Daar word tans in die Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring vir onderwysers aangedui dat dan, dus, daarom, nogtans en anders verkeerdelik groep 2-voegwoorde is. In hierdie uitdeelstuk word aangedui aan watter woordsoort sulke woorde wel toegeken word en wat die verskil tussen hierdie woorde en voegwoorde (bv. maar, en en want; en sodat, dat, omdat en indien) is.
Skandeer die QR-kode voor op die leerhulpmiddel, of klik op die Youtube-skakel in die regterkantste hoek, én gebruik die video oor die eendjie en gansie om hierdie onderwerp selfs aan leerders in laer grade bekend te stel.
In ’n kort opsommig uit die boek Die gans die dacht dat hij een eend was (Mike van Herwijnen en Danielle van Wiel, 2018) word vertel dat die wind op ’n stormagtige aand die eier van ’n gans na die nes van ’n eend gewaai het. Wanneer hierdie gans gebore word, kom die ouers geensins agter dat een van hul eie kuikens omgeruil is met ’n gans nie, maar namate die klein gans ouer word, kom hy agter dat hy anders as die res is. Nou is die vraag: Is die kleine gans ’n gans, hoewel hy soos ’n eend voel?
Ek dink dit is presies wat met die “sogenaamde” drie groepe voegwoorde waarna op skoolvlak verwys word, gebeur het.