oor kennis beskik, bv. Ek gaan nie verder leer nie, ek ken my werk.
leer toestel met sporte waarteen jy kan opklim, bv. Staan op die leer as jy die portrette ophang, anders gaan jy nie bykom nie. inligting bemeester, bv. As jy nie leer nie, gaan jy nie slaag nie. gelooide vel van diere, bv. Hy dra net skoene van egte leer.
lewer orgaan in die liggaam, bv. Geelsug is ʼn siekte van die lewer. verskaf, bv. Plaaslike boere lewer al die groente vir die gastehuis.
pers ʼn kleur, bv. Pers klere word dikwels gedra om dood of rou aan te dui. ʼn instrument wat druk uitoefen, bv. Plaas die olywe in ʼn pers om die olie uit te druk.
rys graansoort, bv. My gunstelingkos is kerrie en rys. uitstyg, bv. Plaas die gekniede deeg op ʼn warm plek sodat dit behoorlik kan rys.
steel lang handvatsel van ʼn instrument, bv. Hou die besem aan die bokant van die steel vas. diefstal pleeg, bv. As jy mense se geld steel, is jy ʼn misdadiger.
vee plaasdiere, bv. Die vee moet gereeld teen siektes ingeënt word. handeling om die grond skoon te maak, bv. Vee bietjie die stof met ʼn besem bymekaar.
vertrek kamer, bv. Almal in die huis het in een vertrek bymekaargekom. begin met ʼn reis, bv. Wanneer vertrek julle Kaap toe?

 

Waar ek toe vasval, is by die woord druk. Want omtrent in elke boek is druk as ʼn homoniem aangeteken, maar Gerhard slaan sommer dadelik ʼn spyker in druk se homonimiese doodskis: druk, seg hy, is een polisemiese woord, nie twee homonimiese woorde nie.

 

Ek gaan kyk, en ja, sowaar – al die betekenisse wat ek in my lys het (ʼn druk gee, druk besig, druk ʼn papier met ʼn duimspyker vas) het te doen met die oorspronklike betekenis van 'ʼn krag op iets uitoefen' (in Engels: 'pressure').

 

Nou hoe op aarde moet ʼn arme tweedetaalleerder in graad agt weet wanneer woorde homonieme is en wanneer ʼn woord polisemies is as die handboekskrywers so dwaal? Maklik, sê Gerhard: Jy slaan na. (Dis natuurlik die antwoord op enige navraag, maar goed, hierdie een is darem maklik op te spoor.)

 

Die woordeboekmakers het hier vir ons al die werk reeds gedoen, As ʼn mens in ʼn woordeboek soos die HAT of WAT naslaan, sal jy sien dat daar by die woord druk slegs een inskrywing is. Ja, daar is ʼn klomp betekenisse wat onder druk gegee word (die HAT dui byvoorbeeld aan dat dit ʼn s.nw., ʼn ww., ʼn b.nw. of ʼn bw. kan wees), maar dis betekenisse vir een woord. Polisemies, volgens die definisie hier bo.

 

So lyk die inskrywing vir druk in die HAT (ek knip en plak hier, iets wat ek normaalweg nie doen nie omdat ek glo woordeboekmakers se werk moet beskerm word, maar ek wil graag illustreer hoe die inskrywing lyk):

 

druk
ww. [het gedruk]
1 krag uitoefen op iets: ’n knoppie druk in ’n skrum druk ’n gat in iets druk.
2 aan ’n (knellende/persende) krag onderwerp: iemand se hand druk sap uit vrugte druk Sy skoene druk hom.
3 letters/afbeeldings/ens. op papier aanbring: ’n boek/koerant (laat) druk met die hand of ’n stempel gedruk.
4 (rugby) die bal met die hand(e) in die doelgebied neersit: ’n drie druk.
5 vinniger, met haas probeer vorder; aandruk: Druk die perde bietjie dat ons voor sononder tuis kan wees.
6 (figuurlik) nadruk/klem op iets lê: Hy druk op die feit dat dit nodig is.
7 (figuurlik) moeilik maak; ’n onaangename las wees: gedruk word deur geldelike verpligtings Die nood druk my.
8 (figuurlik) afwaarts dwing: pryse na onder probeer druk.

s.nw. [drukke; drukkie] [afk. dr.]
1 knellende/persende krag: druk op iets uitoefen atmosferiese/hoë/lae/konstante druk lugdruk.
2 liefkosende/toegeneë omhelsing: Hy het haar met ’n liefderike druk gegroet. Gee my nog ’n drukkie.
3 keer wat gedruk word: ’n druk met die hand al die drukke op die kitaar ken.
4 (drukkuns) (a) handeling van te druk: die druk van ’n boek/tydskrif/koerant.
(b) al die eksemplare saam wat gelyktydig gedruk is (drukoplaag), of een eksemplaar daarvan: die agtste druk van die sesde uitgawe van ’n woordeboek eerste drukke versamel. Vgl. uitgawe
(c) letters/ens wat gedruk is; drukwerk: Ek kan die fyn druk nie lees nie. groot/klein/kursiewe/vet druk.
5 (figuurlik) dwingende eis: druk om iets te doen aan druk toegee.
6 (figuurlik) las; belemmering: die druk van belastings/armoede.

 

b.nw., bw. [druk, drukker, die drukste]
1 met baie werk; bedrywig; aktief: ’n druk dag beleef.
| dit druk baie werk hê; besig wees.
2 lewendig; beweeglik; voortdurend: druk aan die gesels wees ’n dokter wat druk besoek word druk verkeer.

 

Daarteenoor lyk ʼn woordeboekinskrywing vir steel so in die HAT:

 

    steel1 s.nw. [stele; steeltjie]
1 lang handvatsel; buis; skag: die steel van ’n besem/byl/hamer/hark/lepel/vurk/lans die steel van ’n tabakpyp.
2 (botanie) stingel van ’n blaar/blom/vrug: die steel van ’n roosblaar/lelie/peer Snyblomme met lang stele is gesog. ’n reguit/kaal/harige steel.
[Grieks steleos]
steelloos

 

    steel2 ww. [het gesteel]
sonder toestemming wegneem of vir jou toeëien: ’n Dief het my selfoon gesteel. voorraad van jou werkgewer steel Jy mag nie steel nie (Eksodus 20:15). ♦ (ook figuurlik): iemand se idees steel ’n skrywer wat by ander skrywers steel.

   

    Die belangrike ding om hier van kennis te neem, is die nommers in boskrif (Engels: superscript) langs die twee inskrywings vir steel. Hierdie nommers dui vir ons aan dat ons nie met een woord met verskillende betekenisse te doen het nie, maar met twee verskillende homonieme. Let op dat dit nie by druk so aangedui word nie. Al die betekenisse vir druk word onder die een inskrywing (sonder die nommer) geplaas. Alles is betekenisse van een polisemiese woord.

 

   

     Mag dit jou uit jou homonimiese hel en jou polisemiese druk haal. En jou herinner dat jy nooit taalkunde mag pleeg sonder ʼn woordeboek nie.

 

VivA-groete

 

Sophia

SNELLERWAARSKUWING: Hierdie rubriek bevat woorde wat hipersensitiewe gebruikers vuil kan laat voel. Indien taalkundige aspekte van kru woorde of sterretjies in die plekke van vokale jou ontstel, moenie verder lees nie! (Ma, klik nóú weg!)

In ʼn twiet op 15 November deser verskel Max du Preez een of ander kêrel met ʼn “Jou armsalige p**p*l.”Max du Preez se twiet

Die Taalkommissie sit dadelik op aandag, rooi penne in die hand: Is dit p**p*l (soos Max dit skrywe), of moet dit p**ph*l wees, soos wat dit pront in die WAT en HAT opgeteken staan?

As daar nou een onderwerp is waarmee daar in Afrikaansonderrig kleigetrap word, is dit die direkte en indirekte rede. Die redes daarvoor is veelvuldig én veelvoudig, maar die oerdwaling het gekom, vermoed ek, by die behoefte om “maklike” reëls te skep waarmee kinders “maklik” onderrig en “maklik” geassesseer kan word. Intussen het hierdie “maklike” reëls so ver van die werklikheid verwyder geraak dat ’n hele geslag taalgebruikers glo hulle kan die taal van hulle harte en monde en sinne nie beheers nie. Dit maak van hulle vreemdelinge in hulle moedertaal, en ons verloor nie net hulle belangstelling nie, ons verloor hulle entoesiasme en hulle passie vir die taal.

 

Maar goed, kom ons begin by die begin: Waarom moet leerders leer hoe direkte en indirekte rede werk? Omdat sekere tekste en kontekste van die skrywer vereis om ’n spreker se woorde oor te vertel of te rapporteer. (In Engels is “reported speech” ’n sinoniem vir “indirect speech”.) Direkte rede word byvoorbeeld by uitstek in fiksietekste gebruik. In tekste soos koerantberigte, rubrieke, notules en verslae raak aanhalings van iemand se direkte woorde al hoe minder bruikbaar. Wat meer is, selfs in fiksietekste is daar soms geleenthede waar die verteller vir die leser vertel wat ’n karakter gesê het. Die probleem is net: Die aard van die indirekte rede verskil na gelang van die teks, en dis hier waar die skoolreëls leerders liederlik in die steek laat.

Dikstertmerries en feite soos koeie

Vrydag 16 November 2018 09:35

perdDie vertakking van die taalwetenskap wat die oorsprong van woorde naspeur, hul eerste, oudste, betekenisse en verdere ontwikkeling, word die etimologie genoem. Wonder jy oor die herkoms van ’n Afrikaanse woord? Soek dan in die EWA, die WAT se Etimologiewoordeboek van Afrikaans, of in die groot Nederlandse etymologiebank.nl.

Teenoor dié spesialiswetenskap wat etimologiese speurvernuf vereis, staan die volksetimologie van Jan en alleman; gewone mense wie se tonge, in die verlede dalk meer dikwels as vandag, oor vreemde woorde gestruikel het: nuwe name vir nuwe dinge; goeters van elders; woorde uit ander tale; wetenskapsterme; vaktaal. Spontaan en heeltemal onwetenskaplik het ons voorouers tongknopers dikwels by hulle eie taal, hul eie variëteit, hul eie, unieke praatmaniere aangepas.

Tweedetaaltoffies

Woensdag 14 November 2018 22:36

Dis vir enigeen moeilik om kop te hou met ʼn tweede (of derde of vierde of ...) taal. Leerders wat Afrikaans Eerste of Tweede Addisionele Taal moet bemeester, val dikwels vas met woorde wat baie na aan mekaar lê en moeilik vertaal. Moedertaalsprekers weet instinktief wanneer om die een te gebruik en wanneer die ander reg is, maar die oomblik as ʼn mens die onderskeid tussen die twee moet verduidelik, besef jy waarom hulle sukkel – die betekenis is soms so verstrengel en die onderskeid so fyn dat dit werklik kophou kos om die verskillende gebruikstoepassings duidelik te maak.

Aasvoëls

Sondag 11 November 2018 19:13

Deur Pieter Bosman

aasvoëlHeelwat voëlname is beskrywend van die voël se voorkoms of gedrag. Dink aan oranjeborsboslaksmankwikstert, bronsvlerkdrawwertjie, bontkiewiet, ensovoorts – almal name wat amper “vanselfsprekend”, hoewel ietwat verbeeldingloos, is. Aasvoëls se naam val in hierdie groep. Hulle vreet “aas”; met ander woorde, iets wat reeds dood is. Taalkenners is onseker of die woord aasvoël ’n Afrikaanse skepping is, aangesien dit onbekend in Nederlands is (die woord gier word gebruik), tog bestaan die woord Aasvogel wel in Duits. Hoogdrawende Afrikaanssprekers gebruik ook “gier”.

Dit is kennelik onwelvoeglik en veral ongevraagd om kritiek op Afrikaanse “kuns”-films uit te spreek. Daarom sal ek maar liewer nooit in die openbaar sê dat ek ʼn paar keer verveeld op my horlosie gekyk het toe ons onlangs Kanarie gaan kyk het nie. Aangesien hierdie nie ʼn fliekrubriek is nie, mag ek dus maar skromeloos oor die taal van Kanarie praat.

ʼn Reuseuitdaging vir enige draaiboekskrywer of regisseur wat ʼn periodefilm maak, is die taalgebruik.

Brekende nuus

Donderdag 08 November 2018 08:06

As jy in die nuutste (2017-uitgawe) van die Afrikaanse woordelys en spereëls die woord "breek" naslaan, sal jy die volgende inskrywing in die woordelys sien:

            breek (die nuus –, 'n been –, vir middagete –), ge-

            breek (verposing), breke

(Voetnoot: Die woordelys in die AWS is nie 'n verklarende of tweetalige woordeboek nie, dis 'n lys woorde wat spel- of standaardiseringskwessies veroorsaak. Daarom is daar nie in die woordelys 'n aanduiding van die woordsoort of die betekenis van 'n woord nie. Daar is wel fleksie, waaruit gebruikers kan aflei wat die woordsoort is. In hierdie geval is die "breek" met "ge-" 'n werkwoord en die "breek" met die meervoud 'n selfstandige naamwoord.)

Boslansters

Sondag 04 November 2018 20:06

In VivA se Taalwerkersforum vra George du Bruin onlangs: “Wie ken die woord boslanster” vir iemand wat in die Bosveld woon? Waarop Jeanette Ferreira-van Jaarsveld antwoord dat sy in die Laeveld met dié woord grootgeword het. Toe ek Vrydag daarna verwys in Beeld se rubriek Woordwisseling, kry ek van prof. Fransjohan Pretorius ’n e-pos met dié interessante stukkie geskiedenis. Hy skryf:

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK