profile pic

Solank ons nie emosies met emoji's verwar nie

Saterdag 03 Desember 2016 Geplaas deur Gerhard van Huyssteen

My ma is 72 jaar oud en ten volle rekenaar-, slimfoon- en tabletgeletterd. Die goedvrou het menig skooltaak van haar kleinkinders met behulp van Wikipedia en Google afgeknutsel, is op die Facebook, en whatsapp gereeld foto’s van haar vroualleen reise deur Suid-Afrika.

Maar sy het helaas ʼn paar goed nog nie onder die knie nie. As ek so na my vriende luister, is dit dieselfde goed waarmee hulle ouer, internettende garde ook worstel.

Een daarvan is emotikons en emoji’s. My ma whatsapp tipies iets soos:

Veilig ry, my kind‼!!‼ 

Gemiddeld sewe minute later en ek kan steeds nie ontsyfer wat sy bedoel nie. Moet ek aandag skenk aan die fauna en flora op die pad tussen Pretoria en Potchefstroom, lekker na musiek luister en nie swaarde kruis met ander padgebruikers nie? Of is dit alles koosnaampies? Apie, Blommie, G(-sleutel), Gerhard? (My naam beteken oorspronklik “sterk spies”.)

Les 1: Emotikons is uit, emoji’s is in. Die verskil is teoreties, maar in beginsel is emotikons teksgebaseerd – soos :( of B) – terwyl emoji’s prentjies is – soos  of . Soms is ʼn mens gelukkig dat jou programmatuur outomaties emotikons in emoji’s verander, maar nie altyd nie. As jy emotikons móét gebruik (vir SMS, maar dis 2016, mense, ons SMS nie meer nie), dan word die koppeltekenneus weggelaat. Dus :) en nie :-) nie.

Les 2: Emoji’s is soos kerrie as ʼn mens kos maak. (1) Gebruik net genoeg om die kos te geur, sonder om dit te oordonder. (2) Gebruik kerrie altyd komplementerend saam met knoffel, kardemom of komyn. (3) Kerrie is (enigsins) vreemd in hertzoggies of melktert, maar kan ʼn bierbroodjie of muffin verrassend opvrolik. Duidelik so? (Ek laat maar vir eers die gebruik van kaomoji’s en Facebookplakkers uit ons kuberkombuis – dis vir die Groot Kokkedore.)

Les 3: Leer wat emoji’s beteken. Byvoorbeeld:

 beteken nie “Ek huil/treur/ween” nie, maar wel “Ek bekwyl my van moegheid”. (Regtig, soek dit maar op!)

beteken nie “Kom ons bid saam” nie, maar eerder “Baie dankie” (of “Namaste”, soos wat elke derde hipster mos deesdae sê).

beteken nie “Sit, ek maak tee” nie, maar wel oorspronklik “Hoe kan ek jou help?”

Vra maar vir jou naaste NG-predikant – hy sal dit verduidelik. Of dalk juis nie …

beteken nie “Ek is smoorkwaad nie”, maar oorspronklik in die Japannees “Ek is triomfantlik!”

… “Almal sing saam, Y. M. C. …” Nee, nee, dit beteken onderskeidelik “Dis taboe”, “oukei” en “Ek wil iets sê.”

“Pravin Gordhan word al wéér deur die Valke ondersoek”

 Niemand weet eintlik wat dit beteken nie, maar ons vermoed dit is ʼn emoji wat in hokkiekringe gebruik word.

Les 4: Leestekens, veral die slotpunt, is soooo 2014. Plaas liefs ʼn emoji elke nou en dan aan die einde van ʼn sin om jou gevoel uit te druk. Dus, skryf liewers:

Ek was in ʼn ongeluk 

in plaas van:

Ek was in ʼn ongeluk‼!

Hierdie rubriek het oorspronklik in Beeld van 03 Desember 2016 verskyn.

Beeld logo

LEES VERDER
profile pic

Die Suider-Afrikaanse Vereniging vir Neerlandistiek-kongres 2017

Woensdag 30 November 2016 Geplaas deur Sophia Kapp

Kontrapunt: Kontrastiewe en komparatiewe perspektiewe op die Afrikaanse en Nederlandse taal- en literatuurstudie

Kongresdatum: 28 Junie tot 1 Julie 2017

Plek:      Stonehenge in Africa - Parys, Vrystaat

Chiaroscuro in die skilderkuns behels die onthullende spel van lig en skadu. Die een kan nie sonder die ander bestaan nie. Deur die kontras van 'n ligte figuur teen 'n donker agtergrond, en omgekeerd, word daardie figuur op ’n openbarende manier afgeteken. In hierdie beeld lê die kern van die kongrestema opgesluit, naamlik kontrapuntale samehang in en om die Neerlandistiek. Die gesprek is daarop gerig om binne die konteks van die komparatisme die kontraste sterker te belig, maar dus steeds met aandag aan ooreenkomste en  gemene delers.

U word hartlik uitgenooi om referaatvoorstelle van ongeveer 250 woorde teen 31 Januarie 2017 voor te lê deur dit in te dien op die kongreswebblad. U word ook uitgenooi om onderwerpe voor te stel vir spesiale tematiese sessies of paneelbesprekings.

Voorgestelde velde en subtemas: Vergelykende taal- en letterkunde; Kontrastiewe taalkunde; Sosiolinguistiek; Historiese taalkunde; Literêre geskiedskrywing; Postkoloniale studies; (De)kolonialisering; Digitisering en digitalisering; Digitale humaniora.

Spesiale nommers van Tydskrif vir Geesteswetenskappe en Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans word aan die kongres gekoppel. Die bedoeling is dat 'n gevorderde weergawe van 'n artikel by die kongres as referaat aangebied word. Deelnemers kan besluit by watter een van die bogenoemde tydskrifte die artikel voorgelê word.

Organiseerders:    Phil van Schalkwyk, Adri Breed en Janien Linde

Meer inligting is beskikbaar by http://savn2017.wixsite.com/savn-kongres-2017

 

LEES VERDER
profile pic

Grootgetalletabel

Saterdag 26 November 2016 Geplaas deur Gerhard van Huyssteen

Die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns is besig om te werk aan die finale manuskrip van 'n nuwe uitgawe van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS). Dié uitgawe sal in 2017 verskyn.

'n Handige bylaag wat in die nuwe AWS gaan verskyn, handel oor riglyne vir die gebruik van die SI-stelsel. Die tabel hier onder sal deel wees van die bylaag. Dit verduidelik sistematies die verskil tussen die lang skaal (wat in Suid-Afrika en Afrikaans gebruik word) en die kort skaal (wat onder andere in die VSA gebruik word).

 

 Faktor

SI-voorvoegsel

 Simbool

Afrikaanse terme

Engelse terme

Lang skaal

Lang skaal

Kort skaal

10-24

jokto-

y

kwadriljoenste

quadrillionth

septillionth

10-21

zepto-

z

triljardste

trilliardth

sextillionth

10-18

atto-

a

triljoenste

trillionth

quintillionth

10-15

femto-

f

biljardste

billiardth

quadrillionth

10-12

piko-

p

biljoenste

billionth

trillionth

10-9

nano-

n

miljardste

milliardth

billionth

10-6

mikro-

m

miljoenste

millionth

millionth

10-3

milli-

m

duisendste

thousandth

thousandth

10-2

senti-

c

honderdste

hundredth

hundredth

10-1

desi-

d

tiende

tenth

tenth

100

een

--

--

--

--

101

deka-

da

tien

ten

ten

102

hekto-

h

honderd

hundred

hundred

103

kilo-

k

duisend

thousand

thousand

106

mega-

M

miljoen

million

million

109

giga-

G

miljard

milliard

billion

1012

tera-

T

biljoen

billion

trillion

1015

peta-

P

biljard

billiard

quadrillion

1018

eksa-

E

triljoen

trillion

quintillion

1021

zetta-

Z

triljard

trilliard

sextillion

1024

jotta-

Y

kwadriljoen

quadrillion

septillion

LEES VERDER
profile pic

Wat is die versamelnaam vir baie nulle?

Saterdag 26 November 2016 Geplaas deur Gerhard van Huyssteen

“Ek weet ons gebruik miljoen en biljoen anders as in Engels, maar ek kan nooit onthou hoe nie. Hoe werk dit?” Dié vraag duik in taalkringe op met bykans dieselfde reëlmaat as versoeke in die parlement dat Zuma moet bedank.

Die woord “miljoen” se paadjie is ʼn interessante ene.

Die slim Indiërs het al voor die derde eeu getalname gehad vir getalle ver bo 1 000 000 000. Maar siestog, die Grieke kon net tot 10 000 tel en die Romeine tot 100 000. In Latyn sou 1 000 000 iets wees soos deciec centena milia, oftewel letterlik “tien honderd duisend.” Vir die volkse Italianers was dit te veel van ʼn mondvol en hulle het aan mille (“duisend”) die versterkende agtervoegsel -one gaan vasplak: milleone (deesdae milione) beteken dus letterlik “baie duisend”.

Aan die einde van die agtiende eeu reken die Franse toe dat hulle verder wil tel as ʼn miljoen, en vervang toe die -one met hulle eie versterkende agtervoegsel -ard wat letterlik “hard” beteken. ʼn Miljard is dus as ‘t ware ʼn “harde baie duisend”!

As ons weet dat “miljoen” gevolg word deur “miljard”, dan word die sommetjies makliker.

Die voorvoegsel bi- beteken “twee” (soos in “biseksueel”), tri- beteken “drie” (soos in “trilogie”) en kwadri- beteken “vier” (soos in “kwadmotorfiets”). Nou is dit supermaklik en logies:

1. miljoen = 1 000 000 (ses nulle = 106)

    miljard = 1 000 000 000 (drie ekstra nulle = 109)

2. biljoen = 1 000 000 000 000 (1012)

    biljard = 1 000 000 000 000 000 (1015)

3. triljoen = 1 000 000 000 000 000 000 (1018)

    triljard = 1 000 000 000 000 000 000 000 (1021)

4. kwadriljoen = 1 000 000 000 000 000 000 000 000 (1024)

    kwadriljard = 1 000 000 000 000 000 000 000 000 000 (1027)

As jy eers een keer hierdie benamingstelsel snap, is die kind se naam Wit Willem.

In Suid-Afrika word hierdie lang skaal deur wetgewing (Wet 18 van 2006) voorgeskryf. Daar was onlangs ʼn ondersoek of dit verander moet word, maar die vakkundiges en outoriteite se aanbeveling was dat dié stelsel in Suid-Afrika behoue moet bly.

Binne die Media24-stal blyk daar verdeeldheid te wees. In die afgelope week verskyn ʼn brief in Beeld wat melding maak van “staatskuld van R2,2 triljoen”, verwysende na “R2,2 trillion” in Engels. Dit moes dus eintlik R2,2 biljoen in Afrikaans gewees het. Dieselfde brief word in Volksblad gepubliseer, maar gebruik nou “R2 200 miljard”; tegnies korrek, maar wel omslagtig en verwarrend.

Huisgenoot het egter besluit húlle lesers is te dom om hierdie (eenvoudige) stelsel te verstaan: Met ingang 7 April deser volg hulle die Amerikaanse stelsel van miljoen, biljoen, triljoen – sonder miljard, biljard en triljard. Ons dommes moet dus nou dubbeld somme doen: As ek enige ander (Media24-) Afrikaanse publikasie lees, weet ek dat “biljoen” = 1012, maar, wee my, as ek Huisgenoot lees is “biljoen” = 109.

Dalk moet Media24 vir Zuma vra om uitsluitsel oor die saak te gee …

Hierdie rubriek het oorspronklik in Beeld van 26 November 2016 verskyn.

Beeld logo

LEES VERDER
profile pic

Spelling is soms *moeilik *komplex *veelysend taf

Saterdag 19 November 2016 Geplaas deur Gerhard van Huyssteen

Afrikaanse spellingkoors het so ongeveer drie, vier jaar gelede landwyd uitgebreek. Die Sanlam WOW Spelfees en die ATKV Spelathon vir skoolkinders, die slimfoontoepassing Beter Afrikaans en kykNET se Op die Spel-program is ʼn paar van die simptome van dié endemie.

Een van die mees pertinente vrae van spelkompetisies (en onderwysers, skrywers en uitgewers) is: Hoe word die moeilikheidsgraad van ʼn woord bepaal? Is die woord “penisillien” maklik, gemiddeld of moeilik om te spel? Op watter ouderdom kan ek van iemand verwag om “frikkadelle” korrek te spel? (Ek is swaar middeljarig en kan dit tot vandag toe nie spel nie!)

Uit internasionale navorsingsliteratuur kon ek tot dusver meer as sestig (ja, 60!) faktore identifiseer wat ʼn rol speel in die bepaling van woorde se moeilikheidsgraad. Allerweë stem navorsers egter saam dat die volgende drie faktore die belangrikste aanduiders van ʼn woord se moeilikheidsgraad is:

  • Frekwensie: Hoe meer gereeld ʼn woord in ʼn verskeidenheid tekste voorkom, hoe makliker is die woord om te spel. Al het ʼn woord soos “familie” ʼn paar vangplekke, behoort die meeste mense dit korrek te spel, aangesien dit een van die 500 mees frekwente woorde in Afrikaans is.
  • Woordlengte: Hoe korter ʼn woord is, hoe minder sal mense sukkel om dit te spel. Gebaseer op ʼn groot korpus van Afrikaans, weet ons dat die gemiddelde woordlengte in Afrikaans 10,7 karakters is. Ons kan dus verwag dat enige woord met nege of minder karakters relatief maklik moet wees om te spel: “satelliet”, “assessor”, “krokodil” en “baseer” behoort dus min probleme op te lewer.
  • Die verhouding tussen die skrifbeeld (letters) en uitspraak (klanke): Hoe groter die passing tussen die letters en klanke van ʼn woord, hoe makliker kan iemand die woord spel. Die woord “kram” word foneties getranskribeer as [kram] – daar is ʼn een-tot-een-passing tussen die letters en die klanke, en dit behoort dus maklik te wees om te spel. ʼn Woord soos “chihuahua”, uitgespreek as [ʃiwawa], is besonder moeilik: Daar is nege letters, maar slegs ses klanke; boonop kom slegs die “i” en [i] en die “a’s” en [a]’s met mekaar ooreen. Party mense kan ook nog wonder of dit dalk met ʼn hoofletter geskryf moet word.

Dit is maar net die oortjies van die seekoei. Woorde met die sogenaamde schwaklank (die [ə] in [krɔkədəl]) verskaf talle hoofbrekens, verdubbeling van konsonante (“krokke” maar “krokodil”; “krokodille” maar “monnike”), konsonantverwarring (“vier” teenoor “fier”, of “rand” versus “rant”), ensovoorts. En dan praat ons nie eens van los-of-vas-probleme nie: Is dit “weereens” of “weer eens”, of is beide korrek? Hoekom is dit “onderweg” maar “op pad”?

Deur middel van ʼn blitsopname op Facebook het ek meer as honderd woorde ingesamel waarmee mense stoei. Hier is die toptiensukkelwoorde wat deur die meeste mense as problematies aangedui is:

(10) parallelle

(9) adres

(8) weereens of weer eens (beide is korrek!)

(7) professor

(6) verrassing teenoor verassing

(5) op pad

(4) huis toe

(3) komitee maar kommissie

(2) onmiddellik

(1) interessant

Kan jy nog woorde tot die lys toevoeg?

Hierdie rubriek het oorspronklik in Beeld van 19 November 2016 verskyn.

Beeld logo

LEES VERDER

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK