Die VivA-taaladviesspan kry onlangs ʼn navraag oor die verskil tussen beeldspraak (imagery) en stylfigure (figures of speech). Aanvanklik het ek gedink dat die antwoord redelik voor die hand liggend is, maar groot was my ontnugtering toe ek dieper begin delf. Vir die doel van hierdie blog het ek die onderskeie Kurrikulum- en assesseringsbeleidverklarings vir Afrikaans (KABV), Literêre terme en teorieë (LTT), die Nederlandse Lexicon van literaire termen (ook op die LTT-webtuiste) en die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) geraadpleeg ten einde ʼn antwoord te probeer vind. Ek het ook ondersoek ingestel na die term retoriese middele/middels omdat dit met voorgenoemde terme verband hou.
Nota: Hierdie blog is geskryf met die medewete en goedkeuring van die voorsitter van die huidige Taalkommissie, me Suléne Pilon. Die inligting hierin is gebaseer op ʼn konsepweergawe van ʼn nuwe hoofstuk 20 van die Afrikaanse woordelys en spelreëls, wat handel oor die skryfwyse van woorde van vreemde herkoms.