profile pic

Paleomorfologie: Brugbaba

Vrydag 30 Oktober 2015 Geplaas deur Gerhard van Huyssteen

As ʼn ongebore baba met sy kop na bo en boudjies na onder lê, word dit in Afrikaans dikwels ʼn brugbaba genoem. Maar die puriste sê: Nee, dit is ʼn baba gebore in stuitligging. Waarom? En waar kom die woord brugbaba vandaan?

brugbaba

In Oudengels het ons die woord brēc gehad wat ‘agterstewe’ beteken het. Dié woord is by uitbreiding gebruik om na ’n kledingstuk te verwys wat jou agterstewe bedek het. Die meervoud brōc het verwys na ’n bedekking van jou bene, en daaruit het uiteindelik ons moderne woord broek ontwikkel. Aangesien die meervoudsvorm brōc in Oudengels gebruik is, sien ons vandag steeds Engelse woorde soos trousers, jeans en breeches wat slegs in die meervoud gebruik word. Ons noem sulke woorde plurale tantum, wat letterlik ‘slegs meervoud’ beteken. In Afrikaans en Nederlands het ons egter brōc oorgeneem as die enkelvoudsvorm broek.

Uit brēc het ook die moderne Engels woord breech ontwikkel wat steeds ‘agterstewe’ beteken. ’n Breech baby is dus ’n baba wat met sy agterstewe eerste gebore word (anders as die normale kop-na-onder-posisie).

As jy breech baby hardop sê, klink dit dieselfde as bridge baby. En as jy bridge baby direk in Afrikaans vertaal, kry jy brugbaba – ’n pragtige voorbeeld van sogenaamde volksetimologie!

In die uitdrukking baba gebore in stuitligging kry ons ook weer die woord stuitjie, wat in Engels vertaal kan word as breech, maar meer algemeen as coccyx. ’n Baba gebore in stuitligging is dus ’n baba wat met sy stuitjie na onder lê.

Geen van die woordeboeke in VivA se Woordeboekportaal erken brugbaba nie. Dink jy dit is ’n woord wat in Afrikaans erken moet word?

LEES VERDER
profile pic

ʼn Oggend in die Kalahari (deur Moryn Hanzen)

Donderdag 29 Oktober 2015 Geplaas deur Sophia Kapp

deur Moryn Hanzen

Gertjie grou nog ʼn t’naba neffentjies ʼn bossie uit en gooi hom dat hy doer trek. Mis! Hy loer na Ouma Kowa wat hoog op die been die toekoms staan en inkyk. Dan kyk sy oor haar skouer asof sy toe rêrig oë ager die kop het.
“En dié?” vra sy fronsend toe sy die t’naba langs die mandjie sien lê.
“Nee, ek’t hom ôk so ko’ kry, Ouma,” vertel hy ʼn kluitjie. Sy ore wat bakhand langs sy kop sit en bedel, raak tamatierooi.
“Mens mors ‘ie met kos ‘ie, Gert,” preek sy.
Gertjie voel bloedongelukkig. Hoekom kan hy nie ôk soos Henk saam saam met Pa-goed veld toe nie? Hy’s mos nie meer ʼn bybie nie! En van skaap werk kan jy hom min vertel. Hy kon skaars sy koppietjie selwers regop hou, toe help hy al hanslammers bottel gee en skaap dous. En as Blommetjie net op tyd sak, melk hy haar lank voor staanson uit, sommer lank voor die slappap gaar en die koffie getrek is. Dis nou as Bessie nie weer voordag uit die kallerhok gebreek en vir Blommetjie sta’ uitsuip het nie.
Nou moet hy soos ʼn wafferse vroumens sta’ en t’nabas soek. Nie laat dit ʼn slegte joppie is nie, maar dan moet een en almal saam soek!
In gedagte vrywe hy die rooi duinesand van die stuk t’naba af wat hy raakgegrou het. Is sommer ʼn meneer dié. Hy hoop net nie Ouma-goed sta’ deel nou weer als uit nie. Die goed is lekkerder as groenmielies en murg en… en sampioene. Mens kry dit hoeka net een keer in die jaar as die reënt reg gekom het.
ʼn Tirk skarrel voor hom verby na die skadu van ʼn vet gemsbokkommer. As hy nou net sy rekker en ʼn paar klippertjies byderhand gehad het, kon hy darem die tirke geklits het. Gertjie sorg gewoonlik dat hy net hulle lang sterte raakskiet en lag homself slap as die stert soos ʼn lewendige ding afval en lê en spring. Hieroor het hy reeds hordes kere onder Ma-goed se plathand deurgeloop, maar Pa-goed is ʼn jagter en hy’s Pa se kjint en klaar.
“Ouma, ka’ ons nie eers ʼn stukkie deeg onner die hemp sit nie? Smaak my da’ ek’s honger,” smeek Gertjie hoopvol.
“Nou maar toe dan,” antwoord ouma Kowa. Gertjie weet alteveel dis hoe Ouma klink as sy nie lekker is vir jou nie. Hy gaan sit teen ʼn witgatboom en wag lat Ouma die stinkvoetebrood uit die koekblik haal. Die biltong op die brood se geelvet het al saam met die botter beginte smelt van die warmte, sien hy. Hy weet ouds die’s Ouma se brood. Die snye is dun soos pampier gesny. Ma sny altoos sulke skaapwagtersnye wat vorentoe smaak sodat ʼn man kan vol kom en klaarkry.
Terwyl Gertjie kou en van Ouma se sterk Trekkerkoffie drink, sien hy ʼn slang vanuit ʼn tamaai asbos uitgerol kom. Hy sit stil en kyk hoe dit suutjies teen ʼn kameeldoringboom opseil en oor die versamelvoëlnes gaan lê.
Fytjie kom loop ligvoets soos ʼn t’ghyp met ʼn hele trop t’nabas van doer agter die tweede duin aan en laat rol hulle uit haar voorskoot se sak tot in die mandjie. Hoekom Fytjie altoos die meeste uitgrou, weet hy ôk nie. Mens kan haar mos nie wen nie.
Fytjie gaan sit g’rus langsbeen teen die kameeldoringboomstam. Gertjie hou asem op. Fytjie glo alle slange is satang se kjinners selwers. Maar sy is salig onbewus van die gevaar en haal ʼn omslagtwak en flenter koerantpapier uit om zol te draai. Gretig sit Gertjie eigenlik vooroor om die proses beter af te kyk.
“Maar my! Waar’s my mêtjies da’ nou?” Haar klein koppie soos oupa Dawie se komkuierkierie draai in alle rigtings rond terwyl sy met haarself praat. Sy voel-voel soekend oor haar voorskootsak. Dan vlie’ sy op soos ʼn springhaas. “Ai ie! Kyk waar’s djulle!” en duik amper op die mandjie af om die vuurhoutjies te red voor Ouma se skerp oë dit dalk sien lê.
Ma is by die huis. Kook laaswinter se wildsvleis t’khom vir vanaand. Sy tande sweet behoorlik van luskry vir Ma se kos. Sy moet nog net ʼn lekker toekos ôk maak, dan is sy dag gemaak. Dalk dro’ perskes, wens Gertjie. Of stowepatats. Vanoggend se boerbeskuit en netou se brood is alweer lank vergete.
Voor die huis wag Sam vir Fytjie in. Hy is langgesig soos ʼn donkie wat bultaf kyk oor Fytjie die twak en mêtjies saam veld toe gehad het. “Ou tog vir my ôk, ek ‘it ‘ie eers ʼn los gwai nie!”
By die huis gaan was Gertjie gesig en hande. Hy weet tog hy gaan nie so vuil by die vroumense en meisiekjenners verbykom nie. Hy hoor hoe ouma Kowa vir Ma-goed en sy susters vertel hoe amper sy boude gebrand het oor die t’naba wat hy gegooi het. Hy kan hoor hoe hulle snaaks kry daaroor.
Wanneer hy by die kombuis inloop, maak ousus Hetta net mooi die besem teen die muur staan, die glimlag oor hy amper ʼn loesing gekry het nog verraderlik om haar mond.
Pa en Henk kom ook net mooi uit die veld by die voorhuis in. Hy roep al van ver: “Vrou, my hempsknope roes van ‘ie sooibrand! Gooi tog daar ʼn vars koffietjie.”
“Jy sal ordintliker moet was, Gertjie. Onse kuiermense is op pad,” maan Hetta lank en irriterend soos ʼn ou lap wat starig skeer.
Gertjie glimlag ingenome. “Vertaan jy?” sê hy uitgelate voor hy homself netjies gaan maak.

LEES VERDER
profile pic

VivA is jou eenvenstertaalsoekenjin

Donderdag 29 Oktober 2015 Geplaas deur Sophia Kapp

Jy kry op VivA se tuisblad die geleentheid om jou soektog na ʼn woord te begin. Dit lyk so:

 

Begin jou soektog deur die woord in te tik waaroor jy navraag doen. Jy sal moontlikhede kry waaruit jy kan kies:

 

Klik op die woord waaroor jy navraag wil doen. Die bronne waarin die woord opgeteken is, sal onder die soekblokkie verskyn:

 

Klik op die bron waarin jy wil naslaan. Indien jy op die WAT en die HAT ingeteken is, kan jy sommer net hier klik om te sien wat daarin opgeteken staan. Jy hoef nie in ʼn ander venster na die antwoord te gaan soek nie!

 

LEES VERDER
profile pic

VivA se webwerf is aan die gang!

Maandag 26 Oktober 2015 Geplaas deur Sophia Kapp

VivA se webwerf is vandag oopgestel. Gebruikers kan gratis registreer en toegang kry tot aanlyn taal- en skryfadvies. Besoek ons by www.viva-afrikaans.org of laai ons slimfoon-app Woordeboekportaal af by die Apple iStore of Google Play. Hier kry jy gratis toegang tot aanlyn woordeboeke en ʼn databasis van veel voorkomende vrae. Vir ʼn beperkte tyd kan gebruikers ook gratis per WhatsApp of telefonies navrae rig aan Sophia Kapp, ons taaladviseur. Skakel met haar by 062 126 0295.

LEES VERDER
profile pic

Vyf vrae vir Frikkie

Dinsdag 06 Oktober 2015 Geplaas deur Gerhard van Huyssteen

Dr. Frikkie Lombard, eindredakteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT), is vanjaar twintig jaar lid van die Taalkommissie (TK), wat beteken dan hy tans die langsdienende lid van die TK is. Ons het vyf vrae aan hom gestel.

Jou werkswêreld bestaan uit woorde. Vanwaar die belangstelling en passie?

Ek was van vroeg af geïnteresseer in boeke en het graag nuwe woorde/uitdrukkings/idiome leer ken. My passie was eintlik geskiedenis, maar toe ek op universiteit beter begin doen het in Afrikaans en boonop in my honneursjaar ʼn studente-assistenskap kon kry, het dit my in die taalrigting laat beweeg. Ná ʼn redelik kortstondige onderwysloopbaan is ek aangestel by die WAT (Woordeboek van die Afrikaanse Taal), en ʼn mens kan beswaarlik as leksikograaf werk as daar nie ʼn passie vir taal is nie.

Dr Frikkie Lombard en sy ega Elmare

As ek jou nou voor ʼn vuurpeleton dwing, wat sou jy as ’n hoogtepunt oor die afgelope twintig jaar uitsonder?

Ek sal wsk. doodgeskiet word, want die hele twintig jaar voel soos ʼn hoogtepunt. Die verskyning van twee AWS’e en twee toekennings waarmee die Akademie die werk wat gedoen is, erken het, is uiteraard hoogtepunte. Vir my is die heel lekkerste ervaring die samesyn met slim en gevatte kollegas wat ook lewensvriende word.

Buitestanders dink dikwels dat TK-sittings saai en vaal is, maar die teendeel is waar. Vertel vir ons een of twee staaltjies van interessante of grappige dinge wat jy oor die afgelope twintig jaar beleef het?

Saai en vaal is ver verwyder van die dinamiese werklikheid van ʼn TK-sitting. Eintlik moes ons ʼn grapboek met TK-pittighede en grappe saamgestel het. Een van die snaaksste insidente was waarskynlik toe iemand (geen name sal genoem word nie) op ʼn saaierige Woensdagmiddag om 12:15 ʼn dokument te voorskyn gehaal het waarin historiese gebruike van die woord “fok” aangeteken is. Johan Combrink moes maar die sessie verdaag sodat ons buite kon gaan saamlag. Nog ʼn lagwekkende episode het plaasgevind toe Wannie Carstens en Anton Prinsloo mekaar verkeerd opgevryf het. Anton was voorsitter en het verseg om enigiets verder te sê. Wannie het dieselfde gedoen. Aangesien die ondervoorsitter, Ernst Kotzé, op daardie stadium nie beskikbaar was nie, het ek as sekretaris en lid van die dagbestuur toe vir so tien minute lank die vergadering probeer lei. Die gemoedere het darem later bedaar. Die arme Wannie het ook een oggend ʼn verkeerde pil (slaappil) gedrink en vir ʼn hele voormiddag ingesluimer. Anton het hom terug verwelkom toe hy weer tekens van lewe begin toon het met die woorde: “Welkom terug, Wannie. Ons het baie goeie vordering in jou afwesigheid gemaak.”

As jy volkome eensydig ʼn enkele spelreël in die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) sou kon byvoeg, skrap of verander, watter reël sou dit wees? Hoekom?

Dit is nogal ʼn kluif! Ek sou graag reël 14.6 wat oor die skryfwyse van eienaamverbindings as eiename handel, wou aanpas sodat die vier verskillende skryfwyses wat tans daarvoor bestaan, moet verdwyn, en die vaste weergawe (met of sonder koppelteken) die enigste opsies sou wees.

En is daar ʼn enkele woord in die AWS wat jou altyd sal bybly as ʼn “Taalkommissiewoord”, ʼn woord waarop jy trots is, of ʼn woord wat goeie herinneringe van die TK by jou oproep? Hoekom?

Die een woord wat ʼn hele klomp van ons altyd laat lag het, was “opopanaks (soort harpuis)”. Niemand het eintlik die woord geken nie, en hy het ʼn (suiwer denkbeeldige en meerfunksionele) lewe van sy eie gekry onder TK-lede. Van die een sitting na die volgende het die woord oorgestaan as een wat moontlik maar geskrap moet word, maar hy bied nou al lank weerstand en is nog met ons (ook in die groen boek).

LEES VERDER

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK