profile pic

Pos by die WAT

Maandag 23 Mei 2016 Geplaas deur Sophia Kapp

Neem asseblief kennis van hierdie pos by die WAT vir 'n ervare leksikograaf. Meer inligting in die dokument self.

LEES VERDER
profile pic

'n Taalkundige Perspektief

Dinsdag 17 Mei 2016 Geplaas deur Sophia Kapp

Daar is die afgelope tyd heelwat geskryf oor Afrikaans, die plek van die taal, die funksie van die taal en die toekoms van die taal. Vir ons, wat ons brood en botter daarmee verdien, is die gesprek nie bloot van akademiese of filosofiese belang nie. Elke insnyding, elke aanval daarop, elke poging om hom van sy funksies te stroop, is 'n daadwerklike bedreiging vir ons oorlewing.

Hoewel VivA nie in taalpolitiek as sodanig betrokke is of wil raak nie, is ons as individue nie onbewus van die implikasies van al dié verwikkelinge nie. Dit is dus goed om kennis te neem van kundiges wat wel oor die saak besin, en op 'n nugter en begronde manier daaroor redeneer.

Daarom hierdie skakel na Emeritusprofessor Willem J. Botha se blogblad 'n Taalkundige Perspektief, waar hierdie sake aangeroer word. Daar is 'n skakel heel onder aan die blad (http://vanuitdietaalkunde.blogspot.co.za/2016/04/afrikaansontmagtiging-en-moraliteit.html#comment-form) waar 'n mens kommentaar op die skryfsels kan lewer.

LEES VERDER
profile pic

Terreur

Woensdag 23 Maart 2016 Geplaas deur Sophia Kapp

Volgens die Etimologiewoordeboek van Afrikaans het ons die woord “terreur” uit Nederlands geërf. Die Nederlanders het die woord en die konsep by die Franse gekry, toe daar van 1793 tot 1794 ʼn skrikbewind in dié land gevoer is om almal uit te wis wat moontlik ʼn vyand van die rewolusie kon wees, en almal stil te maak wat moontlik iets kon sê wat dit laat klink asof rewolusie nie ʼn goeie idee is nie. Die Franse het die woord uit Latyn gekry: “terrere”, wat beteken om te “laat bewe”. Ons sien duidelik ook die verband met die Engelse “terror”, wat ekstreme vrees aandui.

Volgens die HAT (sesde uitgawe) is terrorisme “skrikaanjaging/intimidasie deur dade van geweld”. Vir ons wat getuies was van die aanvalle op pendeltreine in Moembaai, ʼn woonbuurt in Beiroet, ʼn Russiese passasiersvliegtuig, ʼn treinstasie in Ankara, ʼn universiteitskampus in Kenia, ʼn museum in Tunisië, ʼn sportstadion in Parys, moltreine in Londen, ʼn skool in Pakistan, kleuters in Beslan, vakansiegangers in Bali en kantoorwerkers in Manhattan, is dit nie nuut nie. Ons weet hoe dit lyk en ons weet wat dit doen. En dis nie meer ver nie, en ons is nie meer onbetrokke nie. In ons migrerende, krimpende wêreld ken ons almal iemand wat moontlik direk deur die aanvalle geraak is. Dis hoe nou ons betrokke is.

Ek het nie raad vir ons wat geskrik het nie; en het nie raad vir ʼn wêreld wat so funksioneer nie. Ek het nie raad gehad vir ʼn bestel waar twee moondhede slote in ʼn moddernat mielieland grawe en maande lank oor en weer op mekaar skiet totdat een óf moedeloos óf bankrot raak nie. Ek het ook nie raad vir mense wat soos boorwurms en termiete ʼn samelewing ondergrawe en aanvalle op huisvrouens in ʼn mark en kinders loods nie.

Ek verstaan dit nie en ek wil dit nie verstaan nie. Maar ek weet wel hoekom dit gebeur. Nie oor ʼn beginsel of ʼn geloof of ʼn opvatting of ʼn lewenswyse nie, dis seker. Dit gaan oor mag. Oor hebsug en gierigheid. Oor baasskap. Oor wie die reg het om voor te skryf en room te skep. Oor toegang tot hulpbronne, oor die instandhouding of uitbou of afdwing van ʼn bestel waardeur die terroris oor slagoffers beheer kry.

En dit sien ek elke dag, nie net op die nuus waar noodpersoneel tussen wrakstukke en rook skarrel om stukkende mense weer aanmekaar gelap te kry nie, maar op Facebook, op Twitter, in ons eie parlement, in skole, in sportliggame, in korporatiewe vergaderings, waar mense sonder om te dink mekaar sal verwoes. Nie alle terroriste dra balaklawas nie.

My hart is vandag seer vir die Belge, want dis hulle wat hierdie keer moet optel en skoonmaak ná die verwoesting. Dis hulle wat hulle kinders moet troos en gerusstel terwyl hulle weet die wêreld is nie veilig nie. Maar my hart is eintlik seer vir elkeen van ons, wat in ʼn wêreld moet leef waar ons uitgelewer is aan boelies en swendelaars, aan narsissistiese beheervrate en gewetenlose uitbuiters, geweldenaars en afpersers, wat gryp en breek en verskeur en lekker kry as mense bloei. Mag ons iewers vandaan ʼn manier kry om mekaar te troos. Mag dit vir die slagoffers moontlik word om, met die hulp en ondersteuning van die stil meerderheid, te sê: genoeg. Ons gaan nie langer vir jou bewe nie.

LEES VERDER
profile pic

Beeldbiblioteek

Dinsdag 08 Maart 2016 Geplaas deur Sophia Kapp

’n Opwindende ontwikkeling in HAT Aanlyn- en Longman Online, Pearson se digitale woordeboekversamelings, is die verskillende nuwe oudiovisuele maniere waarop woordbetekenisse verklaar word.

As jy ʼn gereelde gebruiker van HAT Aanlyn is, het jy moontlik reeds die groeiende Beeldbiblioteek opgemerk (gaan loer gerus by U tot Z).

Wat is dit?

In papierwoordeboeke word die betekenisse van woorde gewoonlik slegs met woorde verduidelik – met behulp van ’n definisie en/of 'n vertaalekwivalent, met net hier en daar ’n eenvoudige illustrasie. Definisies word dikwels geskryf deur gebruik te maak van ’n beperkte definisiewoordeskat van ongeveer 2 500 woorde. Die veronderstelling is dat ’n beperkte woordeskat dit vir woordeboekgebruikers makliker maak om definisies te verstaan. Maar aan dié werkswyse is daar ook nadele verbonde: ’n Beperkte woordkeuse maak dit dikwels vir woordeboekmakers moeilik om fyner skakerings van betekenis te definieer.

’n Uitstaande kenmerk van die nuwe, elektroniese medium waardeur HAT- en Longman-woordeboeke sedert einde verlede jaar geraadpleeg kan word, is die multimodaliteit daarvan.

Vir die beskrywing van betekenis hou die nuwe Longman-HAT-portaal groot potensiaal in.

Hoe lyk dit?

In die lewende aanlyn woordeboek, bevry van die ruimte- en kostebeperkings van papier, kan HAT se redakteurs by omtrent elke trefwoord en betekenis wat hom daartoe leen, nou, intyds, as bykomende betekenisaanwyser, ’n foto of illustrasie voeg. Dikwels sommer ʼn hele paar. Die proses is reeds vlot aan die gang, en verskeie studies wys op die voordele daarvan.

In 1998 reeds het Hilary Nesie die doeltreffend van illustrasies ondersoek om die betekenisse van alledaagse huishoudelike voorwerpe oor te dra. Haar bevinding, toe reeds, was dat niemoedertaalsprekers wat op definisies en voorbeelde alleen moet staatmaak, dikwels selfs alledaagse voorwerpe nie korrek kan identifiseer nie. By die toevoeging van illustrasies tot die verbale verduideliking van betekenis vind sulke woordeboekgebruikers groot baat. 

A. Gumkowska (2008) toon aan dat leerders woordeskat wat deur illustrasies toegelig en ondersteun word, veel beter onthou. 

Beide Nesie en Gumkowska wys daarop dat die teenwoordigheid van foto's en ander illustrasiemateriaal tot die verwerwing van ʼn ruimer woordeskat bydra.

Deur sy stelselmatig groeiende foto- en illustrasieversameling, interessante videogrepe, klank- en animasiehulpmiddels bied HAT Aanlyn nou ’n nuwe ervaring: Woordeboekgebruikers, met inbegrip van onderwysers en leerders, word beter betrek, gehelp om woorde beter te verstaan, hul woordeskat uit te brei en addisionele kennis te verwerf.

Hoe klink dit?

Benewens die korrekte uitspraak van Engelse woorde en sinne (Afrikaanse uitspraakleiding kom mettertyd by), is daar (aan die Longman-kant) ook reeds ’n verskeidenheid nietaalkundige klanke bygevoeg. Werklike opnames van ʼn klok wat lui, ’n ghong wat slaan, ’n viool wat speel, ’n leeu wat brul, ’n uil wat roep ...  

Saam met die groeiende versameling foto’s, video’s en animasies dra ’n verskeidenheid oudiogrepe by www.hataanlyn.co.za verder tot verheldering van betekenis by. 

Verwysings

Gumkowska, A. 2008. The Role of Dictionary Illustrations in the Acquisition of Concrete Nouns by Primary School Learners and College Students of English. Ongepubliseerde BA-tesis. Szczecin: Collegium Baliticum

Nesie, Hilary. 1998. “Defining a Shoehorn: The Success of Learners’ Dictionary Entries for Concrete Nouns” In: Atkins, B.T.S. (red.). Using Dictionaries. Studies of Dictionary Use by Language Learners and Translators: 159-178. Lexicographica 88. Tübingen: Niemeyer

LEES VERDER
profile pic

Rondomtaal: "Waardig"

Woensdag 10 Februarie 2016 Geplaas deur Sophia Kapp

Jare gelede kyk ek na ʼn dokumentêr oor die lewe van Sir Winston Churchill. ʼn Dogter van hom vertel hoe hy ná die Tweede Wêreldoorlog Amerika toe is om te gaan vra vir ʼn lening sodat Brittanje kan herbou. Die Amerikaners was nie gretig om hom te ontvang nie, want hulle het geweet waaroor dit gaan, en die oorlog in die Stille Oseaan-streek het hulle self sleg getref. Hulle het elke sent self nodig gehad. Nietemin, Sir Winston kry ʼn spreekbeurt in die Huis van Verteenwoordigers, waar hy baie koel ontvang word. Geen tradisionele Amerikaanse lawaai nie, geen applous nie. Hy betree die podium, bekyk sy gehoor en sê: “I did not come here to ask for money.” Daar is ʼn gemurmel in die gehoor, toe so ʼn paar verleë siele wat hande klap. In die stilte daarna, sê hy: “For myself.” Een vir een het hulle opgestaan, die teensinnige Amerikaners, om hom die ovasie te gee wat hy verdien.

 

Ek onthou die staaltjie vandag nog, omdat dit vir my so ʼn vergestalting was van die mag van taal. Van die mag van opvoeding en goeie maniere. Van die kuns om ʼn onpopulêre standpunt aan jou teenstanders te verkoop.

 

Dis ʼn kuns wat aan die uitsterf is – vandag is die persoon wat die hardste skree en die doeltreffendste kan beledig die wenner. Oënskynlik. Ons leef in ʼn tyd wat aan ons besondere uitdagings stel. Ons leef in ʼn land en op ʼn kontinent wat besondere uitdagings stel. Ons praat ʼn taal wat besondere uitdagings in die gesig staar. Ons voel beleër, oorweldig, ons spartel om oorlewing. En dit voel vir ons asof ons nie gehoor word nie, want ons word doodgeskree.

 

Die vraag is: Hoe reageer ʼn mens op so iets? Wat is uiteindelik effektief?

 

Antwoord: Gaan kyk na die geskiedenis. Sir Winston het, op ʼn stadium manalleen, teenstand gebied teen een van die grootste orators wat die moderne geskiedenis geken het. Dié man was luidrugtig, het populistiese argumente gevoer en kon ʼn skare opsweep dat selfs intelligente mense sy retoriek gekoop het. Dis ʼn man wat ʼn nasie kon oortuig dat die geskiedenis waaraan hulle land onderwerp was geweld regverdig. Dis iemand wat ʼn volk, en ʼn wêreld, kon manipuleer om gruwels te aanvaar in die naam van nasiebou. Dis iemand wat boeke en kuns op dorpspleine verbrand het in die naam van kulturele reiniging.

 

Sir Winston kon hom dit nie nadoen nie. Hy was nie ʼn orator nie, hy het nie mense opgesweep nie. Al wat hy gehad het, was waardigheid. Hy kon net sy saak stel, rustig en kalm, maar met vasberadenheid, en sy werk na die beste van sy vermoë doen.

 

Leer by Sir Winston: Dis nie altyd nodig om die bekgeveg te wen nie. So ʼn onderonsie is gewoonlik opruiend, onredelik, aggressief en onwaardig, en dit bewerkstellig niks, buiten om aan die ander party die geleentheid te gee om jou nog ʼn slag te beledig. Al wat regtig nodig is, is om ʼn mens se saak te stel, rustig, met oortuiging, met begrip en geduld vir ander, natuurlik, maar boweal met waardigheid. Daarom: Wees waardig. Praat waardig. Skryf waardig. As jy deelneem aan debatte, bly waardig. Nie noodwendig omdat jou teenstanders dit verdien nie, maar omdat dit is wat jý is.

LEES VERDER

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK