profile pic

Veeltalige woordeboek (Pharos)

Maandag 11 Januarie 2016 Geplaas deur Sophia Kapp

Suid-Afrikaanse veeltalige woordeboek

 

Die South African Multilingual Dictionary (SAMD) is die eerste woordeboek waarin interaktiewe vertalings vir al elf amptelike tale van Suid-Afrika in een volume verskaf word. Die woordeboek bestaan uit drie dele. Die eerste deel bevat sowat 3 800 Engelse woorde wat die kernwoordeskat van alledaagse kommunikasie insluit. Saam met die Engelse woord word ’n omskrywing van die woord gegee en dan volg die vertaling van die woord in die tien ander amptelike Suid-Afrikaanse tale. Die tweede deel bestaan uit algemene frases wat volgens temas ingedeel is. Die frases word eers in Engels gegee en dan volg die vertaling daarvan in die tien ander amptelike tale. Die derde afdeling bevat volledige indekse vir elke taal met bladsyverwysings na die hoofdeel van die woordeboek om naslaan te vergemaklik. Daar is plek agter in die boek vir gebruikers om nog woorde alfabeties by te voeg. Dit is perfek vir gebruik deur onderwysers, leerders, studente, gesondheidswerkers, personeel en toeriste.

 

Oor die skrywer:

Iolanda Steadman werk vir meer as twee dekades as ’n taalpraktisyn. Sy het ’n graad in joernalistiek en ’n MA-graad in Afrikatale. Sy spesialiseer in die samestelling, vertaling, redigering en produksie van verskeie Afrikataal-publikasies.

 

Uitgewer: Pharos

Prys: R199,95 (onderhewig aan verandering)

 

Indien jy meer inligting verlang, skakel met Henk Viljoen van Pharos by:

Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

+27 12 431 7460

082 5655 145

LEES VERDER

Hier is 'n lys met Afrikaanse hekelterme, die afkortings daarvoor, en die ekwivalente terme (met afkortings) wat in Amerikaanse en Britse patrone gebruik word. Die lys is nagesien en bygewerk deur hekelghoeroe Karen Adendorff Niemand (baie dankie, Karen!). Indien jy nog terme het wat op hierdie lys hoort, of wysigings aan die lys wil voorstel, skakel gerus met my by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees..

 

Lekker hekel!

 

Sophia

LEES VERDER
profile pic

Afrikaans vir Almal

Donderdag 10 Desember 2015 Geplaas deur Sophia Kapp

WEN met VivA!

ʼn Belangrike nuwe naslaanbron vir leerders, Afrikaans vir Almal deur Isabel Uys, het onlangs verskyn. Dit word uitgegee deur NB Uitgewers

Hierdie splinternuwe titel is die eerste taalnaslaanbron wat KABV-gebaseer is. Dit

bestaan uit twee dele. Die eerste deel sluit taalreëls en naslaanlyste in, en die

tweede deel bevat algemene kennisfeite oor Suid-Afrika en die res van die

wêreld.

KABV-vereistes vir Afrikaans Huistaal en Eerste en Tweede Addisionele Taal

vorm die basis vir die onderwerpe wat in dié boek bespreek word. Hierdie

onderwerpe sluit onder meer die volgende in: punktuasie, sametrekkings,

woordsoorte, letterlike en figuurlike betekenis, geluide van dinge en diere, tye,

sinonieme en antonieme, homonieme en homofone, en leenwoorde, om maar ’n

paar te noem. Dit bevat ook ’n lys met handige literêre terme soos hiperbool,

klanknabootsing en personifikasie, sowel as nuttige notas oor skriftelike werk.

Die tweede deel van die boek fokus op algemene kennisfeite soos die nasionale

simbole van Suid-Afrika, wie die wêreldleiers is, en groot uitvindsels van die

wêreld.

Oor die skrywer:

Isabel Uys is ’n oudonderwyseres en -skoolboekkeurder van Stellenbosch. Sy is die samesteller van ’n hele aantal studiegidse, veeltalige woordeboeke en feitegidse. Sy het twee ATKV-pryse verower. Baie van haar boeke is topverkopers en sommige is meer as 16 keer herdruk en bygewerk.

Prys: R245

Skakel met Henk Viljoen by NB Skolebemarking vir meer inligting. Sy adres is: Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees..

Wen ʼn kopie!

ʼn Gelukkige VivA-gebruiker kan ʼn kopie van hierdie bron wen. Hou ons Facebook-blad dop vir besonderhede en skryf op ons kompetisieblad in.

LEES VERDER
profile pic

Vraelys

Dinsdag 08 Desember 2015 Geplaas deur Sophia Kapp

Oor die tussen(in)klank in Afrikaans

Benito Trollip

In Germaanse tale soos Afrikaans en Nederlands is die proses van samestelling besonder produktief en algemeen om nuwe woorde te vorm. Dink byvoorbeeld aan woorde soos duifdak(die dak by my huis waarop die duiwe graag sit’), of orgideëoorplanting (‘die jaarlikse proses om my orgideë oor te plant in ander houers’). En natuurlik kan samestelling rekursief (herhaaldelik) toegepas word in Afrikaans om woorde soos duiwedakskoonmaakprosesbeplanning te maak (al gebeur dit nie baie nie). 

In sommige samestellings kom daar ʼn sogenaamde valensiemorfeem (ook genoem ʼn tussenklankofinterfiks) voor, soos die -e-tussen eend en dam in eendedam en die -s-tussen handel en ooreenkoms in handelsooreenkomsWat is die nut en doel van hierdie tussenklanke? Is daar ʼn verskil tussen eenddam en eendedamEn kan ons praat van ʼn handelooreenkoms, of moet dit handelsooreenkoms wees? Is daardie -s- regtig noodsaaklik?

Op die oomblik doen ek navorsing oor die valensiemorfeem en spesifiek of dit nog produktief gebruik word in Afrikaans wanneer samestellings gevorm word. Ek het groot asseblief tien minute van jou tyd nodig om my te help om ʼn vraelys in te vul. Jy hoef niks te skryf nie – dis alles net veelkeusevrae.

Volg gerus hierdie skakel (https://qtrial2013.qualtrics.com/SE/?SID=SV_8BXl1FvXJrtQBhzom deel te neem aan my vraelys. Jy kan kies om veertig vrae (minder as tien minute) of tagtig vrae (minder as vyftien minute) te beantwoord. Ek sal dit regtig baie waardeer as jy bereid sou wees om tagtig vrae te beantwoord. Indien daar enige vrae of kommentaar is, voel vry om my te kontak by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees..

By voorbaat dankie vir jou hulp!

 
LEES VERDER
profile pic

Prince Albert Leesfees

Maandag 07 Desember 2015 Geplaas deur Sophia Kapp

Die Prince Albert Leesfees 2015

deur Martin Steyn

Die reisgeselskap:

Marieta Nel (LAPA)

Liesbet Gelderblom (LAPA)

Betsie Klopper (Pearson)

Chareldine van der Merwe (Vriende van Afrikaans)

Edward van der Merwe (Chareldine se man)

Anzil Kulsen (skrywer)

Martin Steyn (skrywer)

Babalela

Donderdag. 5 November 2015.

Prince Albert is ’n lang, smal dorp aan weerskante van die hoofstraat. Verder is daar net Karoo.

Ons kom via Oudtshoorn, deur Meiringspoort, waar ons heen en weer oor die Grootrivier ry, elke drif gemerk. Ek kan sien hoe hierdie naamgewer vol opgewondenheid met sy taak begin het—Spookdrif, Skansdrif, Skelmkloofdrif—hoe die entoesiasme begin taan het—Dubbele Drif, Sanddrif—hoe die nimmereindigende kronkels hom afgetakel het—Herriedrif—tot hy dit uiteindelik nie meer kon hanteer dat die padbouers nie net aan een kant van die rivier kon bly nie—Ontploffingsdrif. Daar is meer as twintig driwwe.

Tussen die kranse, ’n mengsel van grys en pienk-, oranje- of rooibruin, afhangend van hoe goed die oggendson die klip bykom, vertel Marieta van agter die stuur vir ons hoe gewild Izak se erotiese bundel onder haar vroulike kollegas en vriendinne is. Anzil hou ons op hoogte van haar bloedsuikervlak. Betsie verwerk nog die rekordspoed waarteen Marieta hulle gister tot op Oudtshoorn gebring het (ek het ’n dag vroeër saam met Edward en Chareldine gery), en die redes waarom dit nodig was, word heen en weer tussen die drie sprekers geskuif. Ek, Liesbet en Babalela kry nie juis ’n woord in nie.

Al die driwwe maak mens maar ietwat driftig. Miskien is dit hoekom daar wynplase aan die ander kant van Meiringspoort is, soos Bergwater, wie se Royal Reserve by Prinses Charlene se troue bedien is.

Welkom in Prince Albert, sê ’n wit bordjie.

Dankie. Die eerste ding wat ons sien, is die begraafplaas—you can check out, but you can never leave? Marieta swenk deur twee esse en in die hoofstraat af. Dis opvallend hoe daar moeite gedoen word om besighede te versier. In Somerset-Wes plak hulle net “Edgars”, “CNA” of “Clicks” iewers op, maak ’n winkelpop of ’n rakkie in die venster staan en gaan wag agter die kasregister. In Prince Albert is daar wawiele, roomysfietse en halwe bome wat soos beeldhouwerk lyk op die sypaadjies. Die Hotel is wit met swart aksente. Selfs PEP is getooi. Binne is dit dieselfde. Of dit nou die Country Store—die voorwinkel van die gastehuis waar ek en Anzil geslaap het—of die Lah-di-dah restaurant is, mens kan nie net deurloop nie, jy haak vas en kyk, want oral is moeite gedoen om die binneruim interessant te maak.

Maar ons is hier vir die Leesfees, en voor die amptelike opening môreaand, praat ons eers vanmiddag met ’n groep onderwysers. Marisca Coetzee van die Universiteit van Stellenbosch sluit by ons aan vir ’n verduideliking van die onderwyser se rol in die ontwikkeling van leerders se begrip van verklarende tekste. Betsie volg met ’n demonstrasie oor hoe om begripslees te verbeter. Anzil praat oor haar jeugromans, Zita en ’n Hart vol sand. Ek sluit af met “Moord en doodslag”.

Vrydag. 6 November 2015.

Marieta, slawedrywer, het ons oggend volgepak. Eers is ons met hanekraai na The Showroom toe, ’n wonderlike teater met ’n outydse karakter, waar ons dieselfde as gistermiddag doen, maar nou vir die leerders van Hoërskool Zwartberg. Die program het gekrimp—ons het vir Betsie verloor—maar ook geswel, met Caleb Swanepoel, wat sy been in ’n haai-aanval verloor het en die jeugbeskermheer van die fees, Wendy Maartens, skrywer van Kaptein Seeley, en verskeie kletsrymers wat bykom.

Gelukkig is die kletsrymers laaste, want hulle steel die hele geleentheid. Kyk, ek is ’n rock-aanhanger, alles van Led Zeppelin deur Nirvana tot Metallica (pre-Black Album). Rap is nie iets wat jy in my versameling sal aantref nie, maar toe hulle van die verhoog afstap, kyk ek en Anzil vir mekaar en besluit Saterdagaand kom ons na hulle konsert kyk. Eerste is Rimestein (Daniel Denver Swartz) en Adrian “Diff” van Wyk, en toe Rhyme Author (Robin-Dean Fourie), Gracia “the Poet” Nicholls  en Oxyjin (Rumarcques Gelderbloem). Musikale digters met ’n boodskap, wat woorde met ’n skerp, eerlike intelligensie aanmekaar weef.

Volgende is Prince Albert Primêr, aan die teenoorgestelde kant van die dorp as die begraafplaas. Dis bewolk en reënerig, wat die grond rondom die saal modderig maak. Wendy Maartens doen haar ding. Toe is dit ek en Liesbet. Liesbet lees voor uit Jaco Jacobs se Waarvoor is seerowers bang? en vertolk ook die rol van Sanmarie. Die rol van Kaptein Kalamari, haar pa, word deur my vertolk, oogklap, rooi bandanna en al. Volgende arriveer Babalela en dis net blink ogies en oop mondjies.

Die amptelike opening van die Leesfees begin met Judy Maguire wat die storie agter die Khoekhoe-pot op die fees se logo vertel, hoe ’n vrou van die stam die pot gevorm het om tydens rituele te gebruik. Louis Botha se fotoboek, Slow down, word bekendgestel. ’n Besondere vingerete volg. Randall Wicomb stel sy biografie, Kleur, bekend en sing ’n paar liedjies om die aand af te sluit.

Wel, nie heeltemal nie. Daar was Bergwater en Brenda Fassie by 85 on Church . . .

Saterdag. 7 November 2015.

Die Prince Albert Leesfees is nie naastenby op dieselfde skaal as, byvoorbeeld, die US Woordfees nie. Die voordeel is dat dit ’n baie intiemer karakter het. Daar heers heeldag ’n kuier-atmosfeer buite die Jans Rautenbach Schouwburg, en omdat bykans al die praatjies hier plaasvind, is daar nie die konstante heen-en-weer beweging soos in Stellenbosch nie. Radio Gamkaland het tafels en luidsprekers reggeskuif en saai uit. Gerard Scholtz en sy DEKATv-span is hier.

Die feesprogram is besonder gebalanseerd. Paige Nick praat oor Pens behaving badly, ’n versameling van haar kolomme in die Sunday Times. Daniël Hugo praat oor sy digbundel, Takelwerk. Ek en Leon van Nierop praat oor rillers, reeksmoordenaars en rolprentdraaiboeke. Rehana Rossouw praat oor What will people say? Dine van Zyl maak almal lus vir potjiekos terwyl die potte buite oor die kole prut. (Ons het ’n draai by die Bush Pub gaan maak, waar daar glo laataand sonde met die bure gestook word, maar was terug toe die deksels lig.) En toe is dit af na The Showroom vir die kletsrymkonsert.

Sondag. 8 November 2015.

Dis die laaste dag. Daar is onder andere ’n paneelbespreking oor selfpublikasie en Dana Snyman praat oor In die blou kamp. Die fees sluit die middag af met die premiére van Jans Rautenbach se nuwe film, Abraham, maar dis ’n ver ent terug Kaapstad toe, so ons val maar in die pad. Ongelukkig loop dit nie hierdie keer verby Bergwater nie.

Ek kyk hoe Prince Albert in die truspieëltjie kleiner word, maar dis nie ’n plek wat mens regtig agterlaat nie. Die dorp, die mense, kry vat aan jou. Jy ry dit saam huis toe en dink, Volgende jaar . . .

Lirieke uit:

“Hotel California”. Eagles, Hotel California (1976).

LEES VERDER

RSS-VOERE

Is jy 'n groentjie as dit oor RSS-voere gaan? Laai ons blitsgids af om jou te help.

NUUSARGIEF

FACEBOOK