profile pic

VivA se webwerf is aan die gang!

Maandag, 26 Oktober 2015 Geplaas deur Sophia Kapp

VivA se webwerf is vandag oopgestel. Gebruikers kan gratis registreer en toegang kry tot aanlyn taal- en skryfadvies. Besoek ons by www.viva-afrikaans.org of laai ons slimfoon-app Woordeboekportaal af by die Apple iStore of Google Play. Hier kry jy gratis toegang tot aanlyn woordeboeke en ʼn databasis van veel voorkomende vrae. Vir ʼn beperkte tyd kan gebruikers ook gratis per WhatsApp of telefonies navrae rig aan Sophia Kapp, ons taaladviseur. Skakel met haar by 062 126 0295.

LEES VERDER
profile pic

Vyf vrae vir Frikkie

Dinsdag, 06 Oktober 2015 Geplaas deur Gerhard van Huyssteen

Dr. Frikkie Lombard, eindredakteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT), is vanjaar twintig jaar lid van die Taalkommissie (TK), wat beteken dan hy tans die langsdienende lid van die TK is. Ons het vyf vrae aan hom gestel.

Jou werkswêreld bestaan uit woorde. Vanwaar die belangstelling en passie?

Ek was van vroeg af geïnteresseer in boeke en het graag nuwe woorde/uitdrukkings/idiome leer ken. My passie was eintlik geskiedenis, maar toe ek op universiteit beter begin doen het in Afrikaans en boonop in my honneursjaar ʼn studente-assistenskap kon kry, het dit my in die taalrigting laat beweeg. Ná ʼn redelik kortstondige onderwysloopbaan is ek aangestel by die WAT (Woordeboek van die Afrikaanse Taal), en ʼn mens kan beswaarlik as leksikograaf werk as daar nie ʼn passie vir taal is nie.

Dr Frikkie Lombard en sy ega Elmare

As ek jou nou voor ʼn vuurpeleton dwing, wat sou jy as ’n hoogtepunt oor die afgelope twintig jaar uitsonder?

Ek sal wsk. doodgeskiet word, want die hele twintig jaar voel soos ʼn hoogtepunt. Die verskyning van twee AWS’e en twee toekennings waarmee die Akademie die werk wat gedoen is, erken het, is uiteraard hoogtepunte. Vir my is die heel lekkerste ervaring die samesyn met slim en gevatte kollegas wat ook lewensvriende word.

Buitestanders dink dikwels dat TK-sittings saai en vaal is, maar die teendeel is waar. Vertel vir ons een of twee staaltjies van interessante of grappige dinge wat jy oor die afgelope twintig jaar beleef het?

Saai en vaal is ver verwyder van die dinamiese werklikheid van ʼn TK-sitting. Eintlik moes ons ʼn grapboek met TK-pittighede en grappe saamgestel het. Een van die snaaksste insidente was waarskynlik toe iemand (geen name sal genoem word nie) op ʼn saaierige Woensdagmiddag om 12:15 ʼn dokument te voorskyn gehaal het waarin historiese gebruike van die woord “fok” aangeteken is. Johan Combrink moes maar die sessie verdaag sodat ons buite kon gaan saamlag. Nog ʼn lagwekkende episode het plaasgevind toe Wannie Carstens en Anton Prinsloo mekaar verkeerd opgevryf het. Anton was voorsitter en het verseg om enigiets verder te sê. Wannie het dieselfde gedoen. Aangesien die ondervoorsitter, Ernst Kotzé, op daardie stadium nie beskikbaar was nie, het ek as sekretaris en lid van die dagbestuur toe vir so tien minute lank die vergadering probeer lei. Die gemoedere het darem later bedaar. Die arme Wannie het ook een oggend ʼn verkeerde pil (slaappil) gedrink en vir ʼn hele voormiddag ingesluimer. Anton het hom terug verwelkom toe hy weer tekens van lewe begin toon het met die woorde: “Welkom terug, Wannie. Ons het baie goeie vordering in jou afwesigheid gemaak.”

As jy volkome eensydig ʼn enkele spelreël in die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) sou kon byvoeg, skrap of verander, watter reël sou dit wees? Hoekom?

Dit is nogal ʼn kluif! Ek sou graag reël 14.6 wat oor die skryfwyse van eienaamverbindings as eiename handel, wou aanpas sodat die vier verskillende skryfwyses wat tans daarvoor bestaan, moet verdwyn, en die vaste weergawe (met of sonder koppelteken) die enigste opsies sou wees.

En is daar ʼn enkele woord in die AWS wat jou altyd sal bybly as ʼn “Taalkommissiewoord”, ʼn woord waarop jy trots is, of ʼn woord wat goeie herinneringe van die TK by jou oproep? Hoekom?

Die een woord wat ʼn hele klomp van ons altyd laat lag het, was “opopanaks (soort harpuis)”. Niemand het eintlik die woord geken nie, en hy het ʼn (suiwer denkbeeldige en meerfunksionele) lewe van sy eie gekry onder TK-lede. Van die een sitting na die volgende het die woord oorgestaan as een wat moontlik maar geskrap moet word, maar hy bied nou al lank weerstand en is nog met ons (ook in die groen boek).

LEES VERDER
profile pic

ʼn Tolk vir Vrouedag

Donderdag, 24 September 2015 Geplaas deur Sophia Kapp

John L het in die Oos-Kaap grootgeword. Die ou Transkei. Deep rural, soos hy sê. Sy pa was op die myne, sy ma het stukwerk gehad op Mount Ayliff. Dit was ver se stap en sy moes vroeg uit die huis uit op die dae wat sy gewerk het. Hy het haar gemis, maar die lekkerte van die werk was dat sy vir hom Niknaks van die dorp af gebring het. So jonk as wat hy was, het hy besef as hy iets anders as pap en kool wil eet, sal hy moet hy wegkom van die plaas af.

Dit was bloedgeld vir sy ouers maar hy het gematrikuleer en toe graad verwerf. Tale was sy sterk punt en hy kon selfs in die ou Suid-Afrika vir hom ʼn pos as tolk by die Departement van Binnelandse Sake in Mthatha losslaan. Die skuif van daar af Port Elizabeth toe was nie te erg nie, maar Kaap toe was ʼn groot aanpassing. Veral aan die begin toe die enigste bekostigbare blyplek in ʼn makoekoe op die Flatse was.

Vandag is dinge anders vir John. Hy en sy vrou woon in ʼn gerieflike tweeslaapkamerwoonstel in die Tuine. Hy stap nog werk toe, maar sy vrou pak vir hom toebroodjies in wat sy met winkelbrood maak. Soms kry hy ʼn pakkie Niknaks by.

Op ʼn dag kry hy ʼn oproep: die Afrikaans-tolk is siek en die DG moet ʼn Vrouedag-toespraak in Delft gaan opsê. Afrikaanse gemeenskap. DG kan net “ja” en “nee” sê. John moet uithelp; hy is mos goed in tale en kan mos Afrikaans praat.

John gooi wal: ʼn mens tolk nie in ʼn ander taal as jou moedertaal nie. Maar die DG is desperaat en John is ʼn staatsamptenaar. Jy kan walgooi, maar jy kan nie weier nie.

In Delft wag daar ʼn skare vroue: daar is gratis eetgoed vir ná die tyd. Die DG soen ʼn paar babas vir die pers en neem dan stelling in agter die mikrofoon.

John doen sy bes. Hy sukkel aanvanklik en soek na woorde, maar naderhand begin hy die ritme kry. Dis die gewone political speak wat hy al vantevore in Xhosa moes tolk. Nie so erg nie.

Totdat die DG kom by “We are going to empower women”. John het die woord al baie gehoor – jy werk nie vir politici en ken dit nié – maar wat op aarde is dit in Afrikaans? John stik en stotter en probeer sinonieme uit sy brein opdiep, maar dis een van daardie hol modewoorde wat net ʼn dop het. Daar is nie inhoud om te vertaal nie. Vervaard soek hy na ʼn oplossing. “Ons gaan vroue verkrag,” blaker hy uit.

John lag lekker as hy die storie ten koste van homself vertel. Maar dan raak hy ernstig. “Het jy al gesien hoe lyk dit daar? Dalk was ek nie so vreeslik verkeerd nie.”

LEES VERDER
profile pic

Wat is ʼn anglisisme?

Donderdag, 17 September 2015 Geplaas deur Sophia Kapp

Antwoord: ʼn Anglisisme is ʼn stuk taal (dit kan ʼn woord, frase, uitdrukking, sinskonstruksie of idioom wees) wat direk uit Engels oorgeklank is en nou Afrikaans lyk en klink. Dit verdring egter ʼn bestaande Afrikaanse uitdrukking en is in stryd met die taaleie. Engelse woorde in ʼn Afrikaanse teks, soos “awesome”, “great” of “random”, is nie anglisismes nie, dis gewoon leenwoorde wat nie Standaardafrikaans is nie. Romaanse leenwoorde soos “deprivasie”, “revisie” en “evaluasie” is Standaardafrikaans en in die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls opgeneem. Die uitdrukking “die kat uit die sak laat” (“let the cat out of the bag” direk vertaal, in plaas van “die aap uit die mou laat”) is ʼn voorbeeld van ʼn “ware” anglisisme.

Donderdagmiddag ná langpouse. Buitekant sidder die rugbyveld en die ry bloekoms aan sy oorkantste doodlyn in Pretoria se hoogsomer. Die swembad blink soos ʼn blou diamant en roep soos Lorelei. Binne versmoor almal in die reuk van sweet, warm voete en ou asem. Voor in die klas is die juffrou aan die woord, maar sy praat in almal se slaap. Die graad 11’s voor haar is te goed gemanierd om in haar gesig te gaap, maar kort-kort sien sy hoe een se kaak styf raak.
“Julle luister nie,” beskuldig sy.
“Ons luister, Juffrou,” koor dit.
“Nou waaroor het ek gepraat?”
Stilte. ʼn Paar skuif ongemaklik rond. Een senuagtige siel raak aan die giggel.
Die juffrou se mond raak dun. “ʼn Anglisisme,” preek sy, “is ʼn vreemde woord of uitdrukking wat hom soos Afrikaans vermom, maar eintlik die taal binnegesluip het soos ʼn onwettige immigrant, sonder paspoort of visum, en hom nou wil tuismaak in Afrikaans asof hy daar hoort. Intussen is daar ʼn bestaande Afrikaanse woord wat nie meer gebruik word nie en wat vergeet word omdat hierdie vreemde ding sy plek ingeneem het. As jy nie bewus is van hierdie goed nie, word Afrikaans naderhand ʼn direkte oorklanking van Engels en praat jy eintlik Engels in Afrikaans. Ons voorouers het te hard en te lank geveg vir menswaardigheid en die reg om hulle eie taal te praat dat julle dit sommer net so kan wegsmyt!”
Sy kan sien die kinders het geskrik vir die oordaad emosie. Sy weet sy raak soms meegevoer, veral oor die geskiedenis. Een van haar oupagrootjies is as krygsgevangene in Diyatalawa oorlede en haar familie het die Britte nog nie daarvoor vergewe nie.
“Julle skryf môre klastoets hieroor,” probeer sy meer saaklik klink sonder om haar standpunt prys te gee. “Gaan maak vanaand seker jy weet waaroor dit gaan.”

Vrydagmiddag. Die juffrou sit by haar lessenaar en blaai deur die antwoorde. Die moedeloosheid dreig om haar skouers krom te druk.
“Ek het altyd gedog anglisismes kom uit Engeland,” skryf ʼn bloedjie. “Maar as hulle hier is sonder ʼn paspoort of visum kom hulle seker uit Zimbabwe.”

LEES VERDER
profile pic

Agt koeke en ʼn homofoon

Donderdag, 10 September 2015 Geplaas deur Sophia Kapp

Ek het ʼn neef wat in die Kaap woon en werk. Ons sien mekaar min, maar wanneer ons saam is, is dit asof ons eergister laas oor ʼn lekker cabernetjie geklets en geskinder het. Voëls van eenderse vere. Krappe van dieselfde dam.

Ons dam is Natal, eintlik die ou Zoeloeland. Die oupa wat ons deel, was ʼn bestuurder op ʼn suikerplaas (wat in werklikheid beteken het hy was ʼn bywoner met ʼn mooi huis) wat sy grootwordjare op Karatara moes deurbring. Dis bos, vir die Gautengers. Knysna. Karatara is deur die destydse regering as bosboustasie gevestig en was een van die projekte wat ʼn oplossing vir die armblankevraagstuk moes bied.

Die omstandighede was moeilik. Dalk selfs haglik. Oupa het nooit vreeslik baie besonderhede gegee nie. Wat ek en my neef wel weet, is dat die stigma van arm en Afrikaans wees Oupa vir die res van sy lewe agtervolg het. En dat alles wat hy gedoen het, gedoen is om sy verlede te besweer.

Hy was ʼn bitter stoere Afrikaner in ʼn onversetlik Engelse wêreld. Hy het ʼn debatsvereniging op die dorp gestig en gesorg dat daar Afrikaanse films in die kerksaal vertoon word. Hy het ʼn lid van die ATKV geword in die jare voordat voorkeurbehandeling by luukse oorde die lokaas was en jy aangesluit het vir die saak. Hy het op sy eie Pietermaritzburg toe gery om die Natalse Onderwysdepartement die stryd te gaan aansê om ook Afrikaans as medium van onderrig by die plaaslike laerskool aan te bied. Die Onderwysdepartement het gesê hulle sal ʼn Afrikaanssprekende onderwyser aanstel as hy 26 gesinne kry wat bereid sal wees om hulle kinders in Afrikaans te laat leer. Hy het hulle gekry. En op ʼn tyd toe ander jong dogters die skool vroeg verlaat het om te gaan help verdien, het hy syne universiteit toe gestuur. Sodat sy ʼn Afrikaansonderwyseres kon word.

Oupa was puntenerig oor sy taal en het aangedring daarop dat jy ook moet wees as jy met hom praat. Ek en my neef is die oudste van sy kleinkinders. Dat ons by hierdie man meer as net ons donker oë sou erf, was onvermydelik.

So bel Neef my op ʼn dag. Boosaardig woedend. Ek hoor net elke derde woord, want hy vloek lank en vlot en aanmekaar. (Ons is taalvaardig, nie noodwendig ordentlik nie.)
Wat is dan nou fout? vra ek ewe bedees.
Daar is ʼn nuwe meisietjie by die werk wat die fakture moet uitmaak, hoor ek. So ʼn ou fraai dingetjie wat die vorige jaar matriek geskryf het en nie weet waar om ʼn punt in ʼn sin te sit nie.
Ek grinnik, want ek weet wat kom. Is ook so.
Die vorige dag vra hy haar om ʼn faktuur uit te maak aan “Uitkyk Diggers”. Vandag kry hy dit terug. Uitgemaak aan “8Cake Diggers”.

LEES VERDER