profile pic

Beeldbiblioteek

Dinsdag 08 Maart 2016 Geplaas deur Sophia Kapp

’n Opwindende ontwikkeling in HAT Aanlyn- en Longman Online, Pearson se digitale woordeboekversamelings, is die verskillende nuwe oudiovisuele maniere waarop woordbetekenisse verklaar word.

As jy ʼn gereelde gebruiker van HAT Aanlyn is, het jy moontlik reeds die groeiende Beeldbiblioteek opgemerk (gaan loer gerus by U tot Z).

Wat is dit?

In papierwoordeboeke word die betekenisse van woorde gewoonlik slegs met woorde verduidelik – met behulp van ’n definisie en/of 'n vertaalekwivalent, met net hier en daar ’n eenvoudige illustrasie. Definisies word dikwels geskryf deur gebruik te maak van ’n beperkte definisiewoordeskat van ongeveer 2 500 woorde. Die veronderstelling is dat ’n beperkte woordeskat dit vir woordeboekgebruikers makliker maak om definisies te verstaan. Maar aan dié werkswyse is daar ook nadele verbonde: ’n Beperkte woordkeuse maak dit dikwels vir woordeboekmakers moeilik om fyner skakerings van betekenis te definieer.

’n Uitstaande kenmerk van die nuwe, elektroniese medium waardeur HAT- en Longman-woordeboeke sedert einde verlede jaar geraadpleeg kan word, is die multimodaliteit daarvan.

Vir die beskrywing van betekenis hou die nuwe Longman-HAT-portaal groot potensiaal in.

Hoe lyk dit?

In die lewende aanlyn woordeboek, bevry van die ruimte- en kostebeperkings van papier, kan HAT se redakteurs by omtrent elke trefwoord en betekenis wat hom daartoe leen, nou, intyds, as bykomende betekenisaanwyser, ’n foto of illustrasie voeg. Dikwels sommer ʼn hele paar. Die proses is reeds vlot aan die gang, en verskeie studies wys op die voordele daarvan.

In 1998 reeds het Hilary Nesie die doeltreffend van illustrasies ondersoek om die betekenisse van alledaagse huishoudelike voorwerpe oor te dra. Haar bevinding, toe reeds, was dat niemoedertaalsprekers wat op definisies en voorbeelde alleen moet staatmaak, dikwels selfs alledaagse voorwerpe nie korrek kan identifiseer nie. By die toevoeging van illustrasies tot die verbale verduideliking van betekenis vind sulke woordeboekgebruikers groot baat. 

A. Gumkowska (2008) toon aan dat leerders woordeskat wat deur illustrasies toegelig en ondersteun word, veel beter onthou. 

Beide Nesie en Gumkowska wys daarop dat die teenwoordigheid van foto's en ander illustrasiemateriaal tot die verwerwing van ʼn ruimer woordeskat bydra.

Deur sy stelselmatig groeiende foto- en illustrasieversameling, interessante videogrepe, klank- en animasiehulpmiddels bied HAT Aanlyn nou ’n nuwe ervaring: Woordeboekgebruikers, met inbegrip van onderwysers en leerders, word beter betrek, gehelp om woorde beter te verstaan, hul woordeskat uit te brei en addisionele kennis te verwerf.

Hoe klink dit?

Benewens die korrekte uitspraak van Engelse woorde en sinne (Afrikaanse uitspraakleiding kom mettertyd by), is daar (aan die Longman-kant) ook reeds ’n verskeidenheid nietaalkundige klanke bygevoeg. Werklike opnames van ʼn klok wat lui, ’n ghong wat slaan, ’n viool wat speel, ’n leeu wat brul, ’n uil wat roep ...  

Saam met die groeiende versameling foto’s, video’s en animasies dra ’n verskeidenheid oudiogrepe by www.hataanlyn.co.za verder tot verheldering van betekenis by. 

Verwysings

Gumkowska, A. 2008. The Role of Dictionary Illustrations in the Acquisition of Concrete Nouns by Primary School Learners and College Students of English. Ongepubliseerde BA-tesis. Szczecin: Collegium Baliticum

Nesie, Hilary. 1998. “Defining a Shoehorn: The Success of Learners’ Dictionary Entries for Concrete Nouns” In: Atkins, B.T.S. (red.). Using Dictionaries. Studies of Dictionary Use by Language Learners and Translators: 159-178. Lexicographica 88. Tübingen: Niemeyer

LEES VERDER
profile pic

Rondomtaal: "Waardig"

Woensdag 10 Februarie 2016 Geplaas deur Sophia Kapp

Jare gelede kyk ek na ʼn dokumentêr oor die lewe van Sir Winston Churchill. ʼn Dogter van hom vertel hoe hy ná die Tweede Wêreldoorlog Amerika toe is om te gaan vra vir ʼn lening sodat Brittanje kan herbou. Die Amerikaners was nie gretig om hom te ontvang nie, want hulle het geweet waaroor dit gaan, en die oorlog in die Stille Oseaan-streek het hulle self sleg getref. Hulle het elke sent self nodig gehad. Nietemin, Sir Winston kry ʼn spreekbeurt in die Huis van Verteenwoordigers, waar hy baie koel ontvang word. Geen tradisionele Amerikaanse lawaai nie, geen applous nie. Hy betree die podium, bekyk sy gehoor en sê: “I did not come here to ask for money.” Daar is ʼn gemurmel in die gehoor, toe so ʼn paar verleë siele wat hande klap. In die stilte daarna, sê hy: “For myself.” Een vir een het hulle opgestaan, die teensinnige Amerikaners, om hom die ovasie te gee wat hy verdien.

 

Ek onthou die staaltjie vandag nog, omdat dit vir my so ʼn vergestalting was van die mag van taal. Van die mag van opvoeding en goeie maniere. Van die kuns om ʼn onpopulêre standpunt aan jou teenstanders te verkoop.

 

Dis ʼn kuns wat aan die uitsterf is – vandag is die persoon wat die hardste skree en die doeltreffendste kan beledig die wenner. Oënskynlik. Ons leef in ʼn tyd wat aan ons besondere uitdagings stel. Ons leef in ʼn land en op ʼn kontinent wat besondere uitdagings stel. Ons praat ʼn taal wat besondere uitdagings in die gesig staar. Ons voel beleër, oorweldig, ons spartel om oorlewing. En dit voel vir ons asof ons nie gehoor word nie, want ons word doodgeskree.

 

Die vraag is: Hoe reageer ʼn mens op so iets? Wat is uiteindelik effektief?

 

Antwoord: Gaan kyk na die geskiedenis. Sir Winston het, op ʼn stadium manalleen, teenstand gebied teen een van die grootste orators wat die moderne geskiedenis geken het. Dié man was luidrugtig, het populistiese argumente gevoer en kon ʼn skare opsweep dat selfs intelligente mense sy retoriek gekoop het. Dis ʼn man wat ʼn nasie kon oortuig dat die geskiedenis waaraan hulle land onderwerp was geweld regverdig. Dis iemand wat ʼn volk, en ʼn wêreld, kon manipuleer om gruwels te aanvaar in die naam van nasiebou. Dis iemand wat boeke en kuns op dorpspleine verbrand het in die naam van kulturele reiniging.

 

Sir Winston kon hom dit nie nadoen nie. Hy was nie ʼn orator nie, hy het nie mense opgesweep nie. Al wat hy gehad het, was waardigheid. Hy kon net sy saak stel, rustig en kalm, maar met vasberadenheid, en sy werk na die beste van sy vermoë doen.

 

Leer by Sir Winston: Dis nie altyd nodig om die bekgeveg te wen nie. So ʼn onderonsie is gewoonlik opruiend, onredelik, aggressief en onwaardig, en dit bewerkstellig niks, buiten om aan die ander party die geleentheid te gee om jou nog ʼn slag te beledig. Al wat regtig nodig is, is om ʼn mens se saak te stel, rustig, met oortuiging, met begrip en geduld vir ander, natuurlik, maar boweal met waardigheid. Daarom: Wees waardig. Praat waardig. Skryf waardig. As jy deelneem aan debatte, bly waardig. Nie noodwendig omdat jou teenstanders dit verdien nie, maar omdat dit is wat jý is.

LEES VERDER
profile pic

De Grote Taaldag

Maandag 08 Februarie 2016 Geplaas deur Sophia Kapp

DE GROTE TAALDAG


Vanjaar se Grote Taaldag, ʼn gesamentlike inisiatief van die AVT, ANéLA en LOT, vind op Saterdag 6 Februarie 2016 in Utrecht plaas. De Grote Taaldag is ʼn kombinasie van die AVT se dag vir TIN (Taalkunde in Nederland) en ANéLA se dag vir TTiN (Toegepaste Taalkunde in Nederland).


Een van die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) se primêre doelstellings is die ontwikkeling van ʼn omvattende, vergelykende, wetenskaplike, aanlyn grammatika (fonologie, morfologie en sintaksis, asook ʼn bibliografie) van Afrikaans. Hierdie projek word in samewerking met die Nederlandse en Friese Taalportaal uitgevoer.


VivA sal ook by vanjaar se Grote Taaldag deur prof Bertus van Rooy, Afrikaanssintaksiskenner, verteenwoordig word. Prof Van Rooy bied ʼn lesing aan wat handel oor die verskille in werkwyses wat die verskillende grammatikaspanne volg om die grammatika van Afrikaans binne Taalportaal te skryf.


“Die benaderings wissel van 'n lokaliseringsbenadering, waar 'n Suid-Afrikaanse span die Nederlandse of Friese teks as basis neem en dan dit aanpas om van toepassing gemaak te word op die beskrywing van Afrikaans, tot 'n nuutskryfbenadering, waar 'n span die temas wat in die beskrywing van Nederlands as vertrekpunt neem, maar dan die beskrywing van Afrikaans van voor af skryf sonder om van die inhoudelike gedeeltes van die Nederlandse teks gebruik te maak. In so 'n geval dien die Nederlandse beskrywing as een van baie bronne en nie as die hoofbron nie, terwyl in die lokaliseringsbenadering die Nederlandse en Friese teks die hoofbron is, en ander bronne of analises se inligting daarby gevoeg word. In my lesing probeer ek enersyds die verskille beskryf, en andersyds verstaan hoekom mense verskillende benaderdings kies, en wat die implikasies daarvan mag wees,” verduidelik Van Rooy.


Prof Daan Wissing (NWU) en prof Ian Bekker (NWU) spits hulle toe op die beskrywing van die Afrikaanse fonologie, terwyl prof Gerhard van Huyssteen (NWU) en prof Piet Swanepoel (UNISA) fokus op die morfologiese aspekte van Afrikaans. Prof Bertus van Rooy, prof Haidee Kruger, prof Jac Conradie, prof Ernst Kotzé, prof Ilse Feinauer en dr Lande Botha is die Afrikaanse sintaksiskenners wat ook deelneem aan hierdie projek.


“'n Paar belangrike oorkoepelende doelwitte van Taalportaal is om vergelykbare inligting oor die grammatikas van verskillende tale byeen te bring, en ook om as bron te dien vir verdere, oorspronklike taalkundenavorsing. Die hoofgehoor van VivA is dus die gemeenskap van taalwetenskaplikes in die algemeen. Die Afrikaanse been wat deur VivA gesteun word, dra tot albei hierdie doelwitte by. Deurdat ons binne die taalportaalformaat oor die grammatika van Afrikaans skryf, is daar nou vergelykbare inligting met Nederlands en Fries beskikbaar, die twee tale wat die naaste familielede van Afrikaans is binne die stamboom van verwante tale. Hierdie bydrae ondersteun weer verdere navorsing wat vergelykende studies van die verskillende tale doen, en maak dit vir navorsers moontlik om ook na Afrikaans te kyk wanneer hulle wetenskaplike vraagstukke in die taalkunde ondersoek,” vertel Van Rooy.


Daar is reeds van die outeurs en moderators se werke gepubliseer op Taalportaal se webwerf: www.taalportaal.org.


Vir meer inligting rakende VivA se betrokkenheid by Taalportaal of om in verbinding te tree met een van die outeurs, skakel met Marlie Coetzee.

LEES VERDER

Só gesels Chanette:

Een ding wat die vertaling van Offerlam na Nederlands my geleer het, is nuwe respek vir Afrikaans.

Wat my veral opgeval het, is hoe soepel Afrikaans is, hoe dinge op vars wyses uitgedruk kan word sonder om jou vas te loop teen rigiede taalkonvensies. My vertaler het haar verstom aan die bondigheid waarmee ons ʼn gedagte of beeld oordra en moes soms ʼn paar sinne gebruik om te vertaal wat ek in ʼn enkele sin gesê het.

Nederlandse tydsverbuiging het my ook ʼn les geleer. Voorheen het ek dit altyd bekla dat die verlede tyd in Afrikaans so lomp is. Ook dat die gebruik van (historiese) teenwoordige tyd ʼn hele paar beperkings oplê as mens hoofsaaklik daarin skryf. Skryf jy in die verlede tyd, sit jy gou met ʼn barrage van “het ge-“-konstruksies en veroorsaak dit sommer gou ʼn gevoel van mededeling pleks van belewing. Skryf jy in teenwoordige tyd, moet jy onder meer die tydsverloop van die verhaal baie netjies beplan om nie heen en weer in die verhaalhede te beweeg en die leser te verwar oor wanneer wat nou eintlik gebeur het nie.

My vertaler het saamgestem dat ons in die Nederlandse vertaling ook die teenwoordige tyd gebruik. In ʼn storie is daar egter karakters se herinneringe aan dinge wat voor die aanvang van die verhaal gebeur het – soms in die onlangse verlede en soms in die verre verlede. Boonop is daar ook terugverwysings na gebeure wat in die verhaalhede plaasgevind het. En dis net daar waar ek agtergekom het presies hoe omslagtig en ingewikkeld tydverbuigings in ʼn ander taal kan wees.

Ek is nou innig dankbaar vir ons vereenvoudigde gebruik van tydsaanduiding en het van vooraf waardering vir die soepelheid van Afrikaans wat ons toelaat om bondig, vars en oorspronklik met ons taal om te kan gaan.

LEES VERDER
profile pic

Perspoësie

Dinsdag 12 Januarie 2016 Geplaas deur Gerhard van Huyssteen

Die gedrukte pers is dood, lank lewe die gedrukte pers!

Sondagoggendritueel: laai Hoekom (my poedel) agterin die kar; koop die Rapport by Katleho op die straathoek; skuif aan vir ʼn vroegoggendontbyt op die terras van my stambistro in Menlopark. Al is ek ingeteken op die Netwerk24-toepassing, kry ek gratis wi-fi-toegang en het ek drie jaar laas ʼn papierboek gelees (Die gedrukte boek is dood, lank lewe die e-boek!), wil ek niks geen tegnologie sien nie. Drieeieromelet, koffie en, oudmodies, die papierkoerant.

Hoekom op die stoep
Maar die afgelope Sondag is ek die nuus, die getwiet en rassismepraatjies tot satwordens toe teë, en ek gee die hoofkoerant vir Hoekom om homself tydelik mee te vermaak. Ek is al gewoond om ʼn leergierige jonghond se verslinderde koerant te ontsyfer.

Normaliter blaai ek altyd eerste na Nathan Trantraal se rubriek. Sy taalgebruik, skryfwyse en perspektiewe is verfrissend vars.

Maar vandag vang die voorblad van Rapport Beleef – die koerant se lewenstylblad – my oog: Vlêrmuiskerrie; Skeermeskuns; Koekgeveg. Vroliker kan dit byna nie, en ek is mos gek na nuwe Afrikaanse samestellings. (Oor die koekgeveg moet jy maar self op die agterblad gaan lees.)

In dié uitgawe kom ʼn aantal Groot Kanonne aan die woord: Waldimar Pelser (Rapportredakteur homselwers); Leon van Nierop (x2); Anél ‘Bobaaskokblogger’ Potgieter; en die veelbekroonde Sonja Carstens en Egmont Sippel. Dis huishoudelike name wat jy ken as jy nie net die koerantartikels lees nie, maar darem ook kyk wié dit geskryf het, soos ʼn mens behoort te doen.

En hulle kán skryf!

Waldimar se openingsin is 94 woorde lank. Ek is seker dit moet een of ander rekord wees; die gemiddelde sin in Afrikaans is 19.73 woorde lank.

Ek stel my wel die arme subredakteur se penarie voor, maar die leser raak nie uitasem nie. Die sin rol soepel van jou tong af, net soos die smeuïge woorde: Wanneer die botterige deeg van die wildspastei goud word in die Springfonteinpadstal se oond ...

Hy dek die tafel vir Leon: Hier blaai jy van moordend hittig na lawend wanneer jy deur ʼn laning ry wat 200 jaar al oor die ingang waghou. En later oor Damnville se mense: Die wind waai hulle teen doringdrade vas en daar klou hulle, elkeen met ʼn ander klank wanneer die wind daardeur fluit.

Anél laat die seisoenale groente en vrugte van die Seychelle soos ʼn Laurika Rauchliedjie klink: Avokado’s, eiervrug, komkommers, pampoene // margoz, kassawe, broodvrug, jams ...

En Sonja en Egmont maak werkwoorde werk: knip-knip, afsaag (vir vinnig ry), opswenk (vir vinnig boontoe draai). En naamwoordfrases: skop-, skiet- en klapper-orgie om na ʼn James Bondfilm te verwys (ofskoon die Taalkommissie liewer skop-skiet-en-klapper-orgie sou wou skryf), die klapperende uitlaatpype se rock-en-roll, of ʼn week van pure paranoïese malligheid.

Dís mos nou perspoësie.

Sommige joernaliste en subredakteurs (en ander skrywers en uitgewers) gebruik deesdae te maklik die lesers-gaan-nie-verstaan-nie-agterdeur.

Nee, lesers is vuisvoosverveeld met die dit en die dat en die ditse gedat. Ons is slim, kan woordeboeke gebruik en wíl elke dag ʼn stywe dosis poësie in ons vroegoggendomelet proe. Op papier, in die koerant.

Kô, lat ôs woode iet. As Hoekom kan, hoekô kan ôs ’ie?

 

LEES VERDER

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK