Maandag 15 Julie 2019 07:10

Tematiese leerderwoordeboek vir Afrikaans

Is jy ’n Afrikaansonderwyser? Leer jy Afrikaans (of Engels as addisionele taal), of ken jy iemand wat Afrikaans (wil) (aan)leer? Deel dan dié plasing en laat hulle weet van die tematiese (aan)leerderwoordeboek wat by die Virtuele Instituut vir Afrikaans ontwikkel word.

Vir inkyk, deurblaai en raadpleeg. Hier. Maar lees eers die inleiding ...

Vrydag 03 Mei 2019 08:10

Hoeveel woorde van Afrika tot Sri Lanka?

“Iemand het op ’n kol gesê taal is waarskynlik die grootste kenmerk van ons menswees. ’n Ander persoon het gesê taal is daardie anonieme, kollektiewe kuns wat die resultaat is van die kreatiwiteit en vindingrykheid van duisende geslagte.

“As woordeboekmakers is dit ons taak en reuseuitdaging om aan daardie anonieme en kollektiewe kuns gestalte te gee. Woordeboekmaak is ’n uitdagende werk, wat die kognisie betref en op vele ander terreine. Ek wil amper sê dis ’n soort Sisufoswerk. Sisufos was die man in die Griekse mitologie wat deur die gode aangesê is om ’n groot klip teen ’n berg uit te rol en as hy bo kom, neuk die klip weer af tot onder. Dan moet hy van voor af begin en die ding boontoe vat.

“Dit is min of meer wat leksikografiese werk ook is. Omdat ons gestalte gee aan woorde, is ons in ’n sekere sin kuratore van taal. Dit is ’n groot en moeilike taak en verantwoordelike werk. Daarby is die skryf van ’n woordeboek min of meer soos om liefde te maak: Jy weet nie altyd of jou vreugde gedeel word en of jou insette waardeer word nie. Woordeboekmakers verwag nie dat hulle werk geprys sal word nie; hulle kan maar net hoop hulle word nie te veel verwyte toegeslinger nie.”

So sê dr. Frikkie Lombard, eindredakteur van die Woordeboek van die Afrikaans Taal, op 17 April 2019 op Stellenbosch by die bekendstelling van Deel 15 van die WAT – die tweede deel van die letter S wat uiteindelik uit drie dele gaan bestaan, want S is natuurlik die langste letter van die Afrikaanse alfabet en die letter, dus, waarmee die meeste woorde in Afrikaans begin.

Vrydag 12 April 2019 06:39

Fokus op stelling eerder as op 'n woord

 “Suid-Afrika behoort sy kulturele erfenis te verwyder om nasiebou te bevorder.”

Dis weer daai tyd van die jaar: ATKV-debatskompetisietyd. Dan loop my en my kollegas se e-pos-inmandjies  oor. Soos hierdie week: “Oom, oom! Interpreteer vir my die woord ‘behoort’ [en die res van die woorde in die onderwerp]. Asseblief en dankie, oom!” #EkLuisterByDieRadio

So graag soos wat ʼn mens wil help, so word dit ʼn onbegonne taak om vir elke debatsbloedjie ʼn omvattende en unieke antwoord te gee. Nee, ons probeer hulle liewer bemagtig, sodat hulle sélf die woorde kan interpreteer. Die ATKV is immers duidelik in hulle instruksies: “Doen so wyd as moontlik navorsing.”

Donderdag 11 April 2019 18:54

11 stappe om ʼn woord te verstaan

Taalgebruikers – en veral ook deelnemers aan debatskompetisies – trap dikwels my en my kollegas se e-poskosyne deur om te vra: “Hoe moet ek woord X interpreteer?” Juig al wat leef, want ons wêreld kan daarby baat as meer mense net ʼn bietjie woordnavorsing doen oor wat hulle eintlik besig is om te sê.

Maar so graag soos wat ons wil help, so ʼn onbegonne taak is dit om vir elke navraer ʼn omvattende en unieke antwoord te gee. Om taalgebruikers, leketaalkundiges en slaapkamerwoordeboekmakers te bemagtig om self hand aan die ploeg te slaan, het ek 11 stappe geïdentifiseer wat gebruik kan word in woordnavorsing. Ek verdeel die stappe in twee groepe: Die eerste klomp is vir 'n basissoektog; die laaste klomp is opsioneel en vir meer gevorderde soektogte.

Vrydag 05 April 2019 11:31

As die skoen pas ...

skoeneEk wou my net uit die voete maak, toe beland ek tussen die skoene.

Dagskoene, aandskoene, skerppuntskoene, stompneusskoene, hoëhakskoene, plathakskoene, knypskoene, kraakskoene, om van al die stewels en sandale nie te praat nie. Wat nog van babers en doodskiste, douskeppers, florsies, kalkoesies, kaparrangs ...

Kyk, die WAT ken sy skoeisel.

Vrydag 07 September 2018 09:31

Awendrood, môre water in die sloot

wolke’n Rooi lug in die aand, wanneer die son ondergaan; dit is soms ’n teken dat dit die volgende dag gaan reën. So het die ou mense geglo.

Vir mense wat na aan die natuur leef, dui verskeie dinge aan dat reën naby is. Natuurkinders weet watter winde reënbringers is. Die stand van die sekelmaan, byvoorbeeld, skuins met die onderste punt effens ingetrek, is volgens volksgeloof ’n aanduiding dat dit binnekort gaan reën: “Die maan gooi uit,” word gesê. As die reënpaddas kwaak, as die donderpadda – blaasop, janblom – sy geluid laat hoor, is onweer aan die kom. Vir baie is die kraanvoël ’n simbool van naderende reën. Party mense glo wanneer die petira, die hamerkop, roep of saam met ander van sy soort in ’n groep vlieg, daar groot reën aankom.

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK