Items per datum gefilter: Mei 2017

Pankoppe, gryskoppe, krulkoppe, kroeskoppe, kaalkoppe. Lang hare, kort hare, takhare. Rastalokke, blondinevlegsels, brunetkapsels, gemmerkatkuiwe. Melkbaarde, hipsterbaarde en hardebaarde.

Dis die aansig wat ek die afgelope week van agter uit ʼn saal op Buffelspoort had. Ek woon vir die eerste keer in my lewe die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) se algemene jaarvergadering as waarnemer by. Ek moet ver agter sit, sonder stem en stemreg, maar ek mag kýk.

Wat ek sien, is pankoppe en kie.: ʼn getransformeerde (of dan ten minste transformerende) organisasie. Goed, goed, die byna 300 stemgeregtigdes (waarvan 71 onder 18 jaar oud is), is nou nie hééltemal verteenwoordigend van die Afrikaanse demografie nie – in elk geval nie op die manier waarop ons regering demografiese verteenwoordiging wil meet en implementeer nie.

Vra Charles via e-pos vir my: “Wat is die beginsels met betrekking tot die vertaling van internasionale eiename in Afrikaans? Skryf ʼn rubriek daaroor!” Ek gehoorsaam gedienstig, gedwee.

In beginsel is daar geen beginsel nie. Dis eintlik maar 'n historiese, en dikwels lukrake, kwessie. Voor die twintigste eeu is prominente plek- en persoonsname dikwels vertaal of oorgeklank, maar ook nie juis sistematies nie. So byvoorbeeld het Paris (Frankryk) Parys geword, maar Lyon (ook in Frankryk) is nie vertaal nie. Dit geld ook persoonsname: Ons praat in Afrikaans meestal van Karel die Grote (Latyn: Carolus Magnus of Karolus Magnus; Duits: Karl der Große; Engels en Frans: Charlemagne), maar nie sommer van prins Karel (prince Charles) en sy blommetjieshertogin Kamille (Camilla) nie. 

Athlone

Vrydag, 19 Mei 2017 10:03

Verlede week is ek in die Kaap om VivA te gaan bemark. Besoek skole op ʼn streep, vertel hulle van ons produkte, Woordeboekportaal, ons navraagdiens, skoollisensie, kompetisie, die hele ketoet. Gawe kollegas in die Kaap het vir my die besoeke gereël, en ons ryg vir hulle in: van vroeg tot laat, tot verby die donkerte oor die wingerd kom lê.

Ek sien ou skole, nuwe skole, skole met ʼn ryk tradisie en ʼn bykans onuitputlike alumnifonds: ek sien skole waar die drade platgetrap is en die buurt se rondloperbrakke in die vullisdromme kom krap. Oral word ek vriendelik ontvang, oral kan ek sien die onderwysers het opregte deernis vir die jong siele in hulle sorg. Sommige se omstandighede is moeilik, sommige sʼn is haglik. Maar hulle is daar, bereid om saam te werk, gretig om vir Afrikaans in die loopgrawe te werk.

Dan kondig my kollega aan: Sy kan vir my ʼn besoek reël by die Athlone School for the Blind. Wil ek gaan? Ek het my bedenkinge, want ek smous skoollisensies vir woordeboeke en ʼn toepassing wat vir slimfone ontwerp is. Wat bied ek nou eintlik vir kinders wat sukkel om te sien? Is dit hoegenaamd sinvol om VivA soontoe te neem? My tyd is beperk, sien, en ek moet dit ten beste benut. Maar ek sê maar ja, want dis op ons pad en ons kan nou maar netsowel daar stop.

'n Ode aan die moeder

Saterdag, 13 Mei 2017 15:52

Sondag is dit Moedersdag. ʼn Dag vir moeders. ʼn Dag van erkenning en dank en viering, waarop ons eer betuig aan die vrou wat ons nie vermoor het nie, al het sy (meer as een keer) rede gehad om dit te doen.

Die viering van Moedersdag is, natuurlik, ʼn Amerikaanse tradisie. In 1908 het ene Anna Jarvis ʼn dankdiens vir haar eie moeder in die St. Andrew’s Metodistekerk in Grafton, Wes-Virginië, gereël. Die moeder, Ann Reeves Jarvis, was ʼn vredesaktivis en ʼn gesondheidsorgwerker wat gedurende die Amerikaanse Burgeroorlog gewonde soldate van albei kante van die stryd verpleeg het. Die Amerikaanse Kongres het die idee van ʼn dag vir ʼn ma aanvanklik afgelag (en gespot dat hulle dit nie wil doen nie, want netnou moet hulle ʼn skoonmoedersdag instel), maar in 1914 het Woodrow Wilson ʼn proklamasie onderteken waarin die tweede Sondag in Mei opsygesit is as amptelike vakansiedag ter verering van die moeder.

Bilingual speakers more flexible thinkers, think of time differently – study

Dié kop oorstroom die afgelope week my Facebook.

Fopnuus en klik-aas word normaliter met politieke beriggewing of infoadvertensies geassosieer. Die ander kandidaat is soms wetenskaplike beriggewing. In dié verband merk die bekende taalkundige Mark Liberman op:

"On the whole, the whole system of science and engineering does a pretty good job of creating knowledge and technology. On the whole, the media do a pretty good job making information available to the public. Put them together, and the whole is noticeably less responsible than the parts."

36 taalbronne vir jou skool

Vrydag, 12 Mei 2017 16:17

By skole wat op VivA se skoolpakket inteken, het elke onderwyser en elke leerder nou onbeperkte toegang tot die nuutste uitgawe van die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (die HAT), die groot, omvattende Woordeboek van die Afrikaanse Taal (die WAT), plus nog 34 ander bronne.

Vloekwoorde en sogenaamde “vuil taal” het my – as taalkundige – nog altyd gefassineer. Dalk omdat ek in ʼn huis groot geword het waar vloek die Eerste Doodsonde was, of dalk omdat vloek soveel van die menslike psige verklap.

Hier is ʼn paar tipiese navorsingsvrae: Hoekom vloek mense? Wie vloek en wie vloek nie, en kan ons dit op grond van geslag of ouderdomsgroep voorspel? Wanneer word watter vloekwoorde gebruik? Is daar ʼn spesifieke deel in jou brein wat verantwoordelik is vir vloek? Wanneer word ʼn woord ʼn vloekwoord? Is daar sistematiek in die betekenis van vloekwoorde? Ensovoorts, ensovoorts, ensovoorts. Ten minste drie PhD-studente kan op dié vrae afstudeer.

Om 'n storie te maak

Woensdag, 03 Mei 2017 19:36

As ʼn skrywer kry ʼn mens baie keer die vraag: Waar kry jy jou stories vandaan?

Dis ʼn maklike en ʼn moeilike vraag om te beantwoord: Stories is oral om jou. Jy hoef nie in verafgeleë plekke of eksotiese bestemmings te gaan soek na stories nie, hulle sit in die gewoonste van insidente en in die voorspelbaarste van geleenthede: die paniek van ʼn ma as haar kleuter in ʼn supermark verdwaal; ʼn tiener wat by die huis kom, flenters en verpletter oor ʼn kêrel wat haar gelos het; ʼn man wat moeg en knorrig is oor finansies wat nie wil klop nie, maar wat weer moed kry wanneer sy geliefde hom troos en sê alles sal regkom; ʼn vrou wat moet ma, huishoudster, verpleegster, versorger en berader wees en op ʼn Saterdagoggend ʼn blom voor haar bed kry. Ja, ʼn storie kan in Somalië of Indië of Oezbekistan afspeel en jou wegtrek na ʼn wêreld waarvan jy nooit geweet het nie. Maar dit hoef nie. Dit kan op ʼn gewone weeksoggend in jou eie kombuis afspeel, jy moet hom net raaksien.

Dis die maklike deel van die antwoord. Die moeilike deel is dat dié klaargemaakte stories op ʼn manier vertel moet word dat dit vir ʼn leser iets beteken. ʼn Goeie skrywer is die een wat die generiese elemente aan die waarneming kan onttrek en dit aan lesers in die vorm van ʼn storie kan aanbied waarin hulle raakpunte vind. Om in woorde te gaan sit wat elkeen van ons in ʼn bepaalde situasie ervaar en word en voel. Dis nie net moeilik nie, dis werk.

Die ding wat die werk hoegenaamd uitvoerbaar maak, is ʼn skrywer se beheersing van die taal. Want sonder woorde verwoord ʼn mens moeilik. Sonder die reikwydte van ʼn ontwikkelde woordeskat, sonder ʼn grondige begrip van beelding, van idiome, van beskrywing en omskrywing, vervlak jou vertel tot ʼn eendimensionele voorstelling van ʼn ding wat diepte moes gehad het. Ja, jy kan gestroop skryf, jy kan selfs eenvoudig skryf. Maar jy mag nooit, nooit, nooit gewoon skryf nie.

Juis daarom verstom dit my dat voornemende skrywers, veral die jongetjies, ʼn ding skryf wat klink asof dit iets is wat hulle op ʼn selfoon getik het en dan, ewe verontwaardig, vir my sê: “Ja, maar almal praat so.” Almal praat (mos) van ʼn “laptop” en van “gross” en “cool” en “awesome”. Niemand praat van ʼn “skootrekenaar” en “afgryslik” en “asembenemend” en “weids” nie, en dan skryf hulle soos hulle klink en dan klink hulle soos almal.

Die kuns van skryf lê nie (net) in jou vermoë om ʼn storie te genereer nie. Dit lê beslis nie in jou kennis van literêre teorie nie en dit lê allermins in jou skryfsels se skokwaarde. Om ʼn rits taboewoorde in ʼn sin in te ryg, of om vyftig skakerings van seks in boekvorm saam te flans, dié kan enigeen. Dis nie ʼn kuns nie, en nie eers die feit dat miljoene mense lus (ek wou ʼn ander woord hier gebruik het, maar my ouma het gesê dis onbetaamlik) genoeg was om R300 vir papierseks te betaal, maak dit goeie skryfwerk nie.

Die skrywers van hierdie wêreld wat ons verbeelding aangryp, is die skrywers wat ons meevoer. Wat vir ons wêrelde oopbreek wat ons nog nooit raakgesien het nie, al is daardie wêreld dan nou in ons eie agterplaas. Ware woordkunstenaars is dié wat ons meesleur, soos ʼn kano in ʼn stroomversnelling, en ons oor die lip van die waterval skiet sodat ons vreesloos en gewillig die onbekende inval. En of hulle nou 400 jaar gelede geskryf het, soos William Shakespeare, en of hulle eergister hulle debuut by die drukkers gaan afhaal het, ons is ewe bereidwillig om die werklikheid prys te gee en saam met hulle die onbekende aan te durf. Vir die uur of twee of tien wat ons met hulle boeke in ons hande sit, is ons heerlik, onbeskroomd en onbeskaamd in hulle mag. En ons vrek oor elke gevleuelde oomblik.

Broei daar ʼn storie in jou? Werk jy met koppe wat die volgende generasie se skrywers moet word? Dan mag jy nie toelaat dat “ja, maar almal skryf so” ooit deel word van jou denkwyse nie. Jy mag nooit tevrede wees met wat jy weet van die taal nie. Jy mag nie ophou leer, ophou lees, ophou naslaan, ophou groei nie. Jy mag nie agteroor sit en glo jy het alles tot jou beskikking om jou storie ten beste te vertel nie. Want jy is ʼn kunstenaar en al wat jy het waarmee jy jou kan onderskei, is jou woorde. Al instrument wat jy het, is die taal. Al raakpunt wat jy met jou leser het, is die vlyt waarmee jy skryf sodat hulle kan wegraak in die belewenis en nie verstrengel raak in taalslordighede nie. Jy mag, om dit so reguit te stel, nooit, ooit weer dink middelmatig is goed genoeg nie.

Hierdie blog het vantevore op Maroela Media verskyn in "Tel jou woorde".

 

 

 

NUUSARGIEF

FACEBOOK