profile pic

Respekteer studente se standpunte

Dinsdag 01 November 2016 Geplaas deur Gerhard van Huyssteen

Dis 1991.

Nelson Mandela is vrygelaat, die Berlynse Muur het homself te pletter geval, ʼn olieoorlog woed in Koeweit, en Suidwes-Afrika het Namibië geword.

Ek is ʼn derdejaarstudent aan die Universiteit van Pretoria, luister na Voëlvrymusiek, woon Houtstok by, leer politieke woorde by mense soos Irma du Plessis, Andries Bezuidenhout en Hedwig Barry, en speel stut in die Taaibosmanskoshuisrugbyspan.

Ek is die enigste man/seun in die Afrikaans III-klas en loop klas by Groot Geeste soos Rena Pretorius, Tom Gouws, Piet Roodt, Adelia Carstens, Vic Webb en Christo van Rensburg. As assistent in die Departement Afrikaans maak ek vir hulle tee en hardloop op en af na die administrasiegebou om fakse te stuur.

Maar ek is kwaaitjie-kwaaitjie.

Hoekom word ons kurrikulum vervuil met Nederlandse literatuur? Wat op deeske dorre aarde het Vondel, PC Hooft en Harry Mulisch met my – hier in Suid-Afrika – te doene? Prof Christo het ons geleer dat Afrikaans ʼn Afrikataal is. Weg met die boel koloniale literatuur!

Ek stel ʼn petisie op teen Nederlands in die Afrikaanse kurrikulum. Maar bitter min van die vroue/meisies in my klas steun my aktivistiese optrede. Hulle wil net eksamen gaan skryf en die kursus slaag. Prof Rena waai my tirades af en vra hoekom my poësieopdrag nog nie ingehandig is nie. Sonder die mag van sosiale media (dis 1991!) moet ek die aftog blaas. Ek is ont#.

Dis 2016.

Die land se universiteite brand letterlik af. Al wat ʼn veldtog is, word gelegitimeer deur ʼn hutsteken vooraan te plak. Universiteite is “spaces”, almal het een of ander “narrative” en gesprekvoering en betogings is “robust” – vir my gevoel is dit alles politieke wolwoorde waarvan die betekenis so verstard soos ʼn standbeeld geword het. As ʼn dosent wat erns met my vak maak, kan ek egter nie onaangeraak hierdeur bly nie. Dis ook mý taak om te luister na die studente, om te besin oor die dekolonialisering van die kurrikulum.

Die ganske wêreld is onthuts oor die Kaapstadse student wat verduidelik hoe #ScienceMustFall. Meme vlieg die kuberruimte vol, en om braaivleisvure word skaterend gelag oor die stomme onnoselheid van dié arme kind.

Hier in my binnekamer kan ek egter nie anders as om hartbloeiende simpatie vir haar te hê nie. 25 jaar gelede was ek sy, maar met een groot verskil: Sonder die genadeloosheid van sosiale media is die wêreld my naïewe standpunt van toe gespaar … en ek die verleentheid.

Soos woorde groei (van kragdadig tot geyk) en tale ontwikkel (van Nederlands tot Afrikaans?), so moet ons opinies ook dinamies bly. Ek is dank-die-vader-bly dat ek vandag anders dink oor goed as twee jaar gelede, en ek hoop van harte dat ek oor twee jaar ook nuwe insigte sal hê. Wat is ʼn opinie werd as dit nie kan verander nie?

Laat hy/sy wat die afgelope 25 jaar steeds presies dieselfde menings huldig gerus vingerwysend vir daardie Kaapstadse student lag. Rig gerus vir jou standpunte ʼn standbeeld op. Ek gun jou dit. Maar toon ook respek vir dié wat voortdurend na nuwe narratiewe in robuuste ruimtes soek. En vergeet nie wat Mr Keating ons in Dead Poet’s Society geleer het nie: “Boys, you must strive to find your own voice. Because the longer you wait to begin, the less likely you are to find it at all.”

Beeld logo

Hierdie rubriek het oorspronklik in Beeld van 29 Oktober 2016 verskyn.

LEES VERDER
profile pic

Selfs jou koerant het suiker in!

Saterdag 22 Oktober 2016 Geplaas deur Gerhard van Huyssteen

Suiker! Suiker! Alles suiker! Suiker wat jy proe en ruik; In ons koeldrank, in ons brode word ons voedingskrag vermoor.

Soos die res van my familie het ek lewenslank al ʼn gewigtige stryd teen vet *sug*. My ma sê altyd oorgewig is oorerflik – nie in jou gene nie, maar in die eetgewoontes wat jy van jou voorsate erf. Ons het brood, kaas en konfyt geërf, almal ryk aan verskillende soorte suiker. En ons het Ouma Lina se melktertresep geërf. En daarmee saam drie of meer gesellige vetrolle.

Ken jy jou suikers?

Die woord “suiker” het sy oorsprong eeue gelede in die Sanskritwoord शर्करा śarkarā wat na gemaalde suiker verwys het, maar oorspronklik eintlik na grint (of klipgruis) verwys het. Die idee om suiker te eet kom oorspronklik uit Indië, waar Alexander die Grote en sy soetlief hulle al oorgegee het aan hierdie “heuning sonder bye”. Die woord is verder in die wêreld versprei deur die Perse (shakar) en Arabiere (sukkar), sodat dit uiteindelik ook in Middeleeuse Latyn (succarum) en Oudfrans (sucre) voorgekom het. Vandag ruik suiker nog in die meeste Europese tale soos daardie oorspronklike Sanskrit śarkarā-woord: sakhar in Russies, cukier in Pools, cukar in Serwies, azucar in Spaans, zucchero in Italiaans, Zucker in Duits, suiker in Nederlands en sugar in Engels.

In die biochemie word die agtervoegsel -ose gebruik om verskillende soorte suikers te benoem. Oorspronklik het dié woorddeel in Latyn “vol van” beteken.

As jy weet dat die Latynse woord vir melk “lac” is, kan jy maklik uitwerk dat die woord “laktose” dus “melksuiker” beteken, of letterlik “vol van melk”. Ons kry hierdie selfde lakt- in ander Afrikaanse woorde soos “laktasie” (wat “soog” beteken), “laktovegetariër” (vegetariër wat wel melkprodukte verbruik) en “laktoskoop” (ʼn instrument wat gebruik word om die roomgehalte van melk te bepaal).

Insgelyks, as jy weet dat die Latynse “fructus” na vrugte verwys, weet jy dat “fruktose” na vrugtesuiker verwys. ʼn “Fruktivoor” is ʼn dier wat graag weglê aan vrugte, en jou lemoenboom “fruktifieer” gewoonlik in Junie of Julie.

Daar is nog ʼn hele mond vol ander disakkariede (di- beteken “twee”, en in “sakkaried” sien ons weer daardie Sanskrit woord vir “suiker”): maltose, nigerose, soforose, en so meer, maar sukrose is die bekendste van die klomp.

“Sukrose” bestaan uit sukr- (“suiker”) en -ose (“suiker”): dit is dus suiker-suiker, die suikerste suiker van alle suikers.

Nog so ʼn stroopsoet suiker is “glukose”. In Griekse verwys gleukos na “soet wyn”, wat verband hou met glykys wat “soet” beteken. Glukose is dus as ’t ware soet suiker.

Gewapen met al dié kennis slaan jy nou jou HAT oop en leer dat -ose nie net na suiker verwys nie, maar ook gebruik word om na siektetoestande te verwys. Dink maar aan “tuberkulose”, “neurose” of “trombose”.

“Dalk was die Griekse en Romeinse medici slimmer as slim, en het hulle toentertyd al geweet dat suiker die euwel der euwels is,” sug hy en vat nog ʼn reusehap van Ouma Lina se melktert. 

Beeld logo

Hierdie rubriek het oorspronklik in Beeld van 22 Oktober 2016 verskyn.

LEES VERDER
profile pic

Transliterasie van Chinese plekname

Vrydag 21 Oktober 2016 Geplaas deur Sophia Kapp

 

Die spelling, transliterasie en uitspraak van plekname in die Ooste veroorsaak veral vir koerantjoernaliste hoofbrekens. Neem gerus kennis van hierdie nuttige inligting wat prof Ernst Kotzé met VivA gedeel het:

Die transliterasie van plekname uit die Ooste is ’n probleem hoofsaaklik wanneer die betrokke land ’n skryfsisteem (bv. Chinees, Hindi, Arabies, Koreaans, Japannees) gebruik waarvoor daar nie ’n outogtone, amptelike spelling bestaan nie.

Deur die aktiwiteite van Unesco se Komitee vir Romanisering het daar mettertyd pleknaamlyste ontstaan, waarvan die meeste gebaseer is op ’n benaderde Engelse interpretasie van die uitspraak van letters (maar ook nie altyd uitspreekbaar deur Engelstongiges nie).  Daarbenewens het daar by ’n groot aantal tale (veral Germaanse en Romaanse tale) getranslitereerde vorme van die mees prominente plekname in Oosterse lande ontstaan wat gestandaardiseer is en nog steeds in algemene gebruik is.  

Vir die erkenning van sulke spelvorme moet daar, gewoon as gevolg van universele standaardisering, waarskynlik ook in Afrikaans plek gemaak word.  Dit geld ’n aantal prominente plekke op die aardbol, soos Rome, Moskou, Parys, Londen, Berlyn, Tokio, Boekarest, ens., waarby Afrikaans in die meerderheid gevalle die voorbeeld van Nederlands gevolg het. Dit sou dus ’n nuttige vuisreël wees om in twyfelgevalle te kyk na wat Nederlands daarmee gemaak het, en ’n mens sou m.i. dan op redelike veilige grond wees.

Anders as in die geval van tale soos Russies en Japannees, is daar egter nie in Afrikaans die moontlikheid om Chinees (watter een van die Chinese tale ook al) te translitereer nie. Die Chinese regering het daarvoor 'n stokkie gesteek deur self 'n Romeinse skryfstelsel (Hanyu Pinyin) vir gebruik deur die Westerse wêreld te ontwerp. Dit vergemaklik natuurlik die taak van buitelanders enigermate wat die skrifvorm betref, maar lei buitelanders op 'n dwaalspoor wat die werklike uitspraak van die betrokke woord betref, omdat dieselfde letter dikwels verskillend uitgespreek word deur sprekers van verskillende (Westerse) tale. Daarby is die uitspraak ook gebaseer op Mandaryns (Han), en verskil heeltemal van die uitspraak van dieselfde woorde in bv. Kantonees, hoewel die Chinese karakters presies dieselfde is.

Hoewel uitpraakreëls saam met die spelling voorsien word (bv. dat “d” as [t] en “o” as [u] uitgespreek word, soos in Mao Zedong, wat in Mandaryns “Mao tse Toeng” klink, en “b” as [p], sodat Beijing  in die mond van die Mandaryne na Petsjieng klink (nie veel verskillend van Peking nie), lyk dit asof elke taal maar sy eie uitspraak van die spelvorm gaan vorm, en dat die uitspraakreëls vir die res van die wêreld te veel moeite gaan wees.  

[Prof Ernst het die uitspraakreëls vir ons opgesom en aangestuur. Sien die lêer hierby aangeheg.]

LEES VERDER
profile pic

Dít is waar ‘het’ vandaan gekom het

Sondag 16 Oktober 2016 Geplaas deur Gerhard van Huyssteen

‘Ôs sit inne Primi ­Piatti, ek sit en iet en dink die eeste kee wat ek inne Primi Piatti gesit ’et, was inne meeting met iemand, en sy het betaal virrie kos. Ek was soe honge dai dag, dat ek gedink ’et dat dai die beste sandwich was wat ek al ooit ge-iet ’et. Als het lekke geproe dai tyd,” skryf Nathan Trantraal in Rapport .

Ten minste drie meestergraadstudente kan op dié paragraaf afstudeer.

Ek wil egter die aandag op Nathan se gebruik van die hulpwerkwoord van tyd “het” vestig. Let op die wisseling tussen “. . . sy het betaal virrie kos” en “. . . dat ek gedink ’et”. 

Oplettende lesers van sy rubriek sal ook nog ander wisselvorme opmerk, soos “. . . wat ôs net die begin, mirrel en einde van gekyk’et” (díe keer sonder spasie ná die werkwoord) en “. . . die eeste kee wat ek ’it ­gehoorit”.

Hierdie wisseling tussen het, ’et, -’et en -it illustreer in een asemstoot hoe Afrikaans besig is om te verander, soos dit al deur die eeue heen aan’t verandere is.

By die onlangse Afrikaansegrammatikawerksessie het een van die strydrosse van die Afrikaanse taalkunde prof. Jac Conradie van die Universiteit van Johannesburg as gasspreker opgetree en boeiende nuwe feite oor die Afrikaanse “het” aangebied.

Die Nederlandse ekwivalent van “het” is “hebben” (met ik heb, jij hebt, hij heeft en wijhebben as ander vorme van die hulpwerkwoord).

Gedurende die ontwikkeling van Afrikaans sien ons verskeie vorme van “het”, byvoorbeeld “gaan haalle heef” (1801), “souw siek geweesst” (1812), “geluister het”, “ge­schreeuwe hebbe” en “gebruik heb” (almal in dieselfde teks uit 1844) en “gehoorhe” (1846). In 1897 sê die bekende skrywer en Bybelvertaler ds. S.J. du ­Toit dat ons “hê” moet skryf, soos in “. . . di boom hiir gegroei ”. Eers in die 1920’s is die gebruik van “het” langsamerhand gestandaardiseer.

Dit gebeur voortdurend in alle tale dat sommige selfstandige woorde groei om agtervoegsels te word. So byvoorbeeld het die woord “lyk” (soos in “Dit lyk lekker”) gegroei tot die agtervoegsel -lik (soos in “vroulik”). Letterlik/oorspronklik beteken “vroulik” dus “wat soos ’n vrou lyk”.

Die proses staan in die taalkunde as grammatikalisering bekend.

Dieselfde is besig om met “het” te gebeur, voer Jac aan. Naas “. . . dat ek gekyk het”, kry ons reeds in die skryftaal “. . . dat ek gekyk’et” of “. . . dat ek gekykit”.

En die ongelowige thomasse wat dink dat dit nou maar net weer ’n verkragting van Die Taal is, moet maar mooi luister hoe hulle “het” in gesproke taal gebruik. “Het” word algemeen uitgespreek as [ət] (dieselfde as “pit” sonder die “p”).

Luister maar: Sy’t gesing ­asof haar lewe daarvan afgehang’t.

Ek hoor reeds ’n paar verontwaardige snorke uit die skoolvosgeledere. Ontspan!

Dieselfde proses het eeue ­gelede eintlik al in ons familietale Engels en Nederlands plaasgevind.

Aanvanklik het die Engelse . . . that she play did gesê en toe word dit . . . that she played­; in Nederlands het . . . dat zij speel deed uiteindelik . . . dat zij speelde geword.

Beeld logo

Hierdie rubriek het oorspronklik in Beeld van 08 Oktober 2016 verskyn.

LEES VERDER
profile pic

Alles kan wag as jy op ’n speurtog met taal is

Sondag 16 Oktober 2016 Geplaas deur Gerhard van Huyssteen

“Ek wag vir jou rubriek, Gerhard,” sê-vraBeeld se redakteur beleefd-dringend oor die foon.

“Is jou punte vir die tweedejaars al afgehandel?” Dis die departementshoof wat ook sy pond vleis via e-pos eis.

“Gerhard, kan jy tog gou my verhandeling ’n laaste keer lees?” ’n M-student wat in November sy verhandeling wil inhandig.

Maar hoor, sien én ruik vergaan om my.

Ek is besig met lekker dinge. Niks se geadmin-admin of e-possery wat my van stryk bring of my uit my klein wêreldjie dwing nie. Lekker dinge, woorddinge.

Die afgelope drie weke het ek onverpoosd vrae opgestel vir die nuwe seisoen van Op die spel, kykNET se taalvasvraprogram. Opnames begin einde Oktober, en die nuwe reeks word vroeg-vroeg in die nuwe jaar gebeeldsend.

My neus is diep in woordeboeke en taalkundenavorsing versonke. Ek snuffel moeilike woorde uit, interessante uitdrukkings en idiome. Vir ure word gepieker oor die herkoms van die en daai woord. Ek bel die program se taaladviseurs, Tom McLachlan en Suléne Pilon, om die hawerklap om raaisels te probeer oplos.

Ek dink byvoorbeeld “bulletin” is ’n lekker woord om te vra, want dit kan mos net op een manier geskryf word.

Nee, hoor! Tom wys daarop dat “boeletien” ook voorheen deur die Afrikaanse woordelys en spelreëls erken is. (Dank die hemele nie meer nie.) Ek kom agter dat daar slegs 21 woorde in die AWS is wat met ’n gravis-e geskryf word, terwyl slegs drie woorde met ’n kappie-u en drie met ’n kappie-i geskryf word.

En hoekom skryf ons iemand is ’n lafaard, maar hy is lafhartig? Daarteenoor noem ons iemand wat bang is (nie *banghartig nie) ’n bangerd of banghart (nie *bangaard nie). Ons kry ’n jammerhart, maar nie ’n *jammeraard nie; ’n weekhart, maar nie ’n *weekaard nie.

Met diesulkes gaan ek Beeld se redakteur, my departementshoof en nagraadse studente nog lank gelukkig hou. En dalk iemand op TV vermaak. Of uitvang . . .

Hoe sou jy met verlede jaar se grootgeldwoorde gevaar het? Hier is hulle op ’n ry:

  • Vir R1 000: motorneuronsiekte; desalnietemin; in ag genome; pajamakrieket; hoboïste; dataontginning; rabbedoes; slampamperliedjie; abakus; ydeltuit; leuenverklikker; minimalisering; litiumbattery.
  • Vir R5 000: Engelse Kanaal; Japannologie; militaristies; pakkettekantoor; Qoemranrolle; tatoeëermerk; fasiliteitekommissie; heel eerste heelgetal.
  • Vir R15 000: C-kruismineur; silwer randjie of silwer rantjie; tierlantyntjies; Zimbabwiër; Nabye-Oosterse; tinktinkie-eiertjie.
  • Vir R25 000: Boeddhabeelde.

Tot kykNET se grootse teleurstelling kon net een persoon tot by die R25 000-merk kom. En toe het my R50 000-woorde Rakaägtig soos ’n kind wat om die grap van ’n bont kalbassie tandeloos en stil lag, wit gegryns en, neergehurk, gewag . . . op 2017 se niksvermoedende deelnemers.

Beeld logo

Hierdie rubriek het oorspronklik in Beeld van 15 Oktober 2016 verskyn.

LEES VERDER

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK