VIVA SE BLOGS
profile pic

Die voegwoord en voegwoordelike bywoord: voëls van eenderse vere?

Vrydag, 08 April 2022 Geplaas deur Nadine Fouché-Karsten

In ’n kort opsommig uit die boek Die gans die dacht dat hij een eend was (Mike van Herwijnen en Danielle van Wiel, 2018) word vertel dat die wind op ’n stormagtige aand die eier van ’n gans na die nes van ’n eend gewaai het. Wanneer hierdie gans gebore word, kom die ouers geensins agter dat een van hul eie kuikens omgeruil is met ’n gans nie, maar namate die klein gans ouer word, kom hy agter dat hy anders as die res is. Nou is die vraag: Is die kleine gans ’n gans, hoewel hy soos ’n eend voel?

Ek dink dit is presies wat met die “sogenaamde” drie groepe voegwoorde waarna op skoolvlak verwys word, gebeur het.

profile pic

Raaisels in spieëls: beeldspraak, stylfigure en retoriese middele  

Vrydag, 18 Maart 2022 Geplaas deur Stefan van Zyl

Die VivA-taaladviesspan kry onlangs ʼn navraag oor die verskil tussen beeldspraak (imagery) en stylfigure (figures of speech). Aanvanklik het ek gedink dat die antwoord redelik voor die hand liggend is, maar groot was my ontnugtering toe ek dieper begin delf. Vir die doel van hierdie blog het ek die onderskeie Kurrikulum- en assesseringsbeleidverklarings vir Afrikaans (KABV), Literêre terme en teorieë (LTT), die Nederlandse Lexicon van literaire termen (ook op die LTT-webtuiste) en die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) geraadpleeg ten einde ʼn antwoord te probeer vind. Ek het ook ondersoek ingestel na die term retoriese middele/middels omdat dit met voorgenoemde terme verband hou.

profile pic

STOMPI kry ’n nuwe vorm: Ontmoet vir STOMP!

Woensdag, 16 Maart 2022 Geplaas deur Nadine Fouché-Karsten

Moedertaalsprekers kort nie eselsbruggies nie. Hulle beskik reeds oor ’n interne grammatika of ’n versameling patrone wat verfyn word namate hulle met ander moedertaalsprekers in kontak kom. Dink mooi daaroor: Niemand het vir jou gesê dat Afrikaans ’n V2-taal is nie. Met ander woorde, niemand het vir jou pertinent gesê dat ’n werkwoord in die meeste Afrikaanse sinne altyd ná die subjek (of onderwerp) kom nie (bv. Ek gee klas; Ek merk boeke, ens.), tog weet ’n mens dit en formuleer jy jou sinne so.

Niemoedertaalsprekers kort egter meer leiding. ’n Integrale deel van die aanleer van ’n addisionele (of tweede addisionele) taal is die gebruik van ’n monitor of ’n redigeerder. Dit is die siening van ’n kenner van tweedetaalverwerwing, Stephen Krashen. Dit is juis wat STOMPI is – dit is nie ’n taalreël nie. Dit is ’n monitor, reseppie of eselsbrug wat deur addisioneletaalleerders gebruik word om die vorming van sinne te monitor, sodat dit samehangend is.

Ek wil ’n scenario skets.

Die Afrikaansonderwyser staan voor in die klaskamer en spring weg met die aanbieding van taalstrukture en -konvensies (grammatika) met behulp van voorbeelde, met of sonder verduidelikings. Hierna word voortbeweeg na die oefeningfase waar die taalstrukture en -konvensies onder gekontroleerde omstandighede met behulp van opdragte/aktiwiteite ingeoefen word. Dan volg die produksiefase waar leerders betrokke is in vryetaalproduksie, byvoorbeeld die gebruik van die betrokke taalstrukture en -konvensies as deel van een of ander teks (bv. ’n advertensie) wat geskryf word. Somtyds is onderrig egter net beperk tot die eerste twee fases. Klink dit vir jou bekend?

profile pic

Sinne op skoolvlak: Nou maak dit sin! (Deel 1)

Woensdag, 09 Maart 2022 Geplaas deur Nadine Fouché-Karsten

Daar is soveel definisies vir die term sin wat verhoed dat onderwysers weet wát ’n sin nou eintlik is,  watter tipe inligting hulle moet insluit en watter voorbeelde hulle moet gebruik wanneer die sin onderrig moet word.