Items per datum gefilter: Junie 2017

Die peetkind wat in die wyk lê

Donderdag, 29 Junie 2017 14:42

Ek kry gister ʼn navraag van ʼn VivA-gebruiker: Wat wil die mense op dié vorm hê? Aangeheg by die navraag is ʼn foto van ʼn vrywaringsvorm wat haar dogter van die skool af gebring het, wat die ma moet invul en teken. (Die vorm is deur die skool versprei, maar deur die Wes-Kaapse Provinsiale Regering uitgereik.) Daarop moet sy die naam invul van haar “seun/dogter/wyk”. Die ma is verstom. Watse wyk wil hulle hê? Haar kiesafdeling of die gemeente se wyk? En wat wil die Provinsiale Regering daarmee doen?

Ná ʼn paar sekondes se kopkrap (dit was laatmiddag en ek was moeg) besef ek die “wyk” is ʼn verkeerde vertaling van “ward” (wat in Engels ʼn pleegkind of ʼn wyk kan wees). Ek verduidelik die saak, die ma is gerus dat daar nie ʼn gowwermintsbeampte agter haar vullisblikke skuil om aan te teken hoeveel tamaties sy in ʼn week weggooi nie, en die Kaap is Hollands.

Of nie Hollands nie.

Alles wat ons skryf, is Grieks vir my

Woensdag, 28 Junie 2017 06:44

Gegroet uit Siprus!

Jare gelede, toe ek op ʼn spesialiteitsrigting in die taalkunde moes besluit, het ek gehoor van die Mediterranean Morphology Meeting – ʼn kongres waar ʼn klomp internasionale bleeksielakademici jaarliks by een of ander eksotiese plek aan die Middellandse See vergader om die nuutste insigte in woordbouteorieë met mekaar te deel. Heerlike bestemming, het ek gedog en my voorts toegespits op dié terrein.

Die voorreg het my te beurt geval om hierdie jaar ʼn referaat hier te mag lewer (nadat ek drie vorige kere geweeg en te lig in die broek bevind is). Toe ek maande gelede ʼn opsomming vir keuring moes instuur, het ek beloof om te praat oor konstruksionistiese perspektiewe op twee kompeterende assosiatiewepluraliskonstruksies. Ek vermoed ek had op daardie stadium een of ander ligte neuropatiese spasma, want die letters van my opsomming dans nou – ses dae voor ek moet praat – onsamehangend en betekenisloos op my rekenaarskerm rond.

Gegroet uit Nederland!

Ek dink ek het in drie dae tyd reeds vier kilogram afgeval, gewoon omdat ek my fietsend deur Amsterdam moet verplaas. Heerlik om weer my skoenrieme te kan sien.

Ek was in my eentjie verantwoordelik vir ʼn FNB-aneurisme toe ek my kredietkaart hier aan die boekwinkels bekendstel. Vir ʼn geswore e-boekleser is my waardes en sedes maar gevaarlik likwied, veral as dit kom by die bedwelmende reuk van internasionale boekwinkels. (As ek dieselfde hoeveelheid geld in ʼn Suid-Afrikaanse boekwinkel spandeer het, kon ek ons eiehandig uit die tegniese resessie geruk het.)

Fopnuus

Donderdag, 15 Junie 2017 15:27

fopnuus, s.nw., 1. nuus wat versprei word met die doel om lesers te mislei; 2. nuus wat die spot dryf met werklike nuusgebeure; nuussatire

Die afgelope week of wat het hard aan die land kom vat. PG is weg – die enigste skrywer in die land wat, volgens sy uitgewer, vir haar persklaar manuskripte ingestuur het – en Johan Botha is uit ons midde gepluk. Die Kaap het uiteindelik water gekry, maar met ʼn paar lewens en baie dakke daarvoor betaal. En Knysna het gebrand. En Buffelsbaai en Sedgefield en Plett en Karatara en Diepwalle en Elandskraal en die ander dorpies waarvan my oupa my vertel het voor Dalene Matthee nog haar boeke geskryf het. Huise is platgevee. Herinneringe. Toekomsdrome. Planne. Hoop. Lewens.

Ek het hier in Pretoria in ʼn vergadering gesit wat my gedwing het om op ʼn ander plek te konsentreer, wat so ʼn bietjie gehelp het om die seer en die swaarkry uit te stel. Ek kon my in ʼn borrel terugtrek en afstand behou, maar ek het geweet dis afgryslik, al kon ek nie sien hoe dit gebeur nie.

Toe ek uiteindelik klaar vergader het, is daar ʼn foto op Facebook van ʼn afgebrande huis tussen skelette van stamme, en ʼn verskrikte bosbokkie in die voorgrond wat kom soek na kos en water. Die afstand het nie gehelp nie, my hart het in elk geval gebreek.

Nee, ek het niks verloor nie, maar dit was nie vir my moontlik om in my borrel te bly nie. Want dis my mense wat so seerkry. My land se mense. My land se bosbokkies en my land se bos. En of die slagoffers nou ʼn paleis of ʼn pondok gebly het voor die vuur toegeslaan het, hulle het nou almal ewe veel – niks. Hulle is almal ewe uitgelewer aan ander mense se goedheid.

Taalpuriste is ʼn kwaai-kwaai klomp. Onlangs ontvang ek byvoorbeeld weer ʼn e-pos waarin die skrywer (kom ons noem haar Corrigenda) kla oor die grammatikatoetser in die SkryfGoed 5-programmatuur. Met haar toestemming plak ek hier ʼn ongeredigeerde uittreksel uit haar e-pos:

“Die fout wat ek in SkryfGoed 5 opgetel het is dat die program sê te alle tye moet lui ten alle tye. Na my mening kan net 1 uit 100 000 Afrikaanssprekende mense spel. Die verkeerd spel van sekere woorde word deur duisende taalgebruikers nageboots, en hierdie is een so ʼn geval. Die korrekte spelling kan gekontroleer word deur na die Woordelys en Spelreëls, 2009, op p 424 te kyk asook na ander bronne. Dit is ongelooflik dat uiters onkundige mense toegelaat was om aan hierdie program te werk.”

Matteus 7:5 se splinters en balke is nie vandag ter sake nie; kom ons fokus op die ter tafel gelegde kwessie.

Daai liederlike loef ...

Donderdag, 08 Junie 2017 11:43

loef, s.nw. die kant waar die wind vandaan waai; uitdrukking: “die loef afsteek” = tussen die skip en die wind beweeg; letterlik die wind uit die seile haal.

Bron: Woordeboek van die Afrikaanse Taal

 

ʼn Vryery is nie ʼn maklike ding nie.

Dit verg, om mee te begin, ʼn geweldige klomp moed om jou hart voor ʼn meisiekind se voete te gaan lê, want jy weet nie of sy dit gaan optel of vertrap nie. (Albei dié uitkomste het bowendien sy eie pyn. Die een vat net so ʼn bietjie langer om op te daag.)

Sondagmiddae, ná kookkos en ʼn middagslapie, gaan hang ek en my twee poedelkinders, Hoekom en Sommer, in die netjiesste stadspark in Pretoria uit. Dis hulle tyd om vrylik met die ander hondekinders – van alle groottes, mate en herkomste – te rinkink; dis mý tyd om die Saterdag-Beeld en Sondag-Rapport te lees.

Onder die hondeouers is daar ook tot ʼn mate ʼn ryke verskeidenheid. Verlede jaar se wenner van die Varsgebekkompetisie, André Oberholzer, dwaal daar rond met sy twee schnautzers. Johrné van Huyssteen, sy pragtige vrou, hulle groot Deense hond en vrolike ghantangbrak (van vergesogte oorsprong) verskaf vermaak.

Vra die Duitse herdershond se ma, Natie Rossouw Kruger, twee vasvravrae: “(1) Waar kom die Engelse uitdrukking the whole nine yards vandaan?”; en “(2) Wat is die Afrikaanse ekwivalent daarvan?”

Maandag en Dinsdag moet ek ʼn vergadering in Stellenbosch bywoon. Dit is, soos altyd, ʼn voorreg om dié historiese dorp te besoek en gewaardeerde vriende en kollegas weer te sien, maar die gemoedere is hierdie keer donker. ʼn Nabykind van ʼn kollega in taalkringe is die naweek vantevore hier dood. Eers verinneweer en toe vermoor. Koelbloedig. Vir ʼn onsinnige ding soos ʼn ou rammelkas. As ʼn ma van ʼn studentekind, breek en breek en breek my hart vir die ouers en familie van dié mooie meisiekind wat in die media moet lees watter alleraaklige laaste oomblikke sy moes deurmaak.

Haar storie is afgryslik, maar dit is, helaas, nie uniek nie.

NUUSARGIEF

FACEBOOK