Ek wil ’n scenario skets.
Die Afrikaansonderwyser staan voor in die klaskamer en spring weg met die aanbieding van taalstrukture en -konvensies (grammatika) met behulp van voorbeelde, met of sonder verduidelikings. Hierna word voortbeweeg na die oefeningfase waar die taalstrukture en -konvensies onder gekontroleerde omstandighede met behulp van opdragte/aktiwiteite ingeoefen word. Dan volg die produksiefase waar leerders betrokke is in vryetaalproduksie, byvoorbeeld die gebruik van die betrokke taalstrukture en -konvensies as deel van een of ander teks (bv. ’n advertensie) wat geskryf word. Somtyds is onderrig egter net beperk tot die eerste twee fases. Klink dit vir jou bekend?
Daar is soveel definisies vir die term sin wat verhoed dat onderwysers weet wát ’n sin nou eintlik is, watter tipe inligting hulle moet insluit en watter voorbeelde hulle moet gebruik wanneer die sin onderrig moet word.