profile pic

Alles kan wag as jy op ’n speurtog met taal is

Sondag 16 Oktober 2016 Geplaas deur Gerhard van Huyssteen

“Ek wag vir jou rubriek, Gerhard,” sê-vraBeeld se redakteur beleefd-dringend oor die foon.

“Is jou punte vir die tweedejaars al afgehandel?” Dis die departementshoof wat ook sy pond vleis via e-pos eis.

“Gerhard, kan jy tog gou my verhandeling ’n laaste keer lees?” ’n M-student wat in November sy verhandeling wil inhandig.

Maar hoor, sien én ruik vergaan om my.

Ek is besig met lekker dinge. Niks se geadmin-admin of e-possery wat my van stryk bring of my uit my klein wêreldjie dwing nie. Lekker dinge, woorddinge.

Die afgelope drie weke het ek onverpoosd vrae opgestel vir die nuwe seisoen van Op die spel, kykNET se taalvasvraprogram. Opnames begin einde Oktober, en die nuwe reeks word vroeg-vroeg in die nuwe jaar gebeeldsend.

My neus is diep in woordeboeke en taalkundenavorsing versonke. Ek snuffel moeilike woorde uit, interessante uitdrukkings en idiome. Vir ure word gepieker oor die herkoms van die en daai woord. Ek bel die program se taaladviseurs, Tom McLachlan en Suléne Pilon, om die hawerklap om raaisels te probeer oplos.

Ek dink byvoorbeeld “bulletin” is ’n lekker woord om te vra, want dit kan mos net op een manier geskryf word.

Nee, hoor! Tom wys daarop dat “boeletien” ook voorheen deur die Afrikaanse woordelys en spelreëls erken is. (Dank die hemele nie meer nie.) Ek kom agter dat daar slegs 21 woorde in die AWS is wat met ’n gravis-e geskryf word, terwyl slegs drie woorde met ’n kappie-u en drie met ’n kappie-i geskryf word.

En hoekom skryf ons iemand is ’n lafaard, maar hy is lafhartig? Daarteenoor noem ons iemand wat bang is (nie *banghartig nie) ’n bangerd of banghart (nie *bangaard nie). Ons kry ’n jammerhart, maar nie ’n *jammeraard nie; ’n weekhart, maar nie ’n *weekaard nie.

Met diesulkes gaan ek Beeld se redakteur, my departementshoof en nagraadse studente nog lank gelukkig hou. En dalk iemand op TV vermaak. Of uitvang . . .

Hoe sou jy met verlede jaar se grootgeldwoorde gevaar het? Hier is hulle op ’n ry:

  • Vir R1 000: motorneuronsiekte; desalnietemin; in ag genome; pajamakrieket; hoboïste; dataontginning; rabbedoes; slampamperliedjie; abakus; ydeltuit; leuenverklikker; minimalisering; litiumbattery.
  • Vir R5 000: Engelse Kanaal; Japannologie; militaristies; pakkettekantoor; Qoemranrolle; tatoeëermerk; fasiliteitekommissie; heel eerste heelgetal.
  • Vir R15 000: C-kruismineur; silwer randjie of silwer rantjie; tierlantyntjies; Zimbabwiër; Nabye-Oosterse; tinktinkie-eiertjie.
  • Vir R25 000: Boeddhabeelde.

Tot kykNET se grootse teleurstelling kon net een persoon tot by die R25 000-merk kom. En toe het my R50 000-woorde Rakaägtig soos ’n kind wat om die grap van ’n bont kalbassie tandeloos en stil lag, wit gegryns en, neergehurk, gewag . . . op 2017 se niksvermoedende deelnemers.

Beeld logo

Hierdie rubriek het oorspronklik in Beeld van 15 Oktober 2016 verskyn.

LEES VERDER
profile pic

AWS vier eeu van Afrikaans

Sondag 02 Oktober 2016 Geplaas deur Gerhard van Huyssteen

Die afgelope week het die Taalkommissie (TK) van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir die derde keer hierdie jaar ruggespraak gevoer. Normaliter is dié voorreg ons slegs twee keer per jaar beskore, maar volgende jaar moet ʼn nuwe Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) verskyn. Dis skouer aan die wiel as ons met onverdrote vlyt ploeg en saai. Ons brand die kers aan drie kante.

Het jy geweet?

  • Die huidige TK bestaan uit vier vroue en vyf mans. Hulle is: prof Herman Beyer; prof Frank Hendricks (ondervoorsitter); me Sophia Kapp; dr Frikkie Lombard; dr Phillip Louw; me Jana Luther; prof Marné Pienaar; me Suléne Pilon (sekretaris); en die uwe.
  • Vier TK-lede kom uit Gauteng, vier uit Wes-Kaap en een uit Namibië.
  • Vyf van die TK-lede is voltydse akademici, vier is taalpraktisyns.
  • Die TK word saamgestel op grond van kundigheid wat benodig word vir die uitvoering van sy opdrag.
  • Die gemiddelde ouderdom van die huidige TK is 49, met die jongste lid 35 jaar oud en die oudste lid 63. In 2009 was die gemiddelde ouderdom van die TK 56.
  • Die kortsdienende lid in die huidige TK dien vier jaar in die kommissie, terwyl Frikkie Lombard al 21 jaar lid is (onder andere vir ʼn lang tydperk as sekretaris). Daar moet nog baie fut in Frikkie wees, want DF Malherbe en TH le Roux het onderskeidelik 52 en 51 jaar in die TK gedien.
  • Bekende TK-lede oor die jare heen sluit onder andere CJ Langenhoven, Totius, DF Malherbe, Jan FE Cilliers, Gustav Preller, LW Hiemstra, Johan Combrink en Anton Prinsloo in, om maar net ʼn paar te noem.
  • Die totstandkoming van die Taalkommissie kan direk toegeskryf word aan ʼn gloeiende toespraak wat Langenhoven in 1914 oor Afrikaans gelewer het.
  • Die eerste AWS het in 1917 die lig gesien. Volgende jaar se elfde uitgawe van die AWS sal dus ʼn eeufeesuitgawe wees. Dit impliseer dat die AWS waarskynlik Afrikaans se oudste, lewende erfenis is.
  • Tussen die verskyning van die vorige AWS in 2009 en die volgende ene in 2017 sal die TK vir meer as 700 uur saam in een lokaal vergader het. Dit sluit die ure en ure se monnikewerk uit wat tussen sittings gedoen word.
  • TK-lede ontvang geen vergoeding of tantieme nie. Hulle doen dit vir die liefde en plesier van die saak.
  • Die AWS is volledig omgeskakel na XML-formaat met die hulp van die Sentrum vir Tekstegnologie (CTexT) aan die Noordwes-Universiteit, Pharos (die uitgewer van die AWS) en TshwaneDje.
  • Die TK gebruik ʼn virtuele forum om tussen sittings taalsake te bespreek en besluite te neem. Daarbenewens het die TK ʼn groot versameling van digitale tekste (ongeveer 57 miljoen woorde) wat geraadpleeg word om te help om besluite te neem. Dié korpus kan ook aanlyn deur  navorsers geraadpleeg word via die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) se Korpusportaal.
  • Die TK het ook ʼn aktiewe en gewilde Facebookblad waar gebruikers se taalvrae beantwoord word. Jy kan ook meer oor die TK en die AWS op Wikipedia lees.

Beeld logo

Hierdie rubriek het oorspronklik in Beeld van 01 Oktober 2016 verskyn.

LEES VERDER
profile pic

TEDTalks in Afrikaans

Woensdag 28 September 2016 Geplaas deur Sophia Kapp

TEDafr02Internasionale Vertalingsdag: Hoe om betrokke te raak by die skep van Afrikaanse onderskrifte vir gewilde TEDTalks

Al gehoor van TEDTalks? Dis die aanbiedings van navorsers, leiers en kreatiewe mense op verskeie vakgebiede wat jy gratis aanlyn na kan kyk en luister. Ek onthou ’n tyd in my lewe wat ek nie ’n gesprek kon voer sonder om ’n TEDTalk aan te haal nie. Alles rondom die temas omsluit in die T-E-D -- technology, education, design -- het my aangetrek en geboei.

Sedert 2009 is dit moontlik om aktief as ’n vrywilliger by TED betrokke te wees deur vertaling. Sir Ken Robinson se “Versmoor skole kreatiwiteit?” het my so aangegryp dat ek moes deel word en so is daardie Afrikaanse ondertitels toe geskep. Vandag is Afrikaans een van 59 tale wat Sir Ken kan begelei by sy praatjie wat al meer as 41 miljoen keer gekyk is. In hierdie video vertel verskeie vertalers hoekom hulle begin vertaal het en organiseerders verduidelik watter waarde vertaling tot TED se missie om idees te versprei bygevoeg het.

TED se vertalingsprojek staan na sewe jaar sterk, maar Afrikaans kan nog sterker verteenwoordig word. Daar is byna 25 000 vertalers in 155 lande wat vertalings in 113 tale bydra. Hierdie maand is die 100 000 ondertitels mylpaal gehaal en ook gou-gou verbygesteek. Opmerklik is dat van die tale wat tans die vinnigste groei juis tale met relatief min moedertaalsprekers is, so die moontlikhede wat in hierdie geleentheid opgesluit lê is beslis legio. Afrikaans het tans 23 vertalings op haar naam, so daar is duidelik heelwat ruimte vir ontwikkeling.

Afrikaanse vertalings beweeg ongelukkig baie stadig deur die proses omdat die poel van vrywillige vertalers veels te klein is. So, as jy vandag op Internasionale Vertalingsdag iets in jou hart voel roer, sluit aan en kom help ons om kennis ook in Afrikaans te versprei. Jy hoef geensins ’n professionele vertaler te wees nie. ’n Gevoel vir taal en ’n bereidwilligheid om oor vertaling en ondertitels te leer is die belangrikste gereedskap. Die vereistes is dat jy:

  • Vlot is in beide die brontaal en die teikentaal
  • Toegang het tot ’n rekenaar en die Internet
  • Toegang het tot woordeboeke en taalgidse (o.a. maklik verkrygbaar deur VivA se webtuiste)
  • Bewus is van beproefde en betroubare metodes vir ondertitels skep (of gewillig is om te leer!)
  • Genoeg tyd het: ’n gegewe taak moet binne 30 dae afgehandel word (nuwe vrywilligers word aangemoedig om aan een taak op ’n slag te werk)

Die meeste vertalings is natuurlik van Engels in Afrikaans, maar TEDx-geleenthede word ook oral oor die wêreld in ander tale gehou. Die “x” dui aan dat ’n konferensie volgens TED se beginsels georganiseer is, maar nie ’n amptelike TED-geleentheid is nie. In Suid-Afrika het organiseerders al reeds in Soweto, Johannesburg, Pretoria, Kaapstad, Stellenbosch, Durban, Port Elizabeth en elders sulke konferensies op die planke gebring. Spesifieke temas of groepe, soos vroue of die jeug, was ook al die dryfkrag agter van Suid-Afrika se TEDx-konferensies. Die beeldmateriaal van TEDxTalks word gewoonlik op YouTube vrygestel en is ook beskikbaar om vertaal te word.

Groepe vertalers wat aktief is op die TED-platform raak ook soms betrokke by die reël van TEDx-geleenthede. Sou Afrikaans goed groei en sou dit moontlik wees om verdere Suid-Afrikaanse taalgemeenskappe aan te steek is dit dus moontlik om eendag ’n TEDx konferensie wat ook in ander Suid-Afrikaanse tale as Engels gehou word voor te stel. Met die ondersteuning van bestaande groepe vertalers vir die mense teenwoordig by so ’n geleentheid en die mense wat later op die Internet kyk, kan die inhoud toeganklik gemaak word.  

So hoe werk dit? Hoe kan jy vandag deel word hiervan? Eerstens benodig jy ’n TED-profiel, wat nuut geskep kan word of gekoppel kan word aan ’n bestaande Facebook-profiel. Dan doen jy aansoek om ’n vertaler te word en wag op goedkeuring. Daarna kan die proses begin!  

1. Transkripsie

TED verskaf ’n Engelse transkrip. (In die geval van TEDxTalks doen vrywilligers die transkripsie van klank na teks.)

2. Vertaling

Ondertitels word uit die brontaal in die teikentaal vertaal met gebruik van die aanlyn program Amara. Toegang tot Amara geskied via jou TED-profiel.

3. Hersiening

Ondertitels word deur ’n ervare vrywilliger hersien.

4. Goedkeuring

Ondertitels word deur ’n taalkoördineerder goedgekeur voor hulle finaal gepubliseer word.

Daarna kan jy op TED.com sien waar die vertaler en die hersiener se name verskyn by die ondertitels. So sluit aan en kom soek ons ook op Facebook sodat ons saam idees en kennis in, uit en om Afrikaans kan deel!

Vir meer inligting kontak vir Ingrid Lezar: Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

 

LEES VERDER
profile pic

En waar is al die varsgebektes?

Sondag 18 September 2016 Geplaas deur Gerhard van Huyssteen

As jy nog nie weet van Varsgebek nie, duur die sonsverduistering by jou dalk ʼn bietjie langer. Maar moenie komkommer nie: Die oudste selfoon vang ook sein …

R10 000; ʼn HAT, ʼn WAT, en ʼn AWS; nog boeke ter waarde van R2 500; ʼn skoolbesoek deur een van Suid-Afrika se topskrywers om jou skool te help met fondsinsameling; ʼn wegbreeknaweek ter waarde van R5 000; ʼn tablet; VivAPlus-lidmaatskap. Dis die pryse wat die algehele wenner se skool kan wen. Daar is ook pryse vir die skool wat die meeste visuele uitbeeldings van idiome of woorde instuur. En vet, weeklikse pryse vir leerders. Die groot louere? ʼn Reuse- Atterbury Trust-studiebeurs ter waarde van R150 000 vir ʼn graad 11- of 12-leerder.

Hier is ʼn handvol van my gunsteling- Augustusinskrywings. Kan jy dit dalk treffend visueel uitbeeld?

As jy ʼn hoender wil vang, moet jy wag tot dit donker is [gesegde] wag vir die regte geleentheid om sukses te behaal. (Ria van Wyk)

haaswakker b.nw. (~) [Karoo] opmerksaam; weetgierig, leergraag: Die Fatima is darem werklik haaswakker. (Salóna Jacobs)

hoog veertien wees [idioom] dronk wees: Sareltjie was gisteraand weer hoog veertien (Gerda Uys)

kanonwyn s.nw. (~e) sjampanje: Bestel vir ons drie bottels kanonwyn. (Trudie Boverhoff)

kleingespeen s.nw. (slegs ekv.) [Karoo] kleinste of jongste lid van ʼn groep, byvoorbeeld kinders of lammers: Roep gou vir kleingespeen. Vang kleingespeen laat ons haar kan merk. (Salóna Jacobs)

met ʼn budjietong praat [idioom] dronk wees: Dis nou eers tien uur en Sareltjie praat al met ʼn budjietong. (Elize Kruger)

ʼn klein koppie soos 'n hysbakknoppie [vergelyking] gesê van iemand met ʼn buitengewone klein kop (Liané van den Bergh)

op jou voortande loop [idioom] dronk wees: Sareltjie loop weer op sy voortande. (Elza Smal)

selfdegesigkinders s.nw. (slegs mv.) identiese tweeling: Mpo en Tebogo is mos selfdegesigkinders – ʼn mens weet nooit wie is wie nie. (Elzabe Brown)

so getrek soos ʼn pot tee [vergelyking] dronk wees: Nee jong, jy sal niks met Sareltjie kan uitrig nie – hy’s weer so getrek soos ʼn pot tee. (Monique Krüger)

so kalm soos ʼn daggawalm [vergelyking] ontspanne, onbekommerd, onbesorg, vredig: Moenie stres nie, ou Sareltjie is so kalm soos ʼn daggawalm. (Annamarie van Zyl)

soos 'n uitgespande donkiekar lê [idioom] ontspanne rondlê: Jy lê ook die hele dag hier rond soos ʼn uitgespande donkiekar. (Corné van der Vyver)

spaghettinek s.nw. (~ke) dronk persoon: Sareltjie is ʼn regte ou spaghettinek. (Elize Kruger)

toontrek ww. (het toongetrek) [Karoo] vinnig stap: Ons sal vandag moet toontrek as ons alles wil klaar kry. (Salóna Jacobs)

varke aanjaag [idioom] dronk wees: Sareltjie het van vanoggend vroeg af al varke aangejaag (Gerda Uys)

hoepol s.nw. (~le): iemand wat gedurig raad vra, maar altyd die teenoorgestelde doen; konsultreur, vraagploeg, vranus [Eng.: askhole] (Francois Fourie)

Varsgebek is ʼn inisiatief van verskeie woordeboekmakers (die WAT, HAT en die Taalkommissie wat die AWS saamstel), tegnologievennote (VivA en CTexT aan die Noordwes-Universiteit) en mediavennote (Netwerk24, RSG, kykNET, die ATKV en Afrikaans.com), terwyl die Atterbury Trust die inisiatief finansieel ondersteun.

Beeld logo

Hierdie rubriek het oorspronklik in Beeld van 10 September 2016 verskyn.

LEES VERDER
profile pic

Uitspraak kan jou lelik in klem sit

Sondag 18 September 2016 Geplaas deur Gerhard van Huyssteen

Waar, o waar lê die klemtoon in Afrikaanse woorde? Sê ons redekawel of redekawel? Standaard of standaard? Hospitaal of hospitaal? Op skool het iemand my geleer dat ʼn mens asseblieftoggie net nie die Engelse patroon moet volg nie – dus eerder hospitaal, want die Engelse sê hospital.

Magdaleen Kruger van RSG-faam en haar battery taalkundige grofgeskut moet weekliks bontstaan om die venynige e-posse en SMS’e van luisteraars wat in diepe depressies verval oor een of ander omroeper wat onderwys in plaas van onderwys gesê het, te beantwoord. Of medikus in plaas van medikus. Of waatlemoen in plaas van waatlemoen.

Die Groot Kanon van die Afrikaanse Fonologie, prof Daan Wissing, het by die onlangse Afrikaansegrammatikawerkswinkel in Johannesburg fassinerende nuwe feite en teorieë aangebied wat lig op die onderwerp werp.

Woordklemtoon is ʼn komplekse verskynsel wat van ʼn duiselingwekkende aantal faktore afhang. Daar word algemeen geglo dat woorde van Germaanse afkoms (tameletjie) anders werk as woorde wat ons uit klassieke tale (universiteit), Maleis (rabbedoe) en ander tale geleen het. Die aantal sillabes speel ʼn rol, net soos die tipe vokaal en aantal konsonante wat in ʼn sillabe voorkom. Ook speel morfologie en woordsoorte ʼn belangrike rol. Samestellings het gewoonlik die klem op die linkerkantste deel, byvoorbeeld iets in ʼn boekopsoek, teenoor op soekwees na iets, terwyl sommige morfeme klemtoon na hulle aantrek, byvoorbeeld verskillende sporte vereis dat jy sportief moet wees. En dan is daar nog betekenis wat ook ʼn rol speel: Dink maar aan die verskil tussen kanon en kanon, of tussen roman en roman.

Geen wonder dat fonoloë sê ʼn mens moenie van klemtoonreëls praat, maar eerder van patrone, beginsels en tendense.

In Protogermaans (Afrikaans se oer-oer-oervorm) was die klemtoon na alle wete altyd op die eerste sillabe van ʼn woord, soos vandag nog meestal steeds in Yslands (Afrikaans se kleinniggie). Metterjare het die klempatrone in die Germaanse tale verskuif. In Nederlands en Engels val die klem gewoonlik op een van die laaste drie sillabes van ʼn woord, byvoorbeeld die Engelse alibi, opinion en lemonade. In langer woorde is die laaste sillabe selfs klemtoonsku.

Tot onlangs is geglo dat dieselfde ook Afrikaans geld, maar Daan wys hoe Afrikaans se patroon besig is om nog verder te skuif om eintlik net klemtoon op een van die laaste twee sillabes te verkies. Waar die Engelse alibi sê, sê ons alibi; die Hollanders sê standaard, ons sê standaard. Ook in Nederlands: redekavelen, carnaval en kandelaar; teenoor die Afrikaanse redekawel, karnaval en kandelaar. Selfs saamgestelde plekname is besig om dié patroon in Afrikaans aan te neem: Plettenbergbaai, Onderstepoort, Krugersdorp, Vanderbijlpark, en so meer, soos ook letternaamwoorde met meer as twee sillabes, byvoorbeeld RGN, WNNR, VSA en SABS.

En hierdie klemverskuiwing het niks met Engelse invloed te doen nie. Ons sien eintlik maar net hier ʼn proses in aksie wat dalk al honderde jare gelede begin het.

Voor jy dus volgende keer iemand wat onderwys sê, wil kielhaal, dink maar twee keer: Dié persoon is eintlik maar net aan die voorpunt van Afrikaans se groei en vooruitgang.

Beeld logo

Hierdie rubriek het oorspronklik in Beeld van 17 September 2016 verskyn.

LEES VERDER

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK