Ek kry die afgelope week of wat skielik heelwat navrae oor die gebruik van die woord cool. Mag ‘n mens die woord gebruik? Wanneer mag ‘n mens die woord gebruik? Hoe skryf ‘n mens die woord as jy hom gebruik?
Trefwoorde: WAT; woordeboeke; Woordeboek van die Afrikaanse Taal
Deel 16 van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal is onlangs in Stellenbosch bekendgestel. Hierdie woordeboek word deur 'n gideonsbende saamgestel, wat rugbreekwerk doen om Afrikaans in sy volle reikwydte en diepte, en met erkenning aan al sy variëteite, op te teken. VivA het met doktor Frikkie Lombard, eindredakteur van die woordeboek, gesels oor die belangrike werk wat die WAT vir Afrikaans verrig.
“Iemand het op ’n kol gesê taal is waarskynlik die grootste kenmerk van ons menswees. ’n Ander persoon het gesê taal is daardie anonieme, kollektiewe kuns wat die resultaat is van die kreatiwiteit en vindingrykheid van duisende geslagte.
“As woordeboekmakers is dit ons taak en reuseuitdaging om aan daardie anonieme en kollektiewe kuns gestalte te gee. Woordeboekmaak is ’n uitdagende werk, wat die kognisie betref en op vele ander terreine. Ek wil amper sê dis ’n soort Sisufoswerk. Sisufos was die man in die Griekse mitologie wat deur die gode aangesê is om ’n groot klip teen ’n berg uit te rol en as hy bo kom, neuk die klip weer af tot onder. Dan moet hy van voor af begin en die ding boontoe vat.
“Dit is min of meer wat leksikografiese werk ook is. Omdat ons gestalte gee aan woorde, is ons in ’n sekere sin kuratore van taal. Dit is ’n groot en moeilike taak en verantwoordelike werk. Daarby is die skryf van ’n woordeboek min of meer soos om liefde te maak: Jy weet nie altyd of jou vreugde gedeel word en of jou insette waardeer word nie. Woordeboekmakers verwag nie dat hulle werk geprys sal word nie; hulle kan maar net hoop hulle word nie te veel verwyte toegeslinger nie.”
So sê dr. Frikkie Lombard, eindredakteur van die Woordeboek van die Afrikaans Taal, op 17 April 2019 op Stellenbosch by die bekendstelling van Deel 15 van die WAT – die tweede deel van die letter S wat uiteindelik uit drie dele gaan bestaan, want S is natuurlik die langste letter van die Afrikaanse alfabet en die letter, dus, waarmee die meeste woorde in Afrikaans begin.
Afrikaans het baie idiome. Baie van hulle is erfgoed; vertoonstukke in ’n taalmuseum wat vertel van die kultuur van die sprekers van die taal in vroeëre tye, soos wyle Johan Combrink dit gestel het. Gaan kyk ’n mens hoe en waar van dié idiome ontstaan het, verstaan jy hulle ’n bietjie beter; en as jy ’n moedertaalspreker van die taal is, verstaan jy ook ’n klein bietjie meer van jouself.
In ’n vorige blog het ek geskryf oor Afrikaanse uitdrukkings en gesegdes wat na die Griekse en Romeinse mitologie teruggevoer kan word; na fabels, die Bybel, en die Middeleeue; na die natuur, die seevaart en die agrariese leefwyse van ons voorouers. Maar nie al Afrikaans se idiome is ’n skat waarop ek noodwendig trots is nie.