Deur Moryn Hanzen

HUISBESOEK

As Jan die wysters van die trok so beginte kyk, weet Anna dis nie vir sommer nie. Of hy’t weer vergeet om petrol te gooi, óf die skedonk raak weer warm.
“Wat sit kyk jy so, vrou?” kom dit ôk kort voor lank. Jan is weer sy gewone kort-van-draad-selwers, vernaam as sy gewete hom ry. As Anna swyg, kyk hy van die wysters af na haar. Die frons tussen haar oë tref hom soos vêr-staan-weerlig. Al traai hy hoe hard, hy kan dit nie miskyk nie.
Anna se mond plooi soos ʼn twaksakkie se toegetrekte bek voor sy antwoord: “Nee, sê jy mý bietjie vir wat hou jy die wysters so dop?”
“Waffer wysters?” antwoord Jan so onskuldig soos ʼn pasgebore lammertjie.
“Nee, Jan, dié daar voor jou twee oge.”
Jan moet maar sy skaamte onder sy voete vastrap en met die waarheid uitkom. “Vergeet om petrol te gooi op Upington,” kom dit binnesmonds.
“Da’ beter jy by Piet-goed indraai.” Jan weet sommer daar’s geen manier wat Anna hom hiervan gaan laat vergeet nie.
“Kyk, doer voor sta’ stof, Jan,” wys sy in die smal tweespoorpaadjie.
“Ja, Anna, ek hit mos twee oge in my kop.”
“Maar is mos ‘ie pirrikant se grênd mouter wat daar aangesit kom,” fluister Anna asof die dominee haar kan hoor.
Jan trap rem en swaai uit die pad sodat dominee Van der Westhuize’ langs hulle kan stilhou.
“Goeieagtermirrag, Dominee,” kom dit ewe vroom uit een mond van Jan en Anna.
“Goeiedag, broer, suster. Ek is reeds op pad na julle toe.”
“Ag Dominee, jy kom asof jy gestuur is. Ons is alteveel verleë. Ka’ Dominee ons tog ‘ie help met ʼn lekseltjie petrol ‘ie?” val Jan sommer dadelik weg.
Na ʼn gespook en gespartel is die petrol oorgetap en ry Dominee vooruit. Die trok stof vreeslik, maar hieraan is alle Kalahariboorlinge ouds gewoond. As Jan na Anna kyk, is dit omtrint deur ʼn wolk.
By die opstal aangekom, hardloop Jo’nis hulle tegemoet. “In as jy soes ʼn weglêhoennerkuiken hier op my afgehol kom, Jo’nis?” vra Jan bekommerd. Hy weet sommer Jo’nis kom nie onnoriglik so oop en toe aan nie.
“Dis ‘aai man wat soe vêr is, oubie,” kom dit uitasem van die stomme Jo’nis.
“Nou va’ waffer vêr man pra’ jy da’ nou?” kom dit fronsend van Jan.
Jo’nis beduie hoog bo sy eie kop en kyk doer bo in die lug terwyl hy herhaal: “Nee, oubie, die man wat so vêr boe my kwap is.”
“Nou wa’ maak weer hy hier?”
“Nêh, hy kom verja’ onse krismisvoëltjies, oubie. En brêk net mit sy nuwe rekker.”
“Nou wat het hy met ons rooi- en geelvinke te make, Jo’nis?”
“Jô-jô, oubie, daai man, hy’s baja spaitfoel. Hy wil eigentlik net volop wees mit Sannatjie saam.”
“Nou loop en loop sê vir hom ek soek ‘ie sy jimpelsgeit op hier‘ie plaas ‘ie.”
“Dankie, oubie. Hit oubie ‘ie rookgoed gaonthou?”
“Bring die tjieng dan ka’ jy dit kry.”
“Maar oubie, dis die wiek Sannatjie se beurt gewies om my te gooi, nou sta’ maak sy of sy niks wiet nie. Lop’ en praat net met ‘ie vêr man saam.”
“Maar jy moet mos jou eie rookgoed petaal, Jo’nis.”
“Ag oubie, gee my tog maar weer boek, samblief tog, oubie-goed.”
“Nou ja toe, maar jou boek is hoeka al so hoog.”
Die twak word met ʼn groot gesukkel tussen al die ware agterop die trok gesoek en aan Jo’nis oorhandig. Hy glimlag breed met uittande soos ʼn vandusieklavier as Jan dit aangee en in die rekeningboek opskryf.
Anna het intussen die pirrikant in die voorhuis sit gemaak en koffiewater gaan opgesit. Haar ogies trek klein soos ʼn tiekie se pap na die heller sonlig daar op die werf.
Na hulle almal koffie en koe’siters gevat het, lees die dominee ʼn stukkie uit die Skrif. Jan kan sommer duidelik aanvoel dat dit weer kerkbasaar se kant toe gepraat gaan worre.
Anna se vertolking daarvan is weer heel anners. Hoe sal Dominee da’ nou wis hoe sake tussen haar en Jan staan? In die winter ryp dit altoos spierwit tussen hulle twee sawens in ‘ie kooi. Maar Dominee sal mos nog nooit ‘ie katelsake kom sit en gesels ‘ie?
Na ʼn groot aandete, ʼn slagding vir eie gebruik, vars room, ʼn boerbrood en ʼn paar pond botter, is dominee Van der Westhuize’ met ʼn breë glimlag in sy grênd mouter vort sonder lat Jan of Anna klarigeit het oor die eigentlike rede vir ‘ie besoek.

LEES VERDER
profile pic

Bok, bokker, bokste

Saterdag 21 November 2015 Geplaas deur Gerhard van Huyssteen

In informele, gesproke Slengafrikaans kan jy lekker swets: “Jou klein bokker! Bokkerof! Dit het bokkerol met jou te doen!”

Al drie hierdie woorde is opgeneem in die nuwe HAT (uitgawe 6), die redakteurs dui aan dat almal van hulle uit Engels kom, as sleng gesien moet word en as kragwoorde gebruik word. HAT sê ʼn bokker is ‘iemand wie se dade afkeurenswaardig is; vuilgoed; bliksem’, en die WAT brei hierop uit en sê dit is ʼn ‘lae, gemene vent; sodomieter’.

bokker bogger boggher

Maar vir bokker bestaan daar meerdere spellingvariante: HAT dui ook boggher aan, terwyl CTexT se tesourus in SkryfGoed 4 ook erkenning aan bogger gee.

As ons in VivA se Korpusportaal gaan soek na watter een van hierdie skryfwyses nou eintlik die meeste voorkom, sien ons ʼn baie eweredige spreiding, soos in die figuur aangedui word. Dus, bokker, bogger en boggher kom in geskrewe Afrikaanse voor – jy kan kies hoe jy dit sou wou skryf.

Maar waar op aarde kom die woord bokker vandaan? Het dit iets te doen met ʼn bok? Want ons almal weet ʼn bok is ʼn ... ja, ʼn bok is ʼn bok.

Volgens HAT en WAT het ons die woord uit Engels gaan leen; WAT sê selfs dat dit ʼn anglisisme is. Maar as jy bietjie verder soek in VivA se Woordeboekportaal, leer jy in die Etimologiewoordeboek van Afrikaans (EWA) dat ons bogger eintlik uit Nederlands kry – dit is al in 1672 die eerste keer in Nederlands opgeteken. Dit is dus nie korrek om te sê dat dit ʼn anglisisme is, of dat ons dit uit Engels oorgeneem het nie.

Soos Engels het Nederlands die woord uit die Franse bougre oorgeneem, wat dit weer uit die Middeleeuse Latynse Bulgarus, Bugarus gekry het. En in die eerste van dié twee sien ons al die oorsprong mooi: Bulgarus laat jou dadelik dink aan die Afrikaanse woord Bulgaar ‘iemand wat van Bulgarye kom’. EWA bevestig dan ook dat Bulgarus die naam was vir die Bulgare wat in die Middeleeue glo berug was as ketters.

Dus, of dit nou bokker, bogger of boggher is, maak nie saak nie, jy is eintlik besig om iemand as Bulgaar uit te skel. Tsk, tsk, tsk...

[Jy kan in VivA se winkel inteken op die HAT (R400 per jaar); die WAT (R200 per jaar); die EWA (R150 per jaar); en Korpusportaal (R100 per jaar). Of kry sommer alles plus nog meer as jy VivA+-lidmaatskap koop teen R700 per jaar.] 

LEES VERDER
profile pic

Ses vrae vir Estie

Woensdag 11 November 2015 Geplaas deur Gerhard van Huyssteen

Estie Meintjes van Pretoria was die eerste algehele wenner van die kykNET-program Op die Spel. Soos al die ander deelnemers aan dié program het sy ook ʼn jaar se gratis VivA+-lidmaatskap as prys ontvang, naas ʼn gratis kopie van die nuwe HAT, die HAT Taal- en Feitegids en CTexT se SkryfGoed 4. Ek het ʼn paar vrae aan haar gestel.

Ek kon nie byhou met al die geld wat jy gewen het nie! Hoeveel het jy in totaal gewen?

R73 600... Sjoe, ek kan dit eintlik self nog nie glo nie!

En mag ons so nuuskierig wees om te weet wat jy met die prysgeld gedoen het? Of lê dit nog onder jou matras en wag?

Dit was geoormerk (ek hoop dis ʼn aanvaarbare Afrikaanse woord!) om belê te word as neseier. Maar met die droogte en hitte wat ons nou beleef, dink ek die geld gaan eerder belê word in watertenks en/of ʼn boorgat.

Op die Spel Finaal

Waar (of hoe) het jy geleer om goed te kan spel? Is dit ʼn talent waarmee ʼn mens gebore word, of kan jy leer om goed te spel?

Ek was van graad 1 af al baie voorbeeldig met speltoetse! Ek hou ook baie van lees, wat natuurlik ook help. Ek dink dis maar ʼn kombinasie van talent en oefening. ʼn Groot deel van my dag werk ek met woorde en as ek onseker is, trek ek my getroue en gehawende AWS nader. Na ʼn ruk onthou mens darem die spelling.

As jy op ʼn eiland (sonder internetverbinding) moet gaan sit en werk, watter enkele hulpbron sal jy saamneem? Hoekom?

Sonder internetverbinding?! Klink vir my na ʼn nagmerrie! Maar as dit sou gebeur, dink ek die HAT sal die nuttigste wees – daarin kry jy spelling, betekenis, gebruik, idiome, al’s in een!

Maar jy het hier toegang tot al VivA se aanlyn produkte en dienste, asook ons app. Wat is jou ervaring tot dusver? Wat mis jy? Waaraan kan ons verbeter of verander? (En jy moet asseblief eerlik antwoord!)

Dis ʼn groot voordeel en iets wat ek baie sal mis op daai eiland! Ek hou veral van die woordeboektoegang en dat jy bloot die woord intik en al die moontlikhede sommer dadelik verskyn sonder dat dit nodig is om swaar woordeboeke byderhand te hê. Dit maak dit ook baie makliker om in ʼn koffiewinkel te gaan sit en werk. Ek het nog nie die adviesportaal gebruik nie, maar kan my voorstel dat dit ook baie nuttig kan wees, veral vir taalpraktisyns wat in isolasie werk. Die veel voorkomende vrae dek reeds ʼn wye spektrum, dus is die kanse goed dat ʼn mens sommer daar jou antwoord kry.

Wat is jou gunsteling- Afrikaanse woord? Hoekom?

Mos! Dit is so ʼn kort woordjie wat so lekker baie sê – dis net baie moeilik om te vertaal, want ander tale het mos nie so ʼn lekker woord nie!

LEES VERDER
profile pic

Afrikaans in Gent

Saterdag 31 Oktober 2015 Geplaas deur Gerhard van Huyssteen

Op Vrydag, 23 Oktober 2015, was dit die hoogbloei van die #FeesMustFall-veldtog op ons kampusse. Meer as 9 000 km verwyderd van die brandpunt vergaar ʼn paar hande vol akademici aan die Universiteit Gent in België. Die geleentheid is die tweede Gents colloquium over het Afrikaans, aangebied deur die Gents Centrum voor het Afrikaans en de Studie van Zuid-Afrika. Twintig referate wat oor temas in die Afrikaanse taal- en letterkunde handel, word deur navorsers en studente uit Suid-Afrika, België, Nederland en Pole aangebied.

Die ironie van die byeenkoms – juis op dié dag – kon my nie ontgaan nie. Uiteraard kon die organiseerders nie voorsien dat Suid-Afrikaanse studente op 23 Oktober 2015 die strate woedend sou opgaan nie. En ek was dankvaderbly dat die aanhitsmerk #FeesMustFall en nie #AfrikaansMustFall was nie. Maar dit kon netsowel anders gewees het ... dalk kom dit nog? (Op 29 Oktober 2015 was daar op Twitter al (nog net?) 51 twiets met dié hutsmerk.)

Wat doen ons as Afrikaansakademici om te voorkom dat ons iewers in die toekoms slegs in die buiteland akademiese byeenkomste in en oor die Afrikaanse taal- en letterkunde kan bywoon? Het ons ons kurrikula aangepas om by 2015 te pas? As ons die geskiedenis van Afrikaans in die klaskamer behandel, is dit steeds die wit geskiedenis van die GRA? As ons fonologie, morfologie en sintaksis behandel, is die uitgangspunt dalk Kaapse Afrikaans of Moesliemafrikaans, of bly ons maar steeds by Standaardafrikaans? En wat van die dramas en poësie van die Kaapse Vlakte?

Een van die temas van die kollokwium in Gent was die gebruik van korpusse (d.i. groot versamelings digitale tekste) in navorsing oor Afrikaans. VivA het daar trots die beskikbaarstelling van verskillende korpusse in sy Korpusportaal aangekondig, waaronder die Taalkommissie-korpus, PUK/Protea Boekhuis-korpus, NWU/Lapa-korpus, RSG-nuuskorpus, NWU/Maroela Media-korpus en die NCHLT- Afrikaanse korpus. Altesaam ongeveer 84 miljoen woorde. 84 miljoen Standaardafrikaanswoorde.

By VivA het ons ʼn uitgesproke beleid dat ons Afrikaans is sy volle reikwydte wil beskryf en bedien. Maar daarvoor het ons die hulp van alle Afrikaanssprekendes nodig. Weet jy dalk van publikasies of webwerwe wat in ander variëteite van Afrikaans as Standaardafrikaans geskryf is? Het jy toegang tot tekste (al is dit nie digitaal nie) wat in van hierdie variëteite geskryf is? Stuur vir my ʼn Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. en help sodoende dat VivA die volle prentjie van Afrikaans kan skets.

En as jy kommentaar lewer op blogs, skryf gerus in jou dialek. Of beter nog: Hoekom skryf jy nie vir ons ʼn blog in die dialek of streekstaal wat jy gebruik nie? Stuur ʼn e-pos vir Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.met jou bydrae.

LEES VERDER
profile pic

Paleomorfologie: Brugbaba

Vrydag 30 Oktober 2015 Geplaas deur Gerhard van Huyssteen

As ʼn ongebore baba met sy kop na bo en boudjies na onder lê, word dit in Afrikaans dikwels ʼn brugbaba genoem. Maar die puriste sê: Nee, dit is ʼn baba gebore in stuitligging. Waarom? En waar kom die woord brugbaba vandaan?

brugbaba

In Oudengels het ons die woord brēc gehad wat ‘agterstewe’ beteken het. Dié woord is by uitbreiding gebruik om na ’n kledingstuk te verwys wat jou agterstewe bedek het. Die meervoud brōc het verwys na ’n bedekking van jou bene, en daaruit het uiteindelik ons moderne woord broek ontwikkel. Aangesien die meervoudsvorm brōc in Oudengels gebruik is, sien ons vandag steeds Engelse woorde soos trousers, jeans en breeches wat slegs in die meervoud gebruik word. Ons noem sulke woorde plurale tantum, wat letterlik ‘slegs meervoud’ beteken. In Afrikaans en Nederlands het ons egter brōc oorgeneem as die enkelvoudsvorm broek.

Uit brēc het ook die moderne Engels woord breech ontwikkel wat steeds ‘agterstewe’ beteken. ’n Breech baby is dus ’n baba wat met sy agterstewe eerste gebore word (anders as die normale kop-na-onder-posisie).

As jy breech baby hardop sê, klink dit dieselfde as bridge baby. En as jy bridge baby direk in Afrikaans vertaal, kry jy brugbaba – ’n pragtige voorbeeld van sogenaamde volksetimologie!

In die uitdrukking baba gebore in stuitligging kry ons ook weer die woord stuitjie, wat in Engels vertaal kan word as breech, maar meer algemeen as coccyx. ’n Baba gebore in stuitligging is dus ’n baba wat met sy stuitjie na onder lê.

Geen van die woordeboeke in VivA se Woordeboekportaal erken brugbaba nie. Dink jy dit is ’n woord wat in Afrikaans erken moet word?

LEES VERDER

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK