In twee vorige blogs het ek oor klankekspressie geskryf. Dié soort waar ’n mens geluide wat jy hoor, met jou stem probeer naboots, wat klanknabootsing, of onomatopee, genoem word; en ’n tweede tipe, by woorde wat ’n bepaalde beweging of handeling aandui. As die spesifieke letters wat tot ’n woord saamgevoeg word, ’n betekenis van beweging oordra wat ook vasgevang word in hoe die woord klink, word daar na klankskildering verwys.
’n Derde vorm van klankuitdrukking, wat minder duidelik as onomatopee en klankskildering is, en waaroor hierdie laaste blog in dié reeks handel, is klanksimboliek. Om klanksimboliek, soos dit byvoorbeeld in ’n gedig voorkom, noukeurig te omskryf, is moeiliker. ’n Mens moet ook versigtig wees om jou dit nie te verbeel nie!