Deur Jana Luther
Die jaar loop uit. Ons berei voor vir Kersfees. Oor ’n bietjie meer as ’n week wag ons in die holste van Oujaarsnag op Nuwejaar, en dan dans of strompel of slaap ons die ou jaar uit, die nuwe in.
“Nuwejaar”. Een woord, vas, ja, met ’n hoofletter en meestal sonder ’n lidwoord, as die skrywer Nuwejaarsdag, 1 Januarie, bedoel. Twee woorde, los van mekaar, met kleinletters, “die nuwe jaar”, verwys na die volgende 365 dae, of, as dit ’n skrikkeljaar is, 366.
As ’n angsgevoel ’n mens skielik oorval en jou lyf onwillekeurig ruk, skrik jy. Dit is dalk die gevoel wat dié nuwe jaar by baie van ons wek. Duisend jaar gelede in Middelnederlands, het “skrik” beteken “om aan te stryk, om met lang treë te stap”. Nog vroeër was “skrik” “spring”.