VIVA SE BLOGS
Soekresultate vir: September 2018

Vele tale speel dalk in op 'baie'


Saterdag, 29 September 2018 08:46

Uit meer as 910 000 unieke woorde in die Taalkommissie se ~50-miljoenwoordkorpus, lê die woord baie op die 61e plek. Om dit konkreet te maak: As baie aan die Comradesmaraton moes deelneem, sou hy om ʼn tweede plek in die resies meeding. Lekker vinnig, dus.

Soos talle Comradesatlete ook buitelanders is, so word ook dikwels veronderstel dat baie deel is van Afrikaanse se sogenaamde uitheemse stratum. Om kort pad te neem: Dié teorie sê dat baie uit die Maleise woord banyak (oftewel banjak) wat “baie” beteken, ontstaan het. Om van banyak tot by baie te kom, moet jy net die [n] in die middel en die [k] aan die einde laat val. Finish en klaar, ons hoef nie verder te soek nie.

“Sneupe vol sneus”


Donderdag, 20 September 2018 21:22

 

hennepUit “bhang”, die Indiese naam vir Cannabis sativa (volgens Facebook ook “omkyktwak”) het die Konstitusionele Hof dié week vir bostrekkers die benoudheid gehaal.

Met sy kenmerkende regop stingel en uitwaaierende tandjiesblare is dié eenjaarkruid die bekendste soort van ’n plantgeslag inheems in die gematigde streke van Asië. Wanneer sy blare, blomme en takkies gedroog en gerook, gekou, of in wateraftreksels gedrink word, kan oormatige gebruik lei tot verslawing: cannabismus, of kannabisme.

Voor Jan van Riebeeck in die Kaap voet aan wal gesit het, was dié kruid van Portugese seevaarders by die Khoi-Khoin al as “(mak)dagga” bekend. Dit het hulle aan hul eie “daXa-b”, “wildedagga”, herinner.

Het jy mudita, of moet jy manja vir jou merak?


Donderdag, 20 September 2018 15:51

Kry vandag van VivA-gebruiker Chantél Vervalle ʼn interessante navraag: Het ons ʼn woord, ʼn enkele woord, in Afrikaans wat dieselfde beteken as mudita? Gelukkig stuur sy die definisie saam, want ek het geen idee wat dit beteken nie.

'n Trap vir 'n sprokie


Vrydag, 14 September 2018 08:04

Ek sit hierdie week in ʼn terminologiewerkwinkel wat ons saam met die Departement Kuns en Kultuur onderneem, waar ons deur ʼn lys konstruksie- en ingenieursterme werk om Afrikaanse ekwivalente te kry en/of te maak, indien nodig. Dis rugbreekwerk – en ʼn liefdesdiens. Niemand het nog ooit uit vakterminologie maak ryk geword nie, en die enigste betaling wat ons vir die dae se geredekawel en gedink kry, is ʼn bord kos en ʼn kopseer.

Uitsterf van die kommas ná aanhef, groet


Vrydag, 14 September 2018 05:26

 

 
 Die 1972-SAL-brief

Teen dié tyd het algar seker al op sosmed die 1972-brief van die Suid-Afrikaanse Lugdiens gesien waarin ʼn waardin deur die assistenthoofbestuurder aangespreek word, opdat sy asseblief vir ons 1,1 kg moet afskud voor die volgende inweegsessie, baie dankie en groetnis die uwe.

In my eie plasing op Facebook kies ek om tong-in-die-kies te fokus op die feit dat daar ná die aanhef (“Geagte mejuffrou,”) en die groet (“Die uwe,”) kommas gebruik is – ʼn praktyk wat om die een of ander misterieuse rede in Afrikaans uitgesterf het.

Wanneer het dit gebeur? Facebookkollega Ilna Stander hipotetiseer dat dit dalk in die 1974-kurrikulum vir die destydse standerd 8’s ingevoer is, want die matrieks van 1976 (so lyk dit vir ons) was die eerstes wat die formele brief in die sogenaamde blokformaat en sonder ʼn komma moes skryf.

Die baie groot raaisel (vir my) omtrent baie


Donderdag, 13 September 2018 00:19

Deur G. (Ollie) Olwagen

Sou ’n hoëfrekwensiewoord soos baie nie veel eerder uit ’n Dietse oord in die oorwegend Dietse kern van Afrikaans ingekom het nie, eerder as uit die Ooste om die Hollandse seer en veel uit ons taal te “verdryf”? Só vra die skrywer van hierdie blog, ’n joernalis wat baie graag die mening van kenners wil hoor – trouens, van elkeen wat meen dat hy of sy ’n kundige bydrae hieroor te lewer het . . . 

Wielewaal


Woensdag, 12 September 2018 14:11

Deur Pieter Bosman

Foto: WikipediaEnige boek wat die oorsprong van woorde bespreek, waarsku teen sogenaamde “volksetimologie” – dit is waar mense (leke sowel as kenners) die oorsprong van ’n woord verklaar deur na ooglopende ooreenkomste tussen woorde te verwys.

By wielewaal is die begeerte groot om in dié slagyster te trap. Elke Afrikaanssprekende kind ken die kleuterrympie waarin die woord wieliewalie voorkom, ’n vervorming van die Nederlandse woord wielewaai, wat beteken ‘om in die rondte te draai’.

Awendrood, môre water in die sloot


Vrydag, 07 September 2018 09:31

wolke’n Rooi lug in die aand, wanneer die son ondergaan; dit is soms ’n teken dat dit die volgende dag gaan reën. So het die ou mense geglo.

Vir mense wat na aan die natuur leef, dui verskeie dinge aan dat reën naby is. Natuurkinders weet watter winde reënbringers is. Die stand van die sekelmaan, byvoorbeeld, skuins met die onderste punt effens ingetrek, is volgens volksgeloof ’n aanduiding dat dit binnekort gaan reën: “Die maan gooi uit,” word gesê. As die reënpaddas kwaak, as die donderpadda – blaasop, janblom – sy geluid laat hoor, is onweer aan die kom. Vir baie is die kraanvoël ’n simbool van naderende reën. Party mense glo wanneer die petira, die hamerkop, roep of saam met ander van sy soort in ’n groep vlieg, daar groot reën aankom.

Kwikkie


Maandag, 03 September 2018 20:33

Deur Pieter Bosman

kwikkieEk glo daar is min mense wat nie ’n sagte plekkie vir kwikkies het nie. Hierdie voëltjie lyk altyd vriendelik en gelukkig – seker maar die stertjie wat so op en af wip. Soos Boerneef sê: “Die kwikkie stap en pik kordaat / hy’s ’n pikkie na my hart.

As kleuter is ek die wolhaarstorie vertel dat mens ’n kwikkie kan vang deur sout op sy stert te gooi. (Later aan het ek gehoor dat dit eintlik van alle voëltjies gesê word.) Wat my aan hierdie storie laat glo het, is daardie etiket op die sout waar ’n seuntjie dit wel regkry om sout oor ’n voëltjie se stert te strooi.

Die eerste deel van kwikstert, nl. kwik (soms ook kweek) beteken ‘lewendig’ en kom ook voor in kwiksilwer, verkwik en kweek(gras) – daardie lewenskragtige gras. In Engels word gepraat van the quick and the dead.