Vrydag 07 September 2018 09:31

Awendrood, môre water in die sloot

wolke’n Rooi lug in die aand, wanneer die son ondergaan; dit is soms ’n teken dat dit die volgende dag gaan reën. So het die ou mense geglo.

Vir mense wat na aan die natuur leef, dui verskeie dinge aan dat reën naby is. Natuurkinders weet watter winde reënbringers is. Die stand van die sekelmaan, byvoorbeeld, skuins met die onderste punt effens ingetrek, is volgens volksgeloof ’n aanduiding dat dit binnekort gaan reën: “Die maan gooi uit,” word gesê. As die reënpaddas kwaak, as die donderpadda – blaasop, janblom – sy geluid laat hoor, is onweer aan die kom. Vir baie is die kraanvoël ’n simbool van naderende reën. Party mense glo wanneer die petira, die hamerkop, roep of saam met ander van sy soort in ’n groep vlieg, daar groot reën aankom.

Saterdag 27 Januarie 2018 07:43

Neem knypie sout maar met 'n knippie sout

Sommige “nuusfeite” moet ʼn mens maar met ʼn knippie sout neem …

Maar wag! Is dit nie “met ʼn knypie sout” nie? Of ʼn “korreltjie sout”? Dalk ʼn “greintjie sout”? Watter een is korrek? En waar kom die uitdrukking vandaan? Daar is soveel fassinerende wetenswaardighede hieroor, ek is sommer lus en registreer vir ʼn doktorsgraad.

Die meeste Afrikaanse woordeboeke en bronne dui sonder enige twyfel aan dat dit “met ʼn korreltjie sout” is, waarvan DF Malherbe se Afrikaanse spreekwoorde en verwante vorme (1925) die oudste is wat ek kon opspoor. Ander resente bronne, waaronder die Kollokasiewoordeboek en Tweetalige voorsetselwoordeboek, stem volmondig saam dat slegs “korreltjie” korrek is.

Anton Prinsloo (in Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom) sê dit kan ʼn “knippie/korreltjie/greintjie sout” wees, maar Johanna de Wet (in Wat praat jy!) wil van “greintjie” niks weet nie: Sy erken slegs “knippie/korreltjie/knypie sout”. HAT sluit indirek by haar aan: Hoewel slegs “knippie/korreltjie sout” onder die lemma sout verskyn, staan daar elders in die HAT dat “knippie” en “knypie” sinonieme is.

Saterdag 20 Januarie 2018 07:54

Waarom so ʼn haas?

Voltooi die idioom: Hoe meer haas, hoe … ?

Ek giggel steeds elke keer sesjarig as iemand “hoe meer haas, hoe groter pastei” antwoord. Oud en flou, maar klassiek. En natuurlik werk “hoe meer haas, hoe minder jakkals” ook, maar die pasteigrappie is vir my snaakser.

Waarom is dit snaaks? As gevolg van die meerduidigheid (ambiguity) van die woord “haas”: Dit verwys óf na spoed (die oorspronklike bedoeling van die idioom “hoe meer haas, hoe minder spoed”), of na ʼn knaagdier wat bekend is vir sy spoed, lang ore en groot voortande.

Sondag 03 Desember 2017 16:56

Maak toe jou mond – daar spring dalk ’n padda uit

As daar in mense se keel ’n lastige krapperigheid is, wat boonop snaaks klink wanneer hulle praat, maak hulle soms verskoning deur te sê: “Ekskuus! Daar’s ’n padda in my keel.” Dan kug hulle eers, of neem ’n slukkie water. Soms, word daar gesê, klink dit of iemand ’n padda ingesluk het.

Die uitdrukking “ ’n padda in die keel hê” – in Nederlands ’n “kikker” – kom waarskynlik van die geluid van iemand se stem, wat in so ’n situasie aan die gekwaak van ’n padda laat dink. Die Engelse hoor hom ook, dié “frog in the throat”. (Vir verhaaltjies op die internet, én in party Afrikaanse spreekwoordeboeke, wat die oorprong van dié padda probeer toedig aan die Middeleeuse gebruik om glo ’n seer keel of verwante aandoenings van die slukderm met paddas en hulle uitskeidings en/of afskeidings te probeer behandel, is daar geen bewys nie, ongelukkig. Dis maar volksetimologie, en nes met stadslegendes moet ’n mens maar nie alles wat jy hoor oor die herkoms van woorde en gesegdes, vir soetkoek opeet nie.)

Maandag 10 Julie 2017 19:44

Spontaan oor die lippe

Spreekwoorde, uitdrukkings, gesegdes – soms enkele woorde; meestal frases – is kragtige vorme van beeldspraak (vergelykings en metafore) wat kleur verleen aan die alledaagse taalgebruik van die moedertaalsprekers van ’n taal, dikwels sonder dat hulle eens daarvan bewus is.

Omtrent elke taal wat aan ons bekend is, beskik oor sy eie skat van idiome – wyshede en waarhede wat die ervaring, kulture en gebruike van vorige geslagte weerspieël.

Van Afrikaans se uitdrukkings en gesegdes – dié wat ons daagliks gebruik – is reeds etlike honderde jare oud; baie dateer uit vorige millennia. 

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK