Vrydag 13 September 2019 08:40

Is jou aartappel ’n ertappel?

aartappelVleis, rys en aartappels. Groenbone met aartappel, ’n stukkie skaap daarin, of nie.

Of jou aartappel nou ’n ertappel is, of jou ertappel ’n aartappel. Terwyl Dawid elders die wortels grawe, spit ek vandag dié eetbare knol, Solanum tuberosum (familie Solanaceae), uit.

’n Sakkie aartappels. Middelslagaartappels, dwergaartappels. Eet-, kook-, braaiaartappels. Jong aartappeltjies uit die tuin, in die skil gekook en met knoffelbotter aangeklam. Kapokaartappels. Aartappelgnocchi met saliebotter. Aartappelslaai. Kraakbros skyfies en wiggies. Koue aartappels, “bleekblou om die kiewe” (George Weideman). Gebakte aartappels. Aartappels op hul beste, in hul eie baadjies.

Saterdag 17 Augustus 2019 11:20

Kaatjie en klaar

AnnaIn ’n vorige blog (op 19 Oktober 2018) skryf ek oor Gawies, Japies, Janne en Hendrikke: Afrikaanse mansname wat in ou uitdrukkings mense in die algemeen, en ook diere en gepersonifieerde dinge aandui. Op Vrouedag kom iemand daarop af en vra: Waar is die vroue dan?

Hulle is minder, maar ek kry vir Antjie, Bella, Bertha en Margriet, Martha, Saartjie, Sannie en nog ander.

Vrydag 08 Februarie 2019 08:38

Hempie-raak-my-nie

bokbekGedurig is iemand in ’n omgekrapte bui. So voel dit deesdae. Nou ja, rede is daar seker genoeg. En woorde ook, te oordeel na die WAT se versameling. Van toeka op ons agterpote kry Afrikaanses skynbaar gereeld die die ritteltit(s) en papelellekoors; die aap-, apie-japie-, bobbejaan-, galop- en blouwildeboepensstuipe.

Vrydag 19 Oktober 2018 09:45

Gawies, japies en brawe Hendrikke

mansname

In baie, veral ouer Afrikaanse uitdrukkings word mense in die algemeen, en ook diere en gepersonifieerde dinge, met veel gebruikte mansname aangedui; dikwels vergesel van ’n historiese, anekdotiese of tiperende bynaam of van.

“Ek is Daantjie Donderbos; daar waar ek trap, daar bars die grond.” Die naam van die outydse eenskaarploeg in dié raaisel is eens ook as benaming gebruik vir iemand wat onverwags iets groots vermag het. “Klein Daantjie Donderbos”, is spottend teenoor ’n kind gesê, of van iemand wat spog met krag of vermoëns wat hy duidelik nie het nie.

Vrydag 01 Junie 2018 19:36

Groentesop en vrugteslaai

Hierdie blog is ’n uitgebreide, verrykte weergawe van ’n rubriek wat op Vrydag 1 Junie in Beeld verskyn het, en wat jy hier kan lees.

Tamatie’n Groot deel van Afrikaans se idiomeskat is reeds etlike honderde jare oud. Baie van ons spreekwoorde en gesegdes gaan selfs terug tot vorige millennia. Heelparty dateer van die Griekse en Romeinse mitologie. Sommige is aan oeroue fabels ontleen. Talle kom uit die Bybel. Nog ander uit die Middeleeue en die riddertyd.


Uit die dae toe ons voorgeslagte nog na aan die natuur geleef het, kom gesegdes wat aan die diere van die veld en hulle gewoontes herinner. Verskeie Afrikaanse uitdrukkings het hulle oorsprong in die seevaart en die lewe van matrose. Uit die agrariese leefwyse van ons voorouers kom idiome wat aan die landbou ontleen is. Uit die trekkersbestaan van weleer uitdrukkings wat met waens en osse verband hou.

Maar dié week was ek in die WAT en die HAT se vrugteboorde en groentetuine, waar plante nie net as voedsel dien nie, maar ook kleur aan ons taalgebruik verleen. Hier is ’n mandjie vol:

Sondag 22 Oktober 2017 20:26

Genoeg is genoeg

Afrikaans het baie idiome. Baie van hulle is erfgoed; vertoonstukke in ’n taalmuseum wat vertel van die kultuur van die sprekers van die taal in vroeëre tye, soos wyle Johan Combrink dit gestel het. Gaan kyk ’n mens hoe en waar van dié idiome ontstaan het, verstaan jy hulle ’n bietjie beter; en as jy ’n moedertaalspreker van die taal is, verstaan jy ook ’n klein bietjie meer van jouself.

In ’n vorige blog het ek geskryf oor Afrikaanse uitdrukkings en gesegdes wat na die Griekse en Romeinse mitologie teruggevoer kan word; na fabels, die Bybel, en die Middeleeue; na die natuur, die seevaart en die agrariese leefwyse van ons voorouers. Maar nie al Afrikaans se idiome is ’n skat waarop ek noodwendig trots is nie.

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK