Maandag 12 Maart 2018 16:39

Rododendron of viooltjie? Albatros of sysie?

In twee vorige blogs het ek oor klankekspressie geskryf. Dié soort waar ’n mens geluide wat jy hoor, met jou stem probeer naboots, wat klanknabootsing, of onomatopee, genoem word; en ’n tweede tipe, by woorde wat ’n bepaalde beweging of handeling aandui. As die spesifieke letters wat tot ’n woord saamgevoeg word, ’n betekenis van beweging oordra wat ook vasgevang word in hoe die woord klink, word daar na klankskildering verwys.

’n Derde vorm van klankuitdrukking, wat minder duidelik as onomatopee en klankskildering is, en waaroor hierdie laaste blog in dié reeks handel, is klanksimboliek. Om klanksimboliek, soos dit byvoorbeeld in ’n gedig voorkom, noukeurig te omskryf, is moeiliker. ’n Mens moet ook versigtig wees om jou dit nie te verbeel nie!

Sondag 28 Januarie 2018 18:03

Kaplaks! loop sy in die ruit vas

In my vorige blog het ek oor klankekspressie begin skryf. Dié soort waar mense klanke wat hulle hoor, met hulle stemme probeer naboots: die geluide van diere, voëls, insekte, selfs plante. Dié soort klankuitdrukking, die eerste van drie tipes waarby ek stilstaan, word klanknabootsing, of onomatopee, genoem. Daaroor nou ’n entjie verder, want dis nie net lewende wesens en plante wat mense met hulle stemme namaak nie.

Laas het ek na die onomatopee in die naam van die Pondolandse dorpie Lusikisiki verwys, die geluid van die wind wat waai deur gras en riet. Hier is nog een: Ixopo. Die naam van die dorpie wat geleë is aan ’n sytak van die Mkhomazirivier in die middelland van KwaZulu-Natal. Ixopo, wat met die laterale suig-klap-klank van die tong wat teen die verhemelte vassuig en laat los, die plas-plof-geluid laat hoor van ’n bees wat sy poot uit modder lig. 

Saterdag 13 Januarie 2018 21:07

“Bê,” sê die bok. “Huidjiehu,” sê die sprinkaan.

Nie alle woorde dra gewoon betekenis oor nie. Van sommige woorde word hulle betekenis ook weerspieël deur hoe hulle klink. In die poësie, waar klankelemente die basis van rym en ritme is, ja, maar nie net in gedigte nie. Ook in die gewone, alledaagse spreektaal is daar tussen klank en betekenis dikwels ’n duidelike verwantskap te bespeur; soms kan ’n mens jou dit maklik verbeel. In die prosodie, stilistiek, literêre kritiek, ook in die taalkunde, word ooreenkomste tussen die betekenis van woorde en uitdrukkings aan die een kant en klankaspekte aan die ander kant, klankuitdrukking genoem, of meer spesifiek: klankekspressie.

Hiervan word veral drie tipes onderskei.

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK