SNELLERWAARSKUWING: Hierdie rubriek bevat woorde wat hipersensitiewe gebruikers vuil kan laat voel. Indien taalkundige aspekte van kru woorde of sterretjies in die plekke van vokale jou ontstel, moenie verder lees nie! (Ma, klik nóú weg!)
In ʼn twiet op 15 November deser verskel Max du Preez een of ander kêrel met ʼn “Jou armsalige p**p*l.”
Die Taalkommissie sit dadelik op aandag, rooi penne in die hand: Is dit p**p*l (soos Max dit skrywe), of moet dit p**ph*l wees, soos wat dit pront in die WAT en HAT opgeteken staan?
(Voor jy verder lees, dink gou eers vir ʼn oomblik hoe jy vir iemand sal verduidelik wat die woord “spelling” beteken. Dan vooruit!)
Vroeër die week kom klop dr Frikkie Lombard, die eindredakteur van die Buro van die WAT oor wie ek dit verlede week in hierdie rubriek had, by my, Tom McLachlan en prof Ernst Kotzé (beide oudvoorsitters van die Taalkommissie) om raad en advies aan. Die trefwoord spelling moet tans by die WAT behoorlik saamgestel en bewerk word. (Onthou, die WAT-mense werk dat die salpeter op hulle flanke uitslaan om die letter “S” binnekort af te handel.)
Die eerste konsepdefinisie by spelling staan so: “Manier waarop die woorde van taal of ʼn taal deur letters en diakritiese tekens voorgestel word.”
Fraai, tog?