Vrydag 29 Maart 2019 05:34

Jy's veilig met "kop aan kop"; "teen" ook reg

Nou onlangs stamp Chris van Zyl en Deon Huysamen koppe op Facebook oor “kop aan kop” vs. “kop teen kop”. Ek som die gesprek rofweg in hulle eie woorde op:

Deon glo in die reëls van die taal: “Ek ken my taal, die twee perde hardloop kop aan kop oor die wenstreep. Die twee karre bots kop teen kop. Dit is selfs logies. Julle skok my! Taal het formele reëls wat betekenis moet aandui, daarom moet terme en uitdrukkings korrek gebruik word.”

(Ek tjirp wysneusig nog tussendeur dat “nek aan nek” ook dikwels gebruik word om na gelyklopende entiteite te verwys.)

Chris, aan die ander kant, dink die taalboeke en taalgebruikers praat uit twee monde: “Boekekennis en spreektaal in die volksmond is so ver van mekaar verwyder soos die uitspansel. Gaan vra enigiemand op straat hoe ʼn ongeluk gebeur het: Hulle sal sê dit was kop aan kop, nie kop teen kop nie.”

Wie moet ons glo: Deon en sy reëls, of Chris en sy volksmond?

Vrydag 18 Januarie 2019 06:25

Elkeen meet platvloersgeit

Vra Ockie daar uit die Vrystaat uit: “Neem ek ʼn besluit, of maak ek ʼn besluit? Dit wil vir my voorkom dat die volkstong meer en meer daarna neig om 'besluite te maak'. Vir my is die gebruik van 'maak ʼn besluit' so platvloers, terwyl die gebruik van 'neem ʼn besluit' soveel meer uitdruk as wat werklik bedoel word. Wat is jou mening?”

My mening? Wat vir een iemand platvloers is, is dit nie noodwendig vir ʼn ander nie. Ek meet byvoorbeeld nie platvloersgeit aan die verskil tussen “maak” en “neem” (en “doen”) nie; veel eerder aan iemand wat met ʼn oop mond kou. Maar dis maar net ekke; elkeen is geregtig op sy/haar eie platvloermeter.

Vrydag 23 November 2018 16:41

Gelukkig is Max nog 'n 'liberol' in woord, daad

SNELLERWAARSKUWING: Hierdie rubriek bevat woorde wat hipersensitiewe gebruikers vuil kan laat voel. Indien taalkundige aspekte van kru woorde of sterretjies in die plekke van vokale jou ontstel, moenie verder lees nie! (Ma, klik nóú weg!)

In ʼn twiet op 15 November deser verskel Max du Preez een of ander kêrel met ʼn “Jou armsalige p**p*l.”Max du Preez se twiet

Die Taalkommissie sit dadelik op aandag, rooi penne in die hand: Is dit p**p*l (soos Max dit skrywe), of moet dit p**ph*l wees, soos wat dit pront in die WAT en HAT opgeteken staan?

Vrydag 09 November 2018 08:43

'Awesome' het al in 1990's kop begin uitsteek

Dit is kennelik onwelvoeglik en veral ongevraagd om kritiek op Afrikaanse “kuns”-films uit te spreek. Daarom sal ek maar liewer nooit in die openbaar sê dat ek ʼn paar keer verveeld op my horlosie gekyk het toe ons onlangs Kanarie gaan kyk het nie. Aangesien hierdie nie ʼn fliekrubriek is nie, mag ek dus maar skromeloos oor die taal van Kanarie praat.

ʼn Reuseuitdaging vir enige draaiboekskrywer of regisseur wat ʼn periodefilm maak, is die taalgebruik.

Dinsdag 23 Oktober 2018 08:17

Opdrag 2: Outonome taalgebruikers werk lewenslank aan hul vermoë om taal te leer

kurrikulum2Vir Nederlands as skoolvak in die toekoms het kurrikulumbeplanners verlede week ’n dokument vrygestel waarin sewe kernuitgangspunte – “7 grote opdrachten” – vir taalonderrig gestel word. In Neerlandistiek, die aanlyn tydskrif vir taal- en letterkundige ondersoek, neem die Nederlandse taalkundeprofessor Marc van Oostendorp dié stellings een vir een onder die loep. Met sy toestemming vertaal en deel ek hier wat hy oor elkeen skryf. Want hoe lyk ons eie ideale vir Afrikaans as skoolvak in die toekoms?

Praat gerus saam. 

Saterdag 18 Augustus 2018 09:40

Hopmajantjie met woorde

“Kyk hoe die taal verander het sedert 1923,” sê Frikkie Lombard, eindredakteur van die WAT, op Facebook. Dit gaan oor dié sitaat van C. Louis Leipoldt, uit sy boek Skoolgesondheid, wat tussen 1916 en 1934 verskeie kere herdruk is: “Hy (die kind met ’n swak hart) moet veral nie reisies ja nie, en veel sports doen, teen ooraanstrenging waak en trag sy hart so min te oorverg as moontlik.”

Ooraanstrenging, trag, oorverg. “Trag” klink lekker op die oor, sê ander Frikkie, Frikkie Booysen. Maar vandag “probeer” ons net; ons “trag” nie meer nie. Hy trag soms nog, sê Jean Meiring.

Ek blaai deur die elektroniese WAT; soek nog “Leipoldtwoorde”.

Vrydag 23 Maart 2018 19:06

Van huisraad tot kos, waarom nie ook retro-taal nie?

Hierdie blog is ’n uitgebreide en verrykte weergawe van ’n rubriek wat op Vrydag 23 Maart in Beeld verskyn het, en wat jy hier kan lees.

 

Seisoen ná seisoen bly retro-giere en retro-modes in die nuus. Retro – van die Latynse voorvoegsel re-, wat “opnuut”, “van voor af” beteken, en die bywoord retro,agtertoe”, “terugwaarts”. Retro is ook ’n verkorting van die byvoeglike naamwoord retrospektief met die sinoniem terugskouend. Want ons kyk graag terug.

Van die 1970’s al verwys die woord retro na die nabootsing van voorkomste wat in vroeëre eras, in toeka se tyd, gewild was. Blaai ’n mens deur ’n stapel ou tydskrifte kom jy dit gou agter:

Donderdag 28 Desember 2017 08:03

Hou julle lekker vakansie? “Ons doen!”

deur Fred Pheiffer

 

Wanneer dié taalverskynsel begin kop uitsteek het, sal ’n mens net met uitgebreide taalopnames kan vasstel, maar dit het waarskynlik ná die eeuwisseling begin. In navolging van Engelse uitdrukkings soos “I do” en “It does” het veral jonger Afrikaanssprekendes “Ek doen” en “Dit doen” begin sê. Dit kom neer op ’n uitbreiding van die sintaktiese rol van doen as werkwoord. Tradisioneel en konvensioneel was doen nog altyd en is doen steeds ’n oorganklike werkwoord. In ’n welgevormde sin benodig dit dus ’n komplement, hetsy ’n voorwerp (’n naamwoord) soos in “inkopies doen”, “sake doen” of “niks doen nie”, hetsy ’n bepaler (’n bywoord) soos in “uitstekend doen”. Derhalwe is ’n sin met doen sonder ’n komplement nie welgevormd nie.

Hoe dus nou gemaak met sinne waarin doen onoorganklik gebruik word? Iemand vra byvoorbeeld vir jou of jy van sjokolade met neute hou, en jy antwoord bevestigend: “Ek doen!” Of iemand merk op die hitte en droogte skroei alles droog, en jy stem saam: “Dit doen!” Taalpuriste sal dié soort verskynsel as volstrek anglisisties afmaak, en by elke geleentheid daarop wys en dit uit die taal probeer weer. Dat dit anglisisties is, kan nie ontken word nie. “Ek doen!” volg die Engelse patroon slaafs na en vervang in dié proses uitdrukkings soos “O ja!” of “Beslis!”, en “Inderdaad!” of “Dis nie altemit nie!”

Dinsdag 21 November 2017 20:09

Onafwendbare verandering

Fred Pheiffer, voormalige redakteur van die HAT en woordeboekmaker by OUP, skryf vir VivA oor taalverandering en die invloed van Engels op Afrikaans. 

In ’n taal buiten Engels word ’n anglisisme beskou as ’n woord of uitdrukking wat deur Engels geaffekteer is. Dit is dus ’n taalverskynsel wat die invloed – vir sommige per definisie slegte invloed – toon wat Engels op ’n taal het. In ons konteks behels dit in die besonder die invloed wat Engels op Afrikaans het. Die beïnvloeding van een taal deur ’n ander taal is egter ’n natuurlike taalproses, en is een van die algemeenste maniere waarop taalverandering plaasvind. Taalverandering kom in enige lewende, aktiewe taalgemeenskap voor, en is as sodanig onkeerbaar. Wanneer ’n taalgemeenskap onaktief raak, soos in die geval van Latyn wat geen moedertaalsprekers meer het nie, gaan die taal “dood”. Op eie bodem het die meeste van ons Khoisantale uitgesterf omdat niemand hulle meer praat nie. Party van hierdie Khoisantale is betyds getranskribeer of op band vasgelê. Soos in die geval van Latyn bestaan daar dus ’n rekord van hulle. Nietemin het dié tale nie meer aktiewe taalgemeenskappe nie, en daarom het sulke tale staties geraak. Hulle het stil gaan staan in die tyd en verander nie meer nie. 

Sondag 05 November 2017 22:23

Kom ons praat maar weer oor “aanspreek”

Onder invloed van Engels wat moeilikhede “address” word vraagstukke in Afrikaans al dekades lank “aangespreek”, ten spyte van deurlopende pogings oor net soveel dekades heen om dié gewraakte woord uit die taal te weer.

So skryf wyle J.J.J (“Tripel-J”) Scholtz, in lewe taalindoena van Die Burger, op 30 September 1991 (ek sou dié rubriek graag weer wou gaan opdiep het, maar die historiese bewussyn van ons taal en identiteit het Media24 in die doofpot gestop – wat ’n enorme verlies vir Afrikaans is dit nie):

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK