Donderdag 13 September 2018 00:19

Die baie groot raaisel (vir my) omtrent baie

Deur G. (Ollie) Olwagen

Sou ’n hoëfrekwensiewoord soos baie nie veel eerder uit ’n Dietse oord in die oorwegend Dietse kern van Afrikaans ingekom het nie, eerder as uit die Ooste om die Hollandse seer en veel uit ons taal te “verdryf”? Só vra die skrywer van hierdie blog, ’n joernalis wat baie graag die mening van kenners wil hoor – trouens, van elkeen wat meen dat hy of sy ’n kundige bydrae hieroor te lewer het . . . 

Woensdag 12 September 2018 14:11

Wielewaal

Deur Pieter Bosman

Foto: WikipediaEnige boek wat die oorsprong van woorde bespreek, waarsku teen sogenaamde “volksetimologie” – dit is waar mense (leke sowel as kenners) die oorsprong van ’n woord verklaar deur na ooglopende ooreenkomste tussen woorde te verwys.

By wielewaal is die begeerte groot om in dié slagyster te trap. Elke Afrikaanssprekende kind ken die kleuterrympie waarin die woord wieliewalie voorkom, ’n vervorming van die Nederlandse woord wielewaai, wat beteken ‘om in die rondte te draai’.

Vrydag 07 September 2018 09:31

Awendrood, môre water in die sloot

wolke’n Rooi lug in die aand, wanneer die son ondergaan; dit is soms ’n teken dat dit die volgende dag gaan reën. So het die ou mense geglo.

Vir mense wat na aan die natuur leef, dui verskeie dinge aan dat reën naby is. Natuurkinders weet watter winde reënbringers is. Die stand van die sekelmaan, byvoorbeeld, skuins met die onderste punt effens ingetrek, is volgens volksgeloof ’n aanduiding dat dit binnekort gaan reën: “Die maan gooi uit,” word gesê. As die reënpaddas kwaak, as die donderpadda – blaasop, janblom – sy geluid laat hoor, is onweer aan die kom. Vir baie is die kraanvoël ’n simbool van naderende reën. Party mense glo wanneer die petira, die hamerkop, roep of saam met ander van sy soort in ’n groep vlieg, daar groot reën aankom.

Maandag 03 September 2018 20:33

Kwikkie

Deur Pieter Bosman

kwikkieEk glo daar is min mense wat nie ’n sagte plekkie vir kwikkies het nie. Hierdie voëltjie lyk altyd vriendelik en gelukkig – seker maar die stertjie wat so op en af wip. Soos Boerneef sê: “Die kwikkie stap en pik kordaat / hy’s ’n pikkie na my hart.

As kleuter is ek die wolhaarstorie vertel dat mens ’n kwikkie kan vang deur sout op sy stert te gooi. (Later aan het ek gehoor dat dit eintlik van alle voëltjies gesê word.) Wat my aan hierdie storie laat glo het, is daardie etiket op die sout waar ’n seuntjie dit wel regkry om sout oor ’n voëltjie se stert te strooi.

Die eerste deel van kwikstert, nl. kwik (soms ook kweek) beteken ‘lewendig’ en kom ook voor in kwiksilwer, verkwik en kweek(gras) – daardie lewenskragtige gras. In Engels word gepraat van the quick and the dead.

Vrydag 31 Augustus 2018 06:23

Vanwaar kom "poenankies" dan, Gehasi?

“Sê nou jy glo jy is dom, vet en lelik, dan sal jy nie ver in'ie lewe kom'ie, al dink anner mense ok jy's vreeslik poenankies.”

Só preek Zita vir haar sustertjie in Anzil Kulsen se 2006-debuutroman.

Poenankies beteken ‘oulik’ of ‘fraai’, ʼn lekker alternatief vir die slengwoord cute. Dis ʼn ou bekende woord in die suideliker en westeliker vorme van Afrikaans, maar het eintlik eers onlangs meer bekendheid in die res van die land begin geniet. In die 2017-uitgawe van die Afrikaanse woordelys en spelreëls word poenankies vir die eerste keer as Standaardafrikaans erken.

As jy ʼn oningewyde poenankies-gebruiker soos ekke is, is dit belangrik dat jy van ʼn paar taalkundige aspekte van die woord kennis neem.

Dinsdag 28 Augustus 2018 06:42

Pediunker, peddie, nellie en wulp

Deur Pieter Bosman

pediunker (foto: Wikipedia)Binnelanders word dikwels deur name van seevoëls verwar. Dis waarskynlik omdat matrose nie op een plek gebonde is nie en hulle aan ander tale en kulture se benamings vir voëls (en visse) blootgestel word. 

Ek probeer om die oorsprong van die eienaardige naam pediunker te kry, en die beste wat ek kan vind, is dat dit sy oorsprong in Tristan da Cunha het – heel waarskynlik in die eerste helfte van die vorige eeu. Die naam peddie klink asof dit ’n afleiding van pediunker kan wees, maar dis my bespiegeling. Ongelukkig het geen Afrikaanse woordeboek die woord peddie opgeneem nie, dus is daar geen hulp van daardie rigting nie.

Donderdag 16 Augustus 2018 15:41

Vertwyfeling oor meervoud van meerkat

“So, wat is die meervoud van meerkat?” vra tannie Vrede toe ons saam met haar kolonie kleinkinders oor die gholfbaan in Skukuza slenter, op pad om ʼn Laeveldontbyt by die klubhuis te gaan eet.

“Meerkaaie,” antwoord ek selfversekerd en skop-skop aan iets wat besonder organies lyk.

“Dan was ek verkeerd en my ou vriendin Saartjie reg. Ek dag nog altyd dis meerkatte.”

En net daar, op Skukuza se agste bof, slaan die Groot Taalkundige Vertwyfeling toe …

Saterdag 14 April 2018 08:53

Belt en kruisbande

Hierdie blog is ’n uitgebreide en verrykte weergawe van ’n rubriek wat op Vrydag 13 April in Beeld verskyn het, en wat jy hier kan lees. 

WindhondBelt en kruisbande. Dit is ’n uitdrukking wat my pa graag gebruik het wanneer hy dubbele voorsorg getref het dat iets gebeur of onthou word. Net so is Afrikaans met sy dubbele nie ’n belt-en-kruisbandetaal. Dikwels is twee nie eens genoeg nie, want hoor ’n mens nie soms: “Julle vertel my ook nooit niks nie!”?

Dit kom voor of ons ’n onbewuste, ingebore drang tot nadruklikheid het wat ons nie suinig met woorde maak nie. Ons maak seker ons word begryp. Dubbelseker. 

Dinsdag 30 Januarie 2018 12:12

Dra daai louere – moenie op hulle rus nie

As ’n mens iets of iemand loof, dan prys en bewonder jy die ding of persoon. Dan keur jy hom of haar goed. As ’n paartjie aan mekaar verloof raak, keur hulle mekaar goed. As twee mense hulle aan mekaar verloof, gee hulle mekaar verlof, goedkeuring, toestemming, verskaf die een die ander plesier.

 

In Middelnederlands, waaruit Afrikaans ontwikkel het, was beloven en verloven afleidings van loven, wat ‘aanneem’ en ‘goedkeur’ beteken het, en ook ‘om te prys’. Uit die werkwoord beloven is die naamwoord belofte gevorm, ook na die model van gelofte.

 

Afrikaans kry sy werkwoord loof dus van Middelnederlands. In die Ou(er) Nederlands van omstreeks die jaar 900 was loof lovon, in Oudhoogduits loben, in Oudengels lofian en in Oudnoors lofa. Hierdie woorde is almal van die naamwoord lof afgelei, wat verwant is aan lief en wat en op sy beurt kom van die Oergermaanse luba- of lubō, waarin ook die oorsprong lê van die Engelse love 

Sondag 03 Desember 2017 16:56

Maak toe jou mond – daar spring dalk ’n padda uit

As daar in mense se keel ’n lastige krapperigheid is, wat boonop snaaks klink wanneer hulle praat, maak hulle soms verskoning deur te sê: “Ekskuus! Daar’s ’n padda in my keel.” Dan kug hulle eers, of neem ’n slukkie water. Soms, word daar gesê, klink dit of iemand ’n padda ingesluk het.

Die uitdrukking “ ’n padda in die keel hê” – in Nederlands ’n “kikker” – kom waarskynlik van die geluid van iemand se stem, wat in so ’n situasie aan die gekwaak van ’n padda laat dink. Die Engelse hoor hom ook, dié “frog in the throat”. (Vir verhaaltjies op die internet, én in party Afrikaanse spreekwoordeboeke, wat die oorprong van dié padda probeer toedig aan die Middeleeuse gebruik om glo ’n seer keel of verwante aandoenings van die slukderm met paddas en hulle uitskeidings en/of afskeidings te probeer behandel, is daar geen bewys nie, ongelukkig. Dis maar volksetimologie, en nes met stadslegendes moet ’n mens maar nie alles wat jy hoor oor die herkoms van woorde en gesegdes, vir soetkoek opeet nie.)

Bladsy 2 van 3

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK