Kyk, as jy vir my wil vang, hoef jy nie ʼn wip te stel nie: Sê net vir my daar is iewers ʼn skryfbehoefte- of ysterwarewinkel, en jy kan my Simsonlokke met ʼn stomp skêr afskeer. Ek weet nie wat die bekoring is nie – dalk maak dit my verlang na kleintyd se speel in die stoor op ons plaas, of na my en my niggie se biblioteek-biblioteekspelery. (Ons het slegs één keer gewaag om dokter-dokter te speel; daarna moes ons noodgedwonge opgradeer …)
In ysterwarewinkels (oftewel “hardewarewinkels” vir die minder puriteinses onder ons) stel ek belang in die skroefietjies en moerietjies, die handvatsels en toiletsitplekke, houtdeure en -geure, verwe, gomme, tuinstelle, goggadoders, swembadware, lappe, tuinhandskoene en iets vir die honde. (By my om die hoek is nog so ʼn ouwêreldse ysterwarewinkel met twee ervare omies wat rooi voorskote dra en sleutels sny.)
In die ysterwaresupermarkte hou ek egter altyd links verby die Masjiene. Ek weet nie wat dit is nie, maar die Masjiene intimideer my. Byvoorbeeld: Ek het ʼn paar maande gelede ʼn elektriese skroewedraaier gekoop; tuis gekom het ek die skroewe van my splinternuwe vensterrame in hulle peetjie in verdraai; toe maar weer die ding gaan teruggee en so half-half gejok dat ek dit as ʼn geskenk vir iemand gekoop het, maar dat die persoon al ene het, baie dankie. Ek bly dus weg van die Masjiene.