Items per datum gefilter: Februarie 2018

“Sal jy asseblief stilbly terwyl ek besig is om jou te onderbreek?” – Todd Rockefeller

Die afgelope Woensdagaand was ek ʼn genodigde spreker by AfriVriendelik se jaarlikse Tinteltong Toekennings. Aanvanklik wou ek die uitnodiging van die hand wys, want my eerste reaksie was dat “Tinteltong Toekennings” vas geskryf moet word. Ek besef toe dat hulle hulle waarskynlik slimweg op reël 15.6 van die Afrikaanse woordelys en spelreëls beroep het, want daarvolgens is “Tinteltongtoekennings” en “Tinteltong-toekennings” en “Tinteltong-Toekennings” én “Tinteltong Toekennings” korrek. Ek aanvaar toe maar die uitnodiging taalkundig eervol.

Die taal wat ek aan my ma gedrink het

Donderdag 22 Februarie 2018 15:54

Dit was hierdie week Internasionale Moedertaaldag. Die dag word jaarliks op 21 Februarie gevier, en is deur Unesco ingestel met die doel om taaldiversiteit oor die wêreld heen te bewaar en te versterk. Ek is op dié dag deur verskeie liggame en organisasies gevra om kort aanhalings te skryf wat hulle in veldtogte kan gebruik, en ek het selfs ʼn radio-onderhoud as ambassadeur van afrikaans.com gedoen om mense bewus te maak van die inligting op hulle webblad oor moedertaalonderrig.

Die dag was al verby, my skrywes geskryf en my sprakke gesprook, toe ek uiteindelik gedwing is om behoorlik te besin oor wat moedertaal vir my beteken.

 

So byna tien jaar gelede had ek die voorreg om by die eens glorieryke Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) te werk. Die twee jaar “diensplig” daar was besonder leersaam, nie net ten opsigte van navorsing en tegnologie nie …

Ek bevind my in ʼn ryke multikulturele en veeltalige omgewing. As taalkundige boei die talige taferele wat voor my afspeel, my eindeloos. Ek sien die uitdagings en interessanthede van Engels as lingua franca. Terselfdertyd probeer ek ʼn bietjie van die ander mense se tale leer, om darem ten minste “hallo” en “totsiens” vir my kollegas te kan sê.

My direkte hoof is mevrou Kagiso Chikane, eggenoot van die apartheidstrydros eerwaarde Frank Chikane wie se voete destyds deur oudminister Adriaan Vlok gewas is. Sy is ʼn waardige vrou; altyd voortreflik geklee as sy uit haar blink Mercedes-Benz klim.

(Ver)gissings oor gender

Donderdag 15 Februarie 2018 15:46

Kry vanoggend ʼn navraag: Hoeveel van die "tradisionele" genderbenamings behoort leerders nog te ken? (Over geset synde: Wat hoort alles in daardie tradisionele lys van "manlik en vroulik" wat ons almal op skool moes memoriseer?) Is dit hoegenaamd nog iets wat in ʼn skoolhandboek hoort, of gryp ons gendergelykheid aan en smyt ons die hele sous by die deur uit?

Bekendstelling: Eenders & Anders

Sondag 11 Februarie 2018 18:40

Ná die sowat dertig jaar wat Nederlands in Suid-Afrikaanse skole afwesig was, het die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere (SASNEV), in samewerking met Protea Boekhuis, pas ’n Afrikaans-Nederlandse lespakket vir skole bekend gestel.

EendersAnders

Eenders & Anders

Oor hoe om grawe en gliewe te organiseer

Saterdag 10 Februarie 2018 05:51

(Voor jy verder lees, dink gou eers vir ʼn oomblik hoe jy vir iemand sal verduidelik wat die woord “spelling” beteken. Dan vooruit!)

Vroeër die week kom klop dr Frikkie Lombard, die eindredakteur van die Buro van die WAT oor wie ek dit verlede week in hierdie rubriek had, by my, Tom McLachlan en prof Ernst Kotzé (beide oudvoorsitters van die Taalkommissie) om raad en advies aan. Die trefwoord spelling moet tans by die WAT behoorlik saamgestel en bewerk word. (Onthou, die WAT-mense werk dat die salpeter op hulle flanke uitslaan om die letter “S” binnekort af te handel.)

Die eerste konsepdefinisie by spelling staan so: “Manier waarop die woorde van taal of ʼn taal deur letters en diakritiese tekens voorgestel word.”

Fraai, tog?

Deel van my werk is om daagliks op VivA se Facebookblad ʼn meem oor een of ander taalinteressantheid te plaas. Ons doen dit vir bewusmaking en bemarking, van VivA, van ons dienste en van Afrikaans. Dit werk lekker – onderwysers het my al laat weet hulle druk die meme en plaas dit op hulle klaskamers se mure, en "gewone" taalgebruikers kom vra of kla of stry daar oor die saak. Dis lekker om te sien hoe betrokke almal is en hoe vurig hulle nog oor Afrikaans kan raak. Maar soms kry die ding ʼn suur noot en moet ʼn mens ingryp om net weer die gemoedere tot bedaring te kry.

Deur Milton Webber, taalpraktisyn en vraagopsteller by Beter Afrikaans

 

Een van die vrae wat ek baie kry van deelnemers aan Beter Afrikaans, handel oor die term samestellende samestelling, wat vir baie mense na niks anders as ’n vorm van toutologie lyk nie. Nou wat is dan hierdie taalkundige term waarmee die taalghoeroes ons probeer vermaak?

Die AWS definieer ’n samestellende samestelling as ’n samestelling waarvan die bepalergedeelte bestaan uit ’n woordgroep van ’n byvoeglike naamwoord of telwoord plus ’n selfstandige naamwoord”. Met ander woorde: ’n groep woorde bestaande uit ’n byvoeglike naamwoord plus ’n selfstandige naamwoord en nog ’n selfstandige naamwoord. Die byvoeglike naamwoord moet egter op die eerste selfstandige naamwoord in die woordgroep betrekking hê, anders sou dit los geskryf word. En dit is juis hier waar mense soms kleitrap, want ons het mos op skool geleer byvoeglike naamwoorde word los van selfstandige naamwoorde geskryf. Ja, maar nie in die geval van samestellende samestellings nie.

As blink breine terselfdertyd eenders dink

Saterdag 03 Februarie 2018 06:51

Die afgelope week op Facebook skryf ek iewers in ʼn opmerking: “Ek glo nie in ‘naming and shaming’ nie, jy weet mos!”

Normaliter probeer ek tóg maar om vir sulke goed ʼn Afrikaanse ekwivalent te kry, veral as ʼn man nou so half op ʼn openbare forum loop staan skrywe. Ek is mos góéd groot gemaak (of soos vandag se jonges sal sê: Ek is ordentlik soos dit …)

In die geval van naming and shaming kry ek in al 73 digitale woordeboeke tot my beskikking gʼn enkele vertaalekwivalent vir dié bekende uitdrukking nie. Ek skryf hom toe maar so in Brits, keurig tussen aanhalingstekens.

Maar ek het baie slim en kreatiewe vriende …

Verlede week het ons vinnig gekyk na die terminologie wat in ʼn gesprek oor taalsuiwerheid van toepassing is. Die belangrikste beginsel wat jy uit dié bespreking moes wys word, is dat geen taal netjies in ʼn blik pas nie. Enige taal se sprekersgemeenskap is ʼn losse mengsel van moedertaal-, tweedetaal- en vreemdetaalsprekers, van oumense en tieners, van geleerdes en gewones, van vaandeldraers en knutselaars. Almal het die reg om deel te wees van die taalgemeenskap, en almal se bydrae, hoe krom en skeef dit nou ook al mag lyk, is belangrik.

Afrikaans is geen uitsondering nie. Taalkundiges is al dekades lank besig om die variëteite van Afrikaans te bestudeer, en Afrikaans.com, die ATKV, VivA en die WAT doen baie moeite om taalskatte uit die variëteite op te teken. Dit is vir ons almal interessant en bemoedigend, want dit wys vir ons dat die taal sprankel en woeker en leef.

Maar waar pas Standaardafrikaans dan in hierdie prentjie in? Wat is die funksie daarvan, en hoe moet ʼn mens dink oor die feit dat (slegs) Standaardafrikaans op skool in taalkundeklasse aan leerders oorgedra word? Is dit nie ʼn bietjie hovaardig om een variëteit bo al die ander te "verhef" en dit aan die sprekers van variëteite voor te hou as die ideale vorm van die taal nie?

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK